• No results found

HISTORIES-HERMENEUTIESE VERANTWOORDING

3.2 BYBELS-TEOLOGIESE SKOONHEID

3.2.5 HEILSHISTORIES-ONTVOUENDE SKOONHEID

Vos se finale waardering in sy inougurale rede gaan daaroor dat die hoogste doel van enigiets moet wees om aan God diensbaar te wees. Bybelse teologie gee op ’n unieke wyse nuwe visie op die eer van God. Die God wat na ons neerdaal en ons ontmoet waar ons is, het tot ons in die vorm van tyd wat ons kon verstaan gespreek en daarom van die beginsel van organiese groei oor tyd heen gebruik gemaak om Homself te eer. Bybelse teologie is diensbaar daaraan om eer te bring aan God deur spesifiek organies ontvouend na te gaan hoe God Homself op organies- ontvouende wyse aan ons geopenbaar het.

Ook hierdie waardering van Vos kan verdiep word. Deur die hele saak van Bybelse teologie onder die noemer van “grammatika” tuis te bring, wil die eer van God juis gedien word. Dit wil die taal van die Bybel leer praat op die wyse waarop dit na ons in die Bybel kom. Langs die weg van die ontvouende geskiedenis van die Godsopenbaring word die basiese grammatika dan aangeleer. Hierdie aanleer gaan egter om eksistensiële gewisse kennis soos wat die refomatore kennis dan ook verstaan het.93 Dit gaan daaroor om tot die ware kennis van God te kom soos wat Hy Homself aan ons geopenbaar het en om in verwondering voor Hom te buig wanneer die

92 Vir beredenering oor die omgekeerde, vgl. 4.2.

151

ontvouende prag hiervan deur middel van Bybelse teologie op besondere wyse voor ons skitter. Iewers in die lewe van gelowiges begin dit en dit is die oortuiging van die skrywer dat hetsy op die sendingveld, of binne die kerk en verbondsgesinne waar kinders opgevoed word, of op die terrein van teologiese opleiding, die verbeeldingryke impak van die evangelieboodskap baie nou saamhang met die waardering van die dramaties-ontvouende verhaal van die Skrif wat in die Bybelse teologie so treffend na vore tree.

’n Praktiese voorbeeld hiervan is die werk wat deur New Tribes Mission (2010:internet) gedoen word. Hierdie sendingorganisasie is een van die grootstes ter wêreld en stel hul eer daarin om net daar te gaan waar die evangelie nog nooit gebring is nie. Geleidelik het die oortuiging by hierdie organisasie gegroei dat die standvastigheid van die bekeerlinge baie beter daar uitsien wanneer die Bybel in die hoofstadia van die ontvouende Godsopenbaring aan die mense verkondig is. Dit het daartoe gelei dat onder die leiding van Trevor McIlwan ’n hele stelsel ontwikkel is wat op hierdie benadering gebaseer is. Die interessante is verder dat sy metode later ook aangepas is om kinders, ook verbondskinders, oor vyftig lesse heen in te lei in die Godsopenbaring en wat ontvouend kulmineer in die verlossingshandelinge van Christus. Die verband wat bestaan tussen heidene wat die eerste keer hoor en kinders wat vir die eerste keer hoor (hoewel nou binne verbondskonteks), het bepaalde raakpunte en die waarde van die ontvouende benadering van Bybelse teologie word so bevestig as praktiese werkswyse om tot doksologiese verwondering oor God in Christus te kom.

In hierdie verband is daar ook verder gegaan om aandag te skenk aan die hele kwessie van ’n mondelinge Bybel in die sendingveld. Verhaal op verhaal word progressief ― heilshistories ontvouend ― aan persone oorgedra in ’n nie-literêre kultuur. Persone wat hiermee gemoeid is, het bevind dat die boodskap juis so baie gouer, sonder dat literêre vaardigheid ’n vereiste is, vasgelê kan begin word. Die rede is eenvoudig. Dit sluit aan by die vermoë van die mens om besonder vatbaar vir verhale te wees. As Sayers dan haar eerste fase wou laat aansluit by die bevatlikheid van kinders, is hierdie eerste fase deur middel van Bybelse teologie besonder geskik om aan te sluit by die bevatlikheid van mense oor die algememeen. Die verband met ’n post- literêre postmoderne samelewing word deur diegene wat betrokke is by Chronological Bible

