• No results found

SUIDER-AFRIKA SE HISTORIES-POLITIEKE AGTERGROND

2.4 SWA/NAMIBIË: HISTORIES-POLITIEKE AGTERGROND

2.4.2 Die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918)

Op 4 Augustus 1914 breek die Eerste Wêreldoorlog uit. Twaalf jaar het verloop na die Vrede van Vereeniging waar die Boererepublieke van die Oranje Vrystaat en Transvaal hul vryheid sou verloor en later deel sou word van die Unie van Suid-Afrika. Op 10 Augustus 1914 – ʼn skrale vier jaar na Uniewording – versoek die Britse Regering vir Suid-Afrika om Duits Suidwes-Afrika te verower. Hiertoe het die Suid-Afrikaanse Regering ingestem, maar nie sonder bittere interne struwelinge nie. Van die Boere- generaals, soos De la Rey, De Wet en Beyers, het hul teenkanting laat hoor, want vir hulle was die beplande oorlog die moontlike geleentheid waardeur Suid-Afrika onaf- hanklikheid en republikeinse status sou kon terugkry (Van Jaarsveld, 1975:236).

Binne ses maande, op 9 Julie 1915, word die Duitsers in Suidwes-Afrika tot oorgawe gedwing en is die gebied tot 31 Desember 1920 onder militêre administrasie geplaas. Die tydperk onder militêre beheer was veral daarop gemik om administratiewe beheer te herstel; die ekonomie weer op dreef te kry; en die burgerlike bevolking aan te spoor om

met hul normale bedrywighede voort te gaan. Daar is ook gepoog om vriendskaplike betrekkinge met die Owambo‟s aan te knoop deur die hoofmanne te oorreed om hul stamlede aan te moedig om in die Polisiesone in die suide te gaan werk (Van Jaarsveld, 1975:237; Burger, 1992:96).

Tydens die militêre beheer oor Suidwes-Afrika in 1915, loods die Portugese magte in Angola ʼn aanval op die Kwanyama van hoofman Mandume in die suide van Angola. Omdat die Kwanyama ʼn Owambo-stam was, vlug Mandume en die oorblywende stam- lede na Owambo waar hulle om Suid-Afrikaanse beskerming aansoek doen. Om voort- gesette optredes deur die Portugese teen die Kwanyama te verhoed en om gebieds- integriteit te verseker, is ooreengekom oor die vasstelling van die grens tussen Angola en Suidwes-Afrika. Die grens is suidwaarts aangepas en die Kwanyama-stam is in twee verdeel – die een helfte in Angola en die ander helfte in Owambo. In 1928 is die internasionale grens deur internasionale arbitrasie finaal bevestig, maar dié arbitrêre grensverdeling sou twee jaar later tot militêre konfrontasie tussen die Suid-Afrikaanse magte en die Kwanyama lei. Ook tydens die rewolusionêre konflik in Suidwes-Afrika jare later sou dié grensvasstelling steeds ʼn groot rol speel (Burger, 1992:97).

Met die oorname van Suidwes-Afrika tydens die Eerste Wêreldoorlog was daar alreeds ʼn opvallende klasseverskil in dié Duitse kolonie. Dié klasseverskil het bestaan uit ʼn

eienaarsklas van blankes teenoor ʼn onteiende werknemersklas uit die inheemse bevolk-

ing. Verder is die klasseverskil weerspieël in die geïnstitusionaliseerde uitsluiting van die inheemse bevolking aan die land se regeringsprosesse. Blykbaar was daar al in die Duitse koloniale tydperk vorms van administratiewe en institusionele afsonderlike ontwikkeling wat in hoofsaak ten koste van Suidwes-Afrika se inheemse bevolking geïmplementeer is en wat die eienskappe van apartheid sou dra (Burger, 1992:95).

