• No results found

Leserkundige ontleding en evaluering van Francois Bloemhof se

5.2 Leserkundige evaluering van Francois Bloemhof se Slinger-slinger

5.2.1.4 Ander subintriges

Ander gebeure wat in die verhaal voorkom, behels eerstens die tienerbedrywighede op vakansie, soos strand toe gaan, swem en sonbaai; partytjies bywoon; rook, drink, en dagga gebruik; hoop op vakansieromanses; en algemene tieneraktiwiteite soos skinder, "snaakswees" en tienerklets.

Op die partytjie in die stadsaal kom baie van die tieners se ongure bedrywighede na vore. Angelica is vroeg reeds beskonke en almal word redelik maklik deur Graham omgepraat om daggakoekies te eet.

By die vleisbraai van die ouers raak al die ouers self besope ten aanskoue van die tieners, wat agteraf rook en drink. Voor die ander is die Robertsons baie vryerig met mekaar, maar net na die braai kom Stephan op Clive Robertson en Nolene Britz se owerspel af.

Dit is duidelik dat daar ooreenkomste in die optrede van die volwassenes en die tieners is ten opsigte van die drankmisbruik en seks. Die skrywer skets duidelik volwassenes wat ook struikel en bevestig daardeur die feit dat tieners selfstandig moet besluite neem en nie net volwassenes se optredes naboots nie. Uit die beskrywing van die vleisbraai blyk dit duidelik dat die ouers nie besef dat hulle aan die tieners, wat juis op 'n stadium in hul lewens is waar hulle na die regte waardes soek, 'n slegte voorbeeld stel nie. Dit is verder ontstellend dat die ouers nie besef dat hul kinders rook, drink en moontlik ook dwelmmiddels gebruik nie.

Die rol van die subintriges is om die storielyn te laat vloei en tot die aksie in die verhaal by te dra; en om aan die verhaal interessante elemente van realisme te verskaf wat die tienerleser met die verhaalgebeure laat identifiseer. Bloemhof gebruik dit ook om die hoofintriges te ondersteun en te versterk deur kontrasterende en ooreenstemmende elemente daarin uit te beeld.

5.2.1.5 Samevatting

Die spanningslyn in die verhaal word goed opgebou deur die verwikkeling van die intriges en subintriges. Leserkundig slaag die skrywer se hantering van die verhaalelement intrige omdat daar geen toevallige gebeure plaasvind nie; die storielyne verval nie in sentimentaliteit of sensasie nie; daar is genoeg konflik in die verhaal; en daar is nie 'n onwaarskynlike gelukkige einde nie.

Die intriges spreek direk tot tieners se leesbehoeftes en -belangstellings omdat die verhaal oor verhoudinge tussen vriende, liefdes- en seksuele verhoudinge, sport, en dwelm- en drankmisbruik handel. Tienerlesers moet besluit hoe hulle oor elk van die verhaalintriges voel en standpunt inneem oor al die kwessies wat in Slinger-slinger aangeraak word. Sodoende ondersteun Slinger-slinger tienerlesers om meer volwasse verhoudinge met vriende aan te knoop, om emosioneel onafhanklik van hul ouers te word en om hul eie waardes te verwerf.

5.2.2 Tema

Die tema van Slinger-slinger is seksuele ontwaking en die vind van 'n seksuele identiteit deur tieners. Stephan en Lisa se liefdes- en seksuele verhouding staan sentraal tot die tema, met Derek se erkenning van sy homoseksualiteit, Koert Stassen se seksuele misbruik van Lisa, Angelica se onbeantwoorde liefde vir Derek, Jack en Amanda du Toit se oënskynlike kil verhouding in teenstelling met Clive en Pam Robertson se "warm" verhouding, en Clive Robertson en Nolene Britz se buite- egtelike seksuele verhouding as newetemas. Die volwassenes se verhoudinge dien as agtergrond vir en staan parallel tot die tienerkarakters se verhoudinge.

