• No results found

HISTORIES-HERMENEUTIESE VERANTWOORDING

2.5 DIE NOMINALISME

Waar het die oorgang na die Verligtingstydperk begin? Allen (1985:151-152) voer aan dat die Nominalisme ’n belangrike baken is in die proses van oorgang vanaf die Middeleeuse oorheersing van Aristoteles (via Thomas Aquinas) na die Verligtingstydperk. Aristoteles se onderskeid tussen bv. genera en species was nie meer genoeg nie, al het hy ook Plato se universele idees verwerp. Slegs die uniek-individuele was vir die Nominalisme van waarde. Dit sou verreikende gevolge hê in wat vandag die moderne Nominalisme genoem kan word. Maar eers moet iets begryp word van die agtergrond en ontstaan van die Nominalisme.

2.5.1 AGTERGROND

Die Nominalisme wat by Ockham (1288-1348) duidelik beslag gekry het, moet verstaan word in verband met die voorafgaande werk van Duns Scotus (1266-1308). Albei kom in reaksie teen die Thomistiese sintese van geloof en rede. In reaksie teen korrupte wêreldse invloede en met die bedoeling om die geloof te beveilig, doen Scotus afstand van wêreldse filosofie en verdedig die Franciskaanse oortuiging dat God net deur openbaring geken kan word en nie deur die rede nie. Ongelukkig het hulle in die proses die natuur/genade dualisme aanvaar en selfs verdiep (vgl. Leithart 2007:169). Een van die sentrale argumente binne die kringe van die Radikale Ortodoksie is juis dat daar ’n groot verandering in ontologie waarneembaar word in Duns Scotus se denke wat daadwerklike gevolge gehad het in die tydperk daarna. Dit gaan basies om sy univokale ontologie in teenstelling met Aquinas se analogiese ontologie. Smith (2004:97) verduidelik hierdie verskil en die implikasie daarvan:

Creation ‘is’ only insofar as it participates in – or is suspended from ... the Creator. In contrast Scotus asserts that ‘to be’ is predicated univocally; that is, both the Creator and the creature exist in the same way or in the same sense. Being, now, becomes a category that is unhooked from participation in God and is a more neutral or abstract qualifier that is applied to God and creatures in the same way ... The result is that the vertical suspension of creation from the Creator is unhooked, and because being is ‘flattened’, the world is freed to be an autonomous realm.

Hierdie ontologie het tot gevolg dat daar ’n verselfstandiging van die skepsel intree. Voorts word metafisika van openbaring geskei, wat ’n outonome metafisika los van die openbaring na vore laat tree. So word die openbaring en die rede van mekaar losgemaak wat die moontlikhede van ’n outonome en sogenaamd sekulêre terrein borg. Die gevolg hiervan is ’n epistemologie wat outonoom wil funksioneer, wat op sy beurt weer aanleiding gee tot die sekulêre filosofieë van immanensie (vgl. Smith 2004:96-100). Die invloede daarvan op die hermeneutiek kan onmoontlik uitbly.

51

Ook Ockham was soos Scotus ’n opponent van Thomas se sintese en het die gebruik van Aristoteles in beide teologie en filosofie gewantrou (vgl. Leithart 2007:173, 174). Hy het die konsep van universalia in beide Plato en Aristoteles as die grootste fout in die geskiedenis van die filosofie beskou. Dit lei tot sy nominalistiese filosofie wat die uniek-inviduele alleen wil eer. Sy radikaal individualistiese siening van die werklikheid het hy wel in verband gebring met sy verstaan van God se wese en sy verband tot die wêreld. ’n Spesifieke voluntaristiese visie waar onderskei is tussen God se absolute en verordineerde mag sou die skeiding tussen geloof en rede egter verder beïnvloed. Dit blyk uit die voortgang van die geskiedenis dat die Nominalisme ’n kritiese verwysingspunt vir baie geleerdes is. Daar word vervolgens stilgestaan by ’n paar van die vernaamste redes hiervoor.

2.5.2 KRITIESE VERWYSINGSPUNT

Goosen (2007:224, 225) beskou die verselfstandiging van die wil wat by Ockham plaavind as die oorsprong van moderniteit:

[Die modernisme] het reeds vanaf sy vroegste oorspronge in die nominalisme van die laat-Middeleeue die wil (en in verskillende gedaantes ook die wil tot oorheersing, libido dominandi) vanuit sy samehang met en meestal onderhorigheid aan die rede geïsoleer en uiteindelik uitgesonder as die eintlike wêreld wat alles onderlê. ... Die moderniteit is in ’n gewisse sin van die woord niks anders as ’n isoleringsakte waarvolgens die wil uit sy samehang met die rede geabstraheer en tot ’n selfstaande werklikheid verabsoluteer is nie.