2.4.3 SWA as mandaatgebied van Suid-Afrika

Na die einde van die Eerste Wêreldoorlog, tydens die Paryse Vredeskonferensie van Januarie 1919, ontstaan daar ʼn dispuut oor die toekoms van die voormalige Duitse kolonies. Brittanje – saam met Suid-Afrika, Australië en Nieu Zeeland as deel van die Britse Gemenebes – was gekant teen die teruggawe van die kolonies aan Duitsland. Suid- Afrika het verwag dat die verowerde Suidwes-Afrika by die Unie as vyfde provinsie ingelyf sou word, maar president Wilson van Amerika was teen enige inlywing gekant.

Sy “Fourteen Points” en “Four Principles” was die riglyne en kernbeginsels vir die stigting van ʼn internasionale organisasie vir vrede, maar moes ook die beskikking van verowerde gebiede in oënskou neem (Burger, 1992:98).

Generaal Smuts se “The League of Nations – A Practical Suggestion” het die fondament gelê waarop die Volkebond se handves gebou is (Burger, 1992: op. cit.; Liebenberg, 1984:410). By die uitdeling van die Duitse besittings is Suidwes-Afrika as ʼn C-mandaat aan Suid-Afrika toegeken en die reg verleen om die gebied vanaf 17 Desember 1920 onder die toesig van die Volkebond te administreer (Liebenberg, 1984:411; Van Jaarsveld, 1975:237). So het Suid-Afrika as mandataris die volle wetgewende en administratiewe bevoegdhede oor Suidwes-Afrika verkry, onderworpe aan die bepalings van die mandaat. Suid-Afrika moes ook die materiële en morele welstand, sowel as die maatskaplike ontwikkeling van die inwoners bevorder (Burger, 1992:100).

Weens die vaagheid van artikel 22 van die mandaatooreenkoms sou dit in latere jare tot uiteenlopende en opponerende interpretasies lei. Daar was die standpunt dat B en C mandate finaal en permanent is terwyl ʼn ander standpunt weer sou glo dat alle mandate – A, B en C – slegs tydelik van aard is (Burger, 1992:101). Oor waar die mandaatgebiede se soewereiniteit lê was daar in artikel 22 ook onduidelikheid. Volgens die SA Regering én die plaaslike howe het soewereiniteit by die SA Regering berus. Hierteenoor was daar ook ʼn oorwig van opinie dat soewereiniteit ook nie in die Volkebond sou setel nie, maar in die Vernaamste Geallieerde en Geassosieerde Moondhede9 (Burger, 1992: op. cit.).

2.5 KONTRAKARBEID

2.5.1 Kontrakarbeid en trekarbeiders

Die trekarbeidstelsel of kontrakarbeid, met sy wortels in die Duitse koloniale tydperk, sou ʼn wesenlike rol speel in die inheemse bevolking se politieke bewuswording én politieke organisering. Tydens die vroeë jare van Suid-Afrika se beheer in Suidwes-Afrika was daar ʼn afname in die aantal rekrute vanuit Owamboland vir trekarbeid in die Polisie Sone.

9 Die Vernaamste Geallieerde en Geassosieerde Moondhede moet onderskei word van die Geallieerde

Magte wat in Wêreldoorlog 1 ontstaan het. Waar die Verenigde State van Amerika, die Britse Ryk, Frankryk, Italië en Japan die Geallieerde Magte (Allied Powers) sou uitmaak, het die Vernaamste Geallieerde en Geassosieerde Moondhede (Allied and Associated Powers) bestaan uit sowel die vyf Geallieerde Magte asook die 22 ondertekenaars van die Verdrag van Versailles nl., België, Bolivia, Brasilië, Cuba, Czechoslovakia, Ecuador, Griekeland, Gauatemala, Haïti, die Hejaz, KHonduras, Italië, Liberië, Nicarugua, Panama, Peru, Poland, Portugal, Roemenië, Serbië-Kroasië-Slovenië state, en Siam (Ray, 2016. Allied Powers)

Om in die suide se kritieke arbeidsbehoeftes te voorsien, is twee arbeidsorganisasies, die Southern Labour Organization (SLO) en die Northern Labour Organization (NLO), in 1926 begin (Burger, 1992: op. cit.).