Storying (2010:internet) ook uitgewys. Dit bevestig net verder die waarde van hierdie vakgebied,

ook vir ’n postmoderne samelewing. Behalwe Vos se opmerkings wat hier met opdatering aan die orde gekom het, is daar ook ’n aantal verdere opmerkings wat sy oorspronklike betoog vir die belang van Bybelse teologie wil uitbrei. Dit sluit nou aan by sekere verdiepende opmerkings wat reeds gemaak is.

152 3.2.6 LITERÊRE SKOONHEID

Volgens Long ([1994]1996) is daar drie basiese impulse in Bybelse literatuur – ’n teologiese (of ideologiese), ’n historiese (of referensiële) en ’n literêre (of estetiese) impuls. In ’n verrykende studie oor The Art of Biblical History, toon Long (vgl. [1994]1996:358-387) dan die grondliggende redes aan vir die verskil tussen hedendaagse geleerdes in die teologie. Hy toon aan dat daar anti-teologiese tendense in sommige histories-kritiese benaderings is; anti-literêre tendense in sommige sosiaal-wetenskaplike benaderings; en anti-historiese tendense in sommige literêre benaderings.94 Die verband met die waardering van Bybelse teologie is nou die volgende: Carson (2000:CD; vgl. 1995:21, 29) wys daarop dat die benadering van Bybelse teologie die voordeel het dat dit minder versteurend inwerk op sake soos die genre en spraakhandelinge van die teks self. Dit beteken dat Bybelse teologie se benadering beter diensbaar daaraan is dat ook die impulse van die Bybelse literatuur na vore sal tree. In ’n postmoderne tyd waarin die talige aard van teologie meer as ooit tevore besef word, is dit gerusstellend en opwindend om te weet dat iets soos die verskillende genres en spraakhandelinge van die Bybelse teks verreken word in die Bybels-teologiese omgang met die teks. Dit is egter ook belangrik om met inagneming van Long se uiteensetting, die literêre sy nooit los te maak van historiese en teologiese oorwegings nie. Wanneer hieraan gehoor gegee word, kan daar na hartelus oorgegaan word om ook die literêre aspek te myn vir die goud wat daar teenwoordig is.

As voorbeeld van wat onder meer hiermee bedoel word, kan Leland Ryken ([1992]2006) se literêre inleiding tot die Bybel genoem word. Ook Ryken onderskei die drie benaderings wat gekombineerd in die benadering tot die Skrif verreken moet word, te wete die teologiese, historiese en literêre impuls. Hy fokus in sy werk dan spesifiek op die literêre benadering en verduidelik wat dit inhou en waarom dit belangrik is. Hy wys eerstens op die belangrikheid van betekenis wat nie net deur inhoud nie, maar ook deur vorm oorgedra word. Betekenis kan misverstaan word as konvensies van genres byvoorbeeld nie in ag geneem word nie. Verder help hierdie benadering met geheelbeelde, aangesien die eenheid van gedeeltes en boeke baie belangrik geag word. Dit oefen sodoende byvoorbeeld regmatige kritiek uit op beide iets soos redaksie-kritiek asook vers-vir-vers-kommentaar waar die teks maklik versnipper kan word. Ryken ([1992]2006:22) wys verder daarop dat ’n literêre benadering sensitief is vir die verbeeldingryke appèl van die Skrif. Dit neem byvoorbeeld die beeldrykheid ernstig op en span ook die regterkant van die brein meer in:

94 Hierdie tipe analise kan as wegspringplek gebruik word in baie teologiese debatte. Basiese eensydighede behoort

so vinnig geopenbaar te word. Vgl. byvoorbeeld Frei (1974) se kritiek op korrelasie-teologie wat nie getrou bly aan die literêre aard van die teks nie in sy bekende werk: The Eclipse of Biblical Narrative. Vgl. besprekings hieroor by 2.2.2 (wat ook kritiek op onthistorisering insluit) en 2.16.6.

