• No results found

Die voortgaande deurwerking van Kerkorde 1859 met betrekking tot die Algemene

Ondanks die aanvaarding van die Dordtse Kerkorde van 1618/1619 het die Algemene Vergaderings as meerdere vergaderings tot 1925 in die Suid-Afrikaanse Republiek, tot 1926 in die Kaapkolonie en tot 1946 in die Oranje Vrystaat byeengekom. In die

“Verzameling van de besluiten der Algemeene Vergadering van de Gereformeerde Gemeenten in de Kaapkolonie” wat in 1875 uitgegee is, word in Artikel 1 die volgende

gestel: “Is besloten door al de gemeenten, dat er jaarlijks eene Algemene Vergadering

zal gehouden worden, ...” (Gereformeerde Gemeenten in de Kaapkolonie, 1875:Artikel

1). Die kontinuering van ’n Algemene Kerkvergadering het ook by ander kerklike vergaderings beslag gekry.

Tydens die vier-en-twintigste Algemene Vergadering van die Gereformeerde Gemeentes in die Suid-Afrikaanse Republiek (Transvaal), gehou te Pretoria op 26

Oktober 1876, is die bepalinge van die Algemene Vergadering van die Gereformeerde Gemeentes in Transvaal goedgekeur (Gereformeerde Kerk in de Zuid Afrikaansche

Republiek, 1878:57). In artikel 1 word bepaal dat ’n Algemene Vergadering uit drie

afgevaardigdes van elke Kerkraad saamgestel sal word. Die Kerkorde van 1859 het toe nie meer bestaan nie, maar het nog steeds deurgewerk in die kerklike lewe. Hierdie Kerkorde het immers bepaal dat ’n algemene vergadering ’n meerdere vergadering is wat saamgestel word deur drie afgevaardigdes van elke Kerkraad (Artikel 34 van 1859- kerkorde: Bylaag A).

In 1876 besluit ook die Sesde Sinode van die Gereformeerde Kerk in Zuid Afrika om ’n

“Verzameling van de Algemeene Bepalingen der Synoden der Gereformeerde Kerk in Zuid Afrika” uit te gee. In artikel 32 word die Algemene Vergadering beskryf: “1. De Synode verklaart, dat onze Algemeene Vergaderingen in elk land voor als nog in zich vereenigen de werkzaamheden van anders Classicale en Provinciale Vergaderingen van welke onze Kerkorde spreekt.” (Gereformeerde Kerk in Zuid-Afrika, 1876:53.)

Volledigheidshalwe is daar nog ’n omskrywing van wat bedoel word met ’n Algemene Vergadering in die “Verzameling van de Bepalingen der Algemeene Vergadering van de

Gereformeerde Gemeenten in de Zuid Afrikaansche Republiek” wat in 1898 uitgegee is.

Artikel 1 bepaal die samestelling van die Algemene vergadering: “Besloten dat de

Algemeene Vergadering uit drie afgevaardigden van elken Kerkeraad samengesteld zal worden, en dat zij eens alle jaren gehouden zal worden op daarvoor bepaalden tijd en plaats.” (Gereformeerde Gemeenten in de Zuid Afrikaansche Republiek, 1898:5.)

Die notules van die eerste agt Algemene Vergaderings is te vind in die gesamentlike notuleboek van die Gereformeerde Kerk Rustenburg en die Algemene Vergaderings in die Suid-Afrikaanse Republiek. (GKSAA: Rustenburg, Notuleboek 1859-1863. 1.1.1.) Die negende Algemene Vergadering, gehou op 21 Oktober 1864 te Pretoria, begin met ’n nuwe notuleboek (GKSAA: Algemene Vergadering Transvaal, Notuleboek. 1.1.2) waarin net die notules van die Algemene Vergadering opgeneem word. Hierin volg numeries van die tiende tot die ses-en-sestigste notule van die Algemene Vergaderings van die Gereformeerde Kerke in hierdie gebied.

Die laaste Algemene Vergadering in die Transvaal vind plaas op 10 Januarie 1925, met die notule opskrif: “Notule van die 66ste Algemene Vergadering van die Gereformeerde Kerke in Transvaal in sitting te Middelburg op 10 Januarie 1925 en volgende dae.” (GKSAA: Algemene Vergadering Transvaal, Notuleboek. 1.1.5.) Die volgende notule in dieselfde notuleboek begin met die opskrif: “Notule van die 1ste Provinciale Sinode van die Gereformeerde Kerke in Transvaal in sitting te Pretoria op 16 Jan. 1926 en volgende dae.” Elke gemeente vaardig nog steeds af, maar die gemeentes is in die konstituering volgens klassisse ingedeel.

Op 10 Januarie 1925 word ’n besondere tydperk in die geskiedenis van kerklike vergaderings van die Gereformeerde Kerke noord van die Vaalrivier afgesluit. Die besondere betekenis en rol van hierdie kerklike vergadering, veral in die beginjare van die onderskeie gemeentes, behoort nagevors te word.

Maar genoeg. Ons gevolgtrekking is duidelik: Die Algemene Vergadering was nie ’n vergadering van wyke in ’n bepaalde land soos die Kaapkolonie of die Suid-Afrikaanse Republiek nie, maar is beskou as ’n meerdere vergadering van selfstandige gemeentes in die drie bepaalde state, naamlik die Suid-Afrikaanse Republiek, die Oranje Vrystaat en die Kaapkolonie. Op hierdie vergaderings is spesifieke sake hanteer wat nie op ’n Kerkraad se tafel tuishoort nie, asook sake wat van belang was vir die bepaalde land. Weereens is ons gevolgtrekking nie op een lyn met dié van Spoelstra nie. Hy skryf: “Die eerste ‘Algemene Vergaderinge’ was ’n verteenwoordigende kerkraadsvergadering van net een kerk of gemeente met kerkraadslede in ander regeringsdistrikte.” (Spoelstra,1963:172.)

Die begrip Algemene Kerkvergadering wat so diep inslag gehad het in die kerkregtelike taal en struktuur van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, verdien wel ’n kritiese aantekening. Dit is ’n begrip vreemd aan die gereformeerde konfessie en uitgangspunt. Daarom kan dit in die hand van veralgemening, misleiding of selfs misverstand speel. Dit het inderdaad gebeur. Die uitgangspunt dat naburige kerke met mekaar in ’n verband leef omdat Christus deur die Woord en Gees die verband versamelend,

beskermend en onderhoudend lê, gaan in die begrip Algemene kerkvergadering verlore. ’n Regstelling kom in die jare twintig van die 20ste eeu, toe ’n klassikale indeling vanweë ’n sinodale besluit kom (Acta, 1924: 47). Of hierdie uitgangspunt daarin gehuisves word, is ook ’n vraag wat aandring op kerkhistoriese ondersoek.

5.8 Samevatting

Die Eerste Algemene Kerkvergadering van die Gereformeerde Kerk in die Suid- Afrikaanse Republiek is gehou op 10 Februarie 1859. Die opskrif van die eerste Kerkorde wat op 10 Februarie 1859 goedgekeur is en wat in die 1859-1863 notuleboek van Rustenburg en die Algemene Vergadering voorkom, maak daarvan melding. Hierdie opskrif lui so: “Kerkorde voor de Gereformeerde Kerk in de Zuid Afrikaansche

Republiek, zooveel mogelijk gevolgd naar de Kerkorde der Synode, gehouden te Dordrecht, in Nederland, in de jaren 1618 en 1619. Aangenomen en vastgesteld in onze eerste algemeene kerkvergadering van heden den 10 Febr. 1859, gehouden te Rustenburg.” (GKSAA: Rustenburg, Notuleboek 1859-1863. 1.1.1.) Hierdie Kerkorde

het die samestelling van die Algemene Kerkvergadering as ’n meerdere vergadering bepaal. In die beredenering hierbo is aangedui hoedat die Algemene Kerkvergaderings ’n beduidende rol gespeel het in die ontwikkeling van die kerklike lewe van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die jare direk na 1859. In die Algemene Kerkvergadering het die 1859-Kerkorde homself gehandhaaf vir baie jare wat daarna sou kom. En, hierdie Kerkorde het nie voorsiening gemaak vir ’n saamgestelde oorkoepelende en algemene kerk, met vertakkinge in die distrikte nie. Hy het die Algemene Kerkvergadering laat saamstel uit plaaslike gemeentes, wat in eie reg geleef het. Daarom is die Kerkorde van 1859 een van die belangrike dokumente waarop hierdie studie sy argument grond dat die Gereformeerde Kerk Potchefstroom reeds voor 1863 ontstaan het. Soos in hierdie hoofstuk aangedui, is dit bevestig deur die eerste Sinodes.

