• No results found

4.3 NAVORSINGSPARADIGMA

4.4.5 Metodes van data-versameling

4.4.5.2 Die kwalitatiewe studie: semi-gestruktureerde onderhoud

Kwalitatiewe data neem eerder die vorm van woorde as van syfers aan (Lichtman, 2006:162; Johnson & Christensen, 2008:33). Die onderhoud is die algemeenste vorm van data-insameling by kwalitatiewe navorsing (Greeff, 2005:287; Merriam, 2009:87). Kwalitatiewe onderhoude mag soms na „n gesprek of bespreking lyk, maar dit moet nog steeds beplan word en volgens „n bepaalde struktuur verloop. Die doel van „n onderhoud is dieselfde ongeag watter vorm die onderhoud aanneem; en dit is om inligting oor die onderwerp wat bestudeer word in te samel (Botha, 2001:15;Lichtman, 2006:116-117). Die onderhoud is „n buigbare data-insamelingsinstrument wat die navorser in staat stel om inligting op „n verbale sowel as „n nie-verbale wyse in te samel. Die wyse waarop die onderhoud gedoen word, kan deur die navorser vir maksimum effektiwiteit beheer word (Cohen et al., 2007:349).

Die onderhoud is, volgens Nieuwenhuis (2007c:87) en Merriam (2009:87) „n tweerigting-gesprek waartydens die onderhoudvoerder spesifieke vrae stel om sodoende die wêreld deur die oë van die deelnemer te sien. Alhoewel die onderhoud een van die mees algemene metodes is om inligting in te samel, is dit moeiliker as wat verwag word. „n Onderhoud kan verskeie vorme aanneem, naamlik een-tot-een, in groepe of telefonies. „n Onderhoud kan ook gestruktureerd, semi-gestruktureerd of ongestruktureerd wees (Fontana & Frey, 2005:699; Johnson & Christensen, 2008:203). Die navorser het die verskillende tipes onderhoude met mekaar vergelyk (cf. Tabel 4.3) voordat „n keuse oor die tipe onderhoud uitgevoer is.

Tabel 4.3: Tipes onderhoude

Gestruktureerd Semi-gestruktureerd Ongestruktureerd

Die bewoording van die vrae is vooraf bepaald.

Die vrae is „n mengsel van minder en meer gestruktureerde vrae.

Oop vrae.

Die volgorde van die vrae is vooraf bepaald.

Al die vrae is buigbaar. Die onderhoud is

buigbaar en verkennend. Die onderhoud is „n

mondelinge vorm van „n geskrewe opname.

Gewoonlik word spesifieke data van al die respondente verlang.

Die onderhoud is meer soos „n gesprek.

Die onderhoud word gewoonlik by

kwalitatiewe studies gebruik om

demografiese inligting te bekom.

Die grootste deel van die onderhoud word deur „n lys vrae of kwessies wat

ondersoek word, gelei.

Dit word gebruik wanneer die navorser nie genoeg van die onderwerp weet om relevante vrae te stel nie.

Die navorser het op „n semi-gestruktureerde onderhoud besluit omdat hy antwoorde op spesifieke vrae by al die deelnemers wou verkry (Fontana & Frey, 2005:702; Lichtman, 2006:118; Nieuwenhuis, 2007c:87), maar ook ruimte woul laat vir verdere verkenning en uitbreiding op die responses.

Die navorser het die volgende riglyne van Fontana en Frey (2005:702) in ag geneem tydens die voer van die onderhoude:

 Lang verduidelikings is vermy en daar is gehou by die vasgestelde standaard.

 Daar is nie afgewyk van die volgorde en wyse waarop die vrae gestel is nie.

 Die onderhoud is nie onderbreek nie, en iemand anders is nie toegelaat om namens die deelnemer te antwoord nie.

