• No results found

Havighurst se ontwikkelingstake vir tieners in aansluiting by tienerfiksie

Tieners se ontwikkelingstake en leesbehoeftes

3.2 Wie is die tiener?

3.2.1 Havighurst se ontwikkelingstake vir tieners in aansluiting by tienerfiksie

Volgens Havighurst (1972:5-6) moet mense ontwikkelingstake dwarsdeur hul lewe bemeester ten einde 'n "successful human being" te wees. Hierdie ontwikkelingstake het 'n drieledige oorsprong, naamlik in die fisiese ryping en groei in elke mens se lewe, soos om te leer loop en praat; as gevolg van druk van die gemeenskap, soos om te leer lees en sosiale vaardighede aan te leer; en derdens in die individu se persoonlike waardes en ambisie wat deel is van sy/haar persoonlikheid. Havighurst het ontwikkelingstake vir elke ouderdomsgroep, vanaf die kleinkinderjare, deur die middelkinderjare, adolessensie, vroeë volwassenheid, middeljare tot laat volwassenheid geïdentifiseer. Die navorser het slegs belang by die ontwikkelingstake vir adolessensie, en dit gaan vervolgens bespreek word.

3.2.1.1 Bereiking van nuwe en meer volwasse verhoudinge met vriende van dieselfde ouderdom van beide geslagte

Die aard van hierdie ontwikkelingstaak vir tieners is om seuns en dogters te begin sien as mans en vroue. Tieners moet leer om volwasse op te tree in 'n groep, asook om saam met die groep te streef na 'n gemeenskaplike doel. Daarby moet die tiener leer om in 'n groep leiding te neem sonder om te domineer (Havighurst, 1972:45).

Wanneer tieners in gemengde groepe verkeer, leer hulle hoe om met lede van die teenoorgestelde geslag sosiaal te verkeer. Wanneer tieners ouer begin word, behoort hulle die sosiale vaardighede aangeleer het om met selfvertroue in kleiner groepe te sosialiseer. Dit is belangrik dat tieners hierdie ontwikkelingstaak bemeester aangesien dit hul toekomstige sosiale verkeer en hul huwelik gaan beïnvloed (Havighurst, 1972:46-47).

Die uitbeelding van die verskeie soorte verhoudings; sosiale sensuur of goedkeuring vir optrede; en vriendskappe in tienerfiksie, kan as voorbeeld vir tieners dien. Volwasse verhoudings kan onder andere in tienerfiksie in karakterontwikkeling en deur middel van dialoog uitgebeeld word.

3.2.1.2 Aanvaarding van 'n manlike of vroulike sosiale rol

Hierdie ontwikkelingstaak impliseer dat die tiener 'n sosiaal aanvaarbare manlike of vroulike rol moet aanleer. Die vroulike rol het oor die afgelope paar dekades verander van die tradisionele huisvrou en moeder na 'n vrou wat moederskap, 'n loopbaan en 'n huwelik hanteer. Vroue beklee tradisioneel "manlike" beroepe en neem aan "manlike" sportsoorte soos boks deel (Lukens & Cline, 1995:182). Die feministiese beweging het 'n groot rol in die bevryding van die vrou gespeel. Dit is dus belangrik dat tienermeisies moet leer dat hulle keuses ten opsigte van die huwelik, moederskap en hul loopbaan het (Havighurst, 1972:49-51). Dit is ook nie net die tradisionele vroulike rol wat veranderinge ondergaan het nie, maar ook manlike rolle het verander in die opsig dat baie mans nie meer die slegs tradisionele rol van broodwinner beklee nie en dat hulle soms selfs tuisbly en na die kinders omsien (Lukens & Cline, 1995:182). Daarby is homoseksuele mans en vroue baie meer openlik omtrent hul leefstyl. Tieners moet dus uit 'n breë spektrum van

geslagsrolle soos dit in die hedendaagse samelewing aanvaar word, 'n keuse maak en daarvolgens optree.

Al die veranderinge bring mee dat tieners verward is oor die sosiale rol wat hulle moet aanvaar aangesien daar nie meer duidelike grense tussen manlike en vroulike rolle bestaan nie. Indien hierdie veranderinge in tienerfiksie weerspieël word, kan dit tieners meer insig in alternatiewe houdings teenoor geslagsrolle gee en sodoende kan dit hulle help om hul eie rolle makliker te vind en te aanvaar.

