• No results found

6.4 Beoordeling van die Kerkorde van 1859

6.4.2 Verskille met die Dordtse Kerkorde 1618/1619

Die 1859-Kerkorde dra ’n tydelike karakter. Artikel 24 stipuleer dat daar net twee kerklike vergaderings sal wees, omdat die gemeentes nog min is. Hier word nie soos in die Dordtse Kerkorde voorsiening gemaak vir ’n klassis en ’n Sinode nie, ook nie hoe die afvaardiging gereël word nie. Dit dra later by tot die verwarring in afvaardiging na die Sinode 1862 wanneer ds. Dirk Postma volgens die wyse wat in Nederland gebruik was, afgevaardigdes op die Sesde Algemene Vergadering van 21 September 1861 laat verkies, terwyl ds. J. Beijer met ses ouderlinge en ses diakens van Reddersburg by die Sinode opdaag en moontlik met sy advies ook byna al die ouderlinge en diakens van Colesberg, Middelburg en Burgersdorp opdaag.

Artikel 44 en 50 wat doopgeld en lidmaatskapgeld bepaal, is werklik vreemd en sodanige bepalinge hoort nie tuis in ’n Kerkorde nie. Dit is in aansluiting by ’n Kaapse tradisie wat teruggaan op die tyd toe staatstoelaes verantwoordelik was vir die versorging van die predikant en hierdie soort ‘gelde’ dan aanvullend aangewend kon

word. Dit is aanduiding van ’n genootskaplike kerkbegrip, waarin die genootskap heffinge maak ter wille van sy funksionering. Sodanige bepaling in ’n Kerkorde is uiters gevaarlik en kan daartoe lei dat die Kerkorde in ’n kerkwet verander. Dit gebeur dan ook tydens die twaalfde Algemene Vergadering van die Gereformeerde Kerk in die Suid-Afrikaanse Republiek te Pretoria op 4 Oktober 1867. In artikel 2 (GKSAA: Algemene Vergadering Transvaal 1864-1904. 1.1.2) word gehandel oor ’n br. Heystek wat weier om sy kind te laat doop, omdat die kerkraad van Rustenburg doopgeld vra. Hy voer aan dat dit neerkom op simonie. Die advies van die Algemene Vergadering is dat voortgegaan word met vermaning, en by volharding, kerklike tug. Dan volg die skokkende besluit dat die vergadering by voorbaat met leedwese toestemming gee tot afsnyding. Ds. Dirk Postma is op hierdie stadium predikant van Burgersdorp (vanaf 1866), maar hy kan nie totaal verontskuldig word vir bogenoemde skokkende besluit nie.

Artikel 35 bepaal dat die oud-ouderlinge en oud-diakens tot die breë kerkraad behoort. Teenoor die sterk presbiteriale standpunt in artikel 32 dat ’n kerkraad uit ouderlinge en predikant(e) bestaan, wyk die samestelling van die breë kerkraad in hierdie opsig af van die Dordtse Kerkorde. Dit is ook in aansluiting by ’n Kaapse tradisie.

6.5 Samevatting

Die Kerkorde van 1859 huisves ’n ambivalensie. Dit is in meer as een opsig duidelik. Die dokument self gee in meer as een opsig blyke van ’n samestelling, eerder as ’n

gemeenskaplike erkenning en ontvangs van die orde waarmee Christus die gemeente

in die eenheid van die ware geloof vergader, beskerm en onderhou (Heidelbergse Kategismus Antwoord 54). In ons analise is ’n aantal artikels aangedui wat ooreenkom met die gees en formulering van die Dordtse Kerkorde. In hierdie sin stam dit uit ’n Nederlandse gereformeerde boom. Aan die ander kant is daar artikels wat uit ’n plaaslike tradisie kom en wat ’n ander manier van dink oor die kerk verteenwoordig. In alle eerlikheid gaan dit hierin nie om ’n gewysigde Dordtse Kerkorde nie, maar om die akkommodering van oortuigings wat aansluit by ’n genootskaplike kerkbegrip. Die

121 Kaaps-Hollandse kerk het juis aan homself in genootskaplike terme gedink en hom ook as sulks vroeg in die 19de eeu geïdentifiseer.

