• No results found

Leserkundige ontleding en evaluering van Francois Bloemhof se

5.2 Leserkundige evaluering van Francois Bloemhof se Slinger-slinger

5.2.1.2 Die liefdes en seksuele verhouding tussen Stephan en Lisa

Stephan sien Lisa die eerste keer op die 16de Desember, twee dae nadat hulle op Suikerstrand aangekom het. Hy sien haar net vir 'n paar sekondes, maar hy weet dat hy haar beter sal wil leer ken.

Sy eerste ontmoeting met haar verloop egter nie voorspoedig nie. Hy gaan eet by die restaurant waar sy werk, maar toe hy haar vra om haar weer te sien om met haar te gesels, jak sy hom af met: "Kak. Julle ouens dink net aan een ding." (p. 24). Stephan vertel Derek van die rampspoedige ontmoeting, en Derek bied aan om Stephan se saak te bevorder deur met Lisa te gaan praat (p. 27). Tienerlesers sal

hier met Stephan kan identifiseer aangesien meeste tieners probleme ervaar met verhoudings met, en selfbewus is teenoor die teenoorgestelde geslag.

Derek reël vir hulle 'n ontmoeting op die strand en Stephan besef gou dat hy verlief is op Lisa. Hy kom hier reeds agter dat sy nie 'n goeie verhouding met haar pa het nie, en dat sy voel dat haar toekoms uitsigloos is.

Wanneer Stephan na Lisa en haar pa, Koert Stassen, se vakansiehuis gaan om hulle vir ete te nooi, besef hy weereens dat haar verhouding met haar pa baie sleg is en dat sy bang is vir hom. Dit kom ook tydens die vleisbraai na vore as Lisa vir haar pa moet kos opskep. Koert Stassen hou haar boonop heeltyd onder oog, en toe hy gaan slaap, gaan sy sonder teëstribbeling saam. Dit blyk dus uit hierdie optrede dat Koert Stassen vir Lisa in die rol van sy vrou plaas soos dit later in die verhaal duidelik word.

Tydens Stephan se tweede besoek aan Lisa by die restaurant, soengroet sy hom. Hulle gesels 'n ruk lank omdat die bestuurder van die restaurant nie daar is nie. Lisa sê aan Stephan dat "[…] jy is mooi van binne" en "Jy weet nie wat dit vir my beteken dat 'n ou kan kom … en nét …." (p. 49). Sy begin besef dat Stephan nie net, soos ander, seksueel in haar belangstel nie, maar dat hy haar as mens wil leer ken, en sy hou daarvan.

Dwarsdeur die verhaal is daar seksuele ondertone in hul gesprekke en optredes omdat sy seuns/mans so ervaar en omdat Stephan seksueel tot haar aangetrokke is. Dit sluit by tieners se leesbelangstelling aan omdat seks 'n belangrike deel van hul lewens is.

Derek waarsku Stephan dat Lisa redelik losbandig is en deur die kinders beskinder word. Hoewel dit hom ontstel, besef hy dat hy haar desondanks beter wil leer ken en daarom ontmoet hulle mekaar by die dans in die stadsaal. Terwyl hulle dans, word hy seksueel so geprikkel dat hy 'n ereksie kry. Hulle gaan stap en Stephan onthou dat die Regop Slinger huisie se agterdeur nie behoorlik kan sluit nie, waarheen hulle dan gaan en mekaar liefkoos, en die eerste keer seks het. Stephan besef hier dat Lisa seksueel ervare is.

Die volgende dag, Kersdag, probeer Stephan vir Lisa te siene kry, maar sy en haar pa kom glad nie uit die vakansiehuis nie. Toe hy sien dat Koert Stassen die huis sluit

en ry, klim hy deur die oop kombuisvenster, loop verby die eerste kamer met 'n netjies opgemaakte bed, en kry vir Lisa nakend in haar bed. Nadat Lisa eers orale seks op Stephan toepas, het hulle seks nadat sy vir hom vra: "Laat my beter voel." (p. 73). Daarna vra sy hom kortaf om te gaan, en na 'n woordewisseling sê Lisa vir Stephan: "My pa is al jare lank my boy friend." (p. 75). 'n Erg geskokte Stephan vlug uit die huis uit. Dit is hieruit duidelik dat sy erg getraumatiseer is deur haar pa se optrede en dat sy probeer beter voel deur seks te hê.