Die onderhoudsvrae

Die sleutel tot suksesvolle data-insameling tydens „n onderhoud is om goeie vrae te stel. Die volgende punte, volgens Johnson en Christensen (2008:208) en Welman et al. (2005:202-203) is in ag geneem by die opstel van die vrae vir die onderhoud:

Hoofvrae. Hierdie tipe vrae definieer en verduidelik die doel van die studie.

Leidende vrae. Hierdie vrae moet slegs gebruik word om onderliggende of verborge inligting te bekom.

Toetsvrae. Dit word gebruik om die deelnemer se reaksie te bevestig.

Gidsvrae. Dit word gebruik om die deelnemer terug te lei na die doel van die ondersoek.

Feitelike vrae. Hierdie vrae kan gebruik word om kontroversiële vrae te beantwoord. Byvoorbeeld: “Daar blyk verskeie opinies te wees oor wat „n realistiese salaris vir „n opvoeder is. Wat verdien iemand met soortgelyke kwalifikasies in die privaat sektor?”

Emosionele vrae. Die navorser kan hierdie tipe vrae gebruik om die gevoel van die deelnemer te kry. “Is lyfstraf op skool „n goeie ding?”

Die wyse waarop die onderhoud benader en gevoer word, is belangrik om sukses te waarborg. Voor die onderhoud begin is, het die navorser die deelnemer eers breedvoerig verduidelik waarom die navorsing gedoen word, hoe die inligting hanteer gaan word en waarom die spesifieke persoon as deelnemer gekies is.

Nadat die lys vrae vir „n semi-gestruktureerde onderhoud opgestel is, is dit nodig om „n loodsondersoek te doen om vas te stel of die vrae effektief is (Strydom & Delport, 2005:327). Vir die doel van hierdie studie is personeel van „n ander VOO-kollege gebruik wat nie deel van die hoofondersoek was nie, en onderhoude is met hulle gevoer om die verstaanbaarheid van die onderhoudsvrae te bepaal, en die tyd wat die onderhoud in beslag sou neem.

Die gebruik van polsingstegnieke

Polsing is „n tegniek wat die navorser kan gebruik om die maksimum data in te samel. Dit is vrae wat gestel word om uit te brei op inligting wat reeds verkry is (Merriam, 2009:100). Die volgende tipes vrae kan gestel word om die respondent te pols (Nieuwenhuis, 2007c:88):

 Detail-georiënteerde vrae om die wie, wat en waar van die respondent se antwoord te bevestig.

 Vrae om uitbreiding te verskaf word gevra om „n meer volledige prent van die respondent se reaksie te vorm.

 Verklarende vrae word gestel om te verseker dat die navorser die respondent se antwoord reg verstaan en interpreteer.

Vir die doel van hierdie studie is daar hoofsaaklik van vrae wat uitbreiding verskaf en verklarende vrae gebruik gemaak.

Die onderhoud-skedule

Die geskrewe vraelys wat as riglyn vir die verloop van die onderhoud dien, word die onderhoud-skedule genoem. Die opstel van die skedule help die navorser om moontlike probleme raak te sien en daarvoor te kompenseer. Tydens die opstel van die skedule moet die logiese verloop van die proses bepaal word. Dit is goed om die sensitiewe onderwerpe eers later in die onderhoud te doen. (Nieuwenhuis, 2007c:88; Merriam, 2009:100).

Onderhoudsvoering-tegnieke

Om „n suksesvolle onderhoud te voer en relevante data in te samel het die navorser die volgende tegnieke toegepas (Nieuwenhuis, 2007c:88):

 Daar is gefokus op deelnemers wat „n belang het by die studie.

 Daar is seker gemaak dat die deelnemers duidelikheid het oor waaroor die studie gaan en gewillig is om deel te neem.

 Tussentydse data-analises is gedoen om te bepaal of die studie nog op die regte pad is.

 Die onderhoud is nie te lank gemaak nie.

 Die onderhoud is nie deur die onderhoudsvoerder oorheers nie; daar is eerder geluister na die deelnemer.

