• No results found

Vereistes gestel aan die hantering van die seksuele tema in tienerfiksie

'n Leserkundige evalueringsmodel vir tienerfiksie met 'n seksuele tema

4.3 Vereistes gestel aan die hantering van die seksuele tema in tienerfiksie

Eiselen (1993) het in 'n studie oor die voorkoms van seksuele aspekte in Afrikaanse tienerfiksie gedoen en sy het bevind dat die volgende elemente in tienerfiksie met 'n seksuele tema behoort voor te kom: die weergee van die korrekte feite, beskrywing van gevoel en emosies, beskrywing van seksuele gedrag, onbevooroordeeldheid, 'n wye leesspyskaart, en realisme. Hierdie bevinding word ondersteun deur verskeie internasionale skrywers soos Bjorn et al. (1994:16-19), Hendrickson (1994:20-23), Polese (1989:86-87), Schmidt-Dumont (1994:112-15), Walker en Bauer (1994:25- 28), en Westin (1996:42).

4.3.1 Weergee van korrekte feite

Verkeerde feite oor die seksuele kan tieners verwar vanweë hul beperkte lewenservaring. Korrekte feite oor alle aspekte van menslike seksualiteit moet in tienerfiksie voorkom, byvoorbeeld oor fisieke ontwikkeling, seksuele gedrag, voorbehoeding, VIGS en ander seksueel oordraagbare siektes, homoseksualiteit, die seksdaad en seksuele misdrywe (Eiselen, 1993:48). Polese (1989:86-87) sluit hierby aan, maar noem dat dit onnodig is om grafiese beskrywings van onstellende seksuele aktiwiteite soos molestering te gee. Dit is belangrik dat tieners die korrekte feite insake seksualiteit kry sodat dit hulle kan voorberei op die realiteit van die volwasse lewe.

Hierdie vereiste sluit aan by tieners se leesbehoeftes insake hulself, hul liggame, en die bepaling van hul eie en seksuele identiteit. Dit sluit ook nou aan by die volgende van Havighurst se ontwikkelingstake, naamlik die bereiking van nuwe en meer volwasse verhoudings met vriende van dieselfde ouderdom van beide geslagte; die aanvaarding van 'n manlike of vroulike sosiale rol; die aanvaarding van die fisiese voorkoms en die effektiewe gebruik van die liggaam; en voorbereiding vir die huwelik en gesin.

Tienerfiksie is die ideale medium om die hewige emosies, verwarring, vrese en onkunde wat deur die seksuele in die mens ontketen word, aan tienerlesers te beskryf sodat hulle 'n begrip daarvoor kan ontwikkel (Eiselen, 1993:48 ; Fenwick, 1994:9). Omdat tieners beperkte lewenservaring het, besef hulle dikwels nie dat seks nie net uit die seksdaad bestaan nie, maar dat emosies, verwarring en vrese daarmee saamgaan. Realistiese verhale mag nie pynlike ervarings soos byvoorbeeld die dilemma waarin 'n swanger tiener haarself bevind, romantiseer nie, maar moet die ware vraagstukke openlik en sonder vooroordeel stel (Fenwick, 1994:9).

Wanneer molestering en seksuele misbruik in tienerverhale voorkom, moet dit met groot omsigtigheid hanteer word. Polese (1989:86-87) beveel aan dat so 'n verhaal vanuit die tiener se perspektief vertel moet word sodat die negatiewe emosies wat die karakter ervaar, soos skuldgevoelens, selfhaat, die effek van die verbreking van vertroue in 'n ouer of ander volwassene, emosionele isolasie en hartseer aan die tienerleser duidelik word sonder om in die sensasionele te verval.

Hierdie vereiste sluit ten nouste aan by tieners se behoefte aan inligting oor die opbou van verhoudings tussen die geslagte, en dit vind aansluiting by Havighurst se ontwikkelingstaak waarin tieners moet leer om meer volwasse verhoudings aan te knoop waar die gevoelens van ander mense 'n belangrike rol speel.

4.3.3 Beskrywing van seksuele gedrag

Tieners hou daarvan om lewendige en realistiese beskrywings van seksuele aktiwiteite te lees om hul nuuskierigheid te bevredig (Nilsen & Donelson, 1993:132), aangesien die verloop van verhoudings tussen die geslagte een van tieners se leesbehoeftes is. Hierdie beskrywings dien enersyds om seksuele spanning te verlig en andersyds om die tienerleser in te lig oor die wyse waarop sekere aktiwiteite plaasvind, watter optrede geverg word en watter emosie daarmee gepaard gaan (Eiselen, 1993:48). Nilsen & Donelson (1993:135-136) sê verder dat alhoewel min tieners met negatiewe seksuele aspekte soos verkragting, molestering, homoseksualiteit en ernstige siektes in die werklike lewe gekonfronteer word, elke tiener insig verlang oor die morele en sosiale implikasies van seksuele eksperimentering, en of dit tot seksuele omgang gaan lei. Daar word min openlik oor seks gepraat, aangesien die samelewing dit steeds as 'n taboe onderwerp beskou, en daarom is dit vir tieners belangrik om te lees oor hoe seksuele gedrag plaasvind.

Hierdie vereiste vind aansluiting by verskeie van Havighurst se ontwikkelingstake, naamlik die smee van meer volwasse verhoudings met vriende, die effektiewe gebruik van die liggaam, en die begeerte tot sosiaal verantwoordelike en veilige gedrag.

