• No results found

1. HOOFSTUK 1: METODOLOGIESE OORSIG

1.7 Fundamentele begronding en perspektiewe

1.7.1 Konstruktivisme

1.9.2.2.1 Fase 1: Probleemontleding en projekbeplanning

Die reeks stappe van Fase 1 in die intervensiemodel (De Vos & Strydom, 2011b:477; Fawcett, Suarez-Balcazar, Balcazar, White, Paine, Blanchard & Embree, 1994:27-31; Fraser et al., 2009:29-30) bestaan uit die volgende: identifiseer populasie; verkry toegang tot die samewerking van die populasie; identifiseer die besorgdheid van die populasie; ontleed die besorgdheid van die populasie en formuleer relevante navorsingsdoelstellings en -doelwitte. In hierdie navorsing is daar twee populasiegroepe geïdentifiseer, naamlik die ouers en kundiges. Fase 1 se stappe word vervolgens bespreek.

Stap 1: Identifisering van die populasie vir deelname aan navorsing

In hierdie stap is die betrokke populasie geïdentifiseer waarmee saamgewerk gaan word (De Vos & Strydom, 2011b:477-478). Volgens De Vos en Strydom (2011b:477-478) word die populasie gekies op grond daarvan dat hulle kwessies van aktuele of toekomstige belang, vir die kliënt (kind) self, of die navorser en vir die samelewing, mag wees. Die kind, alhoewel die onderwerp van die navorsing, word as ’n kwesbare groep beskou en daarom is hul nie direk by die navorsing betrek nie. Daar is besluit om op twee populasiegroepe te fokus, wat die naaste aan die kind beweeg of kennis van die fenomeen of kinderontwikkeling dra. Eerstens op die ouers, wat die leefwêreld van die middelkinderjare kind wat met oorgewig of vetsug leef, ken. Die tweede groep sluit kundiges op die gebied van oorgewig of vetsug of op kinderontwikkeling in en wat ook die nodige ondervinding ten opsigte van die funkionering van die kind binne die alledaagse konteks het. Die navorsing het ten doel om ʼn holistiese maatskaplikewerk- ondersteuningsprogram te ontwikkel en die ervaring en interpretasie van ouers en die kundiges van die fenomeen kan tot hierdie doel bydra. Beide hierdie groepe het oor die nodige ervaring en siening van die kind se belewing asook oor die verskynsel van oorgewig of vetsug of in kinderontwikkeling beskik.

Stap 2: Verkryging van toegang tot en samewerking van populasiegroepe In hierdie stap gaan dit oor die gesprek met die aanvanklike sleutel-informante uit die twee populasiegroepe om die navorser te help verstaan wat moontlike deelnemers vir die navorsing kan bied en om die voordele vir die moontlike deelnemers uit te lig (De Vos & Strydom, 2011b:478). Die aanvanklike sleutel- informante het ’n dieetkundige, voedseladiviseur, ʼn biokinetikus, ʼn kinderkinetikus en twee ouers ingesluit. Die navorser se bekommernisse is deur die geraadpleegde persone bevestig en die navorser is aangemoedig om die betrokke fenomeen te ondersoek (verwys na par. 4.8.2.1). Daar is voorgestel watter instellings of beheerrade die navorser moes nader om toestemming vir die uitvoer van die navorsing te kry (M. Buys van FEDSAS – Gauteng).

Stap 3: Identifisering van die besorgdhede uit die populasiegroepe

In hierdie stap is daar gefokus om moontlike besorgdhede, met behulp van die sleutel-informante, uit die populasiegroepe te ïdentifiseer. Hierdie stap het ook ten doel gehad om te keer dat die intervensienavorser nie eksterne sienings van die probleem en moontlike oplossings projekteer nie (De Vos & Strydom, 2011b:478). Die grootste besorgdhede van die aanvanklike sleutel-informant van die populasiegroep, ouers, was die sensitiewe aard van die onderwerp. Ouers was veral sensitief dat hul kinders nie by die navorsing betrek moet word nie en dat vertroulike inligting nie bekend gemaak mag word nie. Die sleutel-informante van die populasiegroep, naamlik die kundiges, was van mening dat die kind, as kwesbare groep en weens die sensitiwiteit van die onderwerp, nie direk by die navorsing betrek moet word nie. Verder was ʼn besorgdheid van die kundiges dat daar min kundiges op die gebied van oorgewig of vetsug met kinders in hul middelkinderjare bestaan. ʼn Ontleding van die besorgdhede van die populasiegroep, ouers en die kundiges word in die volgende stap onderneem.

Stap 4: Ontleding van besorgdhede

De Vos en Strydom (2011b:479) meen dat die vra van verskeie sleutelvrae die proses vir die ontleding van besorgdhede en probleme rig. Die vrae wat in hierdie fase gevra is, is ter voorbereiding van die intervensienavorsing en het op die besorgdhede van die sleutel-informante, soos in Stap 3 geïdentifiseer, gefokus. Teoreties-gesproke is die ideale situasie om direk met die ondersoekgroep te

werk. Weens die sleutel-informante, die ouers se bekommernis aangaande die sensitiwiteit van die fenomeen en etiese aspekte is die kinders nie by die navorsing betrek nie (Greeff, 2016). Die moontlike negatiewe gevolge hiervan sal hanteer word deur die ouers wat in die naaste ekosisteem van die kind leef, te betrek. Kundiges op die gebied van oorgewig of vetsug, asook kinderontwikkeling word ook by die navorsing ingesluit. Die navorsing is egter uitgevoer aan die hand van streng etiese voorskrifte wat ouers se besorgdheid oor anonimiteit ondervang het. ʼn Verdere besorgdheid van kundiges dat daar min kundiges op die gebied van oorgewig of vetsug met kinders in die middelkinderjare is, is hanteer deur die toepassing van maatstawwe, om te verseker dat die regte kundigheid betrek word. Die maatstawwe wat op kundiges toegepas is, is dat kundiges by wyse van hulle professionele affiliasie, ervaring op die gebied van oorgewig of vetsug (al dan net met volwassenes) of in kinderontwikkeling, en hul alledaagse belewing van die kind wat met oorgewig of vetsug leef, geïdentifiseer en genader is om aan die navorsing deel te neem.

Stap 5: Formulering van die navorsingsvrae, -doelstelling en –doelwitte Die finale stap in hierdie fase was om die navorsingsvrae, -doelstellings en - doelwitte te identifiseer (De Vos & Strydom, 2011b:479). Die finale navorsingsvrae, -doelstellings en –doelwitte word in parr. 1.2, 1.3 en 1.4 bespreek.