Terwyl die SLO trekarbeiders vir die diamantmyne en die staatsdiens gewerf het, het die NLO weer in die Kavango werwing gedoen om plaas- en mynwerkers te werf om aan die arbeidsbehoeftes in die noorde van Suidwes-Afrika te voldoen. In 1943 smelt die SLO en die NLO saam en stig die South West African Native Labour Association (SWANLA). Teen 1971 het die trekarbeiders tot ongeveer 43 000 toegeneem. Die toename is toe te skryf aan toenemende indiensnemings sedert 1955 van Angolese Owambo‟s. Volgens berekeninge was in 1971 ongeveer 40% (17 360) van die trekarbeiders in Suidwes-Afrika Angolese Owambo‟s (Burger, 1992:118).

SWANLA se monopolie het egter mettertyd gelei toe tot die uitbuiting van arbeiders. Deur te peuter met dienskontrakte se geldigheidsduur kon daar voorsien word in ʼn deurlopende arbeidsvraag. Dié uitbuiting is gestuit deur die inmenging van die Suid- Afrikaanse administrasie in Suidwes-Afrika. Al was die voorgeskrewe besoldiging van die werkers swak, is daar tog aanduidings dat sommige werkgewers gewoonlik meer betaal het (Burger, 1992:119).

Daar was besware teen die trekarbeidstelsel en die gevolge daarvan wat later verset sou genereer. Met tydsverloop het die trekarbeidstelsel tot verskeie sosio-ekonomiese en sosio-politieke gevolge asook verskeie maatskaplike probleme gelei wat al hoe meer op die voorgrond sou kom. Die trekarbeiders se lang tydperke van afwesigheid uit hul gemeenskappe en hul kontak met Westerse kulture sou meehelp tot ʼn geleidelike breuk met tradisionele waardes. Dit sou verder lei tot ʼn meer kritiese ingesteldheid teenoor tradisies en tradisionele instellings (Burger, 1992:121).

Die trekarbeiders se griewe is grootliks deur die kerke verwoord. Op 30 Junie 1971 het die Lutherse kerke byvoorbeeld namens die inheemse bevolking ʼn “ope brief” aan mnr. B.J. Vorster, die destydse Eerste Minister van Suid-Afrika geskryf. Die kerke se betrokkenheid by die protes teen trekarbeid as stelsel was aanvanklik eerder as bekom- mernis oor geestelike en maatskaplike verval as op politieke oorwegings gegrond (Burger, 1992: op. cit.).

Sedert 1916 was daar periodiek geïsoleerde stakings oral in Suidwes-Afrika, maar dit was relatief klein en swak georganiseerd. Toe, op 13 Desember 1971, breek daar egter ʼn landswye staking uit wat teen Januarie 1972 na 21 dorpe en 11 myne sou uitbrei en eers in Maart 1972, na die maak van sekere toegewings, tot ʼn einde sou kom. Die staking en wat daarop sou volg, het verreikende gevolge gehad, want die swart werkers is nie net geradikaliseer nie, maar by hulle is ook ʼn bewustheid van hul sluimerende politieke mag geskep. Dit sou later weer tot uiting kom in verdere stakings, die stigting van vakbonde, die voortdurende bedinging vir beter diensvoorwaardes asook die uiteindelike mobili- sering van politieke verset (Burger, 1992:122).

