• No results found

2.5 T OORBERG SE SPOOKKARAKTERS : INDIVIDUELE IDENTITEITE

2.5.10 Abel Moolman

(Derde generasie. Seun van OuAbel en Hetta; broer van De la Rey en Posmeester; eggenoot van Ella; vader van DwarsAbel en KênsTillie)

Abel is die laaste Moolmanspook wat ʼn fokalisasiebeurt in die roman kry, en hierdeur word sy dood aan die leser openbaar. Sy fokalisasiebeurt vind plaas in die 40ste hoofstuk van die roman, terwyl die lewendes op Toorberg nog na hom soek. Tydens sy fokalisasiebeurt is hy juis besig om die soekgeselskappe rondom die Oog dop te hou terwyl “die kind” in die water speel (Van Heerden, 1986:158). Wanneer Toorberg as ʼn speurverhaal gelees word, kan geargumenteer word dat dié fokalisasiebeurt strategies geplaas is en ten doel het om die oplossing van ʼn raaisel (Abel se verdwyning) aan die leser bekend te maak voordat die ander karakters in die roman die antwoord ontdek. Dit suggereer ook die oplossing van ʼn die groot raaisel in die roman – wie is verantwoordelik vir Noag se dood? Aanvanklik (by die eerste lees) kan die leser veronderstel dat Abel die antwoord op hierdie vraag kan verskaf wanneer hy uit die dood uit praat – maar dit

80 Mens kan wel spekuleer dat dit iets te make het met die liggaamlike prosesse van die dood, wat as vernederend

gebeur nie. Abel vertel van sy lewe op Toorberg, die probleme met sy kinders; die (verbeelde) besoeke van sy voorvaders; die boormasjien en die soeke na water op Toorberg; die Slams se voorspelling dat De la Rey sou terugkom; sy buite-egtelike verhouding met die weduwee en sy worsteling oor Noag se dood, maar nie spesifiek oor hoe en wanneer Noag oorlede is nie. Om te begryp waarom Abel nie hierdie inligting aan die leser oordra nie, moet daar eers gekyk word Abel se karakter en sy rol in die Moolmanfamilie.

Soos sy vader was Abel nie die oudste of die gunstelingseun nie. Hy het ook die plaas geërf omdat sy ouer broer onbevoeg was. Waar OuAbel se ouer broers deur StamAbel verdryf is (Floors) of uit vrye wil die plaas vir die stad verruil het (Lucius), kry Abel die plaas omdat sy ouer broer, De la Rey, te sensitief was, nie die slagtery kon hanteer nie en die plaas verlaat het nadat Ella hom afgewys het.

Soos die vorige Abels is hy ʼn outoritêre figuur, en glo hy vas dat hy die baas van alles en almal rondom hom is. Hy kan ʼn marmerblad oor die boorgat gooi as ʼn grafsteen vir Noag, hy kan sy kar openlik voor die weduwee se huis parkeer, hy kan die hele distrik se windpompe klim, hy kan ʼn geweer vat en ʼn skoot in die boorgat afvuur, want “Toorberg was sy jurisdiksie, hy het die lewe hier op sý manier gedenk, en niemand het gewaag om hom teë te gaan nie” (Van Heerden, 1986:162). Gegewe Abel se outoritêre geaardheid, is dit moontlik om sy (waarskynlike) selfdood te interpreteer as nog ʼn manier waarop hý die reëls maak – hy sal nie deur die magistraat geoordeel word oor sy dade en besluite (of dié van sy voorgeslagte) nie. Dit kan gespekuleer word dat Abel die reg in eie hande geneem het deur sy eie oordeel oor homself te vel en sy eie, selfopgelegde vonnis te voltrek.

Maar hy was ook ʼn man wat swaar gedra het aan sy roeping, aan die opdragte en verwagtings van sy voorgeslagte. Daar is reeds verwys na die ‘besoeke’ wat Abel van sy voorvaders ontvang het. Daar is ook genoem dat hierdie besoeke van sy voorvaders nie gelees kan word as spookverskynsels in die roman nie, maar dat dit eerder uit Abel se verbeelding kom en beslis aangehelp word deur die daggatee. Die spoke van StamAbel en OuAbel maak ook in hulle fokalisasiebeurte geen melding van hierdie gesprekke met Abel nie. Dit kan gestel word dat Abel slegs die stemme van sy voorvaders uit sy gewete na hom hoor roep. Vir Abel is die oordeel en veroordeling van sy voorgeslagte (verbeeld, al dan nie) verdoemend, omdat hy nie aan hulle standaarde kan voldoen nie.

Abel boer nie vooruit nie – inteendeel, in verskeie opsigte boer hy agteruit met die plaas en die familienaam. Soos Koevert dit aan die magistraat vertel, het “die hele distrik [geweet] dat Abel ʼn gemors van sy nageslagte maak” (Van Heerden, 1986:55). Sy plaas was vasgevang in die greep

125

van ʼn langdurige droogte – vandaar die boormasjien wat ingevoer is om orals na water te boor. Die boormasjien het nie net die spoke opgejaag nie, maar ook indirek tot Noag se dood gelei. Abel bring dus die einde van die Moolmantak van die stamboom mee: sy kinders is onvrugbaar (DwarsAbel), mal (KênsTillie) of oorlede (sy vier doodgebore seuns), en sy enigste kleinkind (Noag) is ook oorlede. Sy huwelik is op die rotse. Ella se gereelde verwysings na De la Rey werk duidelik op Abel senuwees, en sy buite-egtelike verhouding met die weduwee in die dorp dra nie by tot die prentjie van ʼn gesonde huwelik of ʼn eerbare Moolman nie:

Net die weduwee het nooit eise gestel nie. Sy was maar te bly oor die aandag van die distrik se voorste boer. Later het hy sy Land Rover onverskrokke reg voor haar huis parkeer. Laat die hele distrik sien, laat die dorp hulle tonge knoop. Laat die diakens en die ouderlinge piele vleg in die kerkraad oor hom – dit het hom min geskeel. “Gedenk die lewe, dat jy dit heilig,” het hy aan die weduwee gesê in haar eenvoudige huisie waar die koekoekklok al om die uur by sy deurtjie uitspring en skater oor die verbyvlug van tyd.

