• No results found

EVALUERING VAN DIE BYDRAE DEUR AANGRENSENDE WETENSKAPPE

4.11 LEWENSVERWAGTING VAN DIE POST-MODERNE MENS

4.12.2 Onnodige kliniesc terapie

4.12.4.2 Gekompliseerde rou

Alhoewel die rouproses veronderstel is om uiteindelik uit te loop op aanvaarding en bevryding, is daar diegene wat sukkel met gekompliseerde rou. In sulke gevalle is daar dikwels emosionele blokkasies rondom die fase van ontkenning, skuld en woede. Indien iemand byvoorbeeld homself na 'n paar maande al meer begin onttrek en nie normale take uitvoer nie, moet professionele hulp gekry word (Anon, 2006d:3). Cook (1992:10) se dat gekompliseerde rou die volgende kan insluit: psigiatriese siekte; vermyding van rou, chroniese rou, rou wat uitgestel word en verhinderde rou.

Rando (1993:11) is van mening dat gekompliseerde rou ter sprake is wanneer die evaluerende persoon oordeel dat die treurende nie vorder soos wat van iemand tydens die betrokke stadium van die proses verwag word nie. Hierdie stalling sou korrek wees indien individuele verskille van persoon tot persoon in ag geneem word. Gekompliseerde rou beteken dus dat daar binne 'n aanvaarbare tydsverloop van die rouproses, gebrek of afwesigheid van een of meer van die nodige stappe van rou is. Volgens Rando (1993:149) is daar in alle gekompliseerde rou gewoonlik twee faktore aanwesig, naamlik eerstens die ontkenning, onderdrukking of vermyding van aspekte van die verlies, die pyn en die voile implikasies van die verlies; en tweedens die 'vashou' aan die gestorwene. Alle behandeling moet vervolgens op hierdie twee aspekte gefokus wees.

Prigerson et al. (1995:23) sluit aan by bogenoemde en meld dat gekompliseerde rou ontstaan wanneer die agtergeblewene permanent bly fokus op die oorledene, langdurige depressie beleef of chronies siek is. Abnormale rou word verder beskryf as gekompliseerd, patologies, a-tipies, neuroties of onopgelos. Rou is dan ook gekompliseerd as die simptome wat ondervind word langtermyn benadeling sou voorspel.

Volgens Ott (2003:250) kom gekompliseerde rou voor wanneer die persoon op wie die fokus bly, 'n betekenisvolle persoon was. Simptome van skeidingsangs is die kern van die sindroom (vergelyk Rando se "vashou" aan die oorledene) en dit is geneig om voor te kom met spesifieke simptome van rou soos gevoelens van verslaentheid en skok.

Ott (2003:249) het verder bevind dat 20 - 30 % van bedroefde ouers komplikasies beleef tydens die rouproses. Daarom is Wheeler (2001:62) van mening dat gekompliseerde rou by ouers intree wanneer die trauma van die kind wat gesterf het, nie deurgewerk en geintegreer is nie. Navorsing het ook aangetoon dat gekompliseerde rou dikwels geassosieer word met die onverwagse dood van kinders (Barry etal, 2002:454).

Die DSM-IV bied nie 'n defmisie van gekompliseerde rou nie, omdat volgens Prigerson et al. (1995:22) individuele en kulturele verskille tussen mense dit moeilik maak om so 'n defmisie te formuleer. Akademici wat droefheid en leed as vak bestudeer, argumenteer egter vir die kliniese belangrikheid van 'n gekompliseerde/patologiese roudiagnose en het 'n hele paar verskillende tipes van gekompliseerde rou beskryf (Bonanno & Kaltman, 2001:706). Volgens Ott (2003:267) sal dit goed wees indien gekompliseerde rou as *n aparte kategorie geklassifiseer kan word want dan sou persone binne hierdie kategorie meer effektief geidentifiseer en behandel kon word. Gekompliseerde rou is vroeer traumatiese rou genoem maar deesdae word die term "gekompliseerde rou" verkies ten einde verwarring te voorkom met post-traumatiese stresversteuring. Met die term 'gekompliseerde rou' word bedoel dat daar komplikasies met die normale rouproses ingetree het en dat daar plek gemaak is vir 'n vorm van geinhibeerde, vertraagde en uitgerekterou.