Hierdie ambivalensie, die klim in twee bome tegelyk, het die uiteenlopende beoordeling in die latere kerkhistoriografie in die hand gewerk. Ook dit was aanleiding daarvoor dat die gebeure tussen 1859 en 1863 so verskillend geïnterpreteer word. Op beide is vroeër in die studie reeds gewys. In ons beoordeling het ons die Kort Voorberigt van Postma ook laat aanspraak maak op oorweging. Daarin het hy sy siening van die wese van ’n Kerkorde, sowel as die manier waarop dit geïnterpreteer en bedien moet word, kortliks verwoord. Dit word bedienend vergestalt in ’n samehang, waarin die Skrif, wat hom laat bedien deur die Heilige Gees, in belydenis en orde geld. Hieruit is dit duidelik dat ds. Postma hom laat lei deur ’n gereformeerde oortuiging, ook toe die een plaaslike kerk na die ander na Februarie 1859 hulself (ook Gereformeerde Kerk Potchefstroom) in terme van die teologiese uitgangspunt van hierdie orde aangekondig het. Immers, ouderlinge het voorgegaan in ’n bediening vanuit die Woord.

Die kritiese analise van die 1859-Kerkorde, het inderdaad die sentrale argument van hierdie studie onderstreep. Die 1859-Kerkorde, opgestel deur ds. Dirk Postma, was gereformeerd genoeg om plaaslike kerke tot hulleself te laat kom. In die volgende hoofstuk kom die laaste aspek van die sentrale argument aan die orde. Dit gaan op die kerkbegrip van ds. Postma in. Moet ons aanvaar dat hy vanuit die algemene kerk gedink en gewerk het gedurende die eerste jare van sy bediening? Hy word immers daarvan verdink.

HOOFSTUK 7

DIE GANGBARE KERKBEGRIP

In hierdie hoofstuk word nog op een saak ingegaan wat in die primêre bronne na verantwoording en behandeling vra. Dit handel naamlik oor die kerkbegrip wat daarin na vore kom en met name word op dié van ds. Dirk Postma gefokus.

Wat bring die bronne aan die lig? Dikwels word gepraat van die stigting van ’n kerk of gemeente. Wat word hiermee bedoel? Speel hierdie soort tipering van wat gebeur nie in die hand van ’n genootskaplike kerkbegrip nie? Dit is immers nie die taal wat in die Belydenisskrifte, waaruit die gebeure wat in 10-14 Februarie 1859 ontspring, in doelbewuste verband staan nie. Om kerke te vergader, soos daarvan in die Dordtse Kerkorde (Artikel 7) gepraat word, is teologies en ekklesiologies tog eerder ’n begrip wat korreleer met die manier waarop Christus vir Hom, deur die Woord en Gees ’n gemeente vergader, onderhou en beskerm (Heidelbergse Kategismus Antwoord 54). Dit is dus ’n doelbewuste keuse in hierdie studie om nie die stigting nie, maar die ontstaan van Gereformeerde Kerk Potchefstroom na te vors. Met die begrip ontstaan word gepoog om meer klem te lê op dit wat Christus doen, naamlik om sy kerk/gemeente te

vergader. Maar die term, kerke vergader, is afwesig in die primêre bronne. Beteken dit

nou ook dat die saak afwesig was en dat daar dus naas die staatsondersteunde kerklike genootskap (die Nederduitsch Hervormde Kerk) ’n staatserkende maar vrye kerkgenootskap (die Gereformeerde Kerk) gestig is?

Om hierdie kritiese vrae te antwoord moet die primêre bronne dus weereens self aan die woord gestel word. Die bronne sal egter verstaan moet word in verband met die konteks waarin hulle staan of waaruit hulle gekom het. So word ’n haalbare perspektief op die aangeleentheid beredeneer. Die belang hiervan staan direk in verband met die sentrale argument van die studie. Die vasstelling van ’n datum van ontstaan (of toe die openbare erkenning van die versameling van die plaaslike kerk plaasgevind het) van die Gereformeerde Kerk Potchefstroom, is immers onlosmaaklik verweefd met die

ekklesiologie onderliggend aan sowel die 1859-Kerkorde, as aan die teologiese denkraam van Postma as voorganger.

By die eerste Algemene Kerkvergadering in 1859 is sondermeer aanvaar dat wat plaasvind, ook volgens wetgewing van openbare belang is. Daarom is offisieël kennis aan die owerheid gegee. Die hoofstuk begin met hierdie kennisgewing, omdat die kerk(e) wat tot stand kom hulle daarmee amptelik aankondig. Wat dit interessant maak is dat die aankondiging in drie onderskeie state plaasvind, waar die tersaaklike wetgewing verskil het. Deur dit te vergelyk, kan die kerkbegrip waarmee die aankondiging begelei is, des te beter gekarteer word.