• No results found

NAVORSINGSONTWERP EN METODOLOGIE 5.1 Inleiding

5.6 Seleksie van skole

5.7.1 Volgorde van datakonstruksie

Die invloed wat die volgorde van datakonstruksie op die gehalte en waarde van die data kan hê is in ag geneem. Vir hierdie rede is bogenoemde volgorde gebruik, omdat die voorkennis van potensiële verantwoordelikhede die navorser voorberei het. Na afloop van die waarneming sou die onderhoud met die skoolhoof ook ryker data kon oplewer na mate die navorser se verbeterde verhouding met die skoolhoof. Die tyd wat die navorser met die skoolhoof deurgebring het tydens die waarnemingsperiode sou tot gevolg gehad het dat kommunikasie ook meer effektief kon plaasvind weens ’n verstandhouding van die konteks en twee weke se ervaring van wat die skoolhoof daagliks doen.

Met hierdie studie is drie verskillende metodes van datakonstruksie gebruik, naamlik dokumentontleding, waarneming en onderhoude. Die dokumente met betrekking tot skoolhoofde se verantwoordelikhede is eerstens ontleed. Hierdeur is ’n voorkennis opgedoen aangaande die uiteensetting van die onderwerp en hoe dit op skrif uiteengesit word in die SASW (RSA, 1996), PAM (DBO, 2016a) en SASH (DBO, 2016b).

Tweedens is die waarnemingsperiode van twee weke by elke skool onderneem. Na afloop van die tyd wat reeds spandeer is met die dokumente is sekere areas en verantwoordelikhede geïdentifiseer wat moontlik kon voorkom gedurende die waarnemingsperiode. Derdens is die onderhoude met die sewe skoolhoofde gevoer wat onder 5.7.4 bespreek.

133 5.7.2 Ontleding van beleidsdokumente

Deur middel van die ontleding van die betrokke beleidsdokumente is die teoretiese aspek van die studie afgehandel. Ontleding van dokumente kan ook omskryf word as: “a method developed by historians … a way to examine the content of documents put together for purpose other than for research” (Loseke, 2013:88). Hierdie omskrywing was van pas vir die navorsing aangesien die betrokke dokumente geensins vir hierdie studie tot stand gekom het nie. Dit sluit ook aan by Flick (2012:122) se kommentaar waar gereken word dat data wat nie gekonstrueer is met die betrokke studie as hoofdoel nie, eerder as sekondêre data gesien word. Die dokumente wat ontleed is, is op verskillende tye saamgestel en om verskillende redes. Tydens hierdie navorsing is dit egter gebruik om spesifiek te kyk na die verandering wat plaasgevind het ten opsigte van die verantwoordelikhede van die skoolhoof.

In hoofstuk 4 word die belangrikste drie dokumente met betrekking tot die verantwoordelikhede van skoolhoofde in detail bespreek, naamlik: die SASW 84 van 1996, die PAM-dokument van 2016 (wat met die oorspronklike uitgawe van 1999 vergelyk is) en die SASH van 2016 (wat sy oorsprong gehad het in die SASSL van 2007) (DBO, 2016b). Alhoewel hierdie teoretiese uiteensetting van die veranderinge ten opsigte van die beleide met betrekking tot skoolhoofde as sekondêre data gesien kan word, het dit tot die holistiese perspektief van die navorsing bygedra om sodoende die hoofnavorsingsvraag beter te kon beantwoord.

Een van die grootste nadele van dokumentontleding is egter die uitsluiting van die menslike element: “document analysis cannot show the motivations of the people producing them; it cannot show how contents are of were interpreted by members of the intended audience” (Loseke, 2013:88). Dit is belangrik om te noem dat die skrywers van die geselekteerde beleide geensins deel uitgemaak het van die studie nie. Die beleide is aanvaar en word gebruik soos dit beskikbaar is vir die publiek en na die hoofde deurgegee is. Daar is nie aandag gegee aan die individue of organisasies wat verantwoordelik was vir die opstel van die beleide nie. Daar is wel gedurende die waarnemingstydperk na die interpretering daarvan deur die lesers (die skoolhoofde) en aan die hand van die vrae wat tydens die onderhoude gevra is, gekyk. Hoe hoofde die beleide wat aan hulle verantwoordelikhede aandag gee, verstaan en ervaar, kon nie bepaal word deur slegs na die beleide te kyk nie. Om hierdie rede is van twee ander datakonstruksiemetodes gebruik gemaak, naamlik waarneming en onderhoude.