Die etiologie (oorsaaksleer) van gekompliseerde rou is dikwels gelee in onsekere verhoudings in die kinderlewe as gevolg van 'n geskiedenis van misbruik/molestering, konflik, of verwaarlosing deur ouers en/of die dood van 'n ouer. Swak ouer-kind bande wat in die ontwikkelingsjare gevorm is in kombinasie met 'n sekere persoonlikheid (wat gekenmerk word deur 'n swak affektiewe modellering) kan lei tot kompulsiewe omgeeverhoudings (enmeshed relationship). Vir sulke persone kan die verlies van 'n verhouding wat stabiliserend en relatief eksklusief was, uitloop op intense skeidingsangs en psigologiese trauma, al het die verlies nie onder traumatiese omstandighede plaasgevind nie (Ott, 2003:267).

Horowitz et al. (1997:904) identifiseer sewe simptome van gekompliseerde rou:

• Gedagtes aan die afgestorwene wat spontaan na vore kom en ongevraagde fantasiee in verband met die verlore verhouding.

• Sterk emosionele gevoelens en belewenisse. • Ontstellende verlange na die gestorwene.

• Gevoelens van alleenwees of *n persoonlike leegheid. • Oormatige vermyding van herinneringe aan die gestorwene. • Ongewone slaapstoornisse.

• Verlies aan belangstelling in werk-, sosiale- of ontspanningsaktiwiteite.

Rando (1993:5) identifiseer die volgende sewe risikofaktore wat gekompliseerde trauma/rou bevorder:

• Skielike onverwagte dood. • Dood na 'n lang siekbed. • Verlies van 'n kind.

• Die oorlewende se persepsie dat die dood voorkom kon gewees het. • 'n Swak of afhanklike verhouding met die gestorwene.

• Psigiese probleme.

• Onverwerkte verliese en die afwesigheid van sosiale ondersteuning.

Met betrekking tot gekompliseerde trauma maak Herman (1997:115-121) die opmerking dat die meeste mense nie kennis of insig het van die psigologiese veranderings wat tydens gebeure soos gevangenskap en langdurige mishandeling intree nie. Lindeque (2006:2) meen dat chronies getraumatiseerde persone dikwels in stilte ly omdat hul vrae oor simptome wat manifesteer, nie reg verstaan word nie. Alhoewel die voorgestelde term vir die volgende uitgawe van die DSM klassifikasie, naamlik 'complex post-traumatic stress disorder', nog nie algemeen deur ander sielkundiges gebruik word nie, het talle reeds die tipiese simptome beskryf en selfs verskillende name daaraan gekoppel.

Opsommenderwys kan gekonstateer word dat gekompliseerde rou dus die onvermoe impliseer om terug te keer na die vlakke van prestasie of emosionele gebalanseerdheid wat voor die dood van die geliefde bestaan hex, omdat die verwerkingsproses om een of ander rede gekortwiek word. Indien sekere simptome vir 'n redelike tyd na die dood van 'n geliefde nog steeds voorkom, is die persoon in 'n verhoogde risikogroep wat gekompliseerde rou kan beleef. Dit kan lei tot sosiale wanaanpassing en uiteraard psigologiese en mediese behandeling vereis.

4.12.5 Tydsduurvanrou

De Villiers (1985:106) beklemtoon die feit dat die heling van die wonde van rousmart slegs met verloop van tyd plaasvind. Hoe lank hierdie tydspan is, is afhanklik van die individu se vermoe om in die gestorwene se afwesigheid by die omgewing waarvan hy/sy vroeer deel was, aan te pas. Daar is dikwels onrealistiese verwagtings in terme van die afhandeling van die rouproses en 'n aspek soos patologiese rou moet eers na versigtige oorweging gediagnoseer word, aangesien die rouproses van ouers langdurig kan wees - en nie noodwendig binne twaalf maande afgehandel kan word nie (Du Toit, 1991:3).

