• No results found

HISTORIES-HERMENEUTIESE VERANTWOORDING

2.2.4 ANTIOCHEENSE SKOOL

Die agtergrond van Antiochië speel by die Antiocheense skool ’n belangrike rol. Grant en Tracy ([1963] 1984:63) wys daarop dat die Joodse gemeenskap vir eeue daar invloedryk was. Die geskiedenis van Israel en die werklikheid daarvan het waarskynlik ’n invloedryke rol gespeel om die allegoriese metode met agterdog te bejeën. Hulle was onwillig om die geskiedenis in ’n wêreld van simbole en skadu’s te verloor. Grant en Tracy ([1963]1984:66) stel dat hulle in filosofiese terme meer Aristoteliaans en minder Platonies was. Dit is belangrik om te let op die alternatief wat die Antiocheense skool vir die allegorie gestel het. Hulle het dit eerder met die woord theoria beskrywe. Hiervolgens was daar wel ’n sin waarin die Skrif hoër en dieper was as die letterlike en onmiddellik historiese betekenis. Hulle het dan egter baie streng daarby gehou dat dit stewig in die letterlike self gegrondves was (vgl. Grant & Tracy [1963]1984:66; Bray 1996:105). Bray (1996:105) maak die belangrike opmerking dat hierdie saak gekorrespondeer het met hul Christologie wat beklemtoon het dat die menslikheid van Christus op geen enkele wyse deur sy Goddelikheid in gedrang gebring is nie. Dit sal uitvoeriger in een van die verteenwoordigende figure, Theodorus van Mopsuestia, behandel word.

Theodorus van Mopsuestia word as die grootste eksponent van hierdie skool beskou (vgl. Grant & Tracy [1963]1984:66). Bray (1996:88, 106) wys daarop dat sy benadering in sy kommentare tot die linguistiese en historiese aspekte hoogs wetenskaplik is en die toets van vergelyking met moderne kommentare kan deurstaan, en dat die saak van historisiteit hom die meeste gehinder het. Hy het byvoorbeeld ingesien dat die blote geskiedenislose allegoriese uitleg van Adam die effektiwiteit van die aanspraak van Christus om die tweede Adam te wees, ondermyn het. Hy het ingesien dat as die val van die mens bloot ’n fabel was, dit die vraag na vore roep of geskiedkundige verlossing werklik nodig is. Hierdie saak het steeds definitiewe gevolge in die hele teologie, en met name die versoeningsleer. Theodorus bevestig dat die stryd oor historisiteit in die Skrif glad nie nuut is nie.

34

Sy antwoord op die feit dat Paulus in Galasiërs 4:24 van allegorie gebruik maak en dit ook so noem, is in lyn met die nou bekende verklaring daarvan. Ook Theodorus stel dat Paulus die woord allegorein in ’n ander sin gebruik as wat later gangbaar was. Volgens hom het Paulus dit met behoud van historiese korrespondensie gebruik en wat daarom in Theodorus se tyd eerder gelykstaande is aan wat hulle toe tipologie sou noem (vgl. Bray 1996:106). Hierdie uitspraak bevestig weereens dat dit daarom telkens belangrik is om presies na te vors hoe ’n bepaalde kerkvader die woord ingespan en ook toegepas het. Die gebruiksbetekenisse van die woorde

allegoria en theoria, kom dikwels baie naby aan mekaar te staan, afhangende daarvan of

allegorie in ’n beter of ’n slegter sin gebruik is.

Daar moet in gedagte gehou word dat ook hierdie Antiocheense skool sy kwota mense gelewer het wat later as dwaalleraars uitgewys is (vgl. Grant & Tracy [1963]1984:68). Bray (1996:107) skryf dit daaraan toe dat hulle nie in staat was om ’n bevredigende Christologie te ontwikkel nie en dit het ook onvermydelik suspisie met betrekking tot hul eksegese tot gevolg gehad. Theodorus was die leermeester van Nestorius wie se Christologie verwerp is. Theodorus self wou ook boeke soos Job, Esra, Nehemia en Kronieke uit die kanon laat.

