• No results found

'n Leserkundige evalueringsmodel vir tienerfiksie met 'n seksuele tema

4.2 Identifisering van elemente vir die leserkundige evaluering van tienerfiksie

4.2.1 Elemente vir die leserkundige evaluering van tienerfiksie

4.2.1.4 Vertelinstansie en perspektief

Die vertelinstansie in 'n tienerverhaal kan 'n alwetende, eerstepersoons- of derdepersoonsverteller wees. Die alwetende verteller bied aan die skrywer die grootste vryheid omdat die leser aan al die karakters, goed of sleg, bekend gestel kan word. Die alwetende verteller is dus nie 'n karakter in die verhaal nie (Du Plessis, 2000:56). Die derdepersoonsverteller verskil effens van die alwetende verteller in die opsig dat die derdepersoonsverteller baie na aan die karakters in die verhaal beweeg, en nie al die karakters se innerlike motiewe en gedagtes ken nie (Van der Westhuizen, 1989:9). Die derdepersoonsverteller kan een van die karakters in die verhaal wees, maar nie noodwendig die hoofkarakter nie (Du Plessis, 2000:56). Tieners verkies dikwels die eerstepersoonsverteller omdat die tiener totaal met die hoofkarakter kan identifiseer omdat sy/haar bewussyn en innerlike monoloë met die tienerleser gedeel word (Ghesquiere, 1982:165 ; Charbonneau, 1995:par. 9 ; Zindel, 1979:44 ; De Gale, 1993:30 ; Du Plessis, 2000:57). Die eerstepersoonsverteller beperk egter die skrywer omdat die gedagtes van ander karakters verborge vir die leser is en omdat die verteller tydruimtelik net so beweeglik is as wat die karakter is (Nilsen & Donelson, 1993:77 ; Du Plessis, 2000:57). Hierdie probleem kan grootliks oorkom word deur gebruik te maak van dialoog waarin ander karakters hul gevoelens uitdruk (De Gale, 193:30).

Om te onderskei tussen die verteller en die fokalisator/perspektiewelike hoek, moet die volgende vrae gestel word: wie sê en wie sien? Die een wat sê of vertel is die verteller en die een wat sien wat gebeur, is die fokalisator of die een uit wie se perspektief die verhaal vertel word (Du Plessis, 2000:57). Lukens en Cline (1995:101) definieër perspektief in die literatuur as die een deur wie se gedagtes die leser die verhaal sien. Die tienerverhaal kan vanuit 'n eksterne of interne perspektief aangebied word. Eksterne fokalisasie vind plaas wanneer die waarnemer nie self deel is van die verhaal nie, en dit gaan gewoonlik gepaard met 'n alwetende verteller.

Die skrywer wat gebruik maak van 'n alwetende verteller en eksterne fokalisasie moet daarop let om die verhaal vanuit 'n tiener se ervaringsveld te vertel om tienerslesers se aandag te behou (De Gale, 1993:31). Interne fokalisasie vind plaas wanneer die waarnemer òf na aan die karakter van wie vertel word, is, òf die bepaalde karakter self is (Van der Westhuizen, 1989:9). Interne fokalisasie van 'n eerstepersoonsverteller bied aan die leser die subjektiewe belewenis van die hoofkarakter, en dit bring mee dat die leser met die hoofkarakter identifiseer (Nilsen & Donelson, 1993:77 ; De Gale, 1993:31). Indien tienerlesers bewus word van karakters se gevoelens, emosies en gedagtegang of denkprosesse, bring dit mee dat hulle met die karakters kan identifiseer en sodoende begrip vir die karakters se situasie ontwikkel. Tienerlesers leer ook van die verskillende emosies, verskeie morele standpunte, asook probleemoplossings wat in situasies kan voorkom.

4.2.1.5 Agtergrond (ruimte en tyd)

Agtergrond word deur die fisiese en geestelike omgewing waarin 'n verhaal ontvou, gevorm. Dit bestaan uit die elemente geografiese plek, die natuurlike dekor, algemene omgewing en atmosfeer en kan in die verlede, hede of toekoms wees (Fourie, 1989:233). Die beskrywende elemente vir agtergrond in 'n verhaal is dus ruimte en tyd. Ghesquiere (1982:166-167) noem dat ruimte en tyd die "dekor" is waarin karakters tot lewe kom.

