• No results found

NAVORSINGSONTWERP EN METODOLOGIE 5.1 Inleiding

5.9 Etiese aspekte

Dit is belangrik om aandag te verleen aan die etiese aspekte van hierdie studie aangesien een van die hoofbronne van data die skoolhoofde by sewe skole was. Reeds in hoofstuk 1 is genoem dat etiek op die eenvoudigste wyse gedefinieer kan word as “the principles of right and wrong that a particular group accepts at a particular time” (Bogdan & Biklen, 2007:48). Daar is groot klem geplaas op respek vir die deelnemers van hierdie navorsingsprojek deur middel van etiese standaarde waaroor ooreengekom is. Waar daar met mense as deel van navorsing gewerk word, word sekere voorvereistes en prosedures geïmplementeer om te verseker dat al die regte stappe gedoen word om die deelnemers te beskerm.

Die noodsaak vir hierdie beginsel is reeds in 1947 vasgelê onder die Neurenbergse kode na aanleiding van wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog in die konsentrasiekampe gebeur het (sien Plowright, 2012). Tydens ondersoeke is aangetoon hoe Nazi-dokters eksperimente op gevangenes uitgevoer het. Dit het ernstige vrae oor die verhouding tussen die navorser en die deelnemers aan studies ontlok – nie net op mediese gebied nie, maar op ander vakgebiede ook. Die skuldige dokters is tot dood veroordeel of gevangene geneem, en hierdie gebeurtenis het tot gevolg gehad dat die Neurenbergse kode tot stand gekom het en vandag nog geld (Plowright, 2012:150).

Meer hedendaagse interpretasies van wat etiek behels, verskil nie veel van dié van 70 jaar gelede nie. Oor die algemeen word elemente soos ingeligte instemming, anonimiteit, die veiligheid van die deelnemer en navorser, privaatheid en skending van vertroue bespreek. Loseke (2013:6) reken dat etiek eerder uit twee vereistes tussen navorser en deelnemer bestaan, naamlik eerlikheid en konfidensialiteit. Laasgenoemde sluit aan by Flick (2012:99) se mening oor die opvