• No results found

Stephan en Lisa se gevoelens rondom Lisa se seksuele misbruik

Leserkundige ontleding en evaluering van Francois Bloemhof se

5.2 Leserkundige evaluering van Francois Bloemhof se Slinger-slinger

5.2.7 Weergee van korrekte feite ten opsigte van die seksuele

5.2.8.2 Stephan en Lisa se gevoelens rondom Lisa se seksuele misbruik

Dit pla Stephan baie dat gerugte oor Lisa se losbandigheid die rondte doen. Tydens hul eerste seksdaad besef hy dat sy seksueel ervare is en beslis nie meer 'n maagd is nie. Hy het egter glad nie verwag Lisa seksueel deur haar pa misbruik word nie. Wanneer sy hom daarvan vertel, is dit vir hom so 'n groot skok dat hy van haar af weghardloop. Aanvanklik voel hy verbitterd omdat Lisa "almal s'n" (p. 76) is, maar later besef hy dat sy goedkeuring en liefde op 'n verkeerde wyse soek. Hy word met dankbaarheid vervul omdat sy pa nie sy suster, Angelica, misbruik nie.

Stephan besef ook dat dit nie sal help as hy polisie toe gaan nie, want Lisa moet sélf iets aan haar situasie doen. Tog voel hy dat indien hy die fietswedren kan wen, sal al Lisa se probleme vanself weggaan. Toe Koert Stassen sy fiets se bande stukkend sny, en Stephan nie aan die fietswedren kan deelneem nie, kom hy tot die besef dat daar vir sommige probleme geen maklike oplossings is nie. Hy besef ook dat slegs Lisa die bose kringloop van seksuele misbruik kan verbreek, en dat hy haar slegs kan ondersteun deur haar te aanvaar ten spyte van die misbruik omdat dit nie haar skuld is nie.

Bloemhof slaag daarin om Stephan se magteloosheid uit te beeld, veral deur sy poging om Lisa se probleme deur fietsry op te los. In tienerverhale moet tieners bemagtig word om self hul probleme op te los, en die skrywer slaag daarin om Stephan te laat besef dat Lisa self verantwoordelik is vir 'n oplossing vir die

molestering deur haar pa, en dat sy die hulp van 'n volwassene daarvoor nodig sal hê.

Hoewel Stephan die interne fokalisator is, en Lisa se innerlike gevoelens dus nie aan die leser bekend is nie, word haar gevoelens en emosies rondom haar misbruik duidelik deur haar optrede en dialoog.

Reeds met hul eerste ontmoeting word dit duidelik dat Lisa aggressiewe gevoelens rondom manlike belangstelling in haar het, want sy beantwoord Stephan se uitnodiging om met haar te gesels, met: "Kak. Julle ouens dink net aan een ding." (p. 24). Dit is 'n aanduiding vir die leser dat iets met Lisa skort. Aggressie teenoor haar pa kom na vore tydens hul tweede ontmoeting as Lisa sê: "My pa is 'n poephol" en sy vol bitterheid vir Stephan sê dat terwyl hy sakgeld van sy ouers ontvang, moet sy werk om klere en ander benodigdhede te koop. Weereens verwys sy aggressief na seks: "Nie dat jy sal omgee as ek kaalgat rondloop nie, sal jy?" (p. 32). Stephan kom agter dat Lisa baie buierig is en dat haar emosies wipplank ry tussen woede en vreugde. Haar uitsiglose uitkyk op die lewe kom tot uiting as sy sê: "En hier is ek, en ek is nêrens heen op pad nie." (p. 33).

