• No results found

2.5 T OORBERG SE SPOOKKARAKTERS : INDIVIDUELE IDENTITEITE

2.5.2 Andries Riet (voorheen Moolman)

(Derde generasie. Seun van Floors en Kitty; eggenoot van Kaatjie; vader van OneDay, Shala en KleinKitty)

Andries is die enigste lid van die Skaamfamilie wat na sy dood terugkeer na Toorberg, en sy fokalisasiebeurt vind taamlik vroeg in die roman (hoofstuk 11) plaas. Sy fokalisasiebeurt vind in die primêre verhaallyn plaas kort nadat die magistraat se ondersoek begin het. As lid van die Skaamfamilie bied hy vroeg in die roman aan die leser ʼn blik op die ander kant van die Moolmans en die lewe op Toorberg. In sy fokalisasiebeurt is hy terug by die gebeure rondom die boorgat. Hy vertel hoe hy vir homself ʼn ander van gaan koop het; van sy moeder se oorlye; sy planne vir sy kinders; sy moeder se verduidelikings oor sy afwesige vader; en die lewe en dood van Jan Swaat.

As kind was Andries nuuskierig oor sy vader, en sy moeder (wanneer sy onder die invloed van heuningbier was) het vir hom vertel dat hy ʼn steelkind is omdat sy hom in die Vlei by ʼn seun van Abel gesteel het (Van Heerden, 1986:48-49). Die klein Andries het, wanneer Kitty in haar dronkenskap oor Floors praat, altyd gevra of sy pa ooit gaan terugkom. Kitty het hom dan aangemoedig om trots te wees en op te kyk, want hy [Andries] had “blou oë soos die lug daarbo” wat deur die Here aan hom gegee is sodat hy nie met sy oë op die grond moet loop soos ʼn “Boesman wat spoorsny nie” (Van Heerden, 1986:49). As volwassene het Andries verbitterd geraak oor die afwesigheid van sy vader, sy gemengde herkoms en die feit dat hy en die res van die Skaamfamilie uitgestoot is na die Stiefveld, waar hulle in armoede moes leef terwyl die Moolmans stinkryk geword het. Dít terwyl die Skaamfamilie van die begin af saam met die Moolmans moes werk om van Toorberg ʼn spogplaas te maak.

Die grootste vernedering vir die Skaamfamilie was, volgens Andries, toe sy oupa, Jan Swaat, kort na StamAbel gesterf het – “hy het geweier om te eet” en “wou [nie meer] lewe toe die man wat hom soos ʼn slaaf aangehou het, gesterf het nie” (Van Heerden, 1986:49). Dit kan hieruit afgelei word dat Jan Swaat sy hele lewe – insluitende sy eie identiteit – as geheel aan StamAbel verbind het. Vir Andries, wat deur StamAbel, sy Moolmanoupa, saam met sy vader verwerp is, is dit byna ʼn belediging om op enige wyse aan StamAbel verbind te word – en daarom ʼn vernedering dat sy een oupa nie sonder die ander een kon of wou leef nie.

Dit is egter duidelik dat sy ma trots was op haar kind se Moolmanbloed, en om hierdie rede het Andries nooit aan sy ma laat blyk dat hy sy naam wil verander nie. Hy het gewag totdat sy op haar sterfbed was voordat hy, sonder die medewete van sy vrou (Kaatjie) weggeloop het om ʼn nuwe van te gaan koop. Met sy terugkoms het hy aan Kaatjie verduidelik: “Ek is nie meer ʼn Moolman nie. Moolman is ek gedoop, maar nou is ek ʼn Riet. Ek het nou ʼn bruin van, my eie van” (Van Heerden, 1986:47).

Hier blyk Andries se weersin in sy Moolmanherkoms duidelik. Hy het nie net sy naam verander omdat hy nie ʼn Moolman wil wees nie, maar ook omdat hy ʼn “bruin van” wou neem wat hy sy eie kan noem. Hy skei hom dus nie net van die Moolmanfamilie nie, maar ook van die wit ras. Terselfdertyd probeer hy homself aan die ander helfte van sy wit voorgeslagte verbind, spesifiek aan sy voorvader James Read, die sendeling. Ná Kitty se begrafnis, wat oorloop in ʼn viering van Andries se nuwe van, maak hy die volgende stelling:

“Riet sal ek en my kinders sterwe,” het hy gesê, “en nie ek of my kinders sal weer onder ʼn vensterbank sit en huil soos ʼn hond as een van die Abels sterwe nie. Jan Swaat was die laaste Hotnot. Ons is vrygeborenes, my kinders sal geleerdheid vat en die Here hoor my: in dié grond by OuMurasie sal ek lê, want ek en my voorgeslagte het dit verdien”.

Die mense het gesê hy’s te bitter, en dis sy gemengde bloed wat hom so deurmekaar laat dink, maar hy wat Andries is, kon die gedagtes van sy voorvader die sendeling in hom voel roer, al het hy nooit die geleerdheid of die woorde gehad om hulle uit te spreek nie. Deur sy kinders sou hy praat […]

En skaam was hy ook nooit om oor sy pa, Floors Moolman, te praat nie (Van Heerden, 1986:48).

As lewende is Andries deur homself en die mense rondom hom as’t ware gevange gehou deur sy herkoms – hy was ʼn Moolman, hy was ʼn Riet, hy was ʼn Read, en tussen al hierdie identiteite kon Andries nie beweeg nie. Daar is selfs gesê dat sy “gemengde bloed” (by implikasie, sy gemengde identiteite) hom “so deurmekaar laat dink”. As ʼn spook het hy ook nie die bevryding gekry waarvoor hy skynbaar gehoop het nie:

Die dood het nie vir Andies Riet die ligvoetigheid gebring waarvan die nonne hom altyd vertel het nie […] Miskien, dink hy nou terwyl hy na Kaatjie se drafstap-voetspore in die paadjie na die boorgat in die populierbos kyk, was die haat in sy bors al die jare te bitter en daarom is die bevryding wat die dood bring nou so onvolkome (Van Heerden, 1986:46).

Hy het wel, soos StamAbel, sy liefde vir sy eggenote saam met hom in die dood ingedra. Wanneer die familie rondom die boorgat is tydens die krisis met Noag, is Andries konstant langs Kaatjie. Hy wil haar selfs aanraak, maar onthou dan dat hy dood is en sy nog lewe (Van Heerden, 1986:51). Wanneer Kaatjie in die slottoneel van die roman terugloop na haar huis toe, verbeel sy haar dat Andries langs haar stap en haar elmboog met sy hand ondersteun (Van Heerden, 1986:186) – wat hy waarskynlik doen.

103

As ʼn half-Moolman (ook selfs as ʼn gekleurde teenhanger van die wit Moolmans) het Andries definitief eienskappe van die manlike Afrikaneridentiteit, maar by hom is hierdie eienskappe verwronge. Sy trots in die familienaam, wat hy as kind by sy ma aangeleer het, word mettertyd ʼn bitter haat. Hierdie bitterheid noodsaak hom om sy eie naam te verander. Die familietradisies wat so sterk in die Afrikaner uitslaan, word by Andries ʼn dringende begeerte om sy kinders te laat leer – nie net om hulle eie beswil nie, maar ook sodat hulle eendag hulleself kan verlos uit hul rol as onderdane op die plaas. Terselfdertyd het Andries ʼn innige liefde vir die grond. Hy wil daar begrawe word want hy meen dat hy en sy voor- en nasate dit net soveel verdien as die Moolmans. Dit is hierdie liefde vir die grond, en sy Moolmanbloed, wat hom ook in die dood op Toorberg hou.