Ruimte is die plek waar die verhaal hom afspeel, en tieners verkies bekende omgewings soos die skool en die stad, of onbekende, avontuurlike plekke soos oerwoude, die see of die buitenste ruimte (Van der Westhuizen, 1989:8).

Tyd as verhaalelement kan onderskei word in vertelde tyd en verteltyd. Vertelde tyd impliseer die tyd wat in 'n verhaal gedek word, met ander woorde die tyd-binne-die- werk of die tydsduur van die verhaal (Keuris, 1992:544): dit kan 2 weke of 'n jaar in die lewe van die karakters wees. Die tydperk kan eietyds wees, maar dit kan ook in die verlede of in die toekoms afspeel (Van der Westhuizen, 1989:8) omdat die tienerleser in staat is om terugflitse, vooruitskouings en die oormekaarskuif van tyd te hanteer (Van der Westhuizen, 1989:8 ; Ghesquiere, 1982:163). Die verteltyd is die tyd wat geneem word om die verhaal te lees (Keuris, 1992:544). Weens tieners se vol programme en wisselende belangstellings wil hulle graag kort, opwindende verhale lees.

Ruimte en tyd kan 'n integrale deel van die verhaal uitmaak, of dit kan net die blote agtergrond vir die verhaal vorm (Nilsen & Donelson, 1993:81). 'n Verhaal het 'n integrale agtergrond indien ruimte en tyd die karakters, tema en handelinge so beïnvloed dat die karakters in sekere omstandighede, in 'n spesifieke tyd en plek op 'n sekere manier optree (Lukens & Cline, 1995:87). Ruimte en tyd speel 'n integrale funksie in byvoorbeeld historiese verhale en fantasieë, verhale wat in spesifieke streke afspeel, soos in tropiese Afrika, en avontuurverhale waar die protagonis in stryd met die natuur is (Nilsen & Donelson, 1993:81-82). Wanneer 'n verhaal in 'n dorp, stad, skool, of in 'n ander bekende omgewing, afspeel, vorm ruimte soms net blote agtergrond vir die verhaal (Nilsen & Donelson, 1993:83). Lukens en Cline (1995:97) sluit by bogenoemde aan deur te waarsku dat veral die harde werklikheid van die omgewing, soos byvoorbeeld 'n swak woonbuurt in 'n stad, nie die aandag

van die tema van die verhaal moet aftrek nie, want die interne konflik wat karakters in realistiese tienerverhale ervaar, kan gewoonlik op enige soortgelyke plek afspeel. Gewoonlik vorm ruimte en tyd blote agtergrond vir die verhaal as die fokus van die verhaal op iets, of iemand, anders val (Lukens & Cline, 1995:87).

Al wil tieners graag verhale lees wat kontemporêr voorkom en in die mode is, raai De Gale (1993:25-26) skrywers aan om nie unieke eietydse gebeure, mense en neigings, soos koninklike skandale, popmusiek en modes, spesifieke regerings en staatshoofde, en kontroversiële vraagstukke van die tyd soos rook in openbare ruimtes, in verhale in te skryf nie aangesien dit 'n verhaal vinnig kan laat verouder. Tienerverhale moet dus eerder universeel wees, maar moet tog voldoen aan die eise van kontemporêr wees sonder om die verhaal te dateer.

Die agtergrond van 'n verhaal kan verskeie funksies hê, byvoorbeeld om die konflik wat die protagonis ervaar te verklaar en te versterk; om as antagonis op te tree indien die konflik in die verhaal bestaan uit persoon-teen-natuur; om die karaktereienskappe van die karakters uit te lig en te versterk; om aan die verhaal 'n sekere stemming te verleen, byvoorbeeld 'n gespanne stemming as gevolg van voortdurende droogte en die gevolglike moontlike verliese; en om simboliese betekenis aan die leser oor te dra, byvoorbeeld donkerte wat boosheid simboliseer (Lukens & Cline, 1995:91-96).

Lukens en Cline (1995:96-97) beklemtoon dat indien die agtergrond as verhaalelement geëvalueer word, daar eerstens bepaal moet word of die ruimte en tyd 'n integrale deel van die verhaal vorm en of dit as blote agtergrond dien. Indien dit 'n integrale deel van die verhaal uitmaak, is dit belangrik dat die agtergrond deur sig, gehoor en reuk aan die leser bekend gestel word. Wanneer ruimte en tyd blote agtergrond vir die verhaal vorm, mag die beskrywing daarvan nie die fokus van die sentrale tema/konflik laat verskuif nie (Lukens & Cline, 1995:23).