2.5.2 Ekonomiese en opvoedkundige ontwikkeling

Na die Tweede Wêreldoorlog was die algemene ekonomiese groei in Suidwes-Afrika besonder hoog. Die Suid-Afrikaanse Administrasie is toe daarvan beskuldig dat die inheemse bevolking nie in hierdie voorspoed deel nie, maar dat buitelandse maatskappye die meeste daardeur bevoordeel is. Ook op opvoedkundige gebied het ontwikkeling na die Tweede Wêreldoorlog tot omstreeks 1960 ook min vordering getoon. In die laat vyftiger- en vroeë sestigerjare sou die Suid-Afrikaanse regering tot optrede oorgaan om sowel die ekonomiese as opvoedkundige ontwikkeling in Suidwes Afrika te stimuleer en te versnel. Onder voorsitterskap van mnr. F.H. Odendaal het die Suid-Afrikaanse regering in 1962 ʼn kommissie van ondersoek aangestel. Die Kommissie is getaak om ondersoek in te stel na die “verdere materiële en morele welvaart en die maatskaplike vooruitgang” van veral die nie-blanke inwoners van Suidwes-Afrika (Burger, 1992:123). Gedurende Januarie 1964 is die Odendaal-kommissie se verslag in die Suid-Afrikaanse Parlement ter tafel gelê en is daar onmiddellik begin met die implementering van die Kommissie se aanbevelings met betrekking tot ekonomiese ontwikkeling. Anders as die ekonomiese en maatskaplike aanbevelings, het die Kommissie se polities/staatkundige aanbevelings ernstige polemiek en kritiek ontlok. Die Kommissie het ondermeer die skepping van tien tuislande vir die inheemse bevolking aanbeveel wat weer die verskuiwing van ongeveer 130 000 mense – byna 29% van die swart bevolking en 25% van die totale bevolking – sou vereis (Burger, 1992:125).

2.5.3 Verwerping van die Odendaal-verslag

die Beëindiging van Kolonialisme die aanbevelings van die Odendaal-verslag veroordeel en is die Verslag ook in 1965 deur Resolusie 2074 in die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering verwerp. Ook die Organisasie vir Afrika Eenheid (OAE) asook die swart politieke versetbewegings in Suidwes-Afrika – die South West Africa People‟s Organisation (SWAPO) en die South West African National Union (SWANU) – het die Verslag verwerp. SWAPO het gedreig met “terreur teen die bevolking” wat gemik was teen inheemse stamhoofde “who range themselves with the White racists against their people”. SWANU het hom weer uitgespreek oor die manier waarop die tradisionele leiers se samewerking verkry is om aan die Verslag se voorgestelde stelsel van tuislande saam te werk. Vir SWANU was die Odendaal-verslag se aanbevelings niks anders nie as die voortsetting van kolonialisme (Burger, 1992: op. cit.).

Ook die kerke – oorwegend swart kerke – se verset en kritiek teen die Odendaalverslag is betekenisvol. Die mening bestaan dat die kerke se verset teen die Odendaal-aanbevelings die begin was van die kerk-staat konfrontasie in Suidwes-Afrika. So sou die kerke toenemend betrokke raak by wat beskou is as “politieke” aangeleenthede. Die implementering van die Odendaal-verslag se aanbevelings – veral die tuisland-konsep se institusionalisering sedert 1986 – het die politieke toekoms van Suidwes-Afrika en die ontwikkelende insurgensie op verskillende maniere beïnvloed. Die internasionale gemeenskap is verder van Suid-Afrika vervreem en interne polarisasie is bevorder. Verder het die toetrede van die swart kerke tot die verset – gesien as aan die kant van die swart nasionalistiese organisasies – ook heelwat bygedra tot die bevordering van die aansien van SWAPO en SWANU plaaslik en internasionaal aansienlik sou bevorder. Op hierdie wyse sou SWAPO uiteindelik plaaslik groter steun werf en internasionaal groter materiële, finansiële en morele steun bekom (Burger, 1992:126).

2.5.4 Die SWA-mandaat in gedrang

Na afloop van die Tweede Wêreldoorlog het Suid-Afrika in 1946 die Verenigde Nasies versoek om Suidwes-Afrika in te lyf, maar die versoek is na stemming deur die Algemene Vergadering verwerp op grond van die Unie se nie-Blanke politieke beleid (Van Jaarsveld, 1975:252). Suid-Afrika is hewig gekritiseer toe hy weier om Suidwes- Afrika onder die Verenigde Nasies se voogdyskap te plaas (Muller, 1984:573), maar die Smuts-regering het onderneem om, in ʼn gees van welwillendheid, voort te gaan om oor

1948 is besluit om die verslae aan die Verenigde Nasies te staak. Volgens die nuwe regering het die mandaat asook die gepaardgaande verpligtinge met die ontbinding van die Volkebond verval (Burger, 1992:131; Fisher, 1969:331).