3.2.1.3 Aanvaarding van die fisiese voorkoms en die effektiewe gebruik van die liggaam

Die doel van hierdie ontwikkelingstaak is dat tieners moet leer om trots te wees op hul eie liggame, en om hul liggame effektief en met persoonlike tevredenheid te gebruik en op te pas (Havighurst, 1972:51).

Groot liggaamlike ontwikkeling en veranderinge vind gedurende adolessensie plaas, en aangesien tieners nie almal teen dieselfde tempo as ander tieners van hul ouderdom ontwikkel nie, veroorsaak die fisiese verandering geweldige emosionele druk op die tiener. Hulle wonder gedurig of hulle "normaal" is. Tienermeisies ontwikkel as 'n reël vinniger as tienerseuns wat ook veroorsaak dat hulle vroeër seksuele rypheid bereik (Havighurst, 1972:51-52). Adolessensie is dan die tydperk in 'n mens se lewe wat gekenmerk word deur 'n groot belangstelling in en besorgdheid oor liggaamlike ontwikkeling.

Effektiewe gebruik van die liggaam sluit ook verantwoordelike seksuele praktyke in, wat deesdae met die VIGSpandemie 'n wesenlike gevaar inhou. Dus is die aanleer van verantwoordelike en toepaslike seksuele gedrag belangrik.

Tienerfiksie wat oor normale fisiese ontwikkeling asook liggaamlike gebreke soos blindheid, siektes soos epilepsie, vetsug of dieetsiektes handel, kan 'n positiewe rol speel in tieners se aanvaarding van hul voorkoms wanneer hulle met die karakters in die tienerboek identifiseer. Hierdie temas in tienerfiksie kan tieners help om hul eie voorkoms, positiewe kwaliteite sowel as gebreke, of die van 'n vriend of vriendin, te verstaan en te aanvaar (Lukens & Cline, 1995:182-183).

Tieners moet leer om emosioneel onafhanklik van hul ouers en ander volwassenes te word en om selfstandig te dink en op te tree. Hulle moet leer om verhoudings met volwassenes te hê en om hulle te respekteer sonder om emosioneel afhanklik van hulle te wees (Havighurst, 1972:55). Hierdie ontwikkelingstaak lei tot spanning tussen ouers en tieners aangesien tieners onafhanklik wil wees en ouers bang is om hul kinders daardie onafhanklikheid toe te laat. Dit lei gewoonlik daartoe dat tieners teen hul ouers, en soms ook ander volwassenes, rebelleer.

Tieners moet leer om self besluite te neem en veral om morele standpunte in te neem. Dit is in die hedendaagse samelewing baie belangrik aangesien tieners aan groot groepsdruk blootgestel word. Tieners wat nie emosionele onafhanklikheid van ouers en ander volwassenes bereik nie, funksioneer moeilik as volwassenes in die gemeenskap en in 'n huwelik (Havighurst, 1972:56).

Alhoewel emosionele onafhanklikheid hoofsaaklik in gesinsverband aangeleer word, kan tienerfiksie waarin tienerkarakters verantwoordelikheid vir hul probleme aanvaar en dit self oplos, tienerlesers tot begrip in verband met die selfstandige neem van besluite en die gevolge van hul optredes te dra, gelei word.

3.2.1.5 Voorbereiding vir die huwelik en gesin

Aangesien die huwelik en gesin een van die boustene van die gemeenskap is, is dit belangrik dat tieners 'n positiewe houding daarteenoor ontwikkel (Havighurst, 1972:59). Dit word egter bemoelik omdat baie huwelike in die skeihof beland en gesinne sodoende verbrokkel. Enkelouergesinne is aan die orde van die dag en kindermishandeling neem wêreldwyd toe (Lukens & Cline, 1995:185). Tieners moet leer hoe om 'n huishouding te hanteer en hoe om kinders groot te maak (Havighurst, 1972:59). Sonder positiewe rolmodelle kan tieners nie hierdie ontwikkelingstaak bemeester nie.

Tienerfiksie kan hiertoe 'n bydrae lewer deur die realistiese voorstelling van gesinslewe sodat tieners kan lees oor skadelike, asook opbouende, optredes binne 'n huwelik, gesin, en enkelouergesin (Lukens & Cline, 1995:185).

