• No results found

2.5 T OORBERG SE SPOOKKARAKTERS : INDIVIDUELE IDENTITEITE

2.5.11 De la Rey Moolman

(Derde generasie. Seun van OuAbel en Hetta; broer van Abel en Posmeester)

De la Rey is een van mees misterieuse figure in hierdie roman. Hy is ook die enigste “rasegte” Moolman wat nie ʼn fokalisasiebeurt as spook kry nie, moontlik omdat daar nooit uitdruklik verklaar word dat hy oorlede is nie. Niemand in die familie (of die dorp) was skynbaar ooit werklik seker wie of waar De la Rey was nie:

Stories was daar altyd oor De la Rey, vernoem na die veggeneraal. Daar is vertel dat hy, in navolging van sy oom Andreas, in die groot stad verlore gaan raak het tussen die skilders, die musikante en ander wat afbeeldings van die Skepping maak. Ná baie jare het die stories oor De la Rey opgedroog (Van Heerden, 1986:11).

De la Rey, ʼn StiefMoolman, is vernoem na ʼn veggeneraal, maar hy is geensins ʼn kryger nie. Abel vertel dat De la Rey ʼn sagter hand as hyself gehad het, en dat sy broer “in sy intelligensie […] ʼn Lucius [was], in sy kunssinnigheid ʼn Andreas, ʼn man met die stad in sy bloed, ʼn man wat wou dwaal” (Van Heerden, 1986:160). Hetta beskryf haar seun soos volg:

127

Destyds het [Ella] as jonggetroude vrou by Ouma Olivier gehoor dat De la Rey eintlik OuAbel se lieflingseun was, nie Abel nie. De la Rey sou Toorberg erf, want hy was die oudste, en in sy stap en sy hoogmoed kon jy sien dat hy StamAbel se kleinkind was. Hy was taai en trots, maar terselfdertyd eenkant en stil, veral toe hy ouer word en die een been hom al hoe meer pla. Almal het aanvaar dat hy eers sou gaan leer, maar later sou terugkeer om Toorberg te boer (Van Heerden, 1986:13).

De la Rey was duidelik OuAbel se gunstelingseun, en die oudste, en derhalwe die seun wat die plaas sou oorneem. Die gesig van die slagtery het hom as jong seun egter so ontstel dat hy nooit weer met slagtyd op die plaas wou wees nie. Wanneer hy as spook(?) terugkeer, is dit ook die slagtery wat hom weer laat verdwyn:

Mettertyd het almal aan De la Rey se teenwoordigheid gewoond geraak, maar een môre het hy die by die werf se hek uitgestap en nooit weer teruggekeer nie.

Eers toe Abel ʼn week later, ná die soektog in die berg afgelas is, met OuAbel se Lee Metford in die slagkraal staan en hulle die jong os met rieme tot voor hom sleep, het hy besef wat gebeur het. Twee weke, het hy skielik onthou, was hulle al besig om vir die slagtery voor te berei. Die slagtafels is met koeksoda geskrop; blinknuwe biltonghake het reeds in die biltongskuur gehang. En dié veertien dae het De la Rey ál meer gedwaal en ál minder geëet. En toe Abel die jong os in die oë kyk, het hy verder onthou dat De la Rey as kind glo sy groot terugslag gekry het toe hy in die slagkraal afgekom het op OuAbel, besig om sewe jong osse vir die groot winterslag te skiet. Van daardie dag af was De la Rey nooit weer dieselfde nie. Koelbloedigheid kon hy nooit weer verduur nie (Van Heerden, 1986:12).82

De la Rey se “vleisvrees” en onwilligheid om diere dood te maak vir die slag (Van Heerden, 1986:12) had sekerlik ʼn invloed op sy besluit om Toorberg, waar daar onder andere met beeste geboer word, te verlaat. Hy is na skool universiteit toe, maar het skynbaar nooit as lewende man na Toorberg teruggekeer nie (Van Heerden, 1986:14) – anders as die vorige geslag se stedelinge (Andreas en Lucius) wat wel soms op besoek gekom het. Volgens Hetta het OuAbel sy testament gaan verander die dag toe De la Rey universiteit toe is in ʼn poging om “De la Rey so gou moontlik uit sy lyf te sny” (Van Heerden, 1986:14). Die nuwe testament het bepaal dat nie De la Rey nie, maar Abel Toorberg sou erf. Hiervan het De la Rey nie geweet nie, maar op sy beurt wou hy ook niks met Toorberg en sy mense te doen gehad het nie. Hy het selfs die vruggebruik van die hand gewys en daarop aangedring dat die diere nie geslag mag word nie, die eiers, melk en vrugte aan die (Katolieke) klooster geskenk moet word en die koring teruggesaai moet word (Van Heerden, 1986:15). ʼn Afrikaner en ʼn Boer was hy beslis nie.

