• No results found

3.  KRITIEK TEEN DIE HORISONTALE TOEPASSING VAN DIE HANDVES VAN REGTE 154 

3.5   ʼn KORREKTE BEGRIP VAN DIE OORBRUGGING VAN DIE ONDERSKEID TUSSEN DIE

Die Handves van Menseregte maak verskeie deure oop vir ʼn hof om die “onderskeid” wat daar bestaan, indien sodanige onderskeid enigsins geldig is, tussen die publiekreg en die privaatreg te oorbrug. By die toepassing van ʼn bepaling van die Handves van Menseregte op ʼn natuurlike of regspersoon ingevolge Artikel 8(3)(a) van die Grondwet moet ʼn hof ten einde gevolg te gee aan ʼn reg in die Handves, die gemenereg toepas, of dit indien nodig ontwikkel, in die mate waarin wetgewing nie aan daardie reg gevolg gee nie.

Artikel 8(3) van die Handves van Menseregte sluit verder aan by Artikels 39(2) en (3) van die Grondwet, wat soos volg bepaal :

“(39)(2) By die uitleg van enige wetgewing, en by die ontwikkeling van die gemenereg of gewoontereg, moet elke hof, tribunaal of forum die gees, strekking of oogmerke van die Handves van Menseregte bevorder.

(39)(3) Die Handves van Menseregte ontken nie die bestaan van ander regte of vryhede wat deur die gemenereg , gewoontereg of wetgewing erken of verleen word nie, in die mate waarin daardie regte of vryhede met die Handves bestaanbaar is.”

ʼn Korrekte uitleg en ontwikkeling van veral die gemenereg gaan in die toekoms meebring dat die onderskeid wat tussen die publiekreg en die privaatreg bestaan, gaandeweg sal vervaag. Die eerste spore hiervan word reeds gevind in die beslissing van Eastern Metropolitan Substructure v Peter Klein Investments, 391 soos hierbo in besonderhede bespreek.

Die hof vermeld ook dat die gemenereg in die vermelde saak nie daarvoor voorsiening gemaak het om estoppel in werking te stel om te voorkom of te verhoed dat ʼn statutêre plig nagekom of uitgevoer word nie. Die hof vra tereg die vraag of die gemenereg nie ingevolge Artikel 39(2) van die Grondwet as sodanig uitgebrei kan word om die gees, doel en oogmerk van die Handves van Menseregte weer te gee deur die pleit van estoppel deur die verweerder te handhaaf nie.

Die hof stel dit duidelik dat die Grondwet ʼn verandering aan die inhoud van die leerstuk van estoppel teweeggebring het, veral waar dit van toepassing was op die publiekreg. Binne die raamwerk van die Grondwet is dit nou vir die hof moontlik om die nodige uitbreidings rakende die gemenereg aan te bring. Die aanwending van

die leerstuk van estoppel maak nie inbreuk op die bepalings van die Grondwet nie. Die blatante toepassing van estoppel, veral waar dit strek tot voordeel van die owerheidsorgaan om sy negering van statutêre voorskrifte na te kom of goed te keur, druis wel in teen die bepalings van die Handves van Menseregte en die gees van die Grondwet.

Die verweerder is benadeel deur die eiser se voorstelling om nie die nodige heffings betyds te verhaal nie. Die hof is deeglik bewus van hierdie benadeling en stel dit soos volg :

“To permit the plaintiff to take advantage of the established rule against the raising of an estoppel, where there was no alleged or minimal countervailing benefit to the plaintiff, would be inconsistent with the entrenched constitutional value of reasonable public administration. To allow the plea of estoppel in the limited and peculiar circumstances of the present case would prevent hardship and injustice and give content to the object of the Constitution and the basic values underlying it. Estoppel was after all an equitable doctrine which was pertinently concerned with questions of fairness in particular contests. One of its functions was to protect relationships of trust and confidence in the sense that it would hold parties to their representation to one another where there had been detrimental reliance.” 392

Uit hierdie beslissing is dit duidelik dat die privaatregtelike leerstuk van estoppel wel ter sprake gebring kan word teen ʼn owerheidsorgaan, veral waar hy nie die statutêre verpligting wat opgelê word na behore uitvoer nie en sodanige negering vir die onderdaan in die publiekregtelike verhouding benadeel.393

Is die Handves van Menseregte van toepassing op die privaatreg? Wat sê die buitelandse reg hieroor?