Hieruit kan daar ook afleidings vir die studie gemaak word. Dit blyk dat ’n bepaalde fundamentalisme reeds hier deurgebreek het wat, hoewel met vele regverdigbare uitgangspunte, tog in slegte vaarwaters beland het vanweë ’n literalisme wat ingetree het. Soos wat filosofiese allegorisme deur die kerk verwerp is, sou ook literalisme verwerp word (vgl. Bray 1996:107). Dit sou later nodig word by iemand soos Augustinus om hieroor duidelike verantwoording te verskaf.

Daar moet afsluitend ook op die positiewe in hierdie denkskool gewys word. Hulle wat nie verdink is nie, soos Chrysostomos, het die populêrste van almal geword (vgl. Bray 1996:107). Dit is weereens ’n aanklag teen die (post)moderne mens, dat iemand soos Chrysostomos bitter min deur lidmate en selfs leraars gelees word, terwyl hy by iemand soos Calvyn dikwels genoem word. Hoogstens weet leraars dat hy as die man met die goue tong beskrywe is, maar van gaan lig opsteek by hom weet ons maar min.

2.2.5 HIERONIMUS (347-420)

Hieronimus, vertaler van die Vulgaat en die groot kerkvader in die Weste, word deur Bray (1996:91) genoem “the greatest biblical scholar that the Latin Church ever produced.” Hy was leerling by Appolinaris en het groot bewondering vir Chrysostomus gehad. Hieronimus het aanvanklik Origenes vertaal, maar beweeg geleidelik al verder van hom en allegorie af weg (Bray 1996:91). Hy leer dat die dieper betekenis gebou word moet word op die letterlike self en

35

nie teenoor dit moet staan nie. Tog leer hy duidelik dat die interpretasie van die Skrif meer is as bloot grammatikale analise. Williams (2006:118) wys daarop dat hy in sy kommentaar op Habbakuk in 393 nC, tog wel op die vryheid van leesmetodes wys wat nie bloot op die historiese betekenis let nie:

The historical sense is narrow, and it cannot leave its course. The tropological sense is free, and yet it is circumscribed by these laws, that it must be loyal to the meaning and to the context of the words, and that things strongly opposed to each other must not be improperly joined together.

Hy heg ook verder waarde aan die rede en stel dat aan die redelikheid van die geloof vasgehou moet word. Hy kon selfs sê dat hy net dit glo wat die rede nie verkeerd kan bewys nie. Hierdie apologetiese benadering sal later weer onder die loep geneem word. Hieronimus is o.a. deur Augustinus beïnvloed. By hierdie groot kerkvader sal daar vanweë sy blywende relevansie ook in die postmoderne teologie ietwat langer stilgestaan moet word.

2.2.6 AUGUSTINUS (354-430)

Dit is insiggewend om te verneem dat Augustinus juis vanweë die allegoriese uitlegmetode die realiteit van Christenwees in nuwe lig gesien het (vgl. Belydenisse 6.4; ook De Doctrina

Christiana26 3. 5 en 6). Die Manicheërs by wie Augustinus betrokke geraak het, het literalisme gebruik om byvoorbeeld die aartsvaders te diskrediteer. Die allegoriese uitlegmetode het hierin vir Augustinus bevryding gebring.27 Later het Augustinus geleidelik meer en meer letterlik geword, alhoewel hy nooit die allegoriese metode ten volle wou versaak nie. In sy De Doctrina

Christiana (3.10) stel hy dit duidelik dat dit wat letterlik is, nie figuurlik opgeneem moet word

nie maar dat dit wat figuurlik is ook nie letterlik opgeneem moet word nie. Hoe onderskei ’n mens dan tussen die twee? Augustinus stel dat wat ook al in die Woord van God gevind word en nie duidelik na suiwerheid van leer of lewenswandel verwys nie, as figuurlik gereken kan word. Augustinus was onder die invloed van die Platonisme. Grant en Tracy ([1963]1984:80) beskryf hom as die een wat Irenaeus en Tertullianus geneem het en hul insigte in ’n hoër sleutel getransponeer het. Die outoritatiewe metode word in sy werk stewig gevestig. In sy De Doctrina

Christiana sit Augustinus sy sienings duidelik uiteen. Hy bou in sy werk die beroemde sewe

reëls van Tikonius uit (vgl. Bray 1996:92). Sy benadering sal vervolgens onder twee hoofde bespreek word – sy hermeneutiese uitgangspunte en daarna die basiese hermeneutiese benadering self.

26 Hierna soms afgekort as DDC.

27 Van Wyk (2002:595) wys daarop dat Augustinus se verbintenis met hulle nie bedoel het om sy Christenskap te

36

As uitgangspunt stel Augustinus dat ondersoek ingestel moet word na die kommunikatiewe funksie van ’n teken. Daar moet onderskei moet word tussen ’n teken en dit waarna die teken verwys (De Doctrina Christiana 2:1). Dit maak hy ook van toepassing op die teks van die Bybel. Daar moet nie by die teks self vasgesteek word nie, maar oorgegaan word na dit waarna die teks verwys – God self. Hy wys hiermee saam daarop dat daar vele dinge is wat gebruik kan word, maar net dit wat van ewigheidswaarde is werklik geniet kan word. Die Skrifte moet ook so

gebruik word dat daar by die genieting van God self uitgekom word. Die gesindheid wat hier

werksaam is, is die gesindheid van liefde. Jeanrond ([1991]2002:23) wys daarop dat Augustinus hiermee aansluit by beide denkskole van Antiochieë en Alexandrië. Hy verskaf wel ’n algemene semiotiese raamwerk vir enige teks maar bring tog ook die liefdesbeginsel wat altyd geldend is, ter sprake. Dit moet hier ook genoem word dat Augustinus die ingesteldheid van die leser sterk aangespreek het. Daar kan nie sonder God se verligtende werking werklik verstaan word nie en daarom is gebed baie belangrik (De Doctrina Cristiana 3:37. Vgl. Grondin [1991] 1994:35). Wat die hermeneutiese benadering (DDC 2.1-5 vgl. Jeanrond [1991]2002:24, 25) self betref, onderskei Augustinus natuurlike tekens soos rook wat ook konvensionele tekens genoem kan word. Onder konvensionele tekens tel alle linguistiese tekens. Dit is daarom ook belangrik dat hierdie algemene linguistiese konvensies geken word. Die basiese probleem by sulke literatuur, sê Augustinus, is om te onderskei of iets letterlik of figuurlik gebruik word. Die algemene uitgangspunt is die letterlike en by Augustinus is die basiese aanname daar dat die basiese boodskap van die Bybel selfs deur ’n kind verstaan kan word (De Trinitate 1:1; vgl. Grondin [1991]1994:34).

As die teks egter onverstaanbaar bly, moet daar ’n paar basiese sake in gedagte gehou word. Daar moet opnuut na die konteks gekyk word. Verder moet die kerk asook die algemene reël van die geloof (regula fidei) geraadpleeg word. Op figuurlike vlak moet daar gesoek word na hoe die drie basiese deugde ― geloof, hoop en liefde ― gevoed word (DDC 1:35-40). Wanneer dit steeds onduidelik bly. moet die liefdesreël die deurslag gee: Die interpretasie wat God en die naaste liefhet en die naaste geen kwaad doen nie, word aanvaar. Augustinus was ook ten gunste van tipologiese toepassing. Hy stel duidelik dat interpretasie nie net letterlik is nie, maar ook figuurlik (DDC 3:32). Baie bekend is dan ook sy uitspraak dat die Nuwe Testament in die Ou Testament verskuild is en die Ou Testament in die Nuwe openbaar word. Wat by Augustinus dus sterk deurkom, is die gesag van die kerk, die regula fidei, insigte oor die figuurlike gebruik, asook die meerdere betekenismoontlikhede wat in die teks opgesluit lê, selfs al sou die oorspronklike outeur dit nie besef het nie. Laasgenoemde twee sake verdien verdere bespreking.