Florian (1990:100) toon aan dat bedroefde ouers minder sin en betekenis in die lewe ervaar en dat hulle gesondheid ook oor die algemeen verswak. Hulle beleef dit wat Victor Frankl (1970:108) beskryf as 'n "eksistensiele vakuum" en hierdie verlies aan sin en betekenis van die lewe verbeter nie noodwendig met verloop van tyd nie. Dit dui op die vernietigende impak van hierdie soort droefheid - en die rou en droefheid van ouers mag selfs toeneem. Daarom bly sulke ouers oor 'n baie lang tyd 'n risiko groep vir fisiese en psigologiese probleme. Dit is gevolglik onwys om 'n tydlyn aan rou te koppel omdat individue verskil - sommige mag die dood gouer verwerk en ander kan langer neem (Anon, 2006a:3).

Murphy et al. (1999:130,157) is van mening dat die meeste veranderings by beide ouers tussen 4 en 12 maande na die kind se dood ingetree het. Meer verwerking vind dus gedurende die eerste- as die tweede jaar plaas. In 'n latere studie het Murphy et al (2003b:58) opgemerk (as korrektief op die vorige studie) dat die aanvaarding van die kind se dood normaalweg nie intree voor die derde jaar na die dood nie. In 'n ander

studie wat in dieselfde jaar gedoen is, het Murphy et ah, (2003a:381) bevind dat net 12% van die ouers na twaalf maande betekenis en sin met betrekking tot hulle kind se dood gevind het. Na sestig maande het 57% egter betekenis daarin gevind.

Bonnano en Kaltman (2001:711) het in 'n studie aangetoon dat optrede en gevoelens wat met rou gepaardgaan, in die eerste twee jare gepiek het en dan geleidelik afgeneem het - 'n proses wat voortgeduur het tot so lank as tien jaar na die dood. Hill (2003:74) meen dat daar in die derde jaar weer 'n intensivering van rou kan plaasvind terwyl Jordan en Neimeyer (2003:774) meen dat simptome van rou reeds gedurende die tweede jaar kan vererger.

Malkinson en Bar-Tur (1999:415) meen dat die normale rouproses tussen twee en drie jaar duur. Die verloop van tyd lei dus nie noodwendig tot die afplatting van die rou nie en dit laat ook nie die ouers hulle verbintenis met die ontslape kind opgee nie. Dit blyk inteendeel, dat tydsverloop die interne betrokkenheid met die gestorwe kind intensiveer; die vrees versterk dat herinneringe sal vervaag en die behoefte versterk om die gestorwe kind te verewig. Die ouer-kind verhouding bly dus as't ware lewend in die ouers se bestaan. Malkinson en Bar-Tur (1999:415,417) wys op die resultate van 'n studie waarin bevind is dat ouers wat al twintig jaar oor hulle afgestorwe kind rou, met 'n vraelys dieselfde resultate behaal het as ouers wie se kinders drie maande tot twee jaar vantevore gesterf het. Dit blyk dus dat tyd nie noodwendig heling bring na die verlies van 'n kind nie. Met betrekking tot 'n studie soos hierdie is daar dus 'n moontlikheid/waarskynlikheid dat by sommige van hierdie ouers 'n mate van gekompliseerde smart aanwesig kan wees.

Ook Lehman en Wortman (1987:218-230) het in hulle navorsing bevind dat die oorlede kind nog lank na die dood, in die gedagtes en gesprekke van ouers voortleef. Die skielike en ontydige dood van 'n kind het 'n langdurige uitwerking op ouers en in hierdie studie blyk daar geen verskil is tussen die simptome en funksionering van ouers wat hul kinders 4-5 of 6-7 jaar vantevore verloor het nie. Arnold en Gemma (1994:57) sluit hierby aan met hulle standpunt dat rou vir die bedroefde persoon 'n pynlike en lewenslange proses is; *n proses waarin hulle poog om sin te maak uit die verlies van en lewe sonder die kind. Wheeler (1994:262) beklemtoon die feit dat die dood van 'n kind aanleiding gee tot sinneloosheid/onmagtigheid en dit verander nie

noodwendig met tyd nie. Dit is dus duidelik dat die normale rouproses nie afgebaken kan word in terme van duur en intensiteit nie. Die rouproses is inteendeel 'n unieke persoonlike ervaring en daar moet gewaak word teen veralgemenings (Du Toit,

1991:47).