• No results found

3.  DIE ONTWIKKELING VAN ADMINISTRATIEWE GEREGTIGHEID AAN DIE HAND VAN

3.3   DIE AUDI ALTERAM PARTEM-REËL 39

In natuurlike geregtigheid is die stelling gevestig dat ʼn man geen verlies van vryheid of eiendom kan lei as gevolg van die nie-nakoming van ʼn geregtelike proses nie, behalwe waar hy eers die geleentheid gebied is om antwoorde te verskaf ooreenkomstig die saak wat teen hom ingebring is. ʼn Afwyking kan plaasvind, wanneer die wetgewer hetsy uitdruklik, of inbegrepe, opdrag gegee het om teenstrydig met bogemelde voorbehoud op te tree. Van die vroegste gerapporteerde beslissings hieroor was summiere verrigtinge voor regters, waar die reël toegepas is. ʼn Voorvereiste vir die geldigheid van bogemelde verrigtinge was die betekening van ʼn dagvaarding op die party betrokke by die verrigtinge, nie alleenlik in strafregtelike aangeleenthede nie, maar ook in aansoeke vir beslaglegging en bevele vir die heffing van belasting en ander verwante heffings wat deur openbare liggame opgelê sou word. Regters wat summier voortgegaan het om ʼn beslissing te maak, sonder dat daar ʼn dagvaarding aan ʼn party oorhandig is, was strafbaar deur die "Court of Kings Bench" vir wangedrag. In 1723 reeds is ʼn

mandamus uitgereik om dr. Bentley se akademiese kwalifikasies, waarvan hy by die

Universiteit van Cambridge, sonder ʼn dagvaarding ontneem is te herstel.79 Dit het gevestigde gebruik geraak dat die verwydering uit ʼn pos voorafgegaan moet word deur die uitreiking van ʼn dagvaarding (klagstaat) en die hou van ʼn verhoor, waar

78 Wade, 1982:777.

die kantoor (pos) vrye besit was of slegs vir ʼn goeie rede ontruim moes word. Dagvaarding en verhoor sou nie plaasvind indien die party die pos uit eie keuse ontruim nie.

ʼn Negentiende-eeuse beslissing het bepaal dat die audi alteram partem-reël die optrede van arbiters, professionele liggame en vrywillige verenigings in die uitvoering van hulle dissiplinêre funksies sou beheer,80 asook enige tribunaal of liggaam van persone wat bevoeg was om te beslis in enige aangeleenthede wat siviele nagevolge vir ondergeskiktes ingehou het. Die reël word steeds in hierdie omstandighede toegepas. ʼn Persoon wat ontneem is van sy/haar lidmaatskap van ʼn klub of soortgelyke organisasie of ʼn vakbond, of wat verhoed is om deel te neem aan stemming deurdat hy/sy van die register verwyder is, of waar ʼn lisensie herroep is as gevolg van wangedrag, of ʼn aanduiding deur die handelsassosiasie dat hulle die persoon se noodsaaklike voorrade weerhou, is prima facie geregtig om die besluit deur die howe tersyde te stel. Tersydestelling sou nie plaasvind wanneer hy/sy voldoende kennis gegee is van die voorgenome optrede of die aantyging wat teenoor hom/haar gemaak is nie, en sou ʼn billike kans gebied word om hom/haar te verdedig. Daar is aanduidings dat die audi alteram partem-beginsel kragdadig toegepas is, veraI waar die sanksie wat mag volg ʼn persoon van sy lewensbrood mag ontneem het of daar ʼn klag aanhangig gemaak is wanneer ʼn persoon in diskrediet geplaas is.

Natuurlike geregtigheid het beveel dat diegene wie se belang direk aangetas sou word deur ʼn komende besluit, die geleentheid gebied word om vooraf kennis te kry en voldoende redes moes ontvang om aangehoor te word. Die tribunaal wat die saak aanhoor, moes geen belang by die saak hê nie en die tribunaal moes onbevooroordeeld wees. In die Klassieke Romeinse Reg kon die regter wat ʼn verhoor sy eie verhoor gemaak het, aanspreeklikheid opdoen deur die benadeelde party op grond van ʼn quasi delik.81

In die Engelse Reg doen ʼn regter nie siviele aanspreeklikheid op indien hy die stelreël nemo iudex in causa sua nie verbreek nie. Nie-nakoming kan die regter egter weerhou om as regter te ageer en sy/haar bevinding kan tersyde gestel word op appèl, of by wyse van ʼn aansoek om die bevel tersyde te stel (hersiening), of enige ander gepaste remedie waarvolgens die beslissing in die verband gedoen word.