Die doel van hierdie ontwikkelingstaak is dat die tieners hulle moet voorberei om 'n loopbaan te volg en sodoende ekonomies onafhanklik van ouers of ander volwassenes te wees (Havighurst, 1972:62). Die strewe na onafhanklikheid is een van die sterkste dryfvere vir tieners, maar dit raak al hoe moeiliker om te bereik as gevolg van die moderne tegnologiese samelewing wat min geleenthede vir ongeskoolde werkers bied. Tieners bly lank afhanklik van hul ouers aangesien die meeste eers tersiêre of ander opleiding moet ontvang ter voorbereiding vir 'n suksesvolle beroep (Havighurst, 1972:65). Lukens en Cline (1995:184-185) noem dat hoewel loopbane nie dikwels die tema van tienerboeke is nie, dit meer aandag van skrywers behoort te kry aangesien baie volwassenes probleme ervaar met werksetiek en bevrediging binne 'n beroep.

3.2.1.7 Verwerwing van persoonlike waardes, etiek en ideologieë

Die verwerwing van persoonlike waardes, etiek en ideologieë is een van die belangrikste ontwikkelingstake wat tieners moet bemeester aangesien dit deel is van hul identiteit. Dit is gewoonlik gedurende die tienerjare dat 'n belangstelling in filosofiese, politiese en godsdienstige vraagstukke ontstaan. Die samelewing is vol teenstrydige waardes, etiek en ideologieë en te midde hiervan moet volwassenes 'n eie identiteit alreeds as tiener gevorm het om te weet waarin hulle glo (Havighurst, 1972:70).

Dit is belangrik dat skrywers van tienerfiksie etiese motivering vir karakters se optrede verskaf sodat tieners daarmee kan identifiseer. Sodoende kan tienerfiksie tieners help om insig te verkry uit die verskillende keuses en standpunte van fiksiekarakters (Lukens & Cline, 1995:186).

3.2.1.8 Die begeerte tot, en bereiking van sosiaal verantwoordelike gedrag

Tieners moet 'n sosiale ideologie ontwikkel sodat hulle as volwassenes 'n verantwoordelike bydrae tot die gemeenskap, omgewing en burgerlike samelewing kan maak. Dit is ook belangrik om gedrag by die waardes van die gemeenskap aan te pas (Havighurst, 1972:75). Die individu vorm 'n band met sy/haar sosiale groep van geboorte af. Reeds in die funksionering van die gesin leer die kind dat die welsyn van die groep belangriker is as die belange van die individu. Hierdie leerproses word dwarsdeur adolessensie tot in volwassenheid voortgesit. Die tiener is gereed om in die gemeenskap opgeneem te word, en om die proses suksesvol te

maak, is dit noodsaaklik dat die tiener moet leer om sekere "regte" op te offer in belang van die gemeenskap. As beloning daarvoor ontvang die tiener sosiale goedkeuring en aanvaarding, asook die voorregte wat volwassenes geniet (Havighurst, 1972:75-76).

Lukens en Cline (1995:185-186) noem dat dit belangrik is dat tieners leer om negatiewe groepsdruk te weerstaan. Tienerfiksie kan tieners voorberei op moeilike vraagstukke wanneer hulle met die karakters in 'n tienerboek identifiseer en hul woorde en optrede probeer verstaan (Lukens & Cline, 1995:185). Die vermoë om negatiewe groepsdruk te weerstaan is veral belangrik ten opsigte van dwelmgebruik en onverantwoordelike seksuele praktyke wat tot VIGSbesmetting kan lei. Sodoende dink hulle oor moeilike en omstrede kwessies en neem, soms onbewustelik, standpunt in.

3.2.1.9 Samevatting

Die tienerjare, of adolessensie, is 'n tydperk van geweldige liggaamlike, emosionele en verstandelike ontwikkeling. Havighurst se ontwikkelingstake moet as 'n voortdurende proses, wat tot in vroeë volwassenheid kan voortduur, gesien word. Die belangrikheid van die bereiking van die doelwitte van die ontwikkelingstake om goed aangepaste volwassenes te word, kan nie genoeg beklemtoon word nie.

Havighurst se ontwikkelingstake vind ook neerslag in tieners se leesbehoeftes en leesbelangstellings en hang ten nouste daarmee saam. In die volgende afdeling word tieners se leesbehoeftes, die redes waarom hulle lees, en hul leesbelangstellings, bespreek.