104 Samevattend kom die ontwikkeling op die volgende neer:

 Op 12 Februarie 1859 is die grondslag gelê vir die ontstaan van nog twee gemeentes, naamlik bo en behalwe Rustenburg, ook Mooirivier/Potchefstroom en Pretoria.

 Op 16 April 1859 is drie gemeentes verteenwoordig op die tweede Algemene Kerkvergadering, naamlik Rustenburg, Mooirivier/Potchefstroom en Pretoria.  Op 21 November 1859, sowel as 19 Oktober 1860 is daar vier gemeentes:

Rustenburg, Mooirivier/Potchefstroom, Pretoria en Zoutpansberg.

 Op 21 September 1861 is die gemeentes Rustenburg, Mooirivier/Potchefstroom, Pretoria, Lydenburg, Zoutpansberg verteenwoordig en Waterberg is met verskoning afwesig.

Hierdie gemeentes vaardig dan ook, deur verkiesing, op 21 September 1861 afgevaardigdes af om die Sinode van 1862 te Reddersburg by te woon as afgevaardigdes van die gemeentes in die Suid-Afrikaanse Republiek.

Tot dusver is dikwels daarop gesinspeel dat ds. Postma in vele opsigte die rigting bepaal het. Dit is met name vergestalt in die Kerkorde wat hy in 1859 skryf. Gevolglik is dit van pas om ook dieper in te vra na sy kerkregtelike struktuur en begronding van hierdie Kerkordelike oortuigings. En, om dit in verband te bring met die ontstaan van die Gereformeerde Kerk Potchefstroom. In die volgende hoofstuk word dit onder die loep geneem.

HOOFSTUK 6

DIE KERKORDE VAN 1859

Vanuit die primêre bronne het hierdie studie tot dusver ’n perspektief op die belangrike kerkhistoriese gebeure tussen 1859 en 1863 beredeneer wat in werklikheid verskil van die gangbare menings soos uitgedruk in die kerklike historiografie. Die primêre bronne laat ons nie toe om die teologiese en ekklesiologiese ontwikkeling soos dit vergestalt is in die totstandkoming van ’n aantal plaaslike kerke en ’n verband van kerke wat in twee kerkvergaderings gekonkretiseer is, kerkisties uit te klaar as die stigting van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Ook nie om dit (ten minste tot 1862) te beskou as ’n kollegialistiese wegspring waarvan die skeefgroei eers by die aanvaarding van die Dordtse Kerkorde by Sinode 1862 reggetrek is nie. In die bestudering van die bronne is met voorbedagte rade weggestuur van ’n aanleun teen of benutting van sekondêre literatuur, juis vanweë die standpunte wat daarin aan die orde kom. Dit is standpunte wat nie vry geraak het van die tipiese polemiek en apologetiek eie aan die Afrikaanse kerkgeskiedskrywing van die 20ste eeu nie.

In die vorige hoofstukke is dikwels verwys na die 1859-Kerkorde wat op 10 Februarie 1859 aanvaar is. Hierdie Kerkorde het begeleidend gefunksioneer in die kerklike ontwikkeling wat sedert sy aanvaarding in die Suid-Afrikaanse Republiek beslag verkry het, toe die een na die ander plaaslike kerk ontstaan het. ’n Fundamentele beswaar teen die Kerkorde is dat dit in die hand van ’n kollegialistiese kerkbegrip gespeel het en ekklesiologies gevolg gegee het aan ’n algemene kerk waarvan die gemeentes in die distrikte deel gevorm het. Hierdie gevolgtrekking word deur die onderhawige navorsing nie gehandhaaf nie. Dit beteken egter nie dat die Kerkorde van 1859 hiermee as suiwer gereformeerd beskou word nie. Die ontstaan van plaaslike kerke in eie reg waarborg nog nie dat die Kerkorde vry gekom het van tydgenootlike en pragmatiese oorwegings wat ’n ekklesiologiese verskuiwing weg van Dordt veronderstel het nie. Dit was immers nie die Dordtse Kerkorde wat op 10 Februarie 1859 aanvaar is nie, maar ’n wysiging. Die teologies-kritiese vraag aan die Kerkorde van 1859 moet dus gevra word.

In hierdie hoofstuk word die Kerkorde van 1859 (Bylaag A) gevolglik geweeg. Dit is trouens die laaste belangrike primêre bron, omdat dit eweneens in verband staan met die ontstaan van Gereformeerde Kerk Potchefstroom. Hierdie weeg van die 1859- Kerkorde hang uiteraard saam met die teologiese en ekklesiologiese benadering en oortuigings van die opsteller daarvan.