• No results found

2.6 D IE UITBEELDING VAN A FRIKANERIDENTITEIT

2.6.2 Algemene kenmerke van die Afrikaner

2.6.2.6 Familie

Erasmus (2005:238) wys daarop dat “’n [streng] patriargale gesag, groot gesinne, sterk familiebande en ʼn eie taal” een van die uitstaande kenmerke van Afrikaneridentiteit is, soos self deur Afrikaners uitgewys word. Du Pisani (2004:82) stel dit dat die gemeenskapslewe op plase georganiseer is rondom die gesin as primêre sosiale eenheid, met ʼn dominante vaderfiguur aan die hoof. Beide hierdie stellings stem ooreen met die uitbeelding van gesinslewe op Toorberg: in elke generasie word die gesin oorheers deur ʼn dominante vader (ʼn Abel), en die aantal kinders per gesin wissel tussen vyf seuns in die tweede generasie en twee (lewendes) in die vierde generasie. Die vaders van hierdie gesinne is streng en duld nie teëpratery of afwyking van die gestelde waardes nie – die Tien Gebooie vereis immers dat kinders hulle ouers moet eer. Dit is ook nie net die kinders wat aan die patriarg se outoriteit onderwerp word nie. Die Abels se eggenote (Magtilt, Hetta en Ella) onderwerp hulle ook aan die patriarge se gesag. Daar is nie ʼn enkele geval waar een van hierdie mans direk deur sy vrou bevraagteken of teëgestaan word nie. Wanneer StamAbel byvoorbeeld vir Floors met ʼn sweep van sy werf af slaan, bly Magtilt op die kantlyn totdat die loesing verby is. Wanneer OuAbel vir Posmeester verwerp vanweë sy huwelik met ʼn Katolieke vrou, word hierdie besluit nie net deur Hetta aanvaar nie, maar ook ondersteun. Ella konfronteer nêrens in die roman vir Abel oor sy buite-egtelike verhouding met die weduwee in die dorp nie.

157

Bo en behalwe die patriarg van elke gesin in die afsonderlike generasies, is StamAbel die patriarg van die hele stam, en hy heers steeds oor hulle vanuit die graf. Coetzee (2000:115) beskou StamAbel as die hoofkarakter (van die hede en verlede) in Toorberg, en merk op dat sy naam ondubbelsinnig dui op sy rol “as stamvader wat die lewensloop van die karakters in Toorberg sal beïnvloed en selfs na sy dood sal bepaal”. Buiten die geweldige druk wat sy nageslagte ervaar om vooruit te boer en sy Goddelike roeping op Toorberg gestand te doen, word hulle ook deur StamAbel se testament verplig om tot in allerewigheid sy bevele uit te voer. Die vruggebruikklousule in StamAbel se testament bevat die volgende bepalings:

StamAbel se testament het bepaal dat elke Moolmanvrou en Moolmanman wat nie op Toorberg boer nie, geregtig was op Toorberg se vrugte, en dié bepaling, só het hy voorgeskryf, moes opgeneem word in elke erfopvolger se testament tot in allerewigheid. Lewenslank het al die ander Moolmans ná hul mondigwording twee dosyn eiers en ʼn slagding per week ontvang, ook ʼn kan afgeroomde melk, een mud koring per kwartaal, dertig kilogram biltong per slag- of jagseisoen, een afgeslagte springbok uit die winterveld, ʼn kas kwepers uit die laning in kwepertyd, ʼn mandjie perskes uit die boord in persketyd, daagliks soveel groente uit die groentetuin as wat nodig sou wees vir ʼn gesin met ses seuns. En ʼn laaste bepaling wat die nageslagte verskriklike soektogte in die Toorberg besorg het: ʼn pint bergskilpadsop gekook van die sagvleisies van ʼn Toorbergse skilpad een keer per jaar – vir die medisinale kwaliteite daarvan.

