• No results found

Die ontstaan van die Gereformeerde Kerk Waterberg

In die konteks van hierdie studie is dit noodsaaklik om vas te stel wanneer Waterberg as burgerlike distrik verklaar is. Die distrik het aanvanklik deel uitgemaak van die distrikte Zoutpansberg en Pretoria. (Martins, 1957:7). Volgens Martins (1957:7,8) sou die situasie eers in 1866 verander toe daar deur ’n aantal burgers ’n versoekskrif aan die regering gerig is om ’n landdros vir Waterberg te benoem. Een van die voorwaardes van die Uitvoerende Raad was dat die naam van die nuwe dorp Nylstroom moet wees, wat dan aangelê moet word op die plaas Rietvallei aan die Nylrivier. “Op 28

3

Die twee afgevaardigdes van Lydenburg was die latere ds. M.P.A. Coetsee en sy broer D.C.P. Coetsee. Ds. Coetsee se noemnaam was Petrus en daarom slegs die voorletter P. hierbo.

Maart 1866 is besluit om Nylstroom as ’n dorp in Waterberg te stig en Waterberg as distrik goed te keur en te kombineer met Piet Potgietersrust.” (Martins, 1957:8,9.) Maar, hoe het daar in hierdie distrik ’n gereformeerde kerk gekom?

4.3.1 Onsekerheid oor ontstaandatum van gemeente Waterberg

Soos reeds elders opgemerk is die eerste notule van Waterberg gedateer 31 Julie 1863. Venter (1947?:141) skryf: “Hoewel die gegewens uiters skaars is, tog kan dit met sekerheid geboekstaaf word, dat die Gemeente Waterberg vroeg in die jaar 1859 gestig is.” Venter (1947?:142,143) skets die kerklike gebeure van 26 Februarie 1859 toe sewe lidmate ingeskryf is by Krokodilrivier en maak dan die volgende gevolgtrekking: “Uit bestaande gegewens kom dit my dus voor asof die Gemeente Waterberg op die 26e Febr. 1859 ergens tussen Rustenburg en Waterberg aan die Krokodilrivier gestig is met bogenoemde vaders en moeders as die beginners van die gemeente.” Hierteenoor is ds. D.N. Kotze nie so seker oor ’n presiese datum van ontstaan nie: “Ek kon nie daarin slaag om iets raak te loop waaruit ’n mens met sekerheid kan vasstel waar en wanneer presies die gemeente WATERBERG gestig is nie.” (Kotze, 1953?:134,135.) Hoe moet hierdie uiteenlopende standpunte uitgepluis word?

Dit is noodsaaklik om daarop te wys dat ds. Dirk Postma volgens sy rapport aan die Sinodale Kommissie van die Christelik Afgeskeie Gereformeerde Kerk nie op 25 of 26 Februarie 1859 melding maak van die verkiesing en bevestiging van ouderlinge en diakens vir Waterberg nie (HUA: Nr. 75. Postma, 8 Junie 1859:17). Volgens die

Algemeen Lidmatenboek van de Gereformeerde Kerk in de Z.A. Republiek. No. 1 en 2

(GKSAA: Gereformeerde Kerk, Lidmatenboek 1859-1862: 3.1.1.) is daar op 26 Februarie 1859 sewe persone van Waterberg by Krokodilrivier, waaronder Zach. Jac. de Beer, ingeskryf. ’n Baie belangrike feit is dat die lidmate ingeskryf word as lidmate van Waterberg, distrik Pretoria. Daar is geen kerkregtelike gronde om 26 Februarie 1859 as die ontstaansdatum van gemeente Waterberg te aanvaar nie. Die beginsel staan egter vas dat waar God sy kerk vergader, moet daar ouderlinge verkies en bevestig word om te regeer (Nederlandse Geloofsbelydenis Art. 30).

4.3.2 Ouderling en diaken vir Waterberg

Met die besoek van ds. Dirk Postma in Augustus/September 1859 aan Waterberg is nog lidmate ingeskryf onder Waterberg, distrik Pretoria. Op 20 Augustus 1859 word 25 lidmate ingeskryf en op 17 September 1859 ’n verdere 12 lidmate (GKSAA:

Gereformeerde Kerk in de Z.A.R., Lidmatenboek 1859-1862. 3.1.1). Volgens die

dagboek van ds. Dirk Postma het hy op 21 Augustus 1859 ’n ouderling en diaken vir Waterberg bevestig (PV: Band 1:245). Die ouderling was J.A. Venter (PV: Band 1:249). Uit vergelykende gegewens was die diaken Zach de Beer, wat herinner aan die gebeure op 26 Februarie 1859 aan die Krokodilrivier. Die laaste inskrywing van lidmate van Waterberg, distrik Pretoria in bogenoemde lidmateboek is op 24 Mei 1862. Op hierdie datum word 6 lidmate ingeskryf.

Op die vierde Algemene Vergadering wat op 21 November 1859 plaasvind, is oudl. J.A. Venter en diaken Zach de Beer teenwoordig as afgevaardigdes van Pretoria. Met die Vyfde Algemene Vergadering op 19 Oktober 1860 is albei weer teenwoordig as afgevaardigdes van Pretoria (GKSAA: Rustenburg, Notuleboek 1859-1863. 1.1.1).

Op die Sesde Algemene Vergadering van 21 September 1861 vind ’n merkwaardige verandering plaas. Hier word Waterberg die eerste keer afsonderlik met die konstituering genoem. Hiervolgens was oudl. J.A. Venter met verskoning afwesig en diaken Z. de Beer sonder verskoning afwesig. Op die Sewende Algemene Vergadering gehou op 24 Desember 1862 is die afgevaardigdes van Waterberg oudl. G. Zwanepoel en diaken Z. de Beer teenwoordig (GKSAA: Rustenburg, Notuleboek 1859-1863. 1.1.1). Hieruit word afgelei dat tussen 21 September 1861 en 24 Desember 1862 ’n tweede ouderling vir Waterberg bevestig is.

Met die konstituering van die Sinode 1863 te Rustenburg was die volgende afgevaardigdes van Waterberg aanwesig: Ouderlinge. J.A. Venter, G. Zwanepoel en Z.J. de Beer (Acta 1863:6).

Volgens Martins (1957:3) was die vroegste inwoners van Waterberg grootwildjagters en het “gedurende die wintermaande op uitgebreide jagtogte na die ‘bosveld’ gegaan”. In artikel 4 van die geslote vergadering te Rustenburg op 6 Julie 1861, kom die volgende voor: “Wordt door den kerkeraad toegestaan, dat de Leeraar ook een Zondag naar het

bosch veld zal gaan prediken, naardien daar vele menschen van onze gemeente zijn en de kommandant P. Kruger het bepaald heeft verzoekt.” (GKSAA: Rustenburg,

Notuleboek 1859-1863: 1.1.1.) Het hierdie opmerking iets te doen met die bediening van die Woord in Waterberg? Gee dit nie dalk ’n antwoord waarom Waterberg vir die eerste keer afsonderlik eers met die konstituering van die Algemene Vergadering op 21 September 1861 genoem word nie?

Die volgende merkwaardige inskrywing voor in die lidmateboek van die Gereformeerde Waterberg gee aanduiding dat die gemeente wel voor Januarie 1863 ontstaan het. Die “voorwoord” is geskryf deur ds. Dirk Postma self: “Lidmatenboek van de Gereformeerde

gemeente van Waterberg. Nota bene! Allen die vóór Januarij 1863 bij deze gemeente lidmaten zijn geworden, staan ingeschreven in het Algemeen Lidmatenboek der Gereformeerde Kerk in de Z.A. Republiek, welk boek is gedeponeerd bij den Leeraar of kerkeraad dier gemeente te Rustenburg. D.Postma v.d.m.” (GKSAA: Waterberg, Lidmatenboek 1863. 3.1.1.)

4.3.3 Beoordeling van bogenoemde gegewens

Die bevestiging van ’n ouderling en diaken op 21 Augustus 1859 in Waterberg omgewing kan nie as finale bewys vir die ontstaan van ’n gemeente dien nie. As dit wel die bewys van die ontstaan van ’n gemeente is, moet ons die bevestiging van ouderlinge en diakens in die wyke van distrikte Mooirivier/Potchefstroom (Gatsrand en Schoonspruit) en Pretoria (Pienaarsrivier, Kliprivier, Apierivier en Krokodilrivier) as die ontstaan van verskillende gemeentes beskou.

In hierdie studie is die rol van die Algemene Vergadering as ’n meerdere vergadering onteenseglik aangetoon. Soos hierbo opgemerk, is Waterberg se ouderling en diaken

op die Algemene Vergaderings van 21 November 1859 en 19 Oktober 1860 teenwoordig as afgevaardigdes van Pretoria, net soos die ouderlinge van wyke Pienaarsrivier en Krokodilrivier as afgevaardigdes van Pretoria teenwoordig was. Op hierdie stadium was Waterberg nog nie ’n distrik nie, maar het deel uitgemaak van die distrikte Zoutpansberg en Pretoria (Martins, 1957:7).

Dit gee nie ’n presiese antwoord op die vraag na die ontstaan van gemeente Waterberg nie, maar gee wel sekere aanduidings wat rigtinggewend mag wees, naamlik:

 Gemeente Waterberg het ontstaan voor die proklamering in 1866 van die distrik Waterberg.

 Gemeente Waterberg het wel voor Januarie 1863 ontstaan en het as gemeente afgevaardigdes na Sinode 1863 gestuur.

 Volgens die konstituering van die Algemene Vergaderings was Waterberg nog deel van distrik (gemeente) Pretoria tot ten minste 19 Oktober 1860.

 Op 21 September 1861 word Waterberg afsonderlik genoem op die Algemene Kerkvergadering. Alhoewel hulle wel genoem, maar nie op 21 September 1861 teenwoordig was nie, is twee afgevaardigdes op die volgende Algemene Vergadering van 24 Desember 1862 teenwoordig.

Die enigste gevolgtrekking waartoe ons kan kom, is dat dit beslis betwyfel moet word dat die Gereformeerde Kerk Waterberg in 1859 ontstaan het. Die waarskynlikheid dat die gemeente tussen Oktober 1860 en September 1861 ontstaan het, is meer aanvaarbaar. Dit kan wel aangeneem word dat die Gereformeerde Kerk Waterberg, as selfstandige gemeente, se afgevaardigdes (volgens artikel 28 van die 1859-Kerkorde) die Algemene Vergadering op 24 Desember 1862 bywoon.

Vervolgens verskuif die blik na die ontstaan van die gemeente Lydenburg.