Later dieselfde aand vra Stephan se ma dat hy die Stassens moet gaan vra of hulle saam wil vleisbraai. Toe hy daar kom, hoor hy dat Lisa en haar pa 'n woordewisseling het. Dit maak hom so woedend dat hy by die deur inbars en in 'n geveg met Lisa se pa betrokke raak. Later, tydens die vleisbraai, gesels Lisa en Stephan oor haar pa wat haar al jare lank molesteer. Sy erken dat sy nie die molestering wil aanmeld nie, omdat sy bang is dat sy in 'n kinderhuis gaan beland. Sodoende word dit aan lesers duidelik dat daar nie maklike oplossings vir seksuele misbruik is nie, en dat die oplossings soms die slagoffer nog meer traumatiseer. Die emosionele skade by Lisa word deur haar siniese, uitsiglose lewensuitkyk geïllustreer en dit laat lesers besef dat seksuele misbruik letsels laat wat veel dieper as die liggaamlike is.

Die 26ste Desember sou Stephan aan die fietswedren deelgeneem het, maar Koert Stassen het sy bande in weerwraak stukkend gesny sodat hy nie kan deelneem nie. Stephan vlug strand toe, waar hy nadink oor Lisa se situasie en begryp dat sy losbandig is om beter oor haarself te voel. Toe Lisa hom later op die strand kry, sê sy dat sy nie weer gaan toelaat dat haar pa haar molesteer nie. Die oorblywende paar dae kuier hulle openlik met mekaar. Wanneer Stephan vir Lisa kom groet met hul vertrek huis toe, laat hy haar belowe om oor die misbruik te praat, en iets aan die situasie te doen, waarop Lisa belowe dat sy met 'n simpatieke onderwyseres daaroor sal gaan praat.

Daar kom twee tipes konfliksituasies in die verhouding tussen Stephan en Lisa voor, naamlik innerlike en persoon-teen-persoon konflik. Stephan ervaar innerlike konflik wanneer hy besin oor sy seksualiteit en sy verhouding met Lisa. Hy ervaar konflik teenoor Koert Stassen wat vir Lisa seksueel misbruik. Die tienerleser ervaar saam met Stephan die onsekerhede wat sy ontluikende verhouding met Lisa in hom ontketen, asook die woede teenoor Koert Stassen wat sy eie dogter misbruik. Die skrywer tree nêrens didakties op nie, en lesers moet self standpunt inneem oor die

seksuele verhouding tussen Stephan en Lisa, en Lisa se seksuele molestering. Dit dwing die lesers om hieroor na te dink en te besluit hoe hulle in sekere situasies sou optree en hulle kan saam met die hoofkarakter tot 'n standpunt kom.

Die skrywer hanteer Lisa se molestering goed en hy gee nie maklike oplossings vir die moeilike probleem nie. 'n Leemte in die verhaal is dat daar nie by Lisa 'n katarsis plaasvind nie, en die leser kry 'n gevoel dat die misbruik, en haar losbandigheid, nie maklik sonder verdere ondersteuning gaan ophou nie. Hierdie indruk word versterk deurdat haar pa geen berou toon nie, en selfs Stephan wonder of die misbruik werklik gaan ophou (p. 92).

Regdeur die verhaal is daar 'n seksuele ondertoon in Stephan en Lisa se gesprekke en optrede. Stephan se seksuele aangetrokkenheid tot haar en hul seksuele verhouding sluit aan by dit wat ook in die tienerleser se lewe 'n belangrike rol speel.

Die uitbeelding van die liefdes- en seksuele verhouding tussen Stephan en Lisa slaag leserkundig omdat dit die vele fasette waaruit 'n verhouding bestaan, uitlig. Stephan voel wel seksueel aangetrokke tot Lisa, maar hy wil haar as mens beter leer ken deur met haar te gesels. Sodoende word daar aan tieners se leesbehoeftes rakende verhoudings, die vorming van waardes en die verskillende verhoudings binne die gesin, voldoen. Gevoelens en emosies in 'n ontwikkelende en seksuele verhouding, asook beskrywing van seksuele gedrag kom na vore in die beskrywing van Stephan en Lisa se verhouding. Hierdie elemente sluit aan by lesers se belangstelling in seksuele- en liefdesverhoudings.