Slinger-slinger se tema vind aansluiting by tieners se ontwikkelingstake. Die tieners

in die verhaal begin om mekaar as mans en vroue te sien, en hulle moet dus leer om meer volwasse verhoudings met mekaar aan te knoop. Stephan en Lisa se verhouding wys tienerlesers op die onsekerhede en vrees vir verwerping tydens die aanvang van 'n verhouding wat tieners ervaar.

Stephan leer gedurende die vakansie om sy fisiese voorkoms te aanvaar - al is hy nie modelmooi nie en skaam oor sy slegte vel, besef hy dit is sy innerlike skoonheid wat vir Lisa die belangrikste is. Derek aanvaar en erken dat hy homoseksueel is, en

in die proses besef Stephan dat 'n persoon 'n ander seksuele identiteit as hyself kan hê, en dat dit nie noodwendig 'n vriendskap negatief hoef te beïnvloed nie.

Die tieners in Slinger-slinger leer om emosioneel onafhanklik van hul ouers te wees en self oplossings vir hul probleme te soek. Dit word duidelik geïllustreer as Stephan en Lisa besef dat daar geen maklike oplossing vir haar seksuele molestering is nie, maar dat sy self die verantwoordelikheid vir haar lewe moet neem deur met 'n verantwoordelike, betroubare persoon te praat om die situasie op te los.

Stephan, en tienerlesers, leer uit sy ouers se verhouding dat 'n goeie huweliksverhouding nie noodwendig seksueel demonstratief is nie, maar dat dit nie beteken dat die huweliksmaats nie vir mekaar lief is nie. Die tieners in Slinger-slinger is positief oor die huwelik as instelling, ten spyte daarvan dat van die volwassenes, wat hulle 'n voorbeeld behoort te stel, so amoreel optree, en Stephan en Lisa fantaseer selfs oor 'n huwelik en hul droomhuis. Die skrywer hanteer alle aspekte van die tema op so 'n wyse dat tienerlesers daaroor besin en besluit of die karakters se optrede aansluit by hul eie waardes. Tienerlesers word gedwing om daaroor na te dink aangesien die skrywer nie didakties geskryf het nie.

Newetemas soos dwelm- en drankmisbruik, sport en verhoudinge met vriende en ouers kom in Slinger-slinger voor. Die volwassenes misbruik drank sonder om ag te slaan op die slegte voorbeeld wat hulle aan hul kinders stel. Die tieners volg hul ouers se voorbeeld en drink en rook vryelik. Dit is veral die 15-jarige Angelica wat rook, drink en moontlik dwelmmiddels gebruik. Die skrywer wys deur die subtema hoe maklik drank en dwelmmiddels, soos dagga, vir tieners beskikbaar is, en dat hulle maklik voor groepsdruk swig om dit te gebruik. Tieners behoort in hierdie newetema belang te stel omdat dit voldoen aan hul behoefte omtrent drank- en dwelmmisbruik, sowel as die vorming van waardesisteme.

Die fietsrytema sluit aan by tieners se belangstelling in sport, en dien in die verhaal as geleentheid vir Stephan om oor sy verhouding met Lisa te gesels en te dink, en vir Derek om sy homoseksualiteit aan Stephan te erken.

Die onderlinge verhoudinge tussen die tieners, die volwassenes en tussen die tieners en hul ouers word in 'n verhaal saamgevleg waarin tieners meer te wete kan kom oor die kompleksiteit van verhoudings.

Die hooftema, sowel as die newetemas, sluit ten volle aan by tieners se leesbehoeftes aangesien die verhaal handel oor verhoudings tussen die geslagte en in die gesin, die vind van 'n eie identiteit, en die ondersoek van waardesisteme.

Aangesien seksualiteit die hooftema van die verhaal is, word die hantering en die spesifieke elemente daarvan meer uitvoerig bespreek in afdelings 5.2.7 - 5.2.12, wat oor die wyse waarop die seksuele in tienerfiksie behoort voor te kom, handel.

5.2.3 Karakterisering

Die hoof- en newekarakters in Slinger-slinger, hul onderlinge verhouding en die funksie van elk met betrekking tot die hooftemas, gaan bespreek word.