In Duitsland, die Verenigde State van Amerika en Kanada is daar verskeie grondwetlike bepalings toegepas om alternatiewe vir die direkte toepassing van die Grondwet op die privaatreg daar te stel.

In Duitsland is die siening van die regbank en skrywers dat regte vervat in die Handves van Menseregte slegs indirek op die gebied van die privaatreg toegepas kan word. Die argument word geopper dat die Grondwet nie ʼn uitdruklike bepaling bevat wat vereis dat die Handves van Menseregte op privaat verhoudings toegepas

392 2001(4) SA 661 (WLD) by 665.

393 2001(4) SA 661 (WLD) By bladsy 665 E-F beslis die hof soos volg: “Further, that the facts of the present case called for an indirect application of the

fundamental rights provision embodied in the Constitution. The degree of development of the common law that was required was of a limited nature. What was required is not a setting aside of common law rule but an incremental change in its application, necessary to ensure that the underlying values and objectives of the Constitution were achieved. Instead of permitting a barrier to the raising of estoppel against a public authority exercising public power, the common law had to be developed to emphasise the equitable nature of estoppel, and its function as a rule allocating the incidence of loss. (Paragraph (40) at 685 F-H) The exception on the estoppel issue was dismissed.”

moet word nie. Die hoër gesag van die Handves van Menseregte word as sodanig geakkommodeer in verskeie leerstukke, sodat dit ʼn objektiewe waardesisteem daarstel, wat as sodanig ʼn indirekte glansryke effek op die privaatreg sal hê, veral waar oneweredige private verhoudings oorweeg word en waar algemene privaatregtelike konsepte soos boni mores en bona fides van toepassing is.

Aangesien die bepalings van die Amerikaanse Handves van Menseregte verwys na grondwetlike verpligtings van die federale wetgewer en die federale state, is die Handves van Menseregte slegs op owerheidsoptrede van toepassing.394 Owerheidsoptrede word weer sodanig toegepas, dat sekere privaatregtelike verhoudings ook ingesluit word.395

In Kanada is die Handves van Menseregte van toepassing op owerheidsorgane. Volgens die Handves sluit staatsorgane nie die howe in nie. Wetgewing wat private verhoudings reël, moet voldoen aan die bepalings van die Handves van Menseregte, maar in litigasie tussen privaatpartye mag die geldigheid van die gemenereg nie ooreenkomstig die Handves van Menseregte in hersiening geneem word nie.

Wat Suid-Afrika aanbetref, het die Konstitusionele Hof reeds in Du Plessis v de

Klerk396 beslis dat die Handves van Menseregte van toepassing is op die privaatreg. Die onderskeid wat daar in die verlede tussen privaatreg en publiekreg gemaak is, is in ons regsisteem geworteld. Dit strek so ver terug as Justinianus se “Institute”. “Public law is that which regards the government of the Roman Empire, private law, that which concerns the interests of individuals”.397

Die idee word op die voorgrond geplaas dat ‘publiekreg’ die verhoudings tussen onderdane en die staat beheer, terwyl “privaatreg” van toepassing is op die verhouding tussen privaat partye. Uit hierdie Romeinsregtelike onderskeid het daar twee hoof regstemas na vore gekom. Een tema dui aan dat publiekreg anders hanteer moet word, aangesien die verhouding tussen staat en onderdaan een is van fundamenteel ongelyke partye. Daarmee sou dit dus stilswyend te kenne gegee het dat die verhouding tussen partye in die privaatreg ʼn meer gelyke verhouding tussen

394 In die “Civil Rights Cases” 1883(109) US 11 is die volgende aangehaal aangaande die 14de amendement:“It is State Action of a particular character that

is prohibited. Individual invasion of individual rights is not the subject matter of the Amendment.” Hierdie siening word formeel steeds gehandhaaf. Diskriminasie in privaat verhoudings word nie as sodanig deur die Handves van Menseregte verbied nie, maar eerder deur verskeie sivielregtelike wette wat aangeneem is deur die Federale Wetgewer.