Die Suidwes-Afrika-vraagstuk is jaarliks met toenemende bitsigheid by die Verenigde Nasies bespreek. In 1950 het die Internasionale Geregshof in Den Haag bevind dat die mandaat ten opsigte van Suidwes-Afrika nie verval het met die ontbinding van die Volkebond nie. As mandataris behoort Suid-Afrika verslae oor sy toesig aan die Verenigde Nasies voor te lê, maar Suid-Afrika kon nie wetlik verplig word om Suidwes- Afrika onder trusteeskap van Verenigde Nasies te plaas nie. Sonder die toestemming van die Verenigde Nasies kon Suid-Afrika ook nie die internasionale status van Suidwes- Afrika verander nie, maar vir alle praktiese doeleindes het die gebied Suid-Afrika se “vyfde provinsie” geword (Muller, 1984:573; Burger, 1992:132).

Die Republiek se verklaring dat hy voornemens was om sy rassebeleid van “afsonderlike ontwikkeling” na Suidwes-Afrika uit te brei, is skerp veroordeel. In 1963 het Liberië en Ethiopië as lede van die Organisasie vir Afrika Eenheid (OAE) het die Internasionale Hof gevra om verdere beslissings te vel waarvolgens Suid-Afrika verplig moes word om die gebied onder trusteeskap van die Verenigde Nasies te plaas. Sou Suid-Afrika weier om na sulke besluite te skik, is vir sanksies gepleit en kon die saak na die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad verwys word (Muller, 1984: op. cit.).

Walvisbaai was nie deel van die mandaatgebied nie. Sonder om die mandaat te skend, kon Suid-Afrika ʼn versterkte garnisoen daar stasioneer en dit sou Suid-Afrika die hef- boom gee om nie te swig voor buitelandse druk nie. Daar mag meningsverskille wees oor die manier waarop Suid-Afrika die politieke vooruitgang van Suidwes-Afrika se inheemse volke hanteer het, maar aan die bewering dat die gebied volgens die Verenigde Nasie se handves „ʼn bedreiging vir vrede‟ was, kon nie veel waarde geheg word nie (Davey, 1984:574).

In Maart 1965 begin die Wêreldhof met die verhoor van Ethiopië en Liberië se klagtes dat Suid-Afrika die nie-blanke bevolking van Suidwes-Afrika onderdruk en teen hulle diskrimineer asook die mandaat skend deur militêre basisse daar op te rig. Die Republiek kon sy saak met bewyse staaf en gedurende die loop van die saak het die klaers hul

klagtes van onderdrukking en militarisme laat vaar om op rassediskriminasie te fokus. Op 18 Julie 1966 lewer die hof ʼn kontroversiële uitspraak dat Ethiopië en Liberië geen wetlike reg of belang in die saak kon bewys nie. Suid-Afrika het die saak as ʼn groot oorwinning beskou, maar die Afro-Asiatiese state en die nasionalistiese politieke organisasies in Namibië – veral SWAPO en SWANU (South West Africa National Union) – het die uitspraak met groot bitterheid ontvang (Burger, 1992:132; Davey, 1984:

op. cit.).

Die meer ekstremistiese kritici was ontevrede omdat die saak op grond van regs-tegniese punte afgewys is. Vir Suid-Afrika het die uitspraak net tydelike verligting gebring (Muller, 1984: op. cit.). Na aanleiding van die hofuitspraak sou SWAPO verklaar dat die Hof se “onverskoonbare weiering” om op te tree, nou die Namibiërs vir eens en altyd vry sou maak van enige illusies wat hulle oor die Verenigde Nasies gekoester het as redder in hul treurige omstandighede. Daar is geen ander alternatief meer as die opneem van die wapen neem vir hul vryheid nie (Burger, 1992:132,133).