Elke Abel sou hierdie goedere aan sy bloedmense voorsien. Dit was die dinge wat die Moolmans sou herinner aan hul heimat en hul sterfplek – die familiebegraafplaas waar al die Moolmans in testamentêre opdrag van StamAbel begrawe word met hul voete na die Ooste sodat hulle, as die Wederkoms aanbreek, met die regopsit reguit in die nuwe môre kan inkyk (Van Heerden, 1986:14).

Hierdie klousule verbind die Moolmans weereens aan hul geboortegrond – waar hulle ook al swerwe, sal Toorberg se vrugte hulle volg. Die voorskrif dat hierdie klousule in elke erfopvolger se testament opgeneem moet word “tot in allerewigheid”, gee ʼn aanduiding van StamAbel se sin van geregtigheid om sy nageslag tot in die hoeveelste geslag voor te skryf – en sy verreikende mag as patriarg, want die bepalings word tog gehoorsaam. Die bepaling dat daar daagliks genoeg groente vir ʼn gesin met ses seuns aan elke gesin verskaf moet word, dra die suggestie dat daar nie net van die nageslag verwag word om groot gesinne te hê nie, maar ook dat hierdie kinders verkieslik seuns moet wees. Die erfgename van Toorberg word verplig om hierdie goedere sonder uitsondering en presies soos gespesifiseer aan ander familielede te verskaf.102 StamAbel se

testament sluit selfs bepalings in oor waar en hoe sy nageslagte begrawe sal word. Hulle sál op Toorberg rus, met hulle voete na die Ooste. Dit is duidelik dat StamAbel die Moolmans se geboortegrond (en alles wat daarmee gepaard gaan) op sy nageslagte afdwing. Hulle sál altyd aan Toorberg behoort, soos Toorberg aan hulle behoort – omdat StamAbel so sê.

102 Die vruggebruik is nie van toepassing op die Skaamfamilie nie (ten spyte daarvan dat hulle streng gesproke ook

“bloedfamilie” is), maar wel op StiefMoolmans soos Posmeester en De la Rey. Of bannelinge soos Floors en Andreas hul deel van die vruggebruik ontvang het, word nie in die roman aangedui nie, maar ek vermoed dat die verbande Moolmans nie ʼn repie biltong ontvang het nie.

Erfopvolging is ʼn sentrale eienskap van die Afrikaner se klem op familiebande én van die plaasroman, soos skrywers soos Senekal (2013:3) en ander telkemale uitwys. Daar is in hierdie hoofstuk herhaaldelik gewys op wie die plaas oorneem, en hoekom, juis omdat die oudste seun tradisioneel gesproke die erfgenaam behoort te wees. Dit vind nie plaas in die Moolmanstam nie, omdat die oudste seun telkemale op een of ander wyse oortree en sodoende sy erfreg verloor.

ʼn Opvallende aspek van die Moolmangesinslewe in die eerste drie generasies is die skynbare gemak waarmee seuns summier van die plaas verban, uit die familie gewerp of die rug toegekeer word wanneer hulle op enige wyse optree wat in teenstelling is met die vader se waardes. Familiebande bied hier geen beskerming of genade vir dié wat van die aanvaarde norme afwyk nie. StamAbel verban twee van sy seuns (Floors en Andreas); OuAbel sny sy geliefde De la Rey uit sy testament uit en verwerp Posmeester. Abel is die enigste vader wat nie een van sy kinders verjaag nie – alhoewel hy waarskynlik ʼn ander plan met KênsTillie sou gemaak het as hy kon. Abel verwerp dus nie een van sy kinders nie, maar wel sy enigste kleinkind, Noag, omdat hy hom nie as ʼn rasegte Moolman beskou nie. Noag se vader is ʼn Du Pisani, en dié familie is kwansuis dwalers. Dwalers is nie welkom op Toorberg nie, en dit word duidelik in die roman gestel dat Moolmans nie mag dwaal nie. Verder is Noag ʼn kind wat in sonde buite die eg verwek is, en in hierdie opsig staan hy teenoor die streng godsdienstige en morele waardes van die Afrikaner. Noag skyn ook verstandelik gestremd te wees. Al het hy volgens sy pa die talent vir waterwys, word Noag nie gereken as ʼn seun wat gaan grootword om ʼn sterk, slim en hardwerkende boer of boerekryger te word nie, en sekerlik nie ʼn waardige erfgenaam vir Toorberg nie.