Lisa se swak selfbeeld kom na vore as Stephan in die restaurant by haar kuier en sy opmerk dat Stephan innerlik mooi is, terwyl sy nie is nie. Tienerlesers kom onder die besef dat Lisa nie gewone en gesonde verhoudings ken nie, as sy vir Stephan sê: "Jy weet nie wat dit vir my beteken dat 'n ou kan kom en … en nét …" (p. 49). Sy verwys daarna dat seuns net vir seks in haar belangstel. Lisa se innerlike pyn en minderwaardigheidsgevoel word duidelik geskets as Stephan skelm by haar kuier nadat haar pa dorp toe gaan. Hy kry haar nakend in haar bed, en dit is duidelik dat sy gehuil het. Voortdurend vra sy hom om haar "beter" te laat voel deur middel van seks, en sy wil aan "gevat" word. Deur Stephan se oë "sien" die leser dat Lisa glad nie beter voel nie, en dat sy hartseer lyk. Haar onthulling dat haar pa "al jare lank [haar] boy friend" (p. 75) is, kom vir Stephan, en die leser, as 'n groot skok.

Wanneer Stephan en Lisa oor die misbruik praat, word dit duidelik vir die leser dat daar geen maklike oplossings hiervoor is nie. Die redes waarom Lisa nie die misbruik by die polisie aangemeld het, word duidelik gegee, naamlik dat sy nie ander familie het nie en dat sy nie kans sien om na 'n kinderhuis te gaan nie. Deur Stephan se gedagtes oor die misbruik besef die leser hoe magteloos Lisa moet voel want indien sy haar pa by die polisie sou aangee, sal almal weet wat hy gedoen het en wonder oor haar aandeel daarin (p. 80). Haar gevoel van verwerping het

ontstaan toe haar ma, wat haar moontlik kon beskerm, eerder van die huis weggeloop het en haar daar gelos het. Die misbruik het Lisa aggressief en woedend teenoor ander mense wat oënskynlik normale lewens lei, gemaak. Sy voel vasgevang in 'n net van misbruik en sy besef nie dat sy self die kringloop moet verbreek nie. Sy het so 'n lae selfbeeld dat sy nie besef dat niemand anders behalwe syself haar kan laat "goed" voel oor haarself nie. Deur Stephan se konfrontasie met haar pa kom sy tot die besef dat hy nie almagtig is nie, en dat sy hom kan teenstaan. Hierdie wete gee haar innerlike krag om te weier dat haar pa haar verder molesteer. Deur Stephan se liefde, ondersteuning en aanmoediging om met 'n volwassene oor die molestering te praat, verander Lisa se uitsiglose lewe in 'n hoopvolle lewe. Die oop einde van die verhaal maak dit duidelik aan die leser dat daar geen maklike oplossings vir probleme is nie, maar dat elkeen die innerlike krag en vermoë het om probleme die hoof te bied.

Dit is duidelik dat Francois Bloemhof Stephan en Lisa se gevoelens en emosies rondom haar seksuele molestering baie subtiel, maar treffend aan die leser oordra. Hy slaag veral om die leser onder die besef te bring dat niemand anders jou probleme kan oplos nie en dat elkeen vir sy eie geluk verantwoordelik is. Stephan se aanvaarding van Lisa ten spyte van die misbruik is belangrik, sodat tieners wat gemolesteer word kan besef dat hulle nie skuld dra nie en ook normaal hanteer moet word. Dit wys lesers op die verreikende gevolge van seksuele misbruik en help hulle om met empatie teenoor slagoffers op te tree.

Uit die beskrywing van Lisa en Stephan se emosies en gevoelens rakende Lisa se seksuele molestering deur haar pa, besef tienerlesers dat daar ook baie moeilike probleme in meer volwasse verhoudings tussen die geslagte kan voorkom. Tienerlesers leer dat 'n verhouding nie net uit seks bestaan nie, maar ook uit liefde, aanvaarding en ondersteuning. In hierdie opsig voldoen die beskrywing van Lisa en Stephan se emosies en gevoelens rakende Lisa se seksuele molestering aan tieners se leesbehoeftes rakende verhoudings en hul leesbelangstelling in seks, asook die ontwikkelingstaak waarin tieners moet leer om meer volwasse verhoudings aan te knoop.