134 5.7.3 Waarneming

Waarneming word deur Loseke (2013:88) beskryf as “observing people in order to gather data about how they behave. Only observation allows the researcher to empirically explore how people actually act rather than how they say they act.” Na afloop van die waarnemingstydperk by die skole is die kontekstuele aspek van die studie sowel as die daaglikse optrede van die skoolhoofde beskryf. Die praktiese deel van die studie tesame met die skoolhoofde het gedurende ’n vooraf geskeduleerde tydperk van ongeveer een week in ’n spesifieke omgewing (die skool) plaasgevind. Tydens die waarnemingstydperk het die navorser so min moontlik insette en kommentaar gelewer om geleentheid te bied vir die natuurlike verloop van die hoof se aktiwiteite. Kernwoorde en frases is in die waarnemingsnotas as oorkoepelende opskrifte gebruik om eenvormigheid tydens die waarneming by al sewe skole te verseker.

Volgens Mouton (2012) en Flick (2012) is daar verskeie soorte waarneming wat gebruik kan word vir kwalitatiewe navorsing. Drie van die belangrikste soorte word geklassifiseer as: eksperimentele of beheerde opnames; sistematiese veldwaarnemings; en deelnemerwaarnemings.

Met behulp van aantekeninge is die eksperimentele aard van datakonstruksie benut, naamlik die mate van vergelyking tussen die verskillende skole enersyds en die verskillende hoofde andersyds bygedra het. Die mate van beheer wat deur die navorser uitgeoefen is, is duidelik in die administrasie wat gepaard gegaan het met die seleksie van skole en die kriteria vir seleksie van skoolhoofde. Alhoewel toestemming van die hoofde verlang is, het die navorser beheer gehad oor watter skole waargeneem is as deel van die studie. Soos met ’n eksperiment is daar vooraf, op grond van ’n hipotese, besluit oor die soorte skole en skoolhoofde wat verkieslik deel moes wees van die studie. In hierdie geval is daar besluit om die waarde wat verskeidenheid kan bied op grond van grootte, kwintiel en fase te benut.

Die navorser was ook in beheer van die vooraf geïdentifiseerde elemente wat spesifiek aandag sou kry tydens die waarnemingstydperk. Die metodes wat vir die konstruksie van data gebruik sou word sowel as die instrumente, was ook die navorser se keuse. Soos met ’n eksperiment, is hierdie aspekte tot ’n groot mate bepaal voor die aanvang van die waarnemingstydperk. Daar is sistematies na verskillende aspekte van die skool gekyk. Die navorser het ’n daaglikse roetine gevolg om patrone te identifiseer en op die uitkyk te wees vir moontlike ooreenstemmende faktore tussen die verskillende hoofde en skole. Die potensiële

135 verantwoordelikhede van die skoolhoof is ook vooraf teoreties ondersoek om by te dra tot die nut en fokus van die aantekeninge wat gemaak is. Hierdeur is die waarneming metodies uitgevoer op grond van vooraf kennis oor moontlike verantwoordelikhede wat uitgevoer behoort te word.

Derdens is die hoof as die primêre deelnemer binne sy of haar natuurlike omgewing waargeneem. Wanneer Flick (2012:120) hierdie deelnemerwaarneming bespreek, word gesê dat hierdie soort waarneming tot gevolg het dat die ruimte tussen navorser en deelnemer verklein word. Hierdeur word die hoof se opinie op ’n meer geloofwaardige wyse binne verband verstaan en beskryf. Die navorser kry die geleentheid om buitefaktore in ag te kan neem en te omskryf as moontlike verduideliking vir waarom die deelnemer sekere dinge sou sê of doen. Tydens hierdie studie is al drie soorte waarneming tot ’n mate gebruik vir datakonstruksie.

Dit is egter ook belangrik om in gedagte te hou dat, soos Loseke (2013:89) dit stel: “[n]o method of generating data is perfect.” Een van die grootste aspekte van waarneming en interpretering binne die kwalitatiewe navorsingsparadigma is die feit dat die navorser data op ’n sekere manier ervaar en vertolk as gevolg van sy of haar eie omgewing, opleiding, agtergrond en vorige ervaring. Hierdie element word erken. Een van die belangrikste dele van hierdie proses was egter hoe daar met die gekonstrueerde waarnemingsnotas omgegaan word, en die mate waartoe dit die deelnemers aan die studie so eg moontlik weerspieël. Deur middel van noukeurige, sistematiese en gedetailleerde waarneming kon die navorsingsvraag oortuigend beantwoord word. Die belangrikste waarnemings word bespreek met die volgende hoofstuk. Die derde metode van datakonstruksie wat tydens hierdie studie gebruik is, was onderhoude.