Die volgende wenke en tegnieke van Greeff (2005:288-289) is deur die navorser tydens die onderhoud toegepas ten einde „n geslaagde onderhoud te hê en data effektief in te samel:

 „n Onderhoud is nie „n dialoog nie. Die deelnemer het gepraat en die onderhoudsvoerder het geluister.

 Die vrae was duidelik en verstaanbaar vir die deelnemer. Terme wat bedoel is om die respondent te beïndruk is vermy.

 Slegs een vraag op „n keer is gestel.

 Vrae wat meer as „n blote ja of nee van die deelnemer vereis het, is gestel.

 Vrae wat die deelnemer ongemaklik kon laat voel, is vermy.

 Die onderhoud is begin met vrae wat nie kontroversieel was nie.

 Vrae oor die ervaring van die deelnemer is eers gevra voordat vrae oor die deelnemer se opinie gevra is. Byvoorbeeld: “Hoe lank is jy al betrokke by ambagsgerigte opleiding?”

 Die deelnemer is met vrae van die algemene na die spesifieke gelei.

 In gevalle waar die deelnemer se antwoord nie duidelik was nie, is nog vrae gestel om dit uit te klaar.

 Leidende vrae is vermy.

 Sleutelvrae is periodiek gedurende die onderhoud herhaal.

 Die onderhoudsvoerder was bedag daarop om nie beheer oor die verloop van die onderhoud te verloor nie.

 Die deelnemer was nie gedruk vir „n reaksie nie. Tyd is toegelaat om die vraag te oordink.

 Daar is teruggekeer na punte wat nie volledig afgehandel is nie.

 Die deelnemer se gedagtetrant is nie onderbreek met „n ander vraag nie. Daardie vraag is later gestel.

 Die effek van die onderhoud op die deelnemer is heeltyd gemonitor. Die deelnemer se reaksie het aangedui wanneer „n onderwerp opgevolg moes word.

 Daar is gewaak daarteen dat die onderhoud nie afdwaal in „n irrellevante rigting nie.

 Die situasie is vermy waar die deelnemer “van die rekord af” wou reageer.

 Daar is nie met die bandopnemer tydens die onderhoud gevroetel nie. Dit sou onnodige aandag op die toestel vestig.

 Daar is by „n redelike tyd vir die onderhoud gehou.

 Die navorser was bewus daarvan dat, wanneer die bandopnemer afgeskakel is, die onderhoud nie noodwendig verby is nie.

 Die onderhoudsvoerder het nie die onderhoud gebruik om met sy kennis te spog nie.

Effektiewe onderhoudvoering is egter nie slegs die stel van vrae en die opneem van data nie. Die onderhoudsvoerder het die volgende kommunikasie-tegnieke toegepas om die onderhoud meer effektief te maak (Greeff, 2005:289-290):

Verbale reaksie. Daar is aangedui dat daar na die deelnemer geluister word deur periodiek “ja” of “ek sien” te laat val.

Parafrasering. Die deelnemer se respons is in ander woorde wat meer betekenis daaraan gee, herhaal.

Verduideliking. Die deelnemer is gevra om op „n stelling uit te brei.

Refleksie. Daar is verwys na iets wat die deelnemer gesê het om die persoon aan te moedig om uit te brei op „n onderwerp, byvoorbeeld: “Jy glo dus dat ambagsopleiding tekortskiet.”

Aanmoediging. Die deelnemer is aangemoedig om „n denkrigting te volg: “Dit is interessant, vertel my meer.”

Kommentaar. Die onderhoudvoerder het soms „n eie idee in die onderhoud gewerp om die deelnemer te stimuleer om meer te sê: “Ek het altyd gedink die teenoorgestelde is waar.”

Reflekterende opsomming. Die deelnemer se idees en gevoelens is opgesom om seker te maak dat hy reg verstaan word. “Dus, wat jy sê is….”

Luister. Die onderhoudvoerder het nie slegs geluister nie, maar ook gehoor wat die deelnemer sê.

