• No results found

6.4 Beoordeling van die Kerkorde van 1859

6.4.1 Ooreenkomste met die Dordtse Kerkorde

Die Kerkorde van 1859 stel die dienste eerste. Die kerk is nie die beginpunt of vertrekpunt nie. Hier verskil die 1859-Kerkorde radikaal van die wette en bepalinge van die Nederduitsch Hervormde Kerk wat in die eerste artikel die algemene vergadering as vertrekpunt neem (Nederduitsch Hervormde Kerk, 1904:3). Van der Linde maak dit duidelik dat die kerkregering presbiteriaal is as “Christus sy Koningskap in die kerkregering verwerklik deur die presbiters of ouderlinge.” (Van der Linde, 1965:94.) Hy sê verder: “Die kerkraad bestaan dus uit ouderlinge en predikante.” (Van der Linde, 1965:97.) Spoelsta (1989:17) skryf: “Presbiteriale kerkregering verwys na ouderlinge wat primêr individueel en sekondêr gesamentlik vir die gemeente sorg dra.”

Die omskrywing van die sake wat in Artikel 25 van die 1859-Kerkorde op ’n Algemene Kerkvergadering as meerdere vergadering behandel word, verskil baie duidelik van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika se siening van die gesag van die Algemene kerkvergadering, naamlik: “Art. 1. Het hoogste bestuurder der Nederduitsch Hervormde

Kerk berust bij de Algemeene Kerkvergadering” (Nederduitsch Hervormde Kerk,

1904:5, sien ook die beoordeling van S. du Toit 1945:127.)

In die Kort Voorberigt tot die Kerkorde van 1859 (Bylaag A) teken ds. Dirk Postma ’n fundamentele uitgangspunt aan, naamlik dat die Gereformeerde kerkregering in alles getoets moet word of dit ooreenstem met God se Woord en dat menslike opvattinge nie met goddelike verordeninge verwar word nie. Snyman (1979:20) kom tot die volgende konklusie: “Alhoewel Postma ten opsigte van die mag van die meerdere vergaderings na die kollegialisme neig, ontkom hy tog aan die gevare daaraan verbonde deur ten

volle die hoogste gesag van Gods Woord in die kerklike samekomste te erken, soos blyk uit artikel 26 van sy Kerkorde.” In die praktyk sal dit beteken dat daar geen heerskappy deur stemming (meerderheidstem) behoort te wees nie, maar mutuo

consensu. “Die kerklike vergaderings regeer nie van bo af nie. Kerklike mag is nie

dwingend nie maar oorredend.” (Van der Walt, 1976:143.)

In Artikel 32 van die 1859-Kerkorde word duidelik bepaal dat ’n kerkraad bestaan uit predikant(e) en ouderlinge, wat juis dui op ’n presbiteriale kerkregtelike beskouing by ds. Dirk Postma. Artikel 32 bepaal: “In elke gemeente zal een kerkeraad zijn, bestaande

uit de dienaren des Woords en ouderlingen.” Hierdie opvatting kom duidelik na vore in

die afskeidsrede te Zwolle deur ds. Dirk Postma, wat hy op 21 Maart 1858 lewer. Daarin maak hy onderskeid tussen “Den Kerkeraad en Diakenen ...” (Postma, 1905:28).

Bogenoemde stem ooreen met artikel 37 van die Dordtse Kerkorde. Die verdere bepaling in artikel 32 van die 1859-Kerkorde dat diakens ook teenwoordig moet wees by die kerkraadsvergadering, maar sonder beslissende stem, kan vertolk word as ’n samevoeging van Artikels 37 en 38 van die Dordtse Kerkorde. Artikel 38 van die Dordtse Kerkorde bepaal dat diakens by die kerkraad gereken moet word as die aantal ouderlinge klein is. Hierdie artikel verskil van die Nederduitsch Hervormde Kerk daarin dat die kerkraad uit die predikant, ouderlinge en diakens van die gemeente bestaan soos dit uit die volgende blyk: “Art. 1. De kerkeraden der gemeenten bestaan uit de

predikanten, de ouderlingen en de diakenen der gemeenten.” (Nederduitsch Hervormde

Kerk, 1904:8.)