37

Dit moet raakgesien word dat by Augustinus die betekenis van die teks uiteindelik in die bedoeling van God self lê, en dat die bedoeling van die outeur, hoewel belangrik, nie die volle betekenismoontlikheid ontsluit nie. Dit is juis oor hierdie saak dat Steinmetz (1980) se beroemde artikel oor die superioriteit van pre-kritiese eksegese ook vir hierdie studie baie belangrik is. Steinmetz reken dat dit ’n fundamentele fout is om die betekenis te beperk tot die oorspronklike bedoeling van die outeur. Dit bring die hele kwessie van die sogenaamde sensus plenior na vore. Moo (1986:179-211) ondersoek die hele saak en kom tot die gevolgtrekking dat ’n kanoniese benadering die saak onderlê en dat die teks wat dieper betekenis aanneem soos God se plan ontvou, ’n siening van sensus praegnans veroorsaak wat definitief duidelik in ag geneem moet word. Soos wat daar verder in die studie beweeg word, sal blyk waarom Steinmetz se artikel steeds soveel aandag sou trek. Dit bevestig die groot bydrae wat Augustinus in die geskiedenis gelewer het.

Die bevrydende effek van Augustinus se bydrae kan moeilik onderskat word. Jeanrond ([1991]2002:23) wys op bepaalde voordele wat deur sy bydrae ontstaan het: kru literalisme sowel as gevaarlike allegorieë word vermy. Verder is die eksegese Bybels geïnformeerd en praksis georiënteerd. Die tipiese biblisisme wat tot in ons dag juis die fokus van God afhaal, sal goed doen om weer by Augustinus te gaan hoor hoe die Skrif benader moet word. Grondin ([1991]1994:33) wys op Ebeling wat stel dat sy De Doctrina Christiana in die geskiedenis die . invloedrykste hermeneutiese werk is wat gepubliseer is. Dit is alom bekend dat Calvyn (dubbeld) meer na Augustinus as enige ander kerkvader verwys (vgl. Gerrish 2004:291) en dikwels na hom terugkom as die een wat rigting binne verwarrende interpretasie bring.

In baie kringe word hy tot in ons dag selfs onder postmodernes waardeer. Dit het waarskynlik met die eksistensiële aard van sy geskrifte te doen. Grondin ([1991]1994:34) stel dat hy selfs die reputasie het om as proto-eksistensialis benoem te word. Van Wyk (2002:594) stel dat dit nie oordrewe is om te sê dat die denkkaders van premodernisme, modernisme en postmodernisme in Augustinus terug te vind is nie. Hierdie uitspraak van Van Wyk bring die besef dat Augustinus baie belangrik is in die teologie vandag en ook dat daar gewaak moet word om nie hom nie in een denkkader in te wring nie. Daarom word vervolgens kortliks by onlangse interpretasies en pogings tot die rehabilitering van Augustinus binne postmoderne konteks stilgestaan.

2.2.6.1 Postmoderne hanterings van Augustinus

2.2.6.1.1 Heidegger en Gadamer

Heidegger soos in die inleiding genoem (vgl. [1988]1999:10) waardeer die vitale en komprehensiewe idee van hermeneutiek wat hy by Augustinus vind. Hy kontrasteer dit met

38

iemand soos Schleiermacher wat na sy mening baie meer met ’n kuns en tegniek vir verstaan werk. Grondin ([1991]1994:33) vertel hoe Heidegger teenoor die metafisiese idealisme sy gehoor by Freiburg en Marburg betower het met die insigte oor actus signatus en actus exercitus wat van Augustinus afkomstig is.

Ook Gadamer wy ’n hele hoofstuk in die derde deel van sy bekende werk. Wahrheit und

Methode (vgl.Gadamer [1960]1989:418-428) aan Augustinus. Hy gebruik Augustinus as bewys

dat die universaliteit van taal in die hermeneutiek al lankal werksaam was. Veral Augustinus se verstaan van die innerlike woord (verbum cordis) gee vir Gadamer die sleutel om te velde te trek teen die fiksering op proposisies as die een en al. Hy vind nie die abstrakte logiese nie, maar die aktuele interspel van taal wat ingebed is in dialoog, omdat die interpretasie om meer gaan as net dit wat voorhande is, by Augustinus terug (vgl. Grondin [1991]1994:37-39).