153

It operates on the assumption that the stories and poems and visions of the Bible give us pictures of the world as part of an overall world view.

Ryken wys ook op die universaliteit van ervaring waarvoor literêre benaderings sensitief is en sodoende baie help om die universele betekenis van ’n teks aan te dui. Die meestersimbole en arche-tipes sal daarom ook later in hierdie afdeling groter aandag kry.95 Verder is daar ook die genot van die artistieke skoonheid wat deur ’n literêre benadering gewaardeer word. Ryken ([1992]2006) praat ook hieroor gloeiend en noem dat ook die volmaaktheid van die literêre tegniek gesmaak behoort te word in sake soos die verhaaltegniek, metafore wat ingespan word en die kundigheid waarmee woorde ingespan word.

Die sensitiwiteit vir taal word in die literêre benadering hoog geëer. Die spesifieke woorde wat gebruik word, die figuurlike taal, die woordspel en ironie – alle linguistiese nuanses wat meer doen as net fokus op wat woorde bloot beteken – daarvoor is die literêre benadering sensitief as deel van die betekenis van die Bybel. Binne die taalwending van hierdie eeu wat in die eerste afdeling uitgewys is, is hierdie beklemtoning in hedendaagse teologie redelik bekend en word soms ongelukkig vereensydig ten koste van die historiese en teologiese impulse. Die uitdaging is egter om die taalaspek van die werklikheid op legitieme wyse binne die teologie tot sy reg te laat kom. Hiervoor is dit nodig om literêr sensitief te wees in die vertroue dat die God wat homself aan ons geopenbaar het, ook van die talige aspek gebruik maak in sy openbaring aan ons.96 Linguistiese sensitiwiteit is daarom iets wat om belonende aandag vra. Dit is veral via die literêre benadering wat hierdie sake duidelik aan die orde mag kom. Die aandag waarom dit vra, behoort egter nie tot versierende bysake nie. ’n Teologiese ensiklopedie genaamd Dictionary of Biblical

Imagery (Ryken, Wilhoit & Longman 1998) waaraan Ryken meegewerk het, het spesifiek as

fokus die beelde, simbole, motiewe (“motifs”), metafore, stylfigure en literêre patrone van die Bybel. Die rede vir hierdie publikasie word in die voorwoord soos volg begrond:

These images, in turn, are important to a person’s worldview, which consists of images and stories as well as ideas. Recent brain research has given us a new slant on this. That research has found that the two sides of the human brain respond differently to different types of stimuli. The left hemisphere’s forte is analysis, reason, and logic. The right hemisphere is dominant in visual and other sensory processes, as well as in the exercise of emotion and the recognition of humor and metaphor. Conceptual and emotionally neutral words activate the left hemisphere, while words that name images and are emotionally laden activate the right

95 Vgl. 3.6.2.

96 Let daarop dat die vereensydiging van ’n aspek wat mag intree die reformatoriese teologie nie daarvan weerhou

om weg te skram van die ontsluiting en verdieping wat in daardie aspek ingetree het nie. Dit sluit ook die taalspek in. Die reformatoriese teologie en filosofie wil egter wel die samehang daarvan met ander aspekte van die werklikheid verreken.

154

hemisphere. The focus of this dictionary is on the aspects of the Bible that make it rightbrain discourse.

Dit is waarskynlik een van die redes waarom vroeër verwys kon word na die varsheid wat studente in Bybelse teologie beleef. Ook die regterbrein word betrek en geaktiveer. Of bogenoemde aanspraak op wetenskaplike bevinding egter nou aanvaar word of nie, die feit is dat vir diegene wat glo dat God se openbaring ook die literêre dimensie insluit, die opgawe bestaan om dit verantwoordelik in te span in ons teologiebeoefening. Dit is juis binne die veld van Bybelse teologie waar daar ook groter ruimte bestaan om in nouer gebondenheid aan die teks aandag te gee aan die literêre skoonheid waarmee die teoloë hulself mag besig hou.