• No results found

HISTORIES-HERMENEUTIESE VERANTWOORDING

2.9 FRIEDRICH SCHLEIERMACHER (1768-1834)

2.9.2 HOOFTREKKE VAN SCHLEIERMACHER SE BENADERING

Schleiermacher het Kant se beskouing dat die voorwerpe van godsdienstige geloof geen “objektiewe” status het nie aanvaar. Hy het egter gemeen dat dit onvoldoende is om soos Kant ’n plek vir godsdienstige geloof in die ryk van die praktiese rede te vind. Nie die metafisika of die godsdiens is die ware tuiste van godsdiens nie. Dit word nie in ’n vorm van dink of doen gevind nie. Dit word te veel deur ons beperkinge gekenmerk. Die diepere vlak in ons waarmee die godsdienstige resoneer, is Gefühl, wat ter wille van misverstand met die vertaling daarvan eerder as “onmiddellike selfbewussyn” vertaal moet word – dit wat aan die basis van alle

69

ervaring lê. Hy noem dit verder ook die bewussyn van absolute afhanklikheid, waarmee bedoel word dat die bewussyn van nie selfgenoegsaam te wees nie, die bewussyn na vore bring van die een op wie staatgemaak word (vgl. Schleiermacher Deel 3 en 4).

In die samevatting van Schleiermacher se opvattings word daar sterk gesteun op Heron (1980:27-30). Schleiermacher se aanslag bring hom daartoe om die leerstellige van die geloof te definieer as verantwoordings van die Christelike godsdienstige sentimente wat in taal uitgedruk word. In vergelyking met ander godsdienste sien hy Christenskap as die hoogste, suiwerste en volledigste uitdrukking van hierdie Godsbewussyn (vgl. Schleiermacher, Deel 11-14).

Die betekenis van die Christelike geloof lê hy soos volg uit: Vanuit die onmiddellike selfbewussyn is daar die besef van beide pyn en plesier (Schleiermacher, Deel 62). Hierdie antitese gebruik Schleiermacher as inleiding tot die verlossingsleer. Hy ontvou dit as antitese tussen sonde en genade waar sonde te make het met die bewussyn van tekortkominge, beperkinge, onvolmaaktheid en sonde. Dit is die pynvolle aspek van die selfbewussyn. Die ander aspek is die bewussyn van volmaaktheid en seën wat ons herken as bemiddel deur Jesus en tot ons gekommunikeer deur Hom. Dit hou dus in dat watter vervreemding daar ook al van God beleef word, ons dit sal erken as dat dit sy oorspronge in onsself vind en dat ons dit sonde noem. Watter gemeenskap daar egter ook met God mag wees, weet ons dat dit berus op kommunikasie vanaf die Verlosser en dit noem ons genade (Deel 63).

Die selfbewussyn wat ook die Godsbewussyn tot gevolg het, verskaf ook die sleutel tot die persoon en werk van Jesus Christus. Jesus is God(delik) in die sin dat hy te onderskei is van alle ander mense in sy volgehoue Godsbewussyn. Die Godsbewussyn wat gefragmenteerd in alle mense bestaan, was volmaak in Hom gevorm en versprei van Hom na almal wat in Hom glo. Dit is dan die essensiële betekenis van die dogma wat Hom beskryf as God wat mens geword het en as ons Redder en Verlosser volmaak en sonder sonde is.

Voordat daar oorgegaan word na Schleiermacher se bydrae tot die hermeneutiek is ’n paar kritiese opmerkings van pas aangesien dit die verband met sy hermeneutiese aanpak duideliker behoort te maak. Soos reeds aangedui, het hierdie kritiese opmerkings ook betrekkking op sommige postmoderne teologieë en veral die sosiologies gekondisioneerde beklemtoning in metodologieë.

Heron (1980:31) wys daarop dat dit, gegewe Schleiermacher se definisie van leerstellinge, onseker is of dit wat Schleiermacher poneer, enigsins waar is van God self, of net ons verstaan van God. Sy identifisering van die onmiddellike selfbewussyn met die Godsbewussyn is ’n aksioma, wat eweneens deur sowel ’n pure humanistiese filosofie as deur ’n teologie wat daarop

70

staan dat God baie meer is as die omgekeerde van ons beperkinge, bevraagteken sal word. ’n Bietjie later (1980:46) nadat hy ook die ontwikkelinge deur Hegel geanaliseer het, vra Heron belangrike vrae oor Hegel, Ritschl en Schleiermacher. Die belangrikheid daarvan neem toe wanneer dit wat betrekking het op die subjektiwiteit van die individu (“his” en “man”) met die subjektiwiteit van die groep (“their” en “the group”) vervang word:

Although they all speak with great seriousness of God, their procedure concentrates very much on man – whether on his religious awareness, his moral striving, or his rational understanding. Does their theology then really speak about a real God, or merely about man himself? ... While they, unlike Feuerbach, certainly did not intend to turn theology into anthropology, did they nevertheless risk doing precisely that?

Spykman (1992:44-45) sluit by hierdie kritiek aan:

... Schleiermacher joined Kant in resting his case on an equally, though different,

humanist line of reasoning. He, too, shifted the norm for theology from the God-side to the man side. Human response was made normative for dogmatics. This leaves us with an essentially nonrevelational base for religion. By defining “religious feeling” as naturally present to human consciousness, Schleiermacher opens the floodgates to the primacy and autonomy of human experience ... The result is, instead of theology, a form of anthropology.

Die ander belangrike saak wat Heron (1980:32) aantoon, het te make met die kategorieë van denke binne die romantieke era waarin Schleiermacher reeds geleef het, en die wyse waarop dit Christus en ander godsdienste betrek. Hy wys daarop dat die Godheid van Christus en sy verlossingswerk kwalik in terme van Godsbewussyn genoegsaam beskryf kan word en dat daar ’n reduksie plaasvind ter wille van romantieke kategorieë van innerlikheid en historiese ontwikkeling. Hierdie kategorie van historiese ontwikkeling hou dan ook die gevaar in om uiteindelik die Christengodsdiens as net nog ’n godsdiens naas andere met sy eie spelreëls voor te stel. Schleiermacher se hele beskrywing van die Christelike geloof as die hoogste uitdrukking wys op gevaartekens in hierdie rigting. Spykman (1992:45) gaan selfs sover as om te sê dat Schleiermacher se hele teologiese metode staan en val by die aanname van ongebroke kontinuïteit tussen wêreldgodsdienste en die Christelike geloof. Hy wys dan daarop dat in Schleiermacher se tweede uitgawe van sy Christelike Geloof hierdie ideaal skielik verander het en dat dit as ’n drastiese inkonsekwentheid in sy metodiek verstaan moet word. Hiermee kan daar nou voortgegaan word na Schleiermacher se bydrae tot die hermeneutiek wat hom ook vader van die moderne hermeneutiek gemaak het.