4.3.4 Onbevooroordeeldheid

In die werklike lewe word tieners voortdurend met seksuele kwessies gekonfronteer en hulle moet leer om morele standpunte in te neem. Tienerlesers behoort daarom in tienerfiksie in aanraking te kom met 'n wye verskeidenheid aspekte rakende seksualiteit. 'n Skrywer moet nie 'n moraliserende en lerende houding inneem en maklike oplossings vir die protagonis verskaf nie, maar moet hom/haar die vryheid gee om self morele besluite te neem (Eiselen, 1993:48-49). Daaruit sal die tienerleser tot die besef kom dat hy self sy eie besluite moet neem.

Dit is belangrik dat tieners weet dat elke mens die verantwoordelikheid moet dra vir besluite rakende seksualiteit, en dat ander mense op ander maniere persoonlike en seksuele geluk kan vind wat nie noodwendig met hul eie oortuigings ooreenkom nie (Fenwick, 1994:8). Veral homoseksuele tieners ervaar baie wroeging oor hul seksualiteit, en dit vereis dat hierdie tema met openlikheid en sensitiwiteit hanteer word (Cart, 1999b:1810 ; Slayton & Vogel, 1986:8-10 ; Walker & Bauer, 1994:26-29).

Hierdie vereiste is veral belangrik vir die bereiking van Havighurst se ontwikkelingstaak rakende die verwerwing van persoonlike waardes, etiek en ideologieë. Tieners moet leer dat alle mense nie dieselfde waardes, etiek en ideologieë deel nie, en dat die ander persoon, met verskillende waardes, etiek en ideologieë, nie noodwendig daarom verkeerd of sleg is nie.

4.3.5 'n Wye leesspyskaart

Eiselen (1993:49) maak dit duidelik dat daar 'n verskeidenheid van onderwerpe en standpunte, al is dit kontroversieel, in tienerfiksie behoort voor te kom, aangesien dit alles dinge waarvan hulle kennis behoort te dra.. Sy sê voorts dat tieners kennis moet dra van alternatiewe seksvoorkeure (soos homoseksualiteit) en -praktyke (soos voorhuwelikse seks), sonder dat dit noodwendig goedgepraat of afgemaak word.

Moontlike nuwe oplossings vir moderne morele kwessies moet aan tieners gestel word aangesien tradisionele oplossings nie altyd meer geld nie (Eiselen 1993:49).

Hierdie vereiste vind ook weerklank in Havighurst se ontwikkelingstake want om volwasse verhoudinge met ander aan te knoop vereis dat 'n persoon kennis moet dra van ander se standpunte en praktyke en begrip daarvoor moet ontwikkel. Hierdie vereiste is ook belangrik om tieners behulpsaam te wees in die aanvaarding van 'n manlike of vroulike sosiale rol en die vorming van 'n eie seksuele identiteit. Dit dien ook as versterking of hulp by die vorming van persoonlike waardes, etiek en ideologieë. Op sy beurt sluit hierdie vereiste ook ten nouste aan by tieners se leesbehoeftes.

4.3.6 Realisme

Tieners wil graag die volle werklikheid van seksualiteit begryp, maar dit word dikwels in tienerfiksie verswyg. Dit verwar tieners en maak hulle juis nuuskierig oor seks. Eerlike, realistiese beskrywings bevredig tienerlesers se inligting- en leesbehoeftes, sonder dat dit noodwendig sensasioneel is (Eiselen, 1993:49). Fenwick (1994:9) sluit hierby aan, en noem verder dat tienerlesers van romanse hou, maar dat hulle moet leer dat 'n verhouding nie net uit romanse bestaan nie.

Temas soos homoseksualiteit, verkragting, die blywende psigologiese en emosionele skade as gevolg van seksuele misbruik, pre-puberteitsliefde, sensualiteit, eksperimentering met beide hetero- en homoseksuele seks ter bepaling van seksuele oriëntasie, en ouers se probleme met hul verhoudings word eksplisiet en openlik in internasionale tienerfiksie behandel (Ehriander, 1999:20; Schmidt- Dumont, 1994:14-15). Dit is ook nodig dat die gevare van VIGSbesmetting in realitiese tienerfiksie uitgewys word sodat tieners seksualiteit met verantwoordelikheid benader en dwelmgebruik vermy.

Hierdie vereiste voldoen aan al die leesbehoeftes van tienerlesers en dit sal tieners help in die bereiking van al die ontwikkelingstake van Havighurst aangesien die werklike wêreld aan tieners voorgehou word.

4.4 Gevolgtrekking

Die literatuurstudie in hierdie hoofstuk het die elemente vir die leserkundige evaluering van tienerfiksie geïdentifiseer. Leserkundiges en keurders is dit eens dat

die literêre elemente wat in alle verhale voorkom as basis vir die leserkundige evaluering van tienerfiksie gebruik kan word, mits dit van toepassing gemaak word op die beleweniswêreld van die tiener. Die vereistes vir die seksuele in tienerfiksie is spesifiek deur Eiselen opgestel met die behoeftes van tieners in gedagte.

Vir die empiriese evaluering van die teks van Slinger-slinger wat voorts gedoen word, word die bogenoemde elemente in 'n leserkundige evalueringsmodel saamgevat. Die model sal bestaan uit die verhaalelemente intrige, tema, karakterisering, vertelinstansie en perspektief, agtergrond (ruimte- en tydsbeelding), taalgebruik en skryfstyl, toegepas op tienerbehoeftes; en die vereistes vir die hantering van die seksuele in tienerfiksie (die weergee van die korrekte feite, beskrywing van gevoel en emosies, beskrywing van seksuele gedrag, onbevooroordeeldheid, 'n wye leesspyskaart, en realisme).

HOOFSTUK 5