5.7.4 Onderhoud

Die begrip onderhoud word deur Babbie (2011:512) so eenvoudig moontlik omskryf as: “a data-collection encounter in which one person (an interviewer) asks questions of another (a respondent).” Dit is in ooreenstemming met Harding (2013:10) se opinie dat ’n onderhoud die respondent die kans gee om self te demonstreer wat moontlik vir hom of haar van belang is. Dit verhoed dat die data wat ingesamel word, slegs fokus op dit wat die navorser vooraf sien as belangrik. Seidman (1998:4) reken: “the primary way a researcher can investigate an educational … process is through the experience of the individual people, the ‘others’ who … carry out the process.” Die ervaring van die skoolhoof, wat betref die verandering van sy of

136 haar verantwoordelikhede en die uitwerking wat beleide daarop het, is deur middel van die onderhoude vasgelê. Die onderhoude wat met die sewe hoofde gevoer is, was deel van die praktiese aspek van die studie.

King en Horrocks (2010:1) beskryf hierdie metode van datakonstruksie op ’n interessante wyse. Hulle vestig aandag op die feit dat onderhoude in die alledaagse lewe op verskeie plekke gesien en ervaar word en dat dit tot gevolg het dat mense wat gevra word om deel te neem aan ’n onderhoud moontlik ’n vooropgestelde opvatting het van wat om te verwag. Dit kan voordelig wees in die sin dat onderhoude nie ’n vreemde begrip is nie en meer mense dus gewillig sal wees om deel te neem, maar ongelukkig kan mense moontlik hulle antwoorde of terugvoering manipuleer om dit inpas by hulle eie verwagtinge te laat. Om hierdie rede is verskillende soorte onderhoude bestudeer (wat hieronder verduidelik word) en die mees gepaste soort vir die navorsingsvrae is gekies.

In die raamwerk vir sosiale navorsing word verskeie soorte onderhoude wat met deelnemers gevoer kan word, genoem. Die bekendstes is ongestruktureerde, semi-gestruktureerde en gestruktureerde onderhoude. Dawson (2013:27–29) verduidelik die verskillende gebruike van die verskillende soorte onderhoude soos volg:

Ongestruktureerde onderhoude word gebruik vir diepgaande gesprekke oor ʼn persoon se lewensgeskiedenis. Die navorser probeer om ʼn holistiese beeld van die persoon se situasie of opinie weer te gee. As gevolg van die groot aantal onsekerhede of onverwagte aspekte sal die navorser daarvoor voorsiening maak deur so min moontlik struktuur aan die onderhoud te gee en dus ook so min moontlik vrae vra. Dit gee die deelnemer die kans om ononderbroke sy of haar storie te vertel, maar loop die gevaar om te ver verwyderd te raak van die hoofonderwerp.

Met semi-gestruktureerde onderhoude wil die navorser spesifieke inligting van die deelnemers hê, sodat dit met die inligting verskaf deur ander deelnemers vergelyk kan word. Die enigste manier om dit te verseker is om vooraf opgestelde vrae te hê wat aan al die deelnemers op dieselfde wyse gestel word vir kontinuïteit. ʼn Verdere positiewe aspek van ʼn semi-gestruktureerde onderhoud is dat die navorser steeds die vryheid het om op sekere vrae te kan uitbrei om meer betekenisvolle inligting te verkry.

Gestruktureerde onderhoude word meestal gebruik vir marknavorsing om ʼn groot aantal deelnemers te kry om identiese vrae te beantwoord. Met hierdie onderhoude is

137 daar gewoonlik vrae wat na beperkte en kort antwoorde neig sonder die opsie om te kan uitbrei. Om hierdie rede word dit veral by kwantitatiewe navorsing gebruik.

Hierdie verskille in onderhoudtipes stem ooreen met die mening van ander outeurs soos Henning, Van Rensburg en Smit (2004), Freebody (2004) en Punch (2006).

