• No results found

2.5 T OORBERG SE SPOOKKARAKTERS : INDIVIDUELE IDENTITEITE

2.5.6 Floors Moolman

(Tweede generasie. Seun van StamAbel en Magtilt; broer van Lucius, OuAbel, Soois en Andreas; vader van Andries)

Floors fokaliseer die 28ste hoofstuk van die roman, en sy vertelling fokus hoofsaaklik op homself en sy lewe, eerder as die gebeure op Toorberg en die res van die familie. Die voorafgaande hoofstuk, waarin daar hoofsaaklik op Koevert gefokus word, openbaar die verhouding tussen Koevert en KleinKitty, en deur die opeenvolgende plasing van hierdie twee fokalisators word ʼn eggo tussen die primêre en sekondêre verhaallyn gevestig. Floors se fokalisasiebeurt word laat in die primêre verhaallyn geplaas, kort nadat Abel se verdwyning bekend word. Hy hou die soekgeselskappe aan die voet van Toorberg dop terwyl hy sy deel van die verhaal vertel. Hy dink terug aan die skinderstories wat oor hom vertel is nadat sy pa hom van die werf verjaag het; hy sien sy kleindogter, KleinKitty, en dink terug aan sy verhouding met Kitty. Dit is opmerklik dat

113

Floors nooit enige melding maak van sy gevoelens vir Kitty nie – hy sê byvoorbeeld nooit dat hy haar liefgehad het nie. Hy openbaar ook dat hy nooit sy kind gesien het nie, maar verneem het dat dit ʼn seun was, en dat sy naam Andries was (Van Heerden, 1986:114). Verder vertel hy dat hy in sy swerftogte altyd by vreemdelinge gevis het vir inligting oor die Moolmans, totdat ʼn poskoetsdrywer hom herken het. Hieruit is dit duidelik dat Floors na sy familie verlang het.

Floors staan uit onder sy broers as die groot swartskaap van die familie. StamAbel het selfs sy naam van die werf af verbied. Die ‘oortreding’ wat van hom so ʼn groot familieskande gemaak het, was sy verhouding met Kitty. Hulle het skelm op die plaas ontmoet, veral Sondagmiddae wanneer die werf slaap, en ʼn kind verwek. Soois vertel later in die roman (hoofstuk 30) van die dag waarop StamAbel vir Floors van die werf af gejaag het:

Wie Floors en Kitty uitgevang het, sal niemand ooit weet nie. Regter Lucius het eendag gereken dat dit StamAbel self was. StamAbel het daardie dag gewag tot Floors met sy deurmekaar kuif en die traak-my-nie-swaai van sy bene huis toe kom.

En daardie middag het StamAbel met sy sweep aan die etenstafel kom sit. Toe hy die tafelgebed doen, was dit met Ouma Magtilt se hand onder sy regterhand en sy linkerhand oor die sweep. Die bediendes het met die opdien bangerig na die sweep geloer. Toe StamAbel sy laaste slukkie koffie neem en sy bord van hom wegskuif, het hy na Floors gekyk.

“Floors Moolman,” het hy gesê. Floors, wat nes die res van die gesin geweet het dat daar moeilikheid gaan kom, het opgekyk. Sy mond was nog vol bakaartappel.

“Ja, Vader?” Sy stem was gesmoord; hy’t onbeholpe probeer sluk aan die mondvol kos. “Ken jy jou soort, Floors Moolman?” StamAbel se hand het oor die sweep gespeel. Vir ʼn man wat op pad was om een van sy seuns van sy werf te jaag, was hy verbasend kalm, het Soois dikwels agterna gedink.

“Wat bedoel Vader?” Floors het so wit soos die tafeldoek geword. Styselwit. “Jy weet, Floors.”

Dit was onheilspellend stil in die eetkamer. Ook in die kombuis het die bediendes ophou skuif aan die potte op die ysterstoof.

“Nee, Vader.” Floors het op die tafel voor hom gekyk. “Is jy dan nog ʼn lafaard ook?”

“Nee, Vader.”

StamAbel het opgestaan en omgestap na Floors. Ouma Magtilt het nog haar hand uitgesteek om te keer, maar dit was te laat. Floors het half uit sy stoel gestruikel, maar StamAbel se hand het om sy boarm gesluit en hy’t vir Floors die gang af gesleep-dra die voordeur uit. Op die werf, voor almal, en sonder dat hy of Floors ʼn woord geuiter het, het hy Floors met die sweep bygekom.

Links en regs oor Floors se blaaie en bene het die houe geval, sodat daar later oor die werf ook sweephale gelê het. Toe hy klaar was, het StamAbel na Jan Swaat gekyk. “Bring my hings,” het hy gesê. Hy het die veld in gery en eers die aand se kant teruggekom […]

Eers het niemand geweet waaroor die loesing gegaan het nie, maar toe Kitty Riet die volgende dag verby die werf stap met ʼn drag hout en hulle ook oor háár lyf die houe van Jan Swaat se lat sien, het hulle geweet (Van Heerden, 1986:126-127).

Floors kon nie die trauma van daardie dag oorkom nie. Vir die res van sy lewe was hy altyd in ’n tweestryd gewikkel tussen sy skuldgevoelens en sy hunkering na sy familie en sy geboortegrond. As reisende verkoopsman het hy altyd probeer uitvind oor die Moolmans. Hy wou teruggaan na sy geboortegrond, maar hy het die rol van familie-swartskaap gespeel deur die skaamte wat daarmee gepaard gaan, vir die res van sy lewe met hom saam te dra. Floors verwerp dus nie sy familie se waardes en die rol waarin hulle hom plaas nie, maar leef dit uit, hy aanvaar die skaamte.

