• No results found

HISTORIES-HERMENEUTIESE VERANTWOORDING

3.4 REFORMATORIESE VADER: GEERHARDUS VOS (1862 1949)

3.4.3 HOOFKONTOERE VAN VOS SE BENADERING

Aangesien Vos pionierswerk in hierdie reformatoriese benadering moes doen, word daar weereens in diepte na sy inougurale rede gekyk waar hy op bondige wyse reeds die hoofkontoere van hierdie benadering uiteen gesit het. Op hierdie inougurale rede genaamd The Idea of Biblical

Theology as a Science and as a Theological Discipline, sou hy sy lewe lank voortbou. Die

hoofpunte daarvan kom hier aan die orde met verdere verheldering soos wat dit veral in sy twee bekende werke, Biblical Theology (1959) en The Pauline Eschatology ([1930]1994) na vore tree. 3.4.3.1 Die Benaming Bybelse Teologie

Vos gaan in sy rede stelselmatig te werk om ’n duidelike definisie van Bybelse teologie te gee. Dit moet egter hier genoem word dat hy vanweë liberale konnotasies in ’n voetnota verkies om eerder van die vakgebied as Geskiedenis van die Openbaring te praat (vgl. [1894]1980:21). Beide Kuyper (1894:166-167) en later Heyns (1987:25) het ’n prinsipiële probleem om van Bybelse teologie te praat, aangesien teologie volgens hulle verstaan eers ontstaan nadat met die openbaring van God gewerk is. Die historiese benadering van die teks is egter nog nie, volgens hulle, hiermee besig nie. Hieroor kan lank geredeneer word en waarskynlik gaan dit om die inhoud waarmee die woord teologie gevul word. Hier kan Gaffin en Van Til (vgl. Geehan 1980:228-243)se reaksie op Kuyper help om tot klarigheid te kom.

Gaffin toon aan dat daar tog reeds in die Skrif sprake is van teologiese interpretasie en omwerking. Hierdie teologie en interpretasie behoort net so oorgeneem te word, wat dus beteken dat daar oorvleueling bestaan. In sy antwoord hierop wys Van Til ook verder uit dat Kuyper wat hierdie saak betref, ’n skeiding tussen Skrif en belydenis inbou wat saamhang met ’n vooraf beskouing van die pistiese aspek van menswees wat hy op outonome wyse inspan om ateïstiese denkwyses te beveg. Wanneer dit aanvaar word dat die mens nie outonoom is nie maar in alles agter God aan dink of nie dink nie, beteken dit dat die onderskeid tussen Skrif en teologie nie tot ’n skeiding word nie, maar bloot onderskei word. Wanneer dit aanvaar word, is dit nie onaanvaarbaar om tog op die regte wyse oor die begrip Bybelse teologie te praat nie; daarom sal die woord nie in hierdie studie negatief beoordeel word nie.

Ook Frame (1987:212) stel dat “Geskiedenis van die Verbond” ’n beter benaming is om hierdie studieveld te benoem. Die woord Bybelse teologie sal egter hier behou word om daarmee duidelik te maak dat dit die reformatoriese alternatief is op dit wat hedendaags onder of OT of NT of Bybelse teologie deurgaan in akademiese kringe wat hulself nie konfessioneel gebonde ag nie. Hier is dit wel belangrik om te verneem dat ook Vos aanvanklik eerder gekies het vir die

169

begrip “Geskiedenis van die Openbaring” of dan kortweg “Openbaringsgeskiedenis.” Met verantwoording hieroor word daar dan nou voortgegaan met die hoofkontoere van Vos se denke. 3.4.3.2 Uiteensetting

Vos ([1894]1980:3-24) se uiteensetting word ter wille van duidelikheid puntsgewys behandel om die basiese aanpak duidelik voor oë te hê.

1. Vos ([1894]1980:15) gee in sy rede ’n stelselmatige uiteensetting van waaroor Bybelse teologie gaan. Dit bring hom dan by sy definisie van Bybelse teologie:

Biblical Theology, rightly defined, is nothing else than the exhibition of the organic progress of supernatural revelation in its historic continuity and multiformity.

2. Wanneer Vos hierdie definisie uitlê, begin hy by die Goddelike openbaringskarakter daarvan. Dit is die uitgangspunt.

3. Van hieruit gaan hy voort om die historiese en organiese karakter van sy studieveld in sy ryke omvang te beskrywe. Wat die historiese aspek betref, wys hy daarop dat die Skrif nie as abstrakte proposisies in gesistematiseerde vorm aan ons voorgehou word nie, maar as “groeiende waarheid”, juis omdat God Homself aan ons akkommodeer en dit vir alle eeue, nasies, klasse en toestande bestem is.

