• No results found

Die Suid-Afrikaanse staatsdiens en gevolglik owerheidsonderdane, funksioneer hoofsaaklik in ʼn politieke omgewing, wanneer hulle pligte aan die hand van wetgewing uitgevoer word.

In die verlede is wetgewing deur die amptenary letterlik nagevolg en uitgevoer. Die totstandkoming van veral die Finale-Grondwet het hier in die werksmilieu ʼn drastiese verandering teweeggebring. Administratiewe geregtigheid is ʼn aspek waaraan die amptenaar in die uitvoering van sy pligte veral sal moet aandag bestee. Korrekte owerheidsoptrede word nou statutêr vasgelê in die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid, Wet 3 van 2000.

Die toepassing van die gedagte van ʼn grondwetlike staat of “rule of law” wat tot stand gekom het in die Interim- en Finale-Grondwette, is ʼn wesentlike aanvaarding dat die

politieke oppergesag nou in die Grondwet gesetel is. Hierdie feit is van allergrootste belang, aangesien dit aansluit by die invloed wat die twee Grondwette op die funksies en strukture van die Suid-Afrikaanse staatsadministrasie het. Gesien in die lig van Suid-Afrika se historiese staatsbestel, moet die Grondwet steeds gesien word as ʼn besondere produk, wat ontstaan het aan die hand van ʼn politieke konteks.

Wat die Grondwet betref, moet ons eerstens die administratiefreg in die regte perspektief plaas. Dit kan slegs bereik word deur die korrekte aandagbesteding aan die definisie van die administratiefreg. Daar moet egter uit die staanspoor gewaarsku word dat die vakgebied vanweë veral die geweldige omvang daarvan, moeilik definieerbaar is.

Selfs die Romeins-Hollandse Reg het ʼn invloed gehad op ons Suid-Afrikaanse administratiefreg. Baxter meld die volgende rakende die belang van die Romeins- Hollandse Reg:

“Roman Dutch law has played a small role in shaping South African administrative law. The old authorities have been cited in cases involving failure to observe prescribed procedures, the finality of administrative acts, delegation of powers, the principles of fair procedure, compensation for interference with rights, and in relation to judicial remedies. In other areas, especially in relation to the sources of authority for administrative action and the manner by which discretionary powers are to be exercised, the influence of Roman-Dutch law has been neglible.”258

Baxter toon aan dat, alhoewel daar ʼn stelsel van Romeins-Hollandse administratiefreg bestaan het, dit gemeet aan moderne stelsels onderontwikkeld was. Dit was gebaseer op ʼn filosofie van regering so ver verwyderd van ons eie, dat dit met die uitsondering van enkele basiese beginsels, nie van veel hulp was nie.

Garner definieer die administratiefreg soos volg:

“It seems then that we are dealing with rules, most but not all of which are rules of law in the strict sense, that are concerned with the conduct of the general business of the government of the country within the broad principles laid down by policy makers ….. Nearer than this it is probably impossible to approach a precise definition of administrative law.”259

Hawke laat in sy definiëring die klem op ʼn totaal ander aspek val. Volgens hom hou die administratiefreg hom hoofsaaklik besig met geregtelike kontrole oor die regering se magte en bevoegdhede.260

Raubenheimer beklemtoon die regsverhouding teenoor die individu as hy sê :

258 Baxter, 1984:34. 259 Garner, 1979:3. 260 Hawke, 1984:3.

“Volgens my mening kan die administratiefreg meer besonderlik omskryf word as daardie deel van die publieke reg wat die funksionering van die owerheid as sodanig reël in die tweërlei soort regsverhoudings waarin dit by die uitoefening van sy funksie te staan kan kom, naamlik, enersyds teenoor privaat persone en andersyds die verskillende owerheidsorgane teenoor mekaar. Dit is veral owerheidsoptrede teenoor die individu wat by die administratiewe reg op die voorgrond tree, want die regsreëling van hierdie ongelyke magsverhouding is die sentrale probleem van die administratiewe reg in die regstaat.”261

Volgens Wiechers kan die administratiefreg soos volg beskryf word :

“Administratiefreg is daardie deel van die publiekreg wat die organisasie, bevoegdhede en optredes van die staatsadministrasie reël. In hierdie omskrywing is daar drie elemente wat beklemtoon moet word : eerstens, dat administratiefreg deel van die publiekreg in ʼn staat uitmaak, tweedens, dat hierdie regsvertakking die organisasie, bevoegdhede en optredes van die staatsadministrasie reël en derdens, dat die staatsadministrasie die toepassingsgebied (sic) van dié regsvertakking uitmaak.”262

Wiechers se definisie is sekerlik die mees algemene; daarom ook dat die aspekte wat deur Garner, Hawke en Raubenheimer beklemtoon word, hierby ingelees kan word. Om ʼn omvattende definisie daar te stel, blyk egter problematies te wees. Wiechers maak nie voorsiening vir gevalle waar die staatsadministrasie per se nie betrokke is nie. Die reëls van die administratiefreg word in toenemende mate aangewend ten einde ook optredes van vrywillige verenigings en groepe te beheer.263

Daar bestaan egter ʼn verwantskap tussen konstitusionele reg en die administratiefreg, wat al twee vertakkinge van die publiekreg is. Konstitusionele reg verskil in wese nie veel van die administratiefreg nie. Beide se bronne is dieselfde en het te doen met die funksies van die staat. Konstitusionele reg het ook te doen met die organisasie en funksie van die regering, terwyl dit rustend verkeer, terwyl die administratiefreg homself bemoei met die organisasie en funksies van die regering in beweging.

Administratiefreg is nie ʼn geïsoleerde aspek van die publiekreg nie. Die algemene beginsels onderliggend aan die administratiefreg word afgelei vanuit die konstitusionele reg.

Konstitusionele reg moet verder beskou word as die hoeksteen van enige regsisteem. Dit verskaf die beginsels en prosedures vir die totstandkoming van ʼn regering.

261 Raubenheimer, 1961:1. 262 Wiechers, 1984:20.

263 Voorbeelde waarin die reëls so toegepas is, is onder andere Jockey Club of South Africa v Transvaal Racing Club 1959(1) SA 441 (A); Turner v Jockey

Club of South Africa 1974(3) SA 633 (A); Theron v Ring van Wellington van die N.G. Sendingkerk 1976(2) SA 1 (A). Dit is veral die reëls van natuurlike geregtigheid uit die kader van die administratiefreg wat dikwels buite die staatsorganisasie toegepas word.

Konstitusionele reg hou hom besig met die skepping van ʼn regering, terwyl administratiefreg betrokke is by die administrasie van die regering.