• No results found

EVALUERING VAN DIE BYDRAE DEUR AANGRENSENDE WETENSKAPPE

4.11 LEWENSVERWAGTING VAN DIE POST-MODERNE MENS

4.12.8 Geslagsverskille betreffende die rouproses

Mans en vroue rou verskillend; daar is ook verskillende behoeftes in rou by die onderskeie geslagte en dit is gevolglik nodig om die geslagtelike verskille te verstaan om die nodige hulp aan hulle te kan verleen (Hill, 2003:73). Schwab (1996:109) is van mening dat pa's en ma's verskillende rolle in die huisgesin het, en daarom is hulle verhouding met hulle kinders ook verskillend en is daar 'n verskil in die manier waarop ouers reageer na die dood van 'n kind. Die verskil tussen mans en vroue se rouproses is dus veral gegrond op basiese geslagsverskille. Indien daar verder ook nog besondere stres aanwesig is rondom die situasie, beklemtoon dit verskille soos hierdie net soveel te meer. Dit is gevolglik baie belangrik dat huweliksmaats aan mekaar die nodige ruimte sal gee sodat elkeen op sy/haar eie manier kan rou - dit mag dalk in die betrokke situasie die grootste geskenk aan mekaar wees (Anon, 2004:6).

Indien ouers die multidimensionele vlakke van rou en geslagsverskille besef, sal daar waarskynlik 'n groter mate van wedersydse begrip vir mekaar wees en vir die wyse waarop elkeen deur die rouproses beweeg (Schwab, 1996:112). Rubinstein (2004:212) het in sy studie bevind dat vroue meer rou as mans. Die tipiese

onderdrukking van emosies by mans kan gevolglik daartoe bydra dat hulle meer vatbaar is vir psigologiese probleme. Dit blyk egter dat vroue meer emosionele probleme beleef gedurende die eerste jaar na 'n kind se afsterwe en gevolglik het hulle dan ook meer hulp in die herstrukturering van hul denke nodig ten einde nuwe sin in hul lewens te vind (Rubinstein, 2004:212).

In die verlede is daar tradisioneel van vaders verwag om die sterk figuur te wees, nie te huil nie, die gesinsrou te hanteer, ondersteuning te gee en geleenthede te vermy waarin uitdrukking gegee word aan gevoelens (Hill, 2003:75; Murphy et al. 2003c:7, Anon, 2004:6). Mans word in 'n sekere sin dus nie altyd beskou as persone wat rou nie. Die gevolg hiervan is dat bedroefde vaders soms voel asof hulle die vergete bedroefdes is en dat hulle as't ware "tweedeklas" bedroefdes is omdat mense dikwels na die welstand van hul eggenotes verneem en die fokus dus meer op die vrou val. Sulke vooropgestelde idees ontneem vaders van hulle reg op behoorlike rou (Anon, 2004:6).

Goodman (1996:306) meen dat vaders, in vergelyking met moeders, 'n korter rouperiode deurloop. Vaders is ook geneig om hul rou te internaliseer en die hele proses te probeer verwerk deur verdiep te raak in hul leefwereld, deur ontkenning, of deur die gebruik van alkohol om die pyn te verdoof. Persoonlike rou word op hierdie wyse dikwels uitgestel. Goodman is ook van mening dat vaders meer oor seuns treur as oor dogters en dat die gestorwe kinders nie, soos in die geval met moeders, in die sentrum van hul lewe is nie.

Murphy et al. (1999:130) is ook van mening dat vaders wat kinders verloor het se psigiese nood na twee jaar geneig was om te styg, alhoewel dit aanvanklik op 'n laer vlak was. Volgens Hill (2003:75) is die rouproses vir die vaders meer intensief indien die gestorwe kind 'n volwassene is (Hill, 2003:75). Saam met hierdie faktore het die mans oor die algemeen meer kontrole oor hulle emosies en hulle hanteer hul rou sonder om dit noodwendig bekend te maak. Dit gee aanleiding daartoe dat die vroue geneig is om te dink dat mans nie so intens deur die dood geraak word nie. Die teendeel is egter waar, naamlik dat mans op hul unieke manier die rouproses net so intens as vroue beleef. Kivimaki et al. (2002:824) meld ook die interessante navorsingsresultaat dat mans eintlik meer beinvloed word deur stresvolle

lewensgebeurtenisse as dames. In hierdie verband toon Hill (2003:76) aan dat mans onder sulke omstandighede geneig is om dikwels kwaad en aggressief te raak en die dood te verwerk deur byvoorbeeld by fisiese aktiwiteite betrokke te raak. Murphy et

al. (1998:209) verwys na 'n ondersoek waar ouers behandeling ontvang het na die

dood van hul kinders, en dit geblyk het dat vaders erger simptome van post- traumatiese stresversteuring getoon het.

Dit is tradisioneel aanvaarbaar dat moeders hul droefheid en leed wys, hulp soek, openlik uitdrukking aan gevoelens gee en ook die nodige emosionele ondersteuning ontvang (Murphy et ah, 2003c:7). Murphy et ah (1999:130) het gevind dat as gevolg van vermelde faktore die psigiese nood van moeders, alhoewel dit aan die begin hoog was, na twee jaar gedaal het,.