Met bostaande in gedagte is daar besluit om met hierdie studie gebruik te maak van kwalitatiewe, semi-gestruktureerde onderhoude. Freebody (2004:133) verduidelik sekere eienskappe van die semi-gestruktureerde onderhoud verder deur by te voeg dat dit wat vir die onderhoudvoerder van belang mag wees, uitgebrei kan word. Dit beteken dat die rigting wat ’n onderhoud inslaan verder gevoer kan word, wat weer tot gevolg kan hê dat nuwe gedagtes oor die onderwerp so sterk na vore kom dat dit moontlik ’n uitgangspunt van die studie kan beïnvloed of verander. Die navorser kan ook agterna, op grond van die getranskribeerde teks, besluit watter dele deeglik ontleed behoort te word.

Bostaande korreleer met die skrywe van Loseke (2013:87) wat benadruk dat: “in-depth interviews are the only method that allow researchers to explore how people understand topics that are too complex to be reduced to the relatively simple and straightforward questions asked on surveys.” Daar is in hierdie navorsing onder andere gebruik gemaak van vooraf opgestelde vrae om die onderhoude met die verskillende hoofde so eenders moontlik te hou. Babbie (2011:515) gaan verder deur te onderskei tussen kwalitatiewe onderhoude en onderhoude gebaseer op ’n vraelys: “contrasted with survey interviewing, the qualitative interview is based on a set of topics to be discussed in depth rather than the use of standardizes questions.” Die onderwerp wat grondig bespreek is met die hoofde was hoe die verantwoordelikhede van die skoolhoof verander het en wat die deelnemers se opinie oor hierdie verandering was. Daar is ook gevra na die hoofde se kennis van die betrokke beleide wat direk met hulle verantwoordelikhede verband hou. Geen aannames, leidrade of moontlike vooropgestelde antwoorde is genoem nie, aangesien dit, soos in die geval van gestandaardiseerde vraelyste, antwoorde beperk.

Die onderhoude het na afloop van die waarnemingstydperk in die hoofde se natuurlike omgewings (dit wil sê hulle kantore) plaasgevind. Aangesien die onderhoude in die betrokke hoofde se werksomgewings gevoer is, kon dit moontlik bydra tot die rykheid van die data omdat hulle daagliks daar verkeer en hulle verantwoordelikhede daar nakom. Die hoofde sou dus gemaklik voel in ’n bekende omgewing en moontlik meer bereid wees om hulle ervarings

138 en persepsies breedvoerig te verduidelik. Hierdie onderhoude is met die toestemming van die hoofde op oudioband opgeneem.

Deur die onderhoude met ’n oudio-opnemer op te neem en woordeliks te transkribeer, is die presiese woorde en die opinies van die deelnemers vasgelê om ’n ware weerspieëling te gee van hulle persepsies. Op grond van hierdie uiteensetting kan gesien word dat semi-gestruktureerde onderhoude die beste resultate sou lewer tot die uitkomste van hierdie navorsing, maar sekere tekorte van hierdie metode word ook erken.

’n Nadeel van die gebruik van ’n oudio-opnemer is dat, indien daar fout gaan met die opneemapparaat, al die data verlore sal wees. Om hierdie moontlike struikelblok te oorkom, is ’n rugsteunapparaat tesame met die primêre oudio-apparaat gebruik. Die navorser moes ook daarop voorbereid wees dat hy selfvoldaan kon raak en nie voldoende aandag gee nie, aangesien alles opgeneem word. Daar moes ook in gedagte gehou word dat party deelnemers moontlik senuweeagtig kon wees as gevolg van die opnemer. Met hierdie nadele in gedagte is noukeurig aandag gegee aan die moontlike knelpunte. Loseke (2013:87) se opinie, dat “this technique generates too little data to allow much generalization”, is ook oorweeg. Om hierdie rede het onderhoude slegs ’n derde van die studie se datakonstruksiemetodes uitgemaak. Die voordele van die gebruik van ’n oudio-opnemer tydens semi-gestruktureerde onderhoude is dat die navorser oogkontak kon behou met die skoolhoofde, wat die onderhoud meer persoonlik en die data moontlik ryker kon maak. Na afloop van die onderhoude het die navorser ook ’n groot aantal aanhalings gehad wat gebruik kon word by die analisering van die antwoorde, en die hele onderhoud kon getranskribeer word om in detail te ontleed.