2.2.6.1.2 Derrida en Caputo

Dit is egter ook so dat juis in die bespreking van hermeneutiek daar ook verskillende interpretasies van Augustinus in die hedendaagse denkskole is. Derrida (vgl. 1993:117-129; Bennington & Derrida [1993]1999) en sy Amerikaanse groot volgeling, Caputo (2001; vgl. Caputo & Scanlon:2005) werk ook waarderend met Augustinus hoewel Caputo van meet af aan erken dat daar soms onortodokse kinke in sy werk mag bestaan wat Augustinus se toorn op die hals sou haal (vgl. Caputo 2001:2). Die primaat van geloof voor kennis en die sentraliteit van liefde in godsdiens word wel oorgeneem maar Smith (2004:112) wys daarop dat dieselfde sake tog ook heelwat anders verpak word:

... desptite its emphasis on faith, this Derridean religion without religion – offered in the name of Augustine – is an Augustinianism without revelation. Despite all its talk about love, it is an Augustinianism without credo amoris, and despite its attentiveness to injustice, it is an Augustinianism without sin.

Smith se basiese beswaar is dat dieselfde kategorieë as Augustinus gebruik word maar in ’n heel ander rigting as wat Augustinus dit gebruik het. Smith (2004:114) maak oor hierdie ander rigting ’n verdere belangrike opmerking oor Caputo se benadering waarna telkens teruggekeer kan word in die weergawes van postmoderne teologie:

What this demonstrates is that Caputo’s account lacks the criteria for naming false religion, or what Augustine would simply describe as idolatry. It is not that there aren’t idolatries for Caputo (ardent capitalism seems to be one); it is just that he does not offer criteria to distinguish true religion from false religion because he has baptized the structurally religious as authentic.

39

2.2.6.1.3 Ward

Smith (2004:116-120) wys in teenstelling hiermee ook op ’n ander benadering uit een van die lede van die denkskool van die Radikale Ortodoksie – dié van Graham Ward. Ward se Augustinus is volgens Smith nader aan Augustinus, maar ook hier het hy bepaalde voorbehoude. Ward kies vir Schleiermacher as voorbeeld en wys daarop dat Schleiermacher in teenstelling met ander weergawes wat godsdiens van die konkrete lewe wil losmaak, sy weergawe gee. Schleiermacher gee sy ervarings binne die konteks van ’n spesifieke godsdienstige openbaring, praktyk en tradisie. Smith (2004:118) som die posisie soos volg op:

According to Ward, authentic religion in a post-secular climate is not a liquidated religion of diremption, denuded of any particularity; rather, there is the growth of confessional religion, of public theology ... suggesting something like a new Reformation ...

Smith gee erkenning dat Ward wel ’n ent verder aan Augustinus getrou is, maar is tog van mening dat die voorstel van ’n teologiese, belydende gemeenskap steeds nie genoeg is nie:

True religion, according to Ward, is theology. But what is “true theology”? Given that Ward does not articulate an answer to this question, it is here that we need to stage a further retrieval of a robustly christological Augustine, for Augustine would agree that true religion is confessional and theological, but he would also claim that ‘Jesus is Lord’ is the true confession and that only an account of the Triune God rooted in revelation constitutes authentic theology. Here the Augustinian retrievals of Milbank and Hanby seem more substantive and christologically robust.

Ook hierdie weergawe van Ward is belangrik om te onthou, aangesien daar in die oplewing van belangstelling in Schleiermacher binne die postmoderne klimaat maklik nou aangesluit kan word by hierdie weergawe van Augustinus wat steeds nie reg laat geskied aan die volle Augustinus nie.

Wat hier wel baie duidelik blyk, is dat daar verskillende interpretasies van Augustinus is. Die algemeen godsdienstige, sowel as teologiese weergawes van Augustinus bly nie werklik trou aan die volle Augustinus nie. Hieruit blyk dat deel van teologiese verantwoording vandag ook daarin sal bestaan om veral binne die klimaat van hoordershermeneutiek onbeskaamd te getuig en te stry vir getroue volbloed interpretasies van die ortodokse leiers in die geskiedenis van die kerk. Dit is een van die kenmerkende sake in postmoderniteit om wel met nuwe oë waarderend met die verlede om te gaan, maar dan dikwels onbeskaamd gegewens in postmoderne lig eklekties te interpreteer.

40

Met die belangrike bydrae van Augustinus en die afronding van hermeneutiese benaderings wat by hom net voor die Middeleeue sigbaar word, is dit gepas om ’n evaluering te doen van die reis wat tot dusver afgelê is.