• No results found

Tieners se ontwikkelingstake en leesbehoeftes

3.4 Realisme in tienerfiksie

3.4.4 Seksualiteit in realistiese tienerfiksie

Tienerfiksie is 'n ideale medium om 'n realistiese beeld omtrent seksualiteit aan tieners oor te dra. Soos alreeds bespreek in die afdelings oor Havighurst se ontwikkelingstake en die leesbehoeftes van tienerlesers, is aspekte rakende die self, die ontwikkelende liggaam en verhoudings baie belangrik vir tieners. Tieners het baie vrese, onsekerhede en vrae rondom hierdie aspekte.

Eiselen (1993:47-49) het in haar studie bevind dat tienerlesers tienerfiksie behoort te lees waarin die korrekte feite oor seks aan hulle oorgedra word, en dat seksuele gedrag genoegsaam beskryf moet word. Tieners behoort ook te lees oor die gevoelens en emosies wat die seksuele in mens kan ontketen sodat hulle hul eie gevoelens en vrese kan begryp en verwerk. Tienerlesers behoort 'n wye verskeidenheid van onderwerpe en standpunte rakende seksualiteit, wat sonder vooroordeel in tienerfiksie voorkom, te lees. Sodoende kan die volle realiteit van die seksuele aan tieners voorgestel word. Hierdie standpunt word ook deur Fenwick (1994:6-9), Farrell (1997:51) en Polese (1989:86-87) gehuldig.

Internasionaal is daar die tendens om baie openlik oor seksualiteit in tienerfiksie te skryf. Bjorn et al. (1994:16-19) noem dat daar in Deense kinder- en tienerfiksie geskryf word oor die seksdaad en hoe babas gemaak word; dat kinders die reg het om "Nee" te sê vir seksuele misbruik; menstruasie en tienerseksualiteit. In Swede word daar ook openlik oor seksuele aspekte soos die vrees vir 'n moontlike swangerskap en aborsie geskryf (Westin, 1996:42). In Noorweegse tienerfiksie kom etiese aspekte rondom die volwasse lewe en die soeke na 'n eie identiteit sterk na vore (Vold, 1999:25, 27).

In die bekroonde Australiese tienerboek van Kate Walker, Peter, word openlik oor 'n tienerseun se soeke na 'n seksuele identiteit geskryf en word 'n realistiese, onbevooroordeelde homoseksuele rolmodel geskep (Walker & Bauer, 1994:25-28). In Amerika word een uit elke drie tienerselfmoorde gepleeg omdat tieners vrees dat hulle kan homoseksueel wees en daarom is openlike, realistiese tienerfiksie oor homoseksualiteit nodig (Walker & Bauer, 1994:28-30). In Duitse tienerfiksie kom temas soos seksuele misbruik en die blywende sielkundige skade wat dit die slagoffers berokken, probleme om ontwikkelende en veranderende liggame te hanteer, veranderende geslagsrolle, karakters wat met homo- sowel as

heteroseksuele eksperimente probeer om 'n eie seksuele identiteit te bepaal, en die volle realiteit van VIGS voor (Schmidt-Dumont, 1994:112-15).

Wanneer daar na die veranderinge en temas in hedendaagse realistiese tienerfiksie gekyk word, word dit duidelik dat die temas aansluiting vind by huidige sosiale tendense, Havighurst se tienerontwikkelingstake, sowel as die leesbehoeftes van tieners. Hierdie tendense is ook in Afrikaanse tienerfiksie, soos Francois Bloemhof se Slinger-slinger, te bespeur.

3.4.5 Samevatting

Realistiese tienerfiksie sluit nou aan by tieners se leesbehoeftes en -belangstellings wat te doen het met die uitbeelding van hedendaagse tienerlewe en -probleme, soos groepsdruk, dwelm- en drankmisbruik, seksualiteit, VIGS, verkragting, homoseksualiteit, armoede, en geweld. Deur te lees oor die wyse waarop geloofwaardige tienerkarakters probleme oorkom, verkry tienerlesers groter insig sodat hulle soortgelyke probleme as dié waarvan hulle in tienerfiksie gelees het, makliker in die werklikheid sal kan hanteer.

