• No results found

4.3 NAVORSINGSPARADIGMA

4.4.5 Metodes van data-versameling

4.4.5.1 Die kwantitatiewe studie: vraelys

Volgens Delport (2005:166), kan vraelyste, kontrolelyste, indekse en skale gebruik word om data vir „n kwantitatiewe studie in te samel. Vir die doel van hierdie studie is daar op „n vraelys, wat aan die hand van die voorafgaande literatuurstudie opgestel is besluit.

Cohen, Manion en Morrison (2007:320), dui aan dat vraelyste opgedeel kan word in gestruktureerde, semi-gestruktureerde en ongestruktureerde vraelyste. Vir die doel van hierdie studie is op „n gestruktureerde vraelys besluit, aangesien dit die navorser in staat sou stel om patrone waar te neem en vergelykings te tref (Cohen et al., 2007:321) tussen opvoeder en leerder- response.

Daar is besluit om vir die doel van hierdie studie van geslote en oop vrae gebruik te maak omdat daar frekwensies vasgestel en vergelykings getref sou

word, sowel as menings van respondente bepaal sou word wat kwantitatief met behulp van frekwensietellings geanaliseer is (Cohen et al., 2007:321). Vir die administrering van die vraelys onderskei Delport (2005:167-169) tussen die volgende tipes:

 Groep-geadministreerde vraelyste: Die vraelyste word aan die groep respondente gegee wat dit gelyktydig voltooi.

 Telefoniese vraelyste: Die vrae word telefonies aan die respondent gestel, en word eerder as „n onderhoud beskou.

 Vraelyste wat gepos word: Vraelyste word saam met instruksies aan die respondente gepos.

 Self-geadministreerde vraelyste: Die navorser is beskikbaar om hulp te verleen aan die respondente tydens die beantwoording van die vraelyste.

 Vraelyste wat met die hand afgelewer word: Die navorser lewer die vraelyste af en samel dit weer in nadat dit voltooi is.

Vir die doel van hierdie studie is groep-geadministreerde vraelyste gebruik gemaak. Vraelyste is in klasgroepe aan die leerders gegee wat dit voltooi en teruggehandig het. Die opvoeder van die klas het die proses beheer. Daar is op hierdie metode besluit omdat dit die hoogste deelname verseker het en in die kortste tyd afgehandel kon word. Die navorser was ook teenwoordig tydens die voltooiing van die vraelyste en kon behulpsaam wees indien daar onduidelikhede opgeduik het.

Die formaat van die vraelys word bepaal deur die persone wat die vraelys gaan voltooi, sowel as die omstandighede waaronder dit gedoen gaan word. Tydens die formulering van die items vir die vraelys is die volgende riglyne soos aangedui deur Delport (2005:171), gevolg:

 Die taalgebruik en styl is vir die respondente verstaanbaargehou; en die sinne is kort en duidelik geformuleer.

 Die voorkeure van die navorser is nie deur die vrae en antwoordkeuses gereflekteer nie.

 Elke vraag het slegs op een sentrale idee gefokus.

 Abstrakte vrae is eerder vermy.

 Daar is nie aanvaar dat die respondente kennis oor die onderwerp moet hê nie; sodat diegene met kennis oor die onderwerp nie bevoordeel is nie. Aangesien die vraelys die instrument is waarmee die data ingesamel word, het die navorser die volgende aspekte volgens Burns en Grové (2001:427), Cohen et al. (2007:318-325), Maree en Pietersen (2007b:158-166) en Wiid en Diggens (2009:172-173) by die opstel van die vraelys (cf. Addendum C) in ag geneem:

Ontwerp en uitleg

Die vraelys is ordelik en gebruikersvriendelik uitgelê sodat dit vir die respondent maklik was om dit te beantwoord. Dit was duidelike instruksies saam met die vraelys wat vir die respondent aangedui het wat verwag word.

Die voorkoms

Die vraelys is op goeie papier gedruk, en die skrif was duidelik leesbaar.

Voltooiingstyd

„n Vraelys wat te lank is, ontmoedig respondente om effektief aan die ondersoek deel te neem. „n Geskikte tyd om „n vraelys te voltooi is tussen 20 en 30 minute. Die loodsondersoek is gebruik om die voltooiingstyd van die vraelys te toets. Dit het respondente gemiddeld 20-30 minute geneem om die vraelys te voltooi.

Vraagvolgorde

Die vrae moet die respondent nie verwar nie. Die vraelys is met „n kort inleiding begin wat die doel van die studie aangedui het. Daarna het vrae gevolg om die respondent gemaklik te maak. Vrae oor dieselfde onderwerp is bymekaar gehou, en die verskillende onderwerpe het mekaar in „n logiese volgorde gevolg.

Vraagbewoording

Om betroubare data in te samel moet die vrae ondubbelsinnig en op die punt af wees. Die volgende het as riglyne gedien met die formulering van die vrae:

 Dubbelsinnige vrae is vermy.

 Slegs een sentrale tema is in „n vraag vervat.

 Vrae wat die respondent na „n antwoord lei, is vermy.

 Hipotetiese vrae is vermy aangesien sulke antwoorde gewoonlik nie betroubaar is nie.

 Dubbel-negatiewe vrae, byvoorbeeld: ”Stem jy nie saam dat rook sleg is vir jou nie?”, is vermy.

 Sensitiewe vrae wat die respondent kon affronteer is vermy.