In sy fokalisasiebeurt maak hy geen melding van ʼn liefde vir Kitty nie, en hy toon geen weerstand teen die familie se beskouing dat hierdie liefde (of altans, fisiese verhouding) oor die kleurgrens heen ‘verkeerd’ is nie. Dit suggereer dat Floors sy familie se sentimente jeens ander rasse aanvaar, en self aanhang. En ten spyte van die klem wat Afrikaners oor die algemeen op sterk familiebande plaas, keer Floors nie eers terug om sy seun te sien nie. Buiten dat Floors hierdeur nog ʼn waarde van die Afrikaner ondermyn, kan hierdie verwerping van sy eie gesin ook geïnterpreteer word as lafhartigheid – Floors het nie die ruggraat om die nagevolge van sy dade, sy ‘onaanvaarbare’ seun, te aanvaar nie.

Floors se lafhartigheid en die “koes in sy geaardheid” is grotendeels veroorsaak deur StamAbel se gewelddadige optrede. Dit het ʼn permanente letsel op Floors gelaat, en derhalwe kan sy ‘lafhartigheid’, die “koes in sy geaardheid”, nie as ʼn persoonlikheidsgebrek beskou word nie. Tog is dit direk teenstrydig met die beeld van die manlike Afrikaner. ʼn Boer is veronderstel om 'n man te wees wat sy man kan staan, maar Floors was ʼn wegkoeser:

ʼn Bakleier was hy nooit regtig nie – nie vrywilliglik nie. Hy’t baie eer in die lewe verloor; party mense sal seker sê al sy eer, maar elke man het ʼn breekpunt en hy kon die dronkie se skinderpraatjies nie meer hanteer nie. Nadat hy die man gefoeter het dat hy bly lê, moes hy opnuut padgee. Selfs noudat hy ontslae behoort te wees van die vrese van die lewendes, kan hy nie ontslae raak van die koes in sy geaardheid nie. Daardie één loesing op die werf, sy pa se woordelose mond en bliksem-oë, sy swygende broers, sy gebroke moeder, sou hy nooit kon afskud nie (Van Heerden, 1986:114).

Nadat hy Toorberg verlaat het, het hy as poskoetsdrywer gewerk en oral waar hy gegaan het, homself uitgegee as ʼn “skinderbek en versigtig ingevra” na die Moolmans (Van Heerden, 1986:114). Op hierdie manier het hy telkens “homself verloën […] net om te voel dat hy nog iemand is en nie maar net ʼn wegkoeser wat van staning tot staning met ʼn lendelam regeringskoets ry nie” (Van Heerden, 1986:115). Floors het so geleef totdat ʼn koetsdrywer hom herken en op die naam genoem het. Op daardie dag het hy “uitgevind dat ʼn groot man nooit te uitgegroei is om soos ʼn kind te huil nie” (Van Heerden, 1986:116). Daarna het hy sy werk as poskoetsdrywer agtergelaat en ander beroepe beoefen – hy het gedelf vir goud, by ʼn sirkus aangesluit en die perde versorg – maar altyd weer weggeswerf, “gedryf deur die verlange na grond en beeste, na water en die warm veldson in die blaaie” (Van Heerden, 1956:116).

Ten spyte van sy verlange het Floors eers ná sy dood teruggekeer na Toorberg. Waar, wanneer en hoe hy gesterf het, word nie vertel nie, maar dit word duidelik gestel dat hy nie op Toorberg begrawe is nie. Dit is sy Moolmanbloed wat hom terugbring:

En nou, dink Floors, kan ek hier dwaal asof dit uiteindelik ook myne is. Ek moet wel versigtig loop, want ek het nie ʼn graf in die begraafplaas verdien nie. Maar ek het teruggekeer, soos alle Moolmans, want hier is mý nageslagte ook – al het hulle die Stiefveld geërf en al is hulle bitter en verstote. Hulle is nog hier; hulle kan nog soggens wakker word en opkyk na die kop van Toorberg en dink: Hier hoort ons (Van Heerden, 1986:117).

115

Floors dra by tot die geheelbeeld van Afrikaneridentiteit wat in Toorberg geskep word deur ‘onaanvaarbare’ individuele karaktereienskappe te toon wat veroorsaak dat hy deur sy familie uitgewerp word. Hy het ʼn kind oor die kleurgrens heen verwerk, wat indruis teen die Afrikaner se ideaal van rassuiwerheid. Wanneer hy met hierdie ‘wandaad’ gekonfronteer word, tree hy aanvanklik oneerlik op deur voor te gee dat hy nie weet waarvan StamAbel praat nie, en daarna tree hy soos ʼn lafaard op wanneer hy nie erken wat hy gedoen het nie.76Hy aanvaar sy vader se

loesing sonder teëpraat, sonder om enigsins te probeer terugveg. Hy keer ook nie terug om sy eie seun op te eis nie. Hierdeur word ʼn beeld geskep van die Afrikaner as ʼn groep wat hoofsaaklik deur eksklusiwiteit in stand gehou word – dit wat nie aanvaarbaar is nie, moet verwerp en vermy word, en selfs die uitgeworpe Floors aanvaar dit só.