• No results found

Tienerlesers se persepsies van Slinger-slinger

6.4 Analise van die vraelys

6.2.4 Navorsingsvraag 4: Wat is die implikasies van die studie vir die evaluering van Slinger-slinger en van tienerfiksie in die algemeen?

6.2.4.3 Weerbaarheidseffek van Slinger-slinger

Vrae B10 en B11 probeer bepaal of die leefwêreld van tieners wat Bloemhof in

Slinger-slinger skep, soortgelyk is aan dié van die lesers en dit blyk dat hy in Slinger- slinger 'n baie realistiese prentjie van tieners en hul leefwêreld geskep het. Al die

respondente het op Vraag B10 geantwoord dat dit realisties is dat Angelica, wat in standerd 7 (graad 9) is, rook en drink want sommige meisies wat so oud is, doen dit wel. Dit impliseer dat al die respondente sulke jong meisies al sien rook en drink het, of ten minste gehoor het van meisies wat dit doen.

Vraag B11 is gestel om te bepaal of drank en dwelmmiddels wel so maklik bekombaar is soos dit in Slinger-slinger beskryf word. Uit die respondente het 79.55% geantwoord dat dit wel so maklik bekombaar is, 14.77% was onseker en slegs 5.68% het aangedui dat dit nie so maklik bekombaar is nie. Vraag B13 is aan die respondente gestel om te bepaal of hulle groepsdruk ervaar om drank- en dwelmmiddels te gebruik, en 52.27% het aangedui dat hulle dikwels of soms groepsdruk ervaar. Vraag B14 is hierna gestel om vas te stel of die respondente sukkel om hierdie groepsdruk te weerstaan, en 20.69% het aangedui dat dit altyd vir hulle moeilik is terwyl 36.78% aangedui het dat dit soms vir hulle moeilik is om groepsdruk om drank en dwelmmiddels te gebruik, te weerstaan.

Dit blyk dus duidelik uit die response op Vrae B10, B11, B13 en B14 dat sommige hedendaagse tieners vanaf 'n jong ouderdom blootgestel word aan drank en dwelmmiddels en dat sommige tieners groepsdruk ervaar om dit te gebruik. Dit is vir sommige tieners moeilik om hierdie groepsdruk te weerstaan.

Vraag B15 is aan die respondente gestel om te bepaal of hulle van mening is dat die lees van Slinger-slinger hulle sal help om groepsdruk om drank en dwelmmiddels te gebruik, te weerstaan. Uit die respondente het 36.36% geantwoord dat die lees van

Slinger-slinger hulle sal help om groepsdruk te weerstaan, 30.68% het "Nee"

geantwoord en 32.95% was onseker oor 'n antwoord. Dit blyk dat die respondente onseker daaroor was of fiksie hulle sou kon help om groepsdruk rakende drank en dwelmmiddels te weerstaan.

Sommige ouers, onderwysers en ander volwassenes voer aan dat die lees van tienerfiksie wat oor drank- en dwelmmisbruik handel, tieners juis sal aanmoedig om dit te misbruik. Dit het alreeds uit die literatuurstudie duidelik geword fiksie nie

waardes daarstel nie, maar dat dit die taak van ouers is. Vraag B12 is aan die respondente gestel om vas te stel of hulle van mening is dat indien hulle oor drank- en dwelmmisbruik lees, dit hulle sal aanmoedig om daarmee te eksperimenteer. Uit die respondente het 74.42% aangedui dat hulle van mening is dat fiksie tieners nie sal aanmoedig om met drank en dwelmmiddels te eksperimenteer nie.

Vraag B29 is in die vraelys gestel na aanleiding van kritiek van sommige ouers, onderwysers en ander volwassenes wat van mening is dat Slinger-slinger en soortgelyke tienerfiksie wat oor tienerseksualiteit handel, promiskuïteit en eksperimentering onder tieners sal aanmoedig. Uit die respondente het 61.36% aangedui dat hulle van mening is dat die lees van tienerfiksie wat oor seksualiteit handel, nie aanleiding sal gee tot losbandigheid nie, 15.91% van die respondente was onseker oor 'n antwoord en 22.73% van die respondente was wel van mening dat dit tot losbandigheid sal lei. Dit blyk dat die respondente meer seker was daaroor dat fiksie hulle nie sal aanmoedig om met drank en dwelmmiddels te eksperimenteer as wat hulle was oor die effek van tienerseksualiteit in tienerfiksie. Die verskil dui moontlik daarop dat die respondente nie gewoond daaraan is om oor tienerseksualiteit in fiksie te lees nie, en dat hulle dus twyfel oor die uitwerking daarvan. Dit impliseer dat leserkundiges die waarde van seksualiteit in tienerfiksie meer behoort te beklemtoon.

