• No results found

HISTORIES-HERMENEUTIESE VERANTWOORDING

3.2 BYBELS-TEOLOGIESE SKOONHEID

3.2.4 DIENENDE SKOONHEID

Vos ([1894]1980:23) wys in die vierde plek op die belangrikheid van Bybelse teologie, spesifiek met betrekking tot sistematiese teologie. Hy reageer sterk teen die opinie dat Bybelse teologie sistematiese teologie as Skriftuurlik ongefundeerd uitwys. Hy wys wel daarop dat die twee dissiplines met twee verkillende konstruktiewe beginsels werk – sistematiese teologie s’n is sistematies en logies en Bybelse teologie s’n is histories. Vos ([1894]1980:24) gaan selfs so ver as om te stel dat dogmatiek die kroon is wat groei uit al die werksaamhede van Bybelse teologie. Hierdie uitspraak sou in twee rigtings verstaan kon word. Dit sou enersyds verstaan kon word dat Bybelse teologie kulmineer in dogmatiese teologie. Dit sou egter ook so verstaan kon word dat dogmatologiese teologie baie meer Bybels-teologies van aard moet wees. As voorbeeld van laasgenoemde oortuiging kan Richard Gaffin (1976:298) genoem word. Hier val die fokus spesifiek op die wyses waarop Bybelse teologie in beide rigtings diensbaar aan dogmatologiese teologie mag wees, en daarom ook bevestiging vind vir die funksie as brugdissipline. Om egter effektief te dien, beteken ook dat die bereidheid daar moet wees om gedien te word. Dit kom eerste aan die orde.

148

Die dienende funksie van Bybelse teologie neem af wanneer dit nie meer bereid is oom ook self gedien te word nie. Bybelse teologie kan eenvoudig nie sonder die insigte van die sistematiese teologie werk nie, veral nie as dit konfessioneel wil wees nie. Dit was juis een van die hoofoorsake van die afvallige rigting wat dit sedert die agtiende eeu ingeslaan het – dat Bybelse teologie nie konfessioneel gebonde gebly het nie en daarom dikwels onbewus die denkraamwerk van die heersende filosofiese stroom aangeneem het.91

Frame (1987:209-212) skroom nie om die konsekwensies van ’n vereensydiging uit te wys nie. Hy wys daarop dat die historiese benadering van Bybelse teologie ook nie volle reg kan laat geskied aan die volheid van die openbaring nie en nie die beheersende prinsipe gemaak moet word nie. Die gebruik van meer Bybelwoorde is volgens hom (vgl. 1987:211) ook nie noodwendig die finale bewys dat dit meer Bybels is nie. Frame gaan voort om te waarsku teen die fanatiese waardering en hoogmoed wat mag ontstaan by aanhangers van hierdie aanpak. Hy wys ook daarop dat die anti-abstraksie argument wat geliefd is by aanhangers van Bybelse teologie nie so waterdig is nie. Niemand kan ooit in hierdie lewe volkome konkreet of volkome abstrak wees nie en daarom reken hy dat hierdie tipe argumentasie eerder laat vaar moet word (vgl. 1987:190). Sy argument het te doen met die universele teenoor die uniek individuele wat volgens hom in hierdie argument teenoor mekaar gestel word en nie op die lange duur kan standhou nie. Hierdie waarskuwings moet ter harte geneem word. Die oogmerk van die studie is dan ook juis om uiteindelik die bydrae van Bybelse teologie ook met die ander fases te komplementeer. Met dit in gedagte, kan daar voortgegaan word om spesifiek die dienende skoonheid van Bybelse teologie aan die sistematiese teologie aan die orde te stel.

Vos ([1894]1980:24) noem drie besondere wyses waarop Bybelse teologie aan sistematiese teologie diensbaar kan wees. Die eerste gaan daaroor dat Bybelse teologie juis daartoe bydra om te wys dat om reg te glo, nie ’n luukse is nie. Bybelse teologie is diensbaar daaraan om aan te toon watter oneindige sorg die Vader gedra het om op volmaakte wyse ontvouend te openbaar wie Hy is en wat Hy vir ons redding gedoen het. So word dit duidelik dat dit nie bloot daarom gaan dat jy glo nie, maar spesifiek wat jy glo. Hy wys ook verder daarop dat Bybelse teologie op unieke wyse diensbaar daaraan is om aan te toon dat die fundamentele leerstellinge van ons geloof nie berus op die bevraagtekenbare verklaring van geïsoleerde bewysplase nie. Dit word bewerkstellig, nie deur bewysplase nie, maar eerder deur organies aan te toon hoe dit uitgroei uit die stam van die openbaring. In die derde plek wys hy ook uit dat Bybelse teologie daartoe bydrae om sistematiese teologie in lewende kontak te hou met die openbaring self, die enigste plek vanwaar krag verkry kan word om verder te ontwikkel.

149

Hierdie lewende, eksistensiële geloofslewe in kontak met die Skrif is alreeds in die eerste afdeling uitgewys by die reformatore. Die eksistensiële dimensie van sistematiese teologie is ook hierin begrepe. Dit is een van die redes waarom die Institusie van Calvyn so ’n lang rakleeftyd het. By Calvyn is Bybelse teologie en dogmatiese teologie, hoewel nog nie gedifferensieerd nie, tog ryklik geïntegreerd beoefen. So is aan die spekulatiewe teologie wat al hoe meer begin posvat het, ontkom. Dieselfde saak het ook in die praktyk vir elke predikant relevansie.

James Oscar Boyd (2010:internet) brei hieroor uit in ’n artikel met die titel Biblical Theology in

the Study and the Pulpit. Hy beskrywe die probleem van die predikant as dikwels tweeledig:

enersyds is die prediking elke Sondag dikwels losstaande en geïsoleerd van die vorige week se boodskap; andersyds verval die prediking maklik in blote bewysplase wat vir opinies gegee word. Dit veroorsaak maklik ’n onvergenoegdheid in die predikant se Bybelstudie en voorbereiding vir die prediking. Boyd kan selfs praat van ’n patologie van Bybelstudie. Hy maak dan die volgende veelseggende en vir die doel hier, ook verdiepende opmerking: “The best remedy for such pathalogical conditions is a liberal administration of Biblical theology.” Hy voeg ook later by dat dit die beste wyse is om bepaalde modegiere en trefwoorde in kerklike kringe vry te spring.

Gaffin (1976:299) kan hieroor selfs noem dat Bybelse teologie aan die gemeente ’n meer bevredigende ervaring met die Skrif gee en dié manier is om piëtisme, sowel as intellektualisme teen te werk. Hierdie waardering van Vos bring dan ook ’n definitiewe beskuldiging na vore waarop geantwoord moet word. Dit gaan oor die beskuldiging dat Bybelse teologie die leerstellinge van sistematiese teologie op losse skroewe plaas.

Van ouds af was hierdie verwyt werksaam op ’n wyse wat vandag nog dikwels in teologiese fakulteite gereflekteer word wanneer Ou en Nuwe Testamentici aan die een kant en dogmatici aan die ander kant in debatte slaags raak. Dit is insiggewend dat dieselfde polarisering ook plaasvind,selfs wanneer daar gepoog word om op gereformeerde wyse Bybelse teologie te beoefen. Gaffin (2002:internet), hoewel nie self beswaard teenoor Bybelse teologie nie, som die beswaar raak op as hy dit verwoord as ’n besorgdheid dat die leerstellige stabiliteit verminder deur kwynende belangstelling en vertroue in die formulerings van die klassieke gereformeerde teologie.

Hierdie beswaar het onlangs met nuwe krag opgevlam rondom die debat oor die regverdigingsleer wat in gereformeerde kringe in Amerika woed. Baie modder is oor en weer gegooi, maar in kort kan die hoofproblematiek opgesom word deur te stel dat in plaas van te soek hoe die logiese en historiese benaderings sinvol op mekaar inwerk, ’n eensydige regulering

150

deur of die historiese of die logiese benadering plaasvind wat nie ruimte vir mekaar wil laat om tot ’n voller, meerdimensionele sig op die geopenbaarde waarheid te kom nie. Hierdie saak sal later van die teenoorgestelde kant benader word, maar onder hierdie afdeling waar dit spesifiek gaan oor die dienende skoonheid van Bybelse teologie is dit belangrik om te noem hoe noodsaaklik die komplementerende funksie van Bybelse teologie vir sistematiese teologie is.92

Gaffin (1976:292) som hierdie komplementerende funksie so op:

The “tendency to abstraction” of which Murray speaks as an ever present danger for systematics can be described more pointedly as a tendency to de-historicize the tendency to arrive at ‘timeless’ formulations in the sense of topically oriented statements which do not adequately reflect the ... historical, covenantal dynamic ... and so lose their vitality and meaning. Vos observes that ‘the circle of revelation is not a school, but a ‘covenant’ and that ‘the Bible is not a dogmatic handbook but a historical book full of dramatic interest.’ ... It has in view the undeniably intellectualistic tendency within traditional orthodox dogmatics as well as the rationalism of the ‘critical’ tradition.

Hierdie dienende taak wat help om abstraksie, intellektualisme en rasionalisme teen te werk, is ’n grootse taak. Maar omdat die taak dienend gedoen word in belang van die teologie, kan dit ook beskou word as die dienende skoonheid van Bybelse teologie.