Goosen hou Ockam self nie verantwoordelik nie, maar voer tog aan dat die werkswyse van Ockham verreikende gevolge sou hê:

Willem van Ockam het ... die wil in sy eintlike gestalte nog met God geïdentifiseer. Die wyse waarop hy dit doen, antisipeer egter die ganse moderniteit ... By latere moderne figure soos Hobbes, Spinoza en Schöpenhauer, word die wil natuurlik ‘gesekulariseer’. Maar soos by die nominalisme van Ockam het die wil ook by dié moderne figure ’n geïsoleerde instansie geword wat sy samehang met die groter en redelike geheel van dinge deursny het ... As sodanig het die moderne wil nie noodwendig na ’n gemeenskap met die transendente uitgereik nie.

Die kern van Goosen se argument is dat daar met die aanbreek van die Nominalisme ’n anti- dramaturgiese impuls intree wat op verskeie wyses en dikwels teenoorgestelde wyses beide dualistiese en gnostiese skeeftrekkings tot gevolg gehad het.33 In hierdie opsig is die uitwys van

die Nominalisme wat aanleiding gee tot ’n wilsmatige transendente werklikheid en ’n

33 Goosen se analise is vanuit ’n filosofies-dramatologiese perspektief waarin die transendente en die immanente

deur bemiddeling by mekaar gehou word en daarom wys hierdie benadering telkens uit waar dit nie meer gebeur nie.

52

geatomiseerde immanente werklikheid (vgl. Goosen 2007:311) wat tot in die hede deurwerk, nuttig.

Ook Straus en Visagie wys daarop dat die Nominalisme ’n moderne gedaante het wat geweldige krag uitoefen. Strauss (1994:8) wys daarop dat die moderne Nominalisme teen die vytiende eeu sigself heeltemal losgemaak het van geloof in ’n Godgegewe skeppingsorde. Hy beskryf die saak verhelderend:

Gedurende die Middeleeue is ... [in] die realisme ... derhalwe ... vasgehou aan ’n drievoudige bestaan van universalia: ante rem (voor die skepping as skeppingsidees in God se Gees – invloed van Plato); in re (as die immanente wesensvorme van die dinge – invloed van Aristoteles); en post rem (agterna as universele begrippe in die menslike gees – invloed van beide) ... Die moderne Nominalisme het egter ’n streep getrek deur die eerste twee universalia: buite die menslike gees bestaan geen universaliteit nie ... Buite die menslike gees bestaan uitsluitlik konkreet-individuele dinge.

Visagie (1994:116, 117) sluit hierby aan en noem die Nominalisme dié moderne denkvorm wat by die aanbreek van die sewentiende eeu reeds sterk gevestig was. Hy wys daarop dat die nominalistiese denktradisie ruimte maak vir ’n rasionalistiese, maar ook ’n irrasionalistiese inset:

... enersyds die moontlikheid om aan orde en wetmatigheid in die vorm van bloot mentale konstrukte voorrang te verleen (rasionalisme), andersyds die moontlikheid om op subjektiwiteit en individualiteit as die empiries gegewene klem te lê (irrasionalisme).

Visagie maak dit baie konkreet deur te wys op hoe hierdie rasionalistiese en irrasionalistiese lyne binne die Nominalisme tot in die hede deurgewerk het – enersyds van die Verligtingdenkers tot by Bloom en Habermas, en andersyds die gang deur Nietzsche, Heidegger, die Franse postmoderne kritici (Foucault, Derrida, Lyotard, Baudrillard) tot by Rorty. Strauss (1999:128, 129) sluit by hierdie gedagterigting aan. Hy beskou die rasionalistiese inset van die Nominalisme klassiek gedemonstreer in die denke van Immanuel Kant. Die irrasionalistiese kant bied volgens hom weer vrugbare grond vir ’n verskeidenheid van tendense van die moderne filosofie soos historisisme, eksistensialisme en pragmatisme. Hy wys uit dat hier alle eer gegee word aan die uniek-individuele, soos nou spesifiek vergestalt in die postmodernisme.

Dit is insiggewend dat die Nominalisme deur beide die Reformatoriese wysbegeerte sowel as die Radikale Ortodoksie as kritiese verwysingspunt beskou word in die evaluasie van postmoderniteit. Waaroor daar verskil bestaan, soos in die vorige punt aangetoon, is of dit reeds by Thomas Aquinas antisipeer is of nie. Dat die Nominalisme ’n definitiewe verwysingspunt is

53

in die evaluasie van postmoderniteit, kan nie ontken word nie. Later wanneer die stamboom van postmoderniteit nagegaan word, word hieraan verdere aandag gegee.34

Soos aangetoon, antisipeer die Nominalisme alreeds wat sy rasionalistiese inset betref, die optrede van Immanuel Kant. Voordat na hierdie invloedryke verteenwoordigende figuur gekyk word, is daar egter ’n ander kragtige beweging wat die outonomie van die mens fundamenteel sou aanspreek en skeiding tussen die Skrif en spekulatiewe teologie sou uitdaag. Dit sou gebeur in die Reformasie onder leidende figure soos Martin Luther en Johannes Calvyn.