Bracton82 skryf dat ʼn regter nie veronderstel was om ʼn saak te verhoor nie, indien hy/sy verdink is van partydigheid weens bloedverwantskap, verwantskap,

80 Robson, 1951:391.

81 Justinianus, 1904:4, 5 pr. Kyk ook “Justinian codex”, 3.5.1:Ne quis in sua causa judicet, vel jas sibi dicat. 82 Cicero, 1984:F.412.

vriendskap of vyandiggesindheid/kwaaivriendskap, of weens sy ondergeskikte status teenoor ʼn party, of omdat hy ʼn party se advokaat was. Hierdie beginsels, wat Bracton uiteensit asof hulle alreeds deel van die gemenereg was, was inderdaad gemeneregsreëls vir rekusering van verdagte regters, welke beginsels toegepas was deur die Engelse kerkregtelike howe en ook soos dit blyk, in Middeleeuse Skotse howe. Hierdie beginsels kom ooreen met die gronde vir diskwalifikasie van regters vir bevooroordeeldheid in die moderne Engelse Reg. Daar blyk egter geen bewys te wees dat Bracton se breë stelling van Kanonieke Reg, as synde gemenereg te wees, algemeen aanvaar en toegepas is deur sy opvolgers nie. Andersyds was dit ʼn neergelegde feit dat daar vermoed is dat regters nie bevooroordeeld sou wees nie. Die beginsel dat ʼn regter gediskwalifiseer sou word om ʼn aangeleentheid aan te hoor, veral waar daar ʼn groot mate van moontlikheid sou bestaan dat hy wel bevooroordeeld sou wees, is nie voor 1860 vasgelê nie. Bracton word nie in enige van die gesaghebbende Engelse beslissings hieroor aangehaal nie. Die gevolgtrekking kan gemaak word dat die oorwig van waarskynlikheid skerp oorgeleun het na die standpunt dat die gemeneregsreëls op enige stadium direk in die gemenereg geïnkorporeer is. Dit wil voorkom of die regters dieselfde beginsels soortgelyk aan die beginsels van die Kanonieke Regsgeleerdes aangeneem het, nie by wyse van nabootsing van denke nie, maar dat die Engelse Regters onafhanklik na ʼn regverdige en billike oplossing beweeg het.

Die traagheid van gewone regsgeleerdes om die leerstuk van diskwalifikasie van regters op grond van eie belang en bevooroordeeldheid te erken, word duidelik deur Coke se uitlating geïllustreer. Hy sê dat regters en regsgeleerdes, anders as regeerders, nie aangekla kan word op grond van ʼn bewering deur Blackstone gemaak nie, wat van siening was dat dit ʼn geldige en standvastige reël van die publieke beleid was. Lank voor Blackstone se bewering het die Ridder van Derby en die Burgemeester van Hereford, Sir Nicholas Bacon reeds ontdek dat die gemenereg aan ʼn regter nie toestemming verleen het om in ʼn saak te beslis, waarby hy as regter ʼn direkte geldelike of eiendomsregterlike belang gehad het nie.83

Die feit dat ʼn persoon nie regter in sy eie saak mag wees nie, is deur Coke as ʼn fundamentele beginsel van die gemenereg verhef. Hierdie stelreël is so belangrik dat Coke self voorgestel het dat dit verhewe was bokant ʼn Wet van die parlement. Hy bevestig dit deur ʼn saak waar die Kanselaryhof (Court of Chancery) ʼn beslissing

83 Vir ander vroeër gerapporteerde sake, sien ook die Focham Titing-Saak 1705(2) SALK, 607 (die Landmeter tree op as “regter” in 'n aangeleentheid wat

sy kantoor raak); Company of Mercers and Ironmongers of Chester v Bowker 1725(1) STR, 639 ('n lid van die maatskappy neem die ampte van burgemeester sowel as lid van die hof op, voordat uitspraak gelewer word); Great Charte v Hemmington 1742(2) STR, 1173 (regter in vervoer-saak het ook 'n belang as plaaslike belastingbetaler).