Hy keer een maal terug na Toorberg, en dit is hier waar die onderskeid tussen De la Rey as lewende man en De la Rey as spook baie vaag word. Sy verskyning word deur Ella verhaal, en aan haar eerste ontmoeting met die magistraat verbind. Ella kry ʼn voorgevoel en vermoed dat De la Rey weer sal opdaag, maar dit is die magistraat wat op Toorberg aankom. Hierdie voorgevoel kom wanneer sy in die fyntuin besig is met die daggaplante vir KênsTillie, en die herinnering aan De la Rey se vorige besoek volg:

82 Toe Abel besef het waarom De la Rey weer verdwyn het, het hy daardie winter se slagtery vinnig afgehandel, en

Totdat De la Rey, ʼn gryse oupa sonder kind of kraai, ʼn rasegte Moolman sonder ʼn morg grond in sy besit, daardie dag op Toorberg opgedaag het. Volgens die rekords van die staat het hy enkele jare vantevore intestaat gesterwe. Hoe hy die werf bereik het, kon niemand sê nie. Daar was geen wielspore nie, Posmeester Moolman het gesweer dat hy nie by die Halte afgeklim het nie, en ver kon hy ook nie stap nie, met sy een been korter as die ander.

Maar opeens het hy daardie môre drie jaar gelede deur die fyntuin aangehurk gekom tot waar sy daggapitte vir KênsTillie se tee aan’t pluk was. Ella het hom ná al die jare nie herken nie. Toe sy met Abel getroud is en haar intrek op Toorberg neem, was De la Rey reeds weg, by die universiteit in die stad besig met sy tesis oor die Skaamte. Hy’t glo gehoop, só het die mense geweet te vertel, dat die studie hom sou lei na al die hoofstede van die wêreld.

Toe hy nader kom, was daar iets in sy kopknik wat haar herinner het aan OuAbel en sy het vinnig begraafplaas se kant toe gekyk. Maar toe hy voor haar kom staan en vra: “Waar’s OuAbel?” het sy geweet dit ís familie, maar nie OuAbel self wat uit die graf opgestaan het nie.

“Dáár,” het sy gesê en na die begraafplaas beduie.

“O,” was sy antwoord en aan sy manier van kyk het Ella, altyd vlug van begrip, afgelei dat dit De la Rey, die dromer, moet wees.

“Jy’s De la Rey,” het sy gesê en haar hand teen die skerp oggendson oor haar oë gehou. “My swaer, die dromer.”

Terwyl sy nou die spore in die fyntuin versigtig bekyk, gaan haar gedagtes terug na die dae wat gevolg het op De la Rey se verskyning uit die niet. Hulle het Soois se ou kamer, wat al die jare leeg gestaan het met Soois se bebloede uniform nog in die kas, vir hom ingerig en daar het De la Rey die meeste van sy tyd deurgebring deur die boeke uit die glaskaste in die studeerkamer te lees. Snags, as sy en Abel al lê, het hulle hom hoor skuifel in die gang soos hy boeke gaan haal en terugneem. Hy was onrustig, en veel het hy nie gesê of geëet nie, maar tot Abel se ergernis Druppeltjie nadergeroep wanneer dié onder die wilgerbome weggekruip het, en vir hom voorgelees uit die klassieke verhale. Mettertyd het almal aan De la Rey se teenwoordigheid gewoond geraak, maar een môre het hy by die werf se hek uitgestap en nooit weer teruggekeer nie […]

Of De la Rey ooit verlossing gevind het op sy reise, het niemand geweet nie. En of hy weer in die dood gaan verdwaal het, kon hulle ook nie sê nie (Van Heerden, 1986:11-12).