Dit wil voorkom asof die patriarg van die Moolmanstam sy houvas op sy nageslagte begin verloor. Waterwyser suggereer dit wanneer hy vertel hoe die droogte na Noag se dood verbreek is:

“ʼn Ander ding, u Edelbare. Die Moolmans se familiebegraafplaas het oorstroom en toe die water weke late wegsyfer, toe was die graf van StamAbel ingesak. En die grafsteen was net weg, ingesluk deur die nat aarde, na daardie plek van die dood waaroor ons maar net kan gril” (Van Heerden, 1986:36).

Die durende, fisiese herinnering van StamAbel is dus deur die reën verwyder, deur Toorberg self ingesluk. Daar is verder ook gerugte dat Abel StamAbel se vruggebruikklousule uit sy eie testament gaan skrap. Ná ʼn familievergadering met Posmeester, Andries en Waterwyser moet Abel egter hierdie plan laat vaar én nuwe beloftes aan die familie nakom: hy moet Koevert help om ʼn boerdery op die been te bring (sy eie voorstel, maar ʼn plan wat misluk); en hy belowe dat die Skaamfamilie vir die volgende honderd jaar op die Stiefveld mag boer (Van Heerden, 1986:33). Deur laasgenoemde verbind Abel ook die Skaamfamilie tot die grond, op dieselfde wyse as waarop StamAbel die Moolmans tot Toorberg verbind het.

159

Daar is altyd ʼn patriarg aan die hoof van elke Moolmangesin, maar die grootte van die gesinne neem af met elke generasie – waar StamAbel en Magtilt vyf seuns op Toorberg grootgemaak het, het OuAbel en Hetta net drie seuns wat op Toorberg grootword. Vier van Abel en Ella se seuns word dood gebore, DwarsAbel dra die vlek van onvrugbaarheid en die eerste dogter in die Moolmanstam word gebore. Magtilt beskryf Ella as sonder nageslag (Van Heerden, 1986:21), ten spyte daarvan dat Ella twee lewende kinders het. Wat Magtilt suggereer, is dat hierdie twee kinders nie waardige erfgename is nie, nie Moolman genoeg is om as nageslag beskou te word nie. In KênsTillie se geval is so ʼn uitspraak dalk geregverdig – sy sal nooit ʼn boerdery kan bestuur nie – maar DwarsAbel is skynbaar ʼn sterk, hardkoppige jong man. Dit is sy onvrugbaarheid wat teen hom tel: hy sal geen nageslag kan voortbring om Toorberg na sy afsterwe te erf nie.

Die huweliksverhoudings skyn ook swakker te wees in elke generasie ná die stamouers. Waar StamAbel en Magtilt tot na die dood saam is en saam op Toorberg dwaal as spoke, verskyn OuAbel en Hetta nooit saam nie – die dood het hulle geskei. Daar is geen ander oorlede Moolmans wat getroud was nie, maar die patroon van swakker huweliksverhoudings word voortgesit in die lewende karakters. Posmeester se Iers-Katolieke bruid het hom sy plek op Toorberg en in die Moolmanfamilie gekos, en die bitterheid wat hierdeur veroorsaak word, het met tye ʼn slegte invloed op hulle huwelik. Die heersende egpaar op Toorberg in die hede van die roman, Ella en Abel, se huwelik was duidelik aan die verbrokkel voor Abel se oorlye – Abel het nie eers meer probeer om sy buite-egtelike verhouding met die weduwee in die dorp weg te steek nie. Die volgende Abel, DwarsAbel, is nog nie getroud nie, en daar is ook nie sprake van ʼn geliefde of ʼn dame wat sy oog gevang het nie.