gegee het dat die regter in Chester onbevoeg was om in ʼn geding te beslis, waar hyself ʼn party was.84 In die saak van dr. Bonham85, waar die hof ondersoek ingestel het rakende ʼn beslissing van die College of Physicians om van sy lede te beboet vir wanpraktyke, beslis die hof dat die seniors van die Kollege nie regters, dienaars en partye tot die verrigtinge kan wees nie "... quia aliquis non debet esse

judex in propria cause... ." en dat ʼn persoon nie regter en prokureur vir die partye

kan wees nie. Te meer, waar ʼn Wet van die parlement teenstrydig is met gemenereg of rede, óf onverenigbaar, óf onmoontlik is om dit uit te voer, sal die gemenereg dit kontroleer, en oordeel dat die optrede of handeling nietig is. "So if any Act of Parliament gives to any to hold, or have conusans of all manner of pleas arising before him within his manor .. yet he shall have no plea, to which he himself is party, for, as hath been said, iniquim est aliquem suae rei esse judicem.”86 Soortgelyke idees is weergegee deur Hobart en Holt. Dit is te betwyfel of ʼn hof uitsluitlik op die grondslag dat dit ʼn party ʼn regter in sy eie saak maak wetgewing nietig sal verklaar. Daar kan geargumenteer word dat Coke slegs van siening was dat wetgewing wat op so ʼn wyse saamgestel is, streng uitgelê moet word om sodoende ʼn blote absurditeit te vermy. Die parlement is bevoeg om, ingevolge wetgewing, ʼn party regter in sy eie saak te maak. Dié aspek is vir ʼn geruime tyd nie betwis nie, maar die howe sou voortgaan om ingevolge gemeenregtelike tradisie te weier om so ʼn samestelling van wetgewing te aanvaar en sou ʼn ander interpretasie aan die wetgewing verleen, indien die wetgewing vatbaar was vir ʼn alteratiewe interpretasie.

In die ontwikkeling van moderne reg, rakende die diskwalifikasie van geregtelike dienaars op grond van eie belang en bevooroordeeldheid, het die hoër howe altyd daarna gestrewe om die beginsel "that it is of fundamental importance that justice should not only be done, but should manifestly and undoubtedly be seen to be done", toe te pas, sonder om enigsins krediet te verleen aan die verkeerde siening dat dit uiters belangrik is dat geregtigheid klaarblyklik nagekom sal word, in plaas daarvan dat dit inderwaarheid wel nagekom is. Die klem het derhalwe verskuif vanaf die voorskrifte van die natuurreg na die meer subtiele verfyning van die openbare beleid. Ten einde te verseker dat die vertroue van die publiek in die regsisteem behoue bly, sal geen persoon wat ʼn party is tot hofverrigtinge of regsverrigtinge, en wat ʼn direkte geldelike belang daarby het, deur die gemenereg toegelaat word om in hierdie verrigtinge te beslis nie.

Die reël teen bevooroordeeldheid is gemaklik algemeen aangewend op funksies van vrederegters, hetsy in ʼn judisiële of administratiewe hoedanigheid. Op hierdie wyse

84 Egerton v Lord Derby 1613(12) CO. REP. 114.

85 Dr Bonham’s case 1938(54) L.Q.R. 543. (Hofsaak verwysing 8 Co.Rep. 107a, 114a C.P. 1610). 86 1610(8) Co. Rep. 113b, 118. See also Co. Litt. 141a.

was die reël geredelik aangeneem as administratiewe optrede. Hiervolgens is daar in die agtiende en negentiende eeu, gedurende die tydperk toe plaaslike regering meestal in die hande van regters beland het, is baie van die beslissings van die plaaslike owerheid tersyde gestel as gevolg van bevooroordeeldheid in sake soos hoofwegadministrasie, swak regsadministrasie en dranklisensiëring.

3.4 GEREGTELIKE HERSIENING: REDELIKHEID / PROPORSIONALITEIT