Kon Ella maar soveel rus vir hom skep in sy eie huis! Kon sy hom eer soos die weduwee hom geëer het, sonder eise en sonder vrae – net met liefde (Van Heerden, 1986:161).

Abel is ʼn ouderling (Van Heerden, 1986:92), maar hy openbaar nie die Christelike geloof wat sy voorvaders so sterk aangehang het nie. Waar StamAbel daagliks in Hooghollands gebid het en OuAbel sy eie seun oor ʼn geloofsverskil (die huwelik met ʼn Katoliek) verdryf het, steur Abel hom nie eers aan die kerkraad se oordeel oor sy egbreuk nie.

Noag se dood, en sy eie aandeel daarin, lei uiteindelik ook daartoe dat Abel ʼn tipe senu- ineenstorting ervaar. Hy klim die hele distrik se windpompe om daar bo te gaan sit en dink. Hierdie gedrag dui op die diepte van sy innerlike worsteling, en dit is boonop in die openbaar, vir almal om te sien. Dit suggereer dat Abel as’t ware nie sy man kan staan nie; dat hy nie hierdie daad aan homself kan regverdig of verwerk nie – wat ook verklaar waarom Abel nie die antwoorde op die groot raaisel aan die leser openbaar nie. Dat sy gewete hom so erg gepla het, kan geïnterpreteer word as ʼn erkenning van skuld – sy gewete pla hom so omdat hy weet dat daardie skoot Noag se lewe beëindig het. Sy uiteindelike selfdood(?) kan, in hierdie lig, beskou word as sy eie mislukking. Abel kon daardie skoot wat hy in die boorgat afgevuur het, nie verwerk nie, en die intensiteit van sy skuldgevoelens het daartoe gelei dat hy iets gedoen het wat, kras gestel, deur sommige beskou sou kon word as die lafaard se ontsnappingsroete.

Na sy dood dwaal Abel soos sy voorgeslagte op Toorberg. Hy word vergesel deur die spook van Noag,81 wat langs hom speel en skynbaar saam met hom loop. Hy besin oor sy liefde vir Toorberg

se aarde, die lot van sy plaas en sy nageslagte, en daardie oggend om die boorgat:

81 Dit is die enigste plek in die roman waar Noag as ʼn spook verskyn. Die voorspooksel van Noag wat Kaatjie aan

die begin van die roman verhaal, vind plaas voordat Noag oorlede is en kan dus nie as ʼn spookverskynsel gelees word nie. Noag tree ook nêrens in die roman as ʼn spookfokalisator op nie. Om hierdie redes word daar nie ʼn aparte karakterskets van Noag aangebied nie.

En wat help dit dat jy al óm die boorgat dink? Al om daardie oggend met die wind se roeringe in die silwer populierblare? Omdat dit ʼn oggend geword het waarin al die dinge van Toorberg saamgetrek is – Soois se bloed wat al om die twaalf maande rooinat uitslaan op die Tuinmuur; Tillie wat haar wit boep onder die beierende klok ontbloot; DwarsAbel wat vertel dat hy sy eerste swartman in die lokasie doodgeskiet het, in die Land Rover verdwyn en laat die nag hulpeloos besope in die roostuin kom injaag; Ella wat voor hom staan met haar dagboek in haar hande en sê: De la Rey het gekom […]

Daar kom ʼn tyd dat loskom nie meer moontlik is nie, dat die lewe ʼn dodder word wat oral in en om jou vleg. Jy kan afsny waar jy kan, maar daar bly altyd ʼn lintjie van die rankplant oor om weer met genadelose geilheid om jou te stoel […]

Maar hy voel geen hartseer of spyt nie (Van Heerden, 1986:162).

Alhoewel dit duidelik is dat daardie skoot in die boorgat uiteindelik Abel se ondergang was, bied hy hier geen antwoord op die vraag wat die magistraat (en die leser) probeer beantwoord nie. Dit wil voorkom asof Abel self nie weet of hy verantwoordelik is vir die dood van sy kleinseun nie of, as hy wel daarvoor verantwoordelik is en dit weet, dit nie wil aanvaar nie.

Noag se dood kan ook gelees word as Abel se grootste mislukking – nie net omdat hy nie daarin kon slaag om die kind uit die boorgat te red nie, maar ook omdat Noag die laaste afstammeling in die Moolmanstamboom is. Met inagneming van die feit dat Abel se enigste seun, DwarsAbel, onvrugbaar is, het Abel in effek die Moolmandinastie beëindig met daardie genadeskoot. Sodoende het hy die nalatenis van sy voorgeslagte tot niet gemaak, en is hy verantwoordelik vir die ondergang van die Moolmans. In hierdie opsig is Abel weereens ʼn mislukking as ʼn Moolman en ʼn Afrikaner, omdat hy nie die plaas en die familie in stand kon hou nie. Per slot van sake is hy, ten spyte van sy outoritêre geaardheid en kragdadige optrede, ʼn afgewaterde, onsuksesvolle weergawe van die Abels wat hom voorafgegaan het.