’n Verdere ooreenkoms met die Dordtse Kerkorde, Artikel 35, is die beskouing oor kerkvergaderings in Artikel 30 van die Kerkorde van 1859, wat handel oor die voorsitter van ’n meerdere vergadering. “.... Het ambt van den Praeses eindigt met de sluiting

van de vergadering.” (Kerkorde 1859, Artikel 30.) Hiermee word ’n belangrike beginsel

gestel, naamlik dat meerdere vergaderings nie permanente strukture is nie. Die wyse waarop dit toegepas is met die eerste en tweede Sinode, 1862 en 1863, is ook belangrik. Ds. Dirk Postma was die voorsitter by die Sinode van 1862 en ds. J. Beijer

die voorsitter by Sinode 1863. Smit (1984:126) beklemtoon hierdie belangrike beginsel so sterk dat hy die volgende skryf: “Verder realiseer Christus se Koningskap uitdruklik in die wisseling van die presidium van die meerdere vergaderinge (artikel 41), ...”. In hierdie verband is Spoelstra (1989:251) ewe uitdruklik: “Hierdie artikel bepaal verder dat dieselfde predikant nie twee agtereenvolgende klassisse mag lei nie. Dit sny die wêreldse praktyk (Lk 22:24,25) om aan voorsitters besondere regeermag oor ander toe te skryf, af (kyk artt 35,84). Die Kerkorde wil so veel as moontlik vermy dat mense oor die kerk van Christus sal regeer (Pont 1981:150).”

Artikel 55 van die 1859-Kerkorde stel: “In de openbare godsdienstoefening zullen alleen

gezongen worden de Psalmen en Gezangen, waarvan de tekst in den Bijbel gevonden wordt en zoo als zij in 1773 in Nederland op rijm zijn gebracht. De anderen, die bij diezelfde berijming gevoegd zijn, worden in de vrijheid der Leeraren gelaten” (Kerkorde

1859, Artikel 55). Die artikel is ’n redelike vrye weergawe van die Dordtse Kerkorde, artikel 69. Die verskil met die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika ten opsigte van die sing van gesange is duidelik in artikel 55 van die 1859-Kerkorde. Du Plessis som dit so op: “Hier staan dus, wat die Gesange betref, twee beginsels teenoor mekaar. Die een handhaaf die Gesange as ‘Christelik Gereformeerd’, die ander verwerp hulle omdat hulle nie ‘Christelik Gereformeerd’ is nie. Die een wil die vrye lied in die kerk hê, die ander wil in die openbare erediens die beginsel van Dordrecht gehandhaaf sien.” (Du Plessis,1925:54.)

Ten opsigte van die rol van die staat en die versorging van predikante, verskil ds. Dirk Postma ook van die standpunt van die Nederduitsch Hervormde Kerk. Op die vergadering van 26 April 1859 te Potchefstroom waar die saak van hereniging bespreek is, konstateer ds. Dirk Postma dat hy oordeel dat die kerkraad die versorging van die leraar moet behartig (NHKA: Notule Kerkvergadering te Potchefstroom 26 April 1859 en volgende dagen:74). Hierdie beskouing was in teenstelling met die praktyk in die staatskerk dat die versorging van die predikante die verantwoordelikheid van die staat was. Ds. Dirk Postma was baie sterk gekant teen enige staatsinmenging (Cachet, 1909:45). “In hierdie saak het Postma ’n besondere suiwer siening gehad. Waar selfs

die Dordtse sinode nog te veel toegewings aan die staat gemaak het (Bouwman 1928, p. 311), het Postma vasgestaan op die beginsel: geen staatsinmenging in die kerk nie. Hy het dan ook alle stipulasies van die DKO wat staatsinmenging in die kerk toegelaat het, uit sy Kerkorde weggelaat.” (Snyman, 1979:29.) “Hierdie standpunte van Postma oor die verhouding kerk-staat is in lyn met wat die Skrif hieroor leer.” (Snyman, 1979:30.)

Artikel 63 van die 1859-Kerkorde bepaal: “Geene gemeente zal over andere

gemeenten, geen dienaar over andere dienaren, geen ouderling of diaken over andere ouderlingen of diakenen eenige heerschappij voeren.” Hierdie artikel kom byna

woordeliks ooreen met artikel 84 van die Dordtse Kerkorde. Hierdie uiters belangrike beginsel in die presbiteriale kerkreg van die gelykheid van kerke en dienste, word die

“canon aureus van dié kerkorde genoem” (Van der Walt, 1976:148). Met hierdie artikel

in die 1859-Kerkorde en die Dordtse Kerkorde word elke vorm van hiërargie verwerp.