Die aard van die openbaring is ook nie ’n geïsoleerde akte nie en omspan alles waarmee God in hierdie wêreld besig was en is. Vos wys voorts daarop dat hierdie historiese wyse waarop God Homself aan ons openbaar baie prakties is. Die tipies praktiese wyse wat hierdeur teenoor die intellektualisme van die Griekse benadering na vore tree, bevestig die lewensgetrouheid van God se handeling met mense. Die duidelikste uitdrukking hiervan sien Vos in die verbond as God se progressiewe kommunikasie van Homself met Israel. Hy stel hieroor die volgende (vgl. [1894]1980:10):

God has not revealed Himself in a school, but in the covenant; and the covenant as a communion of life is all comprehensive, embracing all the conditions and interests of those contracting it. There is a knowledge and an imparting of knowledge here, but in a most practical way and not merely by theoretical instruction.109

4. Hy beskou die beskrywing van die organiese karakter van die Skrif ook as ’n noodsaaklikheid om sodoende beter reg te laat geskied aan die studieveld waarmee hy besig is. Die waarheid van

109 Hierdie woorde behoort groot byval in postmoderne kringe te vind. Dit bevestig die feit dat die verbondsmatige

wyse van omgang met God se Woord wat in die reformatoriese teologie gehuldig word besliste ontmoetingspunte het met die postmoderne tydvak waarin ons tans leef. Die reformatoriese ontwikkeling van ’n transmoderne idee wil juis moeite doen met sulke ontmoetingspunte.

170

die Openbaring is van die begin af van Goddelike oorsprong en die groei daarvan word die beste in organiese terme beskrywe (vgl. [1894]1980:12):

... For, although the development of the root may be slow and the stem and leaves may grow almost imperceptibly, there comes a time when the bud emerges in a day and the flower expands in an hour to our wondering sight. Such epochs of quickened revelation were the time of Abraham, of Moses, of David, and especially the days of the Son of Man.

Die woord epog word hier gebruik en ook dit word kenmerkend by Vos om die verskillende stadia in die groeiproses van die openbaring te beskrywe.

6. By hierdie organiese beskrywing voeg Vos verder die kenmerk van veelvuldige wyses – verwysend na die verskillende genres ― waarop ons die openbaring ontvang het. Vos gebruik hier die beeld uit Ef. 4 van die liggaam wat goed saamverbind word deur die ondersteuning van elke lid.

Bogenoemde uitleggings van die historiese en organiese kenmerke van sy studieveld van die Goddelike openbaring bring Vos dan uit by sy definisie wat hier ter wille van groter duidelikheid herhaal word:

Biblical Theology, rightly defined, is nothing else than the exhibition of the organic progress of supernatural revelation in its historic continuity and multiformity.

7. Van hier af gaan Vos voort om die aard en funksie van sy studieveld te beskrywe en uit die aard van die saak grens hy hom duidelik af teen die metodes wat onder dieselfde benaming gangbaar was in kringe wat nie die inspirasie van die Skrif geëer het nie. Hy toon verder ook die waarde van hierdie studieveld aan wat in hierdie studie reeds op verdiepende wyse aan die orde gekom het.

3.4.3.3 Die Twee “Eras”

Die ander kenmerkende saak wat later in Vos se werke duideliker na vore sou tree is die uitgangspunt van die twee “eras” (“two ages”). Hiervolgens is daar voortdurend in die horisontale komponent van die historiese voortgang ’n vertikale komponent teenwoordig van die transendente wat vanuit die ewigheid werksaam is in die aardse historiese werklikheid.110 Dit

bring Vos se navolgers daartoe om dit op verskeie wyses te formuleer. Horton (2002:5) argumenteer dat eskatologie op hierdie wyse ’n lens en nie bloot ’n lokus aan die einde van die teologie is nie:

171

In other words, it affects the way we see everything in scripture rather than only serving as an appendix to the theological system. …we will be referring to eschatology in the broader sense as the form and shape in which redemptive revelation comes.

Dennison (2010a:internet) verduidelik hierdie eskatologiese aanpak soos volg: Eskatologie kom voor soteriologie en alle soteriologie is eskatologies georiënteer. Dennison noem hierdie insig die Kopernikaanse revolusie in hermeneutiek. Dit beteken dat die Skrif deur gelowiges gelees word vanuit ’n bepaalde eskatologiese perspektief wat alreeds ’n werklikheid is. Gelowiges is in die hemel gesetel in Christus en hulle lewe met Hom is verborge in God (vgl. Ef. 2:6; Kol 3:3). Dit beteken dat geen deel van God se Woord ooit weer geïsoleerd en geabstraheerd van hierdie posisie gelees mag word nie en dat die openbaringshistoriese en organiese konteks in die verlossingsgeskiedenis altyd in terme hiervan verreken moet word. Ook Horton (2002:6,7) verwys hierna in revolusionêre terme:

… we often fail to recognize the revolutionary logic of biblical (especially Pauline) eschatology, in which the future is semi-realized in the present and the individual is included in a wider eschatological activity. The cross and the resurrection form the horizon of expectation for the people of God, holding in check overrealized and underrealized eschatologies respectively.

Hiermee is dan die hoofkontoere van die reformatoriese vader van die openbaringsgeskiedenis weergegee as wegspringplek vir ’n reformatoriese wyse van Bybelse teologie. ’n Aantal kritiese oorwegings moet vervolgens aan die orde kom voordat daar oorgegaan kan word na die konsekwensies hiervan.