• No results found

2.5 T OORBERG SE SPOOKKARAKTERS : INDIVIDUELE IDENTITEITE

2.5.12 Die afwesige dooies

Daar is ʼn aantal oorlede karakters wat in die stamboom verskyn, maar nie as spoke op Toorberg wandel nie, naamlik James Read, HansBoesman, Jan Swaat, Ouma Kitty Riet – almal uit die Skaamfamilie se bloedlyn. Uit die Moolmans se bloedlyn is dit slegs die vier oorlede seuns van Ella en Abel – OokAbel, KleinAbel, Lucius en Andreas – wat nie op Toorberg dwaal nie. Laasgenoemde afwesighede kan maklik verklaar word deur aan te voer dat babas nie kan spook nie; of dat hulle nie effektief as fokalisators sou kon wees nie.83 Dit kan ook uitgewys word dat

hulle name almal ʼn duplisering is van die naam van ʼn reeds-bestaande Moolman. Hiervolgens kan gespekuleer word dat Toorberg nie meer as een Abel per generasie sal toelaat nie, en dat karakters soos Lucius en Andreas nie herhaal mag word nie. Daar is egter nie genoegsame bewyse in die roman om sulke spekulasie te regverdig nie.

Die verklaring van die afwesige dooies uit die Skaamfamilie is interessanter. Kitty is op die plaas oorlede en daar begrawe, maar spook nie daar nie. Al is sy die moeder van ʼn Moolmanafstammeling, is sy self nie deel van die Moolmanbloedlyn nie. Sy is ook nooit getroud met haar Moolman nie, en daarom ook nie op hierdie manier in die bloedlyn ingelyf (soos Magtilt en Hetta) nie. Jan Swaat, die pandoer, en HansBoesman, StamAbel se agterryer, het saam met StamAbel in die geweste aangekom, en saam met hom (of eerder, vir hom) gewerk tot en met hul afsterwe. Hulle nageslag woon ook steeds op Toorberg, al is dit op die Stiefveld. Beide is ook êrens op die plaas begrawe:

“Hier,” het OneDay aan haar [Meisie] gesê, “het Oupa Jan Swaat en HansBoesman gelê en rus. Húlle twee het vir StamAbel tot hier gebring. Hulle het saam met hom koors gekry en die Xhosas verjaag. Jan Swaat omdat hy nie weer kon terug Kaap toe nie en HansBoesman omdat hy met ʼn leiriem aan StamAbel se stiebeuel vas was. Maar toe StamAbel na die goewerneur toe gaan, toe kry hý die grondbrief. Omdat hy wit was, Meisie. Omdat die ander twee ʼn arm pandoer en ʼn stief Boesman was. En húlle was van hierdie aarde: HansBoesman se mense het dié Oog geken toe StamAbel se oupa nog in Holland, oorkant die see, gebly het. En toe StamAbel se pa met die skippie oorkom en met skeurbuik en al by Tafelbaai afgestap het, toe’t die Boesmans al hier gebly. Toe’t Jan Swaat se moedersmense al hier deurgetrek. Maar wie sit nou met die kaart en transport? Wie sit nou in die Stiefveld met ʼn turksvylandjie, ʼn bokkraal, ʼn klomp konyne? Die Riete híér, die Moolmans dáár” (Van Heerden, 1986:130).

Dit is opvallend dat OneDay nie die grond beskryf as iets wat Jan Swaat en HansBoesman se voorgangers besit het nie, maar eerder as iets waaraan die mense verbind was. Hulle was “van die aarde”, hulle het daar “gebly” of daar “deurgetrek”, maar dit skynbaar nooit as ʼn besitting opgeëis en grense daarom gespan nie. Dit, tesame met die afwesigheid van hierdie karakters as spoke, suggereer ʼn gans anderse houding teenoor grond en grondbesit as dit wat deur die Moolmans openbaar word. Die spoke wat wel op Toorberg dwaal, het almal Moolmanbloed.

83 Daar is spookstories in populêre kultuur (ware spookstories) oor babas wat spook. In die breë is dit remanente

131

Hierdie verbintenis tussen die grond, die Moolmanbloed en die spoke dra suggesties van grondbesit, en die reg op grond. ʼn Mens sou kon argumenteer dat slegs die Moolmans werklik die grond van Toorberg besit, aangesien dit slegs hulle is wat tot in die dood aan die grond gebonde bly. Dit kan ook aangevoer word dat hulle daar spook juis omdat hulle so geobsedeer met die grond en grondbesit is dat hulle selfs nie in die dood die plaas kan verlaat nie. Dit bevestig die belang van grond en grondbesit vir die Afrikaner, en ook waarom ʼn liefde vir ‘sy’ grond ʼn uitstaande kenmerk van die Afrikaner se identiteit is.