3.5 Gevolgtrekking

Tieners het verskillende leesbebehoeftes gedurende die verskillende stadiums van hul ontwikkeling. Soos in hierdie hoofstuk aangedui, hou tieners se leesbehoeftes verband met hul ontwikkelingstake. Benewens die funksie van ontspanning dien realistiese tienerfiksie as 'n middel om tieners op die realiteite van die volwasse lewe voor te berei. Goeie realistiese tienerfiksie wys tieners daarop dat wanneer keuses in 'n spesifieke situasie gemaak is, die probleme daaromtrent nie noodwendig verdwyn nie, maar dat kennis hulle meer in beheer van die situasie plaas.

Die literatuurstudie in hierdie hoofstuk het oor die volgende aspekte gehandel: • tieners se eienskappe en ontwikkeling na volwassenheid deur die bereiking van

ontwikkelingstake;

• tieners se leesbehoeftes en die verband met hul ontwikkelingstake;

• die rol wat realistiese tienerfiksie speel om te voldoen aan tieners se leesbehoeftes, veral ten opsigte van die seksuele.

Tieners se ontwikkelingstake is om nuwe en meer volwasse verhoudings met vriende van dieselfde ouderdom van beide geslagte te bereik; om 'n manlike of vroulike sosiale rol te aanvaar; om hul fisiese voorkoms te aanvaar en hul liggame effektief te gebruik; om emosioneel onafhanklik van ouers en ander volwassenes te word; om voor te berei vir die huwelik en 'n gesin, sowel as vir 'n ekonomiese loopbaan; om persoonlike waardes, etiek en ideologieë te verwerf; en om sosiaal verantwoordelike gedrag te bereik.

Die drie basiese groepe leesbehoeftes van tieners, naamlik behoeftes wat te doen het met die self, met ander wat die self beïnvloed, en met 'n drang om nie-realistiese dimensies te verken, manifesteer in leesbelangstellings soos gesins-, liefdes- en rasseverhoudinge, seksualiteit, sosiale probleme, toekomsfantasieë en wetenskapsfiksie, en dit sluit aan by hul ontwikkelingstake. Fiksie wat aan die leesbehoeftes en -belangstellings van tieners voldoen, kan die bereiking van hul ontwikkelingstake stimuleer. Realistiese tienerfiksie kan in tieners se ontspannings- en inligtingsbehoeftes voldoen deur dié dinge wat hulle moet bemeester om volwasse te word, op 'n korrekte, interessante en plesierige wyse aan hulle te bied. Veral die seksuele aspekte wat redelik taboe vir geselskap of inligtingsoordrag is,

kan op dié wyse aanvaarbaar oorgedra word, soos dit ook wêreldwyd in tienerfiksie gedoen word.

Tieners lees fiksie vir ontspanning, ontvlugting en om inligting te kry. Hul leesbehoeftes en -belangstellings hang saam met hul ontwikkelingsvlak en ontwikkelingstake, en daarom is 'n grondige kennis hiervan nodig om 'n tienerboek leserkundig te kan evalueer; dit is noodsaaklik dat skrywers dit in ag neem wanneer daar vir tieners geskryf word; ouers, onderwysers, en bibliotekarisse moet die nodige kennis daaroor hê om boeke vir elke ontwikkelingsfase waardeur tieners gaan, voor te stel; en verder moet tienerlesers ook bewus gemaak word van die waarde van goeie fiksie vir ontspanning en inligtingverkryging.

Bogenoemde literatuurstudie, tesame met die verdere literatuurstudie om die elemente waarvolgens tienerfiksie evalueer word, te identifiseer, gaan in 'n evalueringsmodel vir tienerfiksie met seksualiteit as tema, vervat word.

HOOFSTUK 4