395 Die volgende dien as voorbeelde:Marsh v Alabama 1946(326) US 501, 'n Privaatmaatskappy in beheer van 'n dorp oefen openbare pligte uit; Terry v

Adams 1953(345) US 461; Politieke partye wat vereistes vir verkiesings bepaal, doen dit asof hulle publieke organe is; Burton v Wilmington Parking Authority 1961(365) US 715; 'n Party wat 'n koffiekroeg in 'n munisipale parkeerarea huur, word ook beskerm deur die beskermingsklousule vervat in die veertiende amendement.

396 Die Handves van Menseregte is direk van toepassing wanneer op die Handves gesteun word in gedingvoering teen die Staat, of waar die ongeldigheid

van die statute en administratiewe wette wat die private verhoudings reguleer en 'n dispuut hieroor ontstaan, en ook wanneer die Staatsorgane optree ingevolge die Gemenereg (Paragraaf 49). Sekere bepalings mag direkte toepassing by noodsaaklike implikasie hê (Paragraaf 62 & 161). Die Handves van Menseregte word indirek toegepas wanneer 'n privaat persoon in privaat litigasie beweer dat die Gemenereg teenstrydig met die Handves van Menseregte is. Sien ook die besprekings van die saak deur Cheadle and Davis:1997:44; Woolman and Davis:1996: 361.

hulle daargestel het. ʼn Volgende tema stel die twee regstelsels naas mekaar om aan te dui dat die publiekreg indring op die gebied van “politiek”. Privaatreg is dan heeltemal losstaande van sodanige politieke oorwegings.

In die hedendaagse regsteorieë word pogings aangewend om hierdie verouderde denkwyse, wat veral deur vroeëre regsgeleerdes vertroetel is, in die ban te doen. Die aanval rakende die onderskeid tussen kontrak en delik is welbekend.398 Teoretici het ook begin om die onderskeid tussen reg en beleid, of judisiële rol en wetgewende rol, of staat en gemeenskap te bevraagteken.399

Dit is gevolglik nie ʼn verrassing dat die onderskeid tussen privaatreg en publiekreg ook onder skoot gekom het nie. Hierdie onderskeid word veral indringend deur Alfred Cockrell in sy artikel “Can You Paradigm? - Another Perspective on the Public

Law/Private Law Divide” bespreek.400

Ter afsluiting van sy artikel maak Cockrell die volgende belangrike afleiding : “Now although private law is not usually said to be concerned with these matters, the regulation of private disputes raise deeply political issues in its own right. It is too early to talk of participation and accountability in private law structures, but it would be possible to fasten onto values such as good faith and co-operation in the context of (for example) contract law. Perhaps, then, we should see public law and private law as two subtly nuanced paradigms which operate side-by-side within South African Legal discourse, and approach the prospect of ‘paradigm leaps’ with relish rather than with dread.”

ʼn Aantal jare het verloop vandat hierdie stelling gemaak is. Daar kan reeds ʼn verskuiwing van idees bespeur word rakende die verskil tussen Privaatreg en publiekreg wanneer die Handves van Menseregte van toepassing is. Die Eastern

Metropolitan Substructure-saak hierbo bespreek, kan ongetwyfeld gesien word as

voorloper van die nuansverskuiwing van die Konstitusionele Hof rakende die onderskeid tussen die privaat- en publiekreg.

398 Gilmore, 1974.

399 Kennedy, 1982:1349. Sien ook Shapiro, 1984:465. 400 Cockrell, 1993:227.