Vraag B30 is aan die respondente gestel om te bepaal of die verskillende temas en/of situasies wat in Slinger-slinger voorkom, so realisties voorgestel is dat hulle uit die hantering daarvan lewensvaardighede geleer het. Uit die respondente het 59.1% aangedui dat hulle, deur Slinger-slinger te lees, geleer het hoe om die seksuele misbruik van 'n vriend(in) sowel as voorhuwelikse seks te hanteer. Uit die vroulike respondente het 68.96% aangedui dat hulle die aanbieding van die tema van voorhuwelikse seks besonder leersaam gevind het, terwyl 53.3% van al die manlike respondente die meeste uit die aanbieding van die seksuele misbruik van Lisa geleer het. Hierdie tendens is ook onder die gekleurde respondente bespeur aangesien 66.67% aangedui het dat Lisa se seksuele misbruik die situasie was waaruit hulle die meeste geleer het. Die verskil in die response kan verklaar word vanweë die moontlike verskille in opvoeding en persepsie ten opsigte van seksopvoeding. Dit beklemtoon weereens die belangrikheid van die korrektheid en volledigheid van alle inligting in tienerfiksie.

Dit het uit die resultate van die vraelys duidelik geblyk dat die respondente van mening is Francois Bloemhof die verskillende temas in Slinger-slinger so realisties en eksplisiet geskets het dat hulle lewensvaardighede, of kennis oor moontlike probleemsituasies, bygeleer het.

Vraag B32 is gestel om te bepaal of die respondente verkies om eerlike, realistiese en openlike tienerfiksie wat oor alle aspekte van tienerlewe handel, en wat hulle moontlik kan voorberei op die volwasse lewe, te lees. Van die respondente het 89.66% bevestigend hierop geantwoord.

Aangesien sommige aspekte wat in realistiese tienerfiksie kan voorkom, vir tienerlesers nuut en/of ontstellend kan wees, is dit nodig dat ouers/voogde/ander volwassenes dit met tienerlesers bespreek om moontlike onduidelikhede uit die weg te ruim. Tienerfiksie kan dus aanleiding gee tot gesprekke tussen ouers en tieners. Vraag B31 is gestel om vas te stel of die respondente van die seksuele aspekte in

Slinger-slinger met ouers/voogde/ander volwassenes sou wou bespreek. Van die

respondente het 12.79% aangedui dat hulle al die seksuele aspekte in Slinger-slinger met hul ouers/voogde/ander volwassenes sou wou bespreek, terwyl 43.02% graag

sommige van die seksuele aspekte in Slinger-slinger met hul ouers/voogde/ander

volwassenes sou wou bespreek.

6.2.4.3.1 Implikasies van die resultate ten opsigte van die weerbaarheidseffek van tienerfiksie

Daar word baie in die pers en oor televisie berig oor tieners wat drank en dwelmmiddels misbruik; en tienerswangerskappe en die moontlikheid dat tieners VIGS en ander seksueel oordraagbare siektes kan opdoen, is 'n realiteit. Die implikasie van die resultate op bogenoemde vrae is dat dit blyk dat tieners wel blootgestel word aan drank, dwelmmiddels en seks, en dat die voorkoms daarvan nie net tot die stede beperk is nie. Dit blyk dan ook uit die resultate van die vraelys dat sommige tieners groepsdruk ervaar om drank en dwelmmiddels te gebruik en seks te beoefen. Die feit dat tieners aan al hierdie dinge blootgestel word, bevestig die noodsaaklikheid van korrekte inligting in tienerfiksie om hulle te help om hulself te handhaaf in moeilike situasies en om groepsdruk te weerstaan.

Die resultate op Vraag B30 impliseer dat Slinger-slinger 'n weerbaarheidseffek het aangesien die respondente meer kennis uit die realistiese aanbieding van die

sensitiewe temas in Slinger-slinger verkry het. Daarby het sommige respondente in Vraag B31 te kenne gegee dat hulle sommige van die seksuele aspekte in Slinger-

slinger met hul ouers/voogde/ander volwassenes sou wou bespreek.

In die literatuurstudie is daarop gewys dat realistiese tienerfiksie 'n veilige manier is om tieners aan die harde werklikheid van die volwasse lewe voor te stel. Ouers, onderwysers, bibliotekarisse en ander volwassenes moet besef dat goeie kwaliteit, eerlike en realistiese tienerfiksie tienerlesers kan voorberei op moeilike situasies wat hulle moontlik kan teëkom en daarom moet hulle die verantwoordelikheid neem om tienerfiksie wat oor sensitiewe temas handel, te lees en dit aan hul tieners te gee, en die geleentheid wat dit bied om met tieners oor moontlike probleme te gesels, te benut. Sodoende kan tieners toegerus word met lewensvaardighede en korrekte inligting.