Dit is onduidelik of De la Rey hier as ʼn lewende karakter of as ʼn spook op Toorberg aangekom het. Sy voorkoms – “’n gryse oupa” suggereer dat hy lewend, maar aansienlik ouer is. Tog is hy volgens die staat oorlede, en daar is aspekte van sy gedrag wat suggereer dat hy nie in lewende lywe daar is nie. De la Rey verskyn asof uit die niet, en niemand kan verklaar hoe hy op Toorberg aangekom het of waar hy vandaan gekom het nie. Ella sien hom aanvanklik vir ʼn dooie aan. Sy vermoed dat dit dalk OuAbel is en loer vinnig in die begraafplaas se rigting. Wanneer De la Rey later skielik weer verdwyn, vermoed die Toorbergers onder andere dat hy dalk “weer in die dood gaan verdwaal het”. Indien hy ʼn spook is, is hy die enigste Moolmanspook wat deur die lewendes waargeneem word en met hulle saamwoon asof hy nog lewe. Tydens sy verblyf herhaal hy sekere gedragspatrone uit sy jeug, insluitende die manier waarop hy reageer op die beesslagtery. Maar hy praat of eet nie juis nie, hy spandeer sy dae daaraan om vir klein Noag voor te lees uit die klassieke verhale en snags kon Ella en Abel hom “op en af hoor skuifel in die gang soos hy boeke gaan haal en terugneem” (Van Heerden, 1986:12).

Dit is opmerklik dat daar na De la Rey verwys word as ʼn “gryse oupa sonder kind of kraai” en “rasegte Moolman sonder ʼn morg grond in sy besit” (Van Heerden, 1986:11). Dit suggereer dat ras, grond en ʼn nageslag van groot belang is vir die Moolmans. Ella se reaksie op De la Rey se verskyning is ook vreemd. Hy het in sy jeug vir Ella om haar hand gevra, maar sy het hom afgewys

129

omdat sy haar oog op Abel gehad het. Dit is daarom moeilik om te glo dat Ella hom aanvanklik nie herken het toe hy later (as spook?) in haar fyntuin opgedaag het nie.

Soos reeds genoem is, kry De la Rey geen fokalisasiebeurt nie, en derhalwe kan hy nie hier in meer detail as ʼn spookfokalisator bespreek word nie. Anker (1991:113) voer aan dat sy weglating as fokalisator gemotiveer kan word deur die Magistraat se identifikasie met De la Rey. ʼn Ander interpretasie is dat De la Rey wel teenwoordig is as die magistraat. Indien die magistraat beskou word as die reïnkarnasie van De la Rey, kan daar aangevoer word dat al sy fokalisasiebeurte as die spreekbeurte van De la Rey gelees kan word. Maar, soos vroeër uitgewys is, strook hierdie interpretasie van die magistraat nie met die gegewens in die roman nie.

De la Rey kan in sekere opsigte gelees word as die enigste Moolman wat die gestelde standaarde en die ideologie van sy familie doelbewus teenstaan. Alhoewel hy eienskappe van die Afrikaner toon – “in sy hoogmoed kon jy sien dat hy StamAbel se kleinkind was”, “taai en trots” – het hy ook met opset daarvan afgewyk. Hy verwerp hulle voordat hulle hom verwerp en as ʼn StiefMoolman beskou. Hierdeur vergestalt hy ʼn ontwykende beeld van Afrikaneridentiteit – hy is die een wat heroorweeg eerder as om blindelings te aanvaar; die kryger (volgens sy naam) wat nie veg nie en hom selfs van koelbloedigheid teenoor diere distansieer; ʼn “rasegte Moolman” wat nie dieselfde obsessiewe liefde vir sy geboortegrond as die res van sy familie dra nie, en dalk daarom ook nie eers in die dood terugkeer nie.

Die weglating van ʼn fokalisasiebeurt vir De la Rey kan ook geïnterpreteer word as ʼn kritiek op die Afrikaner se onvermoë om andersheid te aanvaar: hul eksklusiwiteit het gelei tot die verlies van OuAbel se geliefde, eersgebore seun. ʼn Mens kan verder spekuleer dat hierdie verlies ʼn groot aandeel het in die Moolmans se ondergang, en dat dinge anders sou wees as De la Rey wel die plaas by OuAbel oorgeneem het. Kort na KênsTillie se geboorte, wanneer die vyf daggaplantjies opkom wat, volgens die Slams, net sou groei as Tillie “nooit reg [sal] dink nie”, “breek iets” in Ella en dink sy dat “haar en Abel se baasskap van Toorberg vervloek [is]” en dat die plaas “na ʼn ánder seun [moes] gegaan het, ʼn dromer” (Van Heerden, 1986:20). Of De la Rey werklik die ondergang van die Moolmans sou kon verhoed, is ʼn ope vraag, maar een wat implikasies het vir die voortsetting van die Afrikaneridentiteit wat in Abel en DwarsAbel uitgebeeld word. Laasgenoemde weergawe van Afrikaneridentiteit kom in die roman tot ʼn simboliese einde wanneer die Moolmans tot ʼn einde kom – maar sou ʼn ander tipe Afrikaneridentiteit in die Moolmans kon voortleef met die variasie wat De la Rey daartoe sou leen?