Volgens Hill (2003:75) se navorsing het geblyk dat by moeders die ouderdom van die gestorwe kind oor die algemeen nie relevant was nie - deurgaans het dit vir hulle om 'n proses van intense rou gegaan. Verder het dit ook geblyk dat indien moeders nie geleentheid gegun word om hierdie intense rou en hul emosionele wroeging te verwoord nie, hulle dan geneig is om terug te trek - en dit blokkeer gevolglik die natuurlike rouproses.

Aansluitend hierby meld Polatinsky en Esprey (2000:710) die feit dat vrouens wel meer geneig is om te leer en verryk te word deur moeilike lewensondervindings. Schwab (1996:109) het gebruik gemaak van hul Grief Experience Inventory as meetinstrument waarvolgens geblyk het dat moeders 'n hoer telling gehad het rondom aspekte soos A-tipiese response, moedeloosheid, woede, skuld, verlies aan kontrole, oormatige bepeinsing, depersonalisasie, somatisasie, verlies aan krag, fisiese simptome en negatiwiteit. Hiervolgens het hulle dus meer intens getreur en gerou.

Lesher en Bergey (1988:83) se navorsing het getoon dat moeders wat volwasse kinders aan die dood afgestaan het, 'n beduidende verandering in funksionele aktiwiteite, gesinskohesie, psigologiese en fisiese gesondheid beleef. Die gevolg hiervan is onder andere dat moeders in ouetehuise wat volwasse kinders aan die dood afgestaan het, en wat in ouetehuise woon, groter gesondheids- en ander probleme mag ondervind.

Die belewenis van vaders en moeders wat hul volwasse kinders aan die dood afgestaan het, is dus verskillend van aard, maar dit impliseer nie noodwendig dat die een minder of meer as die ander een treur nie.

4.13 TRAUMABELEWING

Die Griekse woord vir trauma beteken wond. 'n Persoon wat 'n traumatiese ervaring beleef, is soms fisies maar ook psigies verwond. Die psigies gewonde persoon kry nie noodwendig altyd die simpatie en ondersteuning wat 'n fisies gewonde persoon kry nie - alhoewel hy/sy net so, indien nie erger nie, verwond kan wees (Retief, 2004:13). Die definisie van trauma, volgens die 'International Institute of Traumatology and Crisis Intervention' is die volgende (soos aangedui deur Retief, 2004:13).

'n Persoon het *n trauma beleef indien hy blootgestel was aan gebeure wat of met sy lewensomstandighede of met sy lewensfase te doen het en wat tot gevolg het dat daardie persoon se gewone hanteringmeganismes lamgele is en ten minste een van die volgende effekte waargeneem kan word:

• Daar is'n element van gelatenheid;

• daar is 'n diep, amper onomkeerbare verandering in basiese lewensinsigofoorruiging;

• daar is 'n ernstige oorbelading van die persoon se normale hanteringsmeganismes (Royffe, 2006). (Uit Engels in Afrikaans vertaal deur Retief, 2004:16).

Volgens Retief (2004:17) gaan die getraumatiseerde persoon gewoonlik deur die volgende vier fases:

• Impakfase • Reaksiefase • Terugtrekfase • Integrasiefase

Volgens Kaufman (2002:71) het 72% van Amerikaners al ten minste een traumatiese belewenis gehad. 'n Substansiele getal van hierdie persone ondervind dan ook psigologiese probleme wat direk verband hou met die traumatiese gebeurtenis.

Die psigologiese reaksie van individue op dieselfde trauma verskil beduidend aangesien die betekenis van enige traumatiese gebeurtenis 'n interaksie is tussen die gebeure en die individu se verlede, hede en verwagte toekoms, sowel as sy biologiese gegewendheid en sosiale konteks. Die betekenis van die trauma affekteer nie net die manier waarop die trauma aanvanklik hanteer word nie, maar ook die manier waarop genesing gaan plaasvind en die lewe weer leefbaar gemaak gaan word. Verder is dit ook so dat die meeste mense 'n trauma heel goed hanteer - sommige beleef egter psigologiese siektes, veranderinge in optrede of veranderinge in fisiese gesondheid (Ursano et al, 1994:5)

Ursano et al, (1994:5,8,9) meen voorts 'n trauma word herken deur die aard van die gebeure, die effek daarvan op individue en die reaksie van individue op die gebeure. Alhoewel post traumatiese stresversteuring die algemeenste gevolg van 'n traumatiese belewenis is, is daar ander gevolge ook soos algemene angsversteurings, major depressie en substans misbruik en afhanklikheid. Een van die grootste bydraende faktore tot die moontlikheid van 'n psigiatriese siekte na die belewenis van 'n trauma is die intensiteit van die trauma. Psigopatologie voor die trauma is nie 'n noodwendige aanduiding van psigiatriese siektes wat na die trauma kan manifesteer nie. Reaksies op trauma wissel en nie twee individue gaan dieselfde op dieselfde trauma reageer nie. Om die individu se respons op 'n trauma te verstaan is dit nodig dat die individu binne sy of haar konteks verstaan moet word (Ursano et al, 1994:17).