Op 27 Oktober 1966 besluit die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies met ʼn groot meerderheid dat Suid-Afrika se mandaat oor Suidwes-Afrika tot niet was en dat die gebied onder die beheer van die Verenigde Nasies sou kom. Suid-Afrika het egter die Algemene Vergadering se beslissing verwerp as onkonstitusioneel en strydig met die internasionale reg. Op 12 Junie 1968 is die naam van Suidwes-Afrika op besluit van die Algemene Vergadering na Namibië verander en in Januarie 1970 sou die Veiligheidsraad verklaar dat Namibië onwettig deur Suid-Afrika beset word. Die Veiligheidsraad het die Wêreldhof weer om ʼn adviserende mening genader oor die regsgevolge van Suid-Afrika se voortgesette teenwoordigheid in Namibië. Gedurende Junie 1971 bevind die Wêreldhof dat die SWA-mandaat regmatig beëindig is en dat die resolusies rakende Namibië regtens bindend was, maar Suid-Afrika het die adviserende mening verwerp en aangevoer dat die hof se regsberedenering onhoudbaar was (Davey, 1984:574; Burger, 1992:134).

In die oë van die internasionale gemeenskap was Suid-Afrika se voortgesette adminis- trasie in Namibië onwettig. Ingevolge die internasionale reg het dit veral aan SWAPO nou ʼn regsbasis gegee om die bevrydingstryd voort te sit. Sodoende is SWAPO in staat gestel om plaaslik en internasionaal sy posisie te versterk vir erkenning en steun (Burger,

1992:135). Suid-Afrika se weiering om aan Namibië te ontrek, het ʼn hoë mate van legitimiteit aan die Namibiese insurgensie verleen om Namibië van Suid-Afrikaanse beheer te bevry. In die oë van die breë internasionale gemeenskap sou die insurgensie ook ʼn bepaalde regmatigheid geniet (Burger, 1992:140).

2.6 INSURGENSIE IN SUIDWES-AFRIKA

2.6.1 SWAPO: ʼn oorsig

Gedurende 1966 het klein gewapende bendes insurgente in Owamboland die vrede versteur. Op 26 Augustus 1966, na die gevegte op Omgulumbashe, het die SA Polisie met doeltreffende teenoptrede teen SWAPO begin. Voortgesette optrede deur SWAPO- insurgente in Owamboland het ook gelei tot ʼn toename van Veiligheidsmagte in daardie gebied en is die insurgente heeltemal van die buitewêreld afgesny. Om hierdie rede én omdat die meeste ander SWAPO-leiers in selfopgelegde ballingskap in die buiteland was, het SWAPO besluit om die belangrike 1969-1970-kongres buite Namibië te hou. Tydens die kongres herbevestig SWAPO sy verbintenis tot die gewapende stryd as die doeltreffendste metode om Namibië te bevry. Klem is gelê op die mobilisering van die Namibiese bevolking asook op “industriële optrede” wat waarskynlik gerig was op die arbeidsterrein wat tot stakings en moontlik industriële sabotasie kon lei (Muller, 1984:574; Burger, 1992:149).

In 1976 is SWAPO gekonfronteer met ʼn ernstige opstand binne die organisasie. Op aandrang van Sam Nujoma is etlike leiersfigure deur die Zambiese owerhede gearresteer. Die omstandighede rondom die opstand kon tot 1974 teruggespoor word as die begin van die eksodus van duisende SWAPO-ondersteuners uit Namibië met die gevolglike krisis dat SWAPO nie in staat was om aan die onverwagte groot getal nuwe aankomelinge kos en huisvesting te verskaf nie. Daar was ook nie voldoende voorrade en toerusting vir die talle voornemende vegters nie en het die opstandelinge die buitelandse leierskorps openlik van onbekwaamheid en korrupsie beskuldig (Burger, 1992:151).

Gerugte het ook hardnekkig die rondte bly doen oor die aanhouding van beweerde Suid- Afrikaanse spioene in SWAPO-geledere, asook van die haglike omstandighede waaronder hulle aangehou, gemartel en selfs summier tereggestel is (Burger, 1992:152). Ondanks die agterdog, vervolging en beskuldigings binne SWAPO-geledere was daar relatief min interne faksies in SWAPO en het die organisasie verbasend verenig gebly. ʼn

Verklaring hiervoor is moontlik die oorheersende getalle Owambolede van SWAPO wat samehorigheid sou bevorder en groepvorming beperk (Burger, 1992:153).