Polsing. Polsing is „n tegniek wat die onderhoudvoerder gebruik het om meer diepte aan die data te gee. Hierdie tegniek is tydens die onderhoude gebruik wanneer die antwoorde nie heeltemal duidelik was nie.

Die opneem en transkribering van onderhoude

Die algemeenste metode om inligting wat met „n onderhoud verkry naamlik met behulp van „n bandopname, is deur die navorser gebruik (Merriam, 2009:109). Volgens Welman et al. (2005:211) en Cohen et al. (2007:365) is transkribering die proses waartydens die data wat deur middel van veldnotas en bandopnames ingesamel is in „n formaat neergeskryf word wat geanaliseer kan word. Daar moet daarteen gewaak word dat inligting nie tydens die proses verlore gaan of verkeerd geïnterpreteer word nie.

Slaggate by onderhoudvoering

Die volgende faktore wat volgens Greeff (2005:290-291) en Cohen et al. (2007:363) die effektiwiteit van „n onderhoud beïnvloed, is deur die navorser in ag geneem:

Onderbrekings. Die vloei van die onderhoud is nie onderbreek nie, en die deelnemer het nie konsentrasie verloor nie.

Kompeterende afleidings. Omdat „n goeie onderhoud „n hoë vlak van konsentrasie verg, is daar nie te veel onderhoude op een dag gevoer nie. Vir hierdie studie het die navorser slegs een onderhoud per dag gevoer.

Onderhoudsangs. Daar is in ag geneem dat sommige deelnemers geïntimideer word deur „n bandopnemer en die feit dat wat hul sê op rekord gaan. Deelnemers is verseker dat die inligting vertroulik is.

Ongemaklike vrae. Somtyds word daar tydens „n onderhoud vrae gestel wat nie gewoonlik deel van „n normale gesprek is nie. Die navorser het besluit of sulke vrae noodsaaklik was, en die onnodige verwyder.

Die onderhoudvoerder se eie siening. Daar is gewaak daarteen dat die deelnemer nie deur die onderhoudvoerder gelei is om sy eie siening aangaande die onderwerp openbaar te maak nie.

Oppervlakkige onderhoude. Die onderhoude is nie afgejaag nie sodat belangrike inligting nie verlore gegaan het nie.

Vertroulike inligting. Die navorser het daarteen gewaak om nie tydens die onderhoud sensitiewe inligting aan die deelnemer bekend te maak nie.

Die gebruik van vertalers. Dit kan die proses stadig maak en inligting kan gedurende die vertalingsproses verdraai word. Dit was nie nodig om van vertalers gebruik te maak nie, aangesien al die deelnemers Afrikaans goed magtig is en aangedui het dat hul gemaklik daarmee is om die onderhoud in Afrikaans te doen.

Veldnotas

Veldnotas behels die neerpen van inligting buiten dít wat met die vrae ingewin is. Dit sluit in dinge wat die navorser hoor, sien, ervaar en dink tydens die onderhoud. Daar is opgelet na die deelnemers se liggaamstaal, reaksie op „n vraag, gewilligheid om uit te brei op „n antwoord, sowel as hoe hul voel oor die onderwerp onder bespreking. Die navorser het hierdie indrukke so gou moontlik na die onderhoud neergeskryf, terwyl dit nog vars in die geheue was. Hierdie inligting het die navorser gehelp om „n geheelbeeld van die onderhoud te vorm (Welman et al., 2005:199; Merriam, 2009:100).

Voor- en nadele

Volgens Nieuwenhuis (2007c:87), het die onderhoud die voordeel dat dit ryk, beskrywende data lewer wat tot „n beter begrip van die probleem lei. „n Nadeel is dat die navorser die gevaar loop om bevooroordeeld te wees. Die navorser het by die voorafbepaalde vrae van die onderhoud gehou, en nie die response van die deelnemers beïnvloed nie.