Tipe vrae

Die vrae wat in „n vraelys ingesluit kan word, word in twee kategorieë ingedeel, naamlik oop en geslote vrae. Oop vrae is vrae waar die respondent se mening in „n gegewe spasie op die vraelys gegee word. Hierdie tipe vrae is moeilik om te analiseer, maar het die voordeel dat die respondent „n eerlike en gedetailleerde antwoord kan gee, wat dit moontlik maak om komplekse vrae te beantwoord. Die nadeel van „n oop vraag is dat die respondent gewoonlik langer neem om dit te beantwoord en dat die resultate moeilik is om te kodeer (Maree & Pietersen, 2007b:161). Geslote vrae bied die respondent „n aantal opsies waaruit „n keuse gedoen moet word. Dit bied die voordeel dat die respondent die vraelys vinnig voltooi, en die data is maklik om te analiseer. Die nadeel van die geslote vraag is dat die respondent se respons beperk is tot die opsies wat die navorser bied (Maree & Pietersen, 2007b:161). Vir die doel van hierdie studie is daar besluit om geslote en oop vrae te gebruik.

Leedy en Ormrod (2001:197) dui aan dat „n vraelys van „n skaal of „n kontrolelys gebruik kan maak om respondent se menings te bepaal. By „n kontrolelys moet die respondent „n spesifieke keuse uit „n aantal gegewe moontlikhede doen, byvoorbeeld om te kies tussen manlik of vroulik.

Die Likertskaal is volgens Maree en Pietersen (2007b:167) die mees algemene skaal wat vir die vasstelling van menings en opinies gebruik kan word. Likert skaal items word geformuleer as stellings en die respondent moet dan uit „n aantal gegewe opsies aandui hoe hy of sy oor die stelling voel. Die

aantal opsies kan wissel van twee tot soveel as sewe. Vir die doel van hierdie studie is daar vier opsies aan die respondente gegee.

„n Sematiese skaal is ook in die konteks van die studie gebruik. Antwoorde op vrae word op ‟n ranglys aangedui om vas te stel hoe respondente items kragtens hul belangrikheid of voorkeur beantwoord (Maree & Pietersen, 2007b:163) (cf. Addendum C, Afdeling C).

Die vraelyste vir die opvoeders sowel as die leerders is soos volg met behulp van die literatuur saamgestel. Die gedeelte in die literatuur waarop die samestelling van die vraelys items gebaseer is, word telkens in hakies aangedui.

 Afdeling A: Biografiese inligting.

Afdeling B: Leerteorieë (cf. 3.3).

Afdeling C: Benaderings tot onderrig en leer (cf. 3.4).

Afdeling D: Kennisbeskouings en onderrig-leerpraktyke (cf. 3.5).

Afdeling E: Leerstyle (cf. 3.6).

Afdeling F: Assessering: (cf. 3.7).

 Afdeling G: Die onderrig-leer-situasie by Sedibeng Kollege.

 Afdeling H (Opvoeders): Sienings oor faktore wat „n negatiewe impak op onderrig het (oop vrae).

Afdeling H (Leerders): Die verbetering van onderrig (cf. 3.4, 3.5, 3.6, 3.7)

 Afdeling I (Opvoeders): Sienings oor effektiewe onderrig (oop vrae).

 Afdeling I (Leerders): Faktore wat „n positiewe of negatiewe invloed op onderrig uitoefen (oop vrae)

Saam met die vraelys is „n meegaande brief opgestel waarin die navorser die doel van die studie sowel as die wyse waarop die vraelys ingevul moes word, duidelik uiteensit het (McMillan & Schumacher, 2006:195-221). Die vraelyste is in Engels opgestel, aangesien die medium van onderrig aan die VOO- kollege Engels is.

Daar is besluit op die gebruik van vraelyste vir die insameling van die kwantitatiewe data aangesien dit die volgende voordele inhou (Adami, 2004:92; McMillan & Schumacher, 2006:211):

 Tyd word gespaar deurdat meer as een respondent gelyktydig die vraelyste kan voltooi.

 Dit verseker anonimiteit deurdat die navorser nie later die respondente vanuit die vraelyste kan identifiseer nie.

 Dit verseker standaardisering deurdat elke respondent presies dieselfde vraelys kry om te voltooi.

 Daar is geen beïnvloeding deur die navorser wanneer die respondente die vraelys voltooi nie.

 Dit is „n praktiese metode van data-insameling.

 „n Groot hoeveelheid inligting kan in „n kort tyd van „n groot aantal respondente ingesamel word.

 Die resultate van die vraelys kan in „n kort tyd verwerk word deur die gebruik van rekenaarprogramme.

 Die resultate kan meer objektief geanaliseer word as data wat deur ander metodes ingesamel word.

 Omdat die vrae standaard is, is die vraelys meer objektief as in „n onderhoud.

 Vraelyste is goedkoper en minder tydrowend as onderhoude.

Die navorser is bewus daarvan dat die gebruik van vraelyste om kwantitatiewe data in te samel die volgende nadele inhou (Adami, 2004:92; McMillan & Schumacher, 2006:211):

 Dit kan nie gebruik word om inligting soos emosie, gedrag en gevoelens te bepaal nie. Oop vrae wat in die vraelys ingesluit is, het hiervoor probeer vergoed.

 Volgens fenomenoloë is dit „n kunsmatige vorm van navorsing wat slegs beperkte inligting sonder verduideliking insamel.

 Dit is nie moontlik om te bepaal of die respondent sy antwoord goed deurdink het nie.

 Respondente mag die vrae op verskillende wyses interpreteer.

 Wanneer die vraelys te lank is mag die respondente die vrae oppervlakkig beantwoord of sommige vrae glad nie beantwoord nie.

 Vraelyste is nie geskik wanneer polsingstegnieke gebruik moet word nie.