Die afwesigheid van spookkarakters uit die Skaamfamilie staan in teenstelling met die algemene gebruik van spookkarakters in postkoloniale spookstories, waar dit juis die gekolonialiseerde is wat uit die dood uit terugpraat teen die onregte. Tog illustreer dit juis dieselfde onreg – die wit Moolmans het sonder werklike ‘reg’ die grond as hul eie geneem, en die aanvanklike inwoners van hulle reg om die grond te bewoon tot in en na die dood ontneem. ʼn Gedetailleerde lesing van

Toorberg as postkoloniale roman sou kon aantoon dat die kwessie van grondbesit sentraal staan

in die Moolmans se ondergang, en selfs dat dít die groot sonde is waarvoor Noag byna soos ʼn bloedoffer aan die grond betaal word, maar so ʼn lesing sou afwyk van hierdie studie omdat dit nie direk bydra tot die uitbeelding van Afrikaneridentiteit in die spookkarakters van die roman nie. Dit gaan hier eerder om die liefde vir grond as ʼn karaktereienskap van die Afrikaner, en spesifiek die feit dat hierdie eienskap in al die Moolmanspoke tot uiting kom wanneer hulle na die dood terugkeer na hul geliefde plaas en geboortegrond.

Buiten die SkaamFamilie en De la Rey, is daar nog een oorlede Moolman wat nie as spook ʼn fokalisasiebeurt kry nie, naamlik Noag du Pisani – ten spyte van die feit dat hy wel as spook op die plaas agterbly nadat hy oorlede is. Hy loop saam met sy oorlede oupa, Abel, wat hom op die naam aanspreek (Van Heerden, 1986:162). Dat Noag nie ʼn fokalisasiebeurt gegun word nie, kan eerstens verklaar word op grond van sy van. Noag is nie deur die familie – spesifiek, deur Abel – as ʼn Moolman aanvaar nie, omdat hy buite die eg verwek is en sy vader boonop ʼn Du Pisani is. Die Du Pisani’s word as dwalers beskou, en dwalers is nie welkom op Toorberg nie. Tog wil dit voorkom asof Abel, na sy eie oorlye, die kind aanvaar. Dit kan tweedens aangevoer word dat Noag, as ʼn jong kind en een wat nooit die man sou word wat Toorberg erf nie, nie dieselfde liefde vir en verbintenis aan die grond het as die res van die Moolmans nie. ʼn Derde moontlike verklaring vir Noag se afwesigheid kan wees dat Noag dalk die antwoord op die groot raaisel in die roman sou kon verklap. Anders gestel, as Noag sou praat, sou hy kon vertel of hy ten tyde van Abel se genadeskoot nog geleef het.

ʼn Enkele ander verwysing na spoke in Toorberg moet ook hier uitgewys word. Wanneer Koevert en KleinKitty tydens die gebeure om die boorgat wegglip en in die kar bo in die pas gaan sit en liggies kyk, word ander spoke as bostaandes in die verbygaan genoem:

“Hier loop spoke,” waarsku [Koevert]. “In die oorlog het Grootoom Soois se kommando hier oorgelê en die Engelse dopgehou. Die Engelse kon nie roer op die vlakte nie, dan’t hulle geweet.”

“En die spoke?”

“Dooie Engelse soldate, almal hier in die pas geval, as hulle vir Soois-hulle agternasit” (Van Heerden, 1986:110).

Bostaande aanhaling is die enigste verwysing na die spoke van Engelse soldate in Toorberg. Selfs Soois rep nie ʼn woord oor Kakie-spoke nie – en as daar een Moolman is wat iets te sê sou gehad het oor Kakies wat op die erwe van sy voorvaders dwaal, is dit Soois die Rebel. Myns insiens kan daar hiervolgens nie ʼn saak uitgemaak word vir die teenwoordigheid van die spoke van Britse soldate op Toorberg nie (veral aangesien Koevert en KleinKitty blykbaar in hierdie toneel nie meer op die fisiese plaas is nie). Dit is wel opmerklik dat Koevert ʼn baie meer positiewe indruk van Soois en sy rebelle se krygsvernuf het as wat StamAbel (en die leser) daarvan kry. Die belang van hierdie aanhaling is eindelik juis daarin: dat Soois se legende met die generasies blykbaar gegroei het, eerder as dat dit die teenwoordigheid van Britse spooksoldate bevestig. Met inagneming van bostaande argument dat slegs dié met Moolmanbloed op Toorberg kan/moet spook, kan dit ook gesê word dat die kanse vir oorlede Britse soldate om op die Moolmans se werf te dwaal, maar skraal is.