• No results found

Aan die Algemene Kerkvergadering te Rustenburg op 10 Februarie 1859 hou ds. Postma ‘n Kerkorde voor. Die inskrywing in sy dagboek op 5 Januarie 1859 gee aan hierdie Kerkorde ’n datum van ontstaan: “...zoo heb ik dezen dag maar eerst eene

kerkorde ontworpen, zoo veel mogelijk de Dordsche van 1618 1619 gevolgd, gewijsigd

naar den toestand van dit land.” (PV: Band 1:188.) Hierdie opmerking in die dagboek

stem ooreen met die wens van die 15 lidmate wat op 12 Januarie 1859 gemeenskap met die Nederduitsch Hervormde Kerk opgesê het. In die skrywe aan die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk wil hulle “... wenschen te

bestaan als eene Vrije Gereformeerde Kerk, overeenkomstig de leer, tucht en dienst der vaderen, zooals die zich te Dordrecht, in de jaren 1618 en 1619 hebben geopenbaard, in hunne Nationale Synode, de Kerkorde gewijzigd naar dat onze tegenwoordige omstandigheden het verorderen” (Gereformeerde Kerk in de Zuid Afrikaansche Republiek, 1878:11). Dit kan aanvaar word dat ds. Dirk Postma met die

opstel van die 1859-Kerkorde, die betrokke lidmate geraadpleeg het oor die formulering van die Kerkorde. By die eerste Algemene Kerkvergadering op 10 Februarie 1859 is dit met algemene stemme aanvaar.

Hoe is van buite oor hierdie Kerkorde geoordeel? Die vroegste beoordeling kom uit die geledere van die Nederduitsch Hervormde Kerk. Die Algemene Kerkvergadering van hierdie kerk, in sitting aan die einde van April 1859 op Potchefstroom, gee uitvoerig aandag aan die Kerkorde en kom tot die volgende besluit:

“1. Dat niet één art. van de kerkorde van Ds Postma letterlijk overeenkomt met de Dordsche Kerkorde. 2. dat slechts 4 of 5 artt. in de hoofdzaak overeenstemmen. 3. dat vele artikelen geheel gewysigd, veranderd of saamgetrokken, terwijl andere weer weggelaten of ingevoegd zijn, zoodat de kerkorde van Ds Postma slechts 65 art. bevat en de Dordsche Kerkorde 86 artt.” (NHKA: Notule Algemene Kerkvergadering 26 April

1859 te Potchefstroom.)

Hierdie beoordeling staan in die konteks van die taak van ’n kommissie van genoemde kerkvergadering om saam met die Uitvoerende Raad van die Suid-Afrikaanse Republiek te Potchefstroom op 26 April 1859 vas te stel of die Gereformeerde Kerk in die Suid-Afrikaanse Republiek aan die vereistes van die grondwet voldoen. Hierdie ondersoek was na aanleiding van die kennisgewing op 12 Februarie 1859 aan die Uitvoerende Raad van die stigting van die Gereformeerde Kerk in die Suid-Afrikaanse

Republiek (NHKA: Notule Algemene Kerkvergadering 26 April 1859 te Potchefstroom). In die verband skryf Scholtz (1956:158,159): “Hoewel die kommissie gerapporteer het dat ‘niet ééne art. van de kerkorde van Ds. Postma letterlijk overeenkomt met de

Dordtsche kerkorde’, so het die vergadering nogtans die volgende besluit aangeneem: ‘Daar de leer eener kerk uitgedrukt en gekend wordt uit hare belijdenisschriften, zoo verklaart de vergadering dat de kerk, die tot belijdenis heeft de Nederlandsche geloofsbelijdenis, den Heidelbergschen Catechismus en de Dordtsche leerregels, zooals die door de Nationale Synode te Dordrecht in 1618 en 1619 zijn vast gesteld, gewoonlijk genoemd, ‘De formulieren van eenigheid’, voldoet aan de vereischten van art. 20 der grondwet.”

Vanuit Nederland is die optrede van ds. Postma om ’n gewysigde Kerkorde op te stel baie sterk gekritiseer. Dit hang sekerlik daarmee saam dat hulle die plaaslike situasie nie goed begryp het nie en dat die aanvaarding van ’n Kerkorde die instituering van ’n kerkgemeenskap geïmpliseer het, wat nie binne die opdrag van Postma geval het nie. Daarbenewens het ’n gewysigde Kerkorde kerklike gemeenskap met Nederland nie aanbeveel nie. Die Sinode van die Christelik Afgeskeie Gereformeerde Kerk het in 1860, art. 123 (Christelijk Afgescheidene Gereformeerde Kerk. Algemene Synode, 1984:782), dus die optrede om ’n gewysigde Kerkorde op te stel sonder om die Sinode of die Sinodale Kommissie daarin te ken, afgekeur. Ds. Dirk Postma ontvang ook ’n reguit brief, vermoedelik einde 1860, van die Sinodale Kommissie waarin, sonder om doekies om te draai, geëis word dat hy moet afsien van die gewysigde Kerkorde (PV: Band 8/2. Dok. 377:244).

Tydens die plaaslike Sinode van 1862 op Reddersburg is daar ook ’n lang bespreking oor die gewysigde Kerkorde van 1859. “Ds. J. Beyer erkende wel, dat de gewijzigde

Kerkorde niet van de Dordtsche Kerkorde afweek; doch wilde toch de gewijzigde Kerkorde niet aannemen.” (Cachet, 1909:56.) Dit is dus duidelik dat die Kerkorde van

1859, gewysig was, en nie net aangepas is by die landsomstandighede nie. Vyftig jaar later merk Cachet (1909:45) op: “ ... Het is waar, dat sommige artikelen, die onmogelijk

alhier konden uitgevoerd worden, gewijzigd waren, vooral ook omdat men hier sterk

tegen eenige staatsinmenging was, maar in geen enkel kardinaal punt was men van Dordrecht afgeweken.”

In die nakomende wetenskaplike bestudering van die geskiedenis het die twee lyne van beoordeling hulleself gevestig. Krüger (1957:220) merk byvoorbeeld op: “Hierdie gewysigde Kerkorde deur ds. Postma opgestel, wyk egter nie af van die kerkregtelike beginsels van Dordrecht nie maar is slegs gewysig na landsomstandighede.” Spoelstra (1963:185) weer, hou vol: “Hoewel dit nie so bedoel was nie, het hierdie Postma- Kerkorde afgewyk van die Dordtse.” In 1979 kom Snyman (1979:13,14) tot die volgende gevolgtrekkings:

“ 1. Ten spyte van die buitengewone omstandighede, die gevestigde kerklike gebruike, en die gebreke in sy kerkregtelike beskouings, het Postma met sy Kerkorde gepoog om terug te keer na die Gereformeerde Kerkregering soos dit sy neerslag gevind het in die DKO.

2. Tog kan die PKO nie sonder meer ’n DKO genoem word nie, omrede van verskeie formele en inhoudelike verskille.

3. Daar is egter ook groot en belangrike ooreenkomste tussen die twee Kerkordes, sodat Postma s’n ook nie heeltemaal los- of verskillend van die Dordtse gereken kan word nie.”

Hoe moet die twee lyne van beoordeling verreken word? Om mee te begin onderskat Pont die primêre bronne. Hy skryf: “Die enigste punt van verskil in die begin was die sing van die Gesange in die godsdiensoefening. Oor die leer of orde van die kerk is nié gehandel nie.” (Pont, 1978:270.) Aan die anderkant moet die bronne ook nie oorskat word in die sin dat daaruit uitgebeeld word as sou die daad van Postma hier ’n terugkeer na die vrome vaders, na Dordt 1618/1619 sou wees nie (sien bv. Van der Vyver, 1958:141-145). Met die mening van Spoelstra (1963:172) dat hierdie Kerkorde meegedoen het aan ’n ‘kollegialistiese omvorming’ van die Rustenburg kerk tot ’n algemene kerk, moet ook versigtig omgegaan word. Die beste is natuurlik om die Kerkorde self te beoordeel. Dit word in die argumentasie van hierdie studie juis hier

gedoen, omdat die ekklesiologiese struktuur en ontwikkeling waaraan die Kerkorde gevolg gegee het, reeds nagegaan is. Sy deurwerking in die kerkgeskiedenis as werklikheid is ’n belangrike meetsnoer in hierdie verband.