• No results found

2.5 T OORBERG SE SPOOKKARAKTERS : INDIVIDUELE IDENTITEITE

2.5.3 Andreas die Digter Moolman

(Tweede generasie. Seun van StamAbel en Magtilt; broer van Floors, Lucius, OuAbel en Soois)

Andreas kom taamlik vroeg in die roman aan die woord wanneer hy die 15de hoofstuk fokaliseer. In die primêre verhaallyn vind sy fokalisasiebeurt plaas kort na die aanvang van die magistraat se ondersoek. In die voorafgaande hoofstuk is die weerbarstige DwarsAbel aan die woord, en Andreas staan as gevolg hiervan in sterk kontras met die ander Moolmanmans (lewend en oorlede). In sy fokalisasiebeurt neem Andreas ook die leser terug na die nag rondom die boorgat. Van hier af vertel hy van sy eie lewe op Toorberg en sy latere verbanning deur StamAbel; sy alternatiewe leefstyl en sy verlange na en liefde vir Toorberg. Hy openbaar ook aan die einde van sy fokalisasiebeurt dat Noag wel sal sterf – hy weet dat die lewende Moolmans nie die kind lewend uit die boorgat sal kry nie. Andreas besluit om vir die kind (se spook) te wag en hom aan die hand oor sy geliefde Toorberg te lei.

Volgens die stamboom is Andreas StamAbel en Magtilt se jongste seun. Hy was skynbaar van sy babadae af bietjie anders as die res van sy broers. Sy vader beskryf hom soos volg:

Andreas, wat as baba al knaend na Toorberg se studeerkamer bly kruip het, waar hy dan op die vloer na die rûe van die boeke gesit en staar het asof hy wag op iets om te gebeur, het slap gewrigte gehad en het in die kunste gaan verdwaal.

Tydens Nuwejaarsfeeste op Toorberg het Andreas, op besoek uit die stad, geruik na die stad se vroumense en die tantes in die skaduwees vermaak met lang ryme en ballades oor die Engelse Ryk. Hy was so sagsinnig soos ʼn kalf, ʼn digter en ʼn dromer, hy sou nooit die skop van ʼn geweerkolf teen die skouerspier waardeer nie, sou nooit die hart van ʼn bok uitslag en met bloed aan die hande dit braai en eet nie. Nee, Andreas was ʼn windbal (Van Heerden, 1986:76).

Hierdie beskrywing wys duidelik hoe Andreas afwyk van die standaarde vir Afrikanermanlikheid. Hy het “slap gewrigte”, hy het die plaas vir die stad verruil, en wanneer hy op die plaas kom kuier, ruik hy “na die stad se vroumense”. Hierdie eufemismes kan maklik gelees word as suggesties dat Andreas ʼn homoseksuele man was. In sy eie beurt as spookfokalisator maak hy self soortgelyke suggesties:

Later, toe die jong Skotse offisiertjie uit die Engelse garnisoen vir die eerste naweek kom kuier het, was daar StamAbel se vermaninge: “Ek sien hy’s ook kunstig.” En die aand op die stoep, toe die offisiertjie reeds kamer toe is: “Hulle is nie ons mense nie, die Skotte.” Toe die offisiertjie weer kom kuier het, het Ma Magtilt vir hom kooi opgemaak in die vrykamer ánderkant Soois s’n en die jong Soois het heel naweek soos ʼn brandwag met sy deur oop geslaap […]

Maar die salonlewe het hom opgeslurp, die geparfumeerde aande, die offisiersonthale in die Kasteel, die pragtige, verdwaalde jong manne van die Engelse regimente, ver van huis en gretig om van ʼn inboorling soos Andreas meer van die land se kultuur te wete te kom. Daar was die gedempte klubs met hul eikepanele, dik tapyte, diskrete kelners. Die koerante uit Engeland, Amerika, die Ooste. Sigaaraande en wêrelde wat vir hom oopgaan. Die baddens met die loom, lui lywe van ander wat soos hy ʼn alternatiewe lewe kom opsoek het (Van Heerden, 1986:65).

Geloof is ʼn ander aspek van Andreas se “alternatiewe lewe” – hy is nie juis iemand wat die Boere as ʼn goeie Christen sou beskou het nie. Hy vertel self die volgende episode uit sy jeug:

Soos die Sondagoggend jare gelede, toe almal op die perdekar sit, reg vir die tog na die kerkdiens op die buurplaas. “Om kerk toe te gaan,” het hy aspris hard gesê, “is om God te onderskat”. Dit was die begin van die einde. StamAbel was in daardie dae looierig en die gesin moes op die ingespande kar wag, leisels en gesangeboeke in die hand, terwyl StamAbel hom vir sy godslastering deur die mielielande agternagesit het (Van Heerden, 1986:64).

Maar dit was Andreas se ballade vir die Engelse koningin, kort na Soois se dood (waarvan Andreas nie op daardie tydstip bewus was nie), wat veroorsaak het dat sy familie hom finaal die rug toegekeer het:

In die oorlogsjare het ʼn Engelse middagblad hom aangestel om heroïese ballades te skryf om die moreel van die troepe hoog te hou, veral toe die Boerekommando’s die Kolonie ingebreek het uit die Noorde en dit gelyk het of die oorlog na die suide gaan versprei. Sy hand was in Engels so knap as in Hollands; die ballades het by die offisiersbal vermelding gekry, ook by die Goewerneursonthaal, en het glo uiteindelik die oë van koningin Victoria bereik. Sy het veral gehou van die een wat haar besing het as heerseres van heersers. En dit was ook dié ballade wat die een of ander ondernemende smous in sy knapsak tot by StamAbel gedra het. Die gedig het StamAbel ʼn week ná Soois se dood bereik en voor hy, Andreas, gehoor het van Soois se oorlye.

Daarna het Toorberg vir Andreas Moolman die rug toegekeer. StamAbel het ʼn enkele telegram gestuur: “Sit jou Hanskakievoet nooit weer op die erwe van jou vadere nie” (Van Heerden, 1986:65-66).

Of Andreas homself as ʼn verraaier van sy volk beskou het, word nie vertel nie. Die Engelse ballade hier ter sprake is geskryf sonder die wete van sy broer se afsterwe, alhoewel hy moontlik bewus was van Soois se aktiewe deelname aan die oorlog. Sy karakter is van so aard dat hy waarskynlik nie veel waarde heg aan sy volk, hul leefwyse en ideologie nie. Dit kan verder afgelei word dat Andreas ook nie in hierdie terme aan sy dade gedink het nie. Hy was ʼn kunstenaar, ʼn digter, en het homself waarskynlik eerder bemoei met die kuns (die estetiese waarde daarvan) as die politieke omgewing waarin die kuns geskep is.

Andreas het jare nadat Toorberg hom die rug toegekeer het, die plaas as ʼn kunssmous besoek, maar niemand was daar om hom te ontvang nie. ʼn Plaaswerker het hom ingelig dat die huismense dorp toe is vir ʼn vendusie (Van Heerden, 1986:66). Op pad weg van die plaas af het Andreas

105

besef dat die ooptes vir hom te wyd was, en dit het hom benoud gemaak. Hierna het hy summier by die eerste stasie “die vragbrief oorgeteken aan sy jong kollega en ʼn trein terug stad toe gehaal” (Van Heerden, 1986:66). Van die res van Andreas se lewe word niks vertel nie. Sy dood word ook nie beskryf nie, en dit is nie bekend of Andreas ʼn graf op Toorberg het nie.

As lewende karakter toon hy geen bitterheid oor sy verbanning nie. Inteendeel, dit wil voorkom asof hy sy leefwyse, weg van Toorberg en die konvensies van sy familie, terdeë geniet het. Andreas sou nooit ʼn Boer kon wees nie, en hy het skynbaar vrede gehad daarmee. Hy verwys selfs na homself as “julle Cousin Andreas”, ʼn aanspreekvorm wat sy familiebande met sy broers en ouers negeer en boonop Engels is. Maar selfs Cousin Andreas kon nie in die lewe of die dood van sy liefde vir Toorberg, sy geboortegrond, ontsnap nie:

En net soms het hy opeens in die middel van ʼn nagstraat die skerp reuk van dou en nanag gekry, en Toorberg se klowe het in sy binneste oopgeskeur. Ineens het alles bloot gelê: die reuke, die gevoelens, die donkerblou berg wat fier sy kop bo die vlakte lig, die Oog wat helder spu. Dan het hy ʼn telegram gestuur dat hy kom kuier. Soms, veral vroeër, het hy wel gegaan, en soms nie. Later glad nie […]

Hier sit julle Cousin Andreas nou, dink hy weemoedig by die boorgat, en julle ken hom nie eens nie. Maar nou kan julle Cousin ongesiens en ligvoets dwaal, sonder spoor of tyding, want uiteindelik is die plaas nou syne ook. Geen deur is meer vir hom gesluit nie, geen voetpaadjie vir hom onbekend nie.

Andreas die digter draai argeloos weg van die toneel om die boorgat. Ek sal wag vir die klein Noag du Pisani, dink hy, en ek sal hom aan die hand neem en hom lei na my droomplekke, oor Toorberg, geliefde plaas, óral oor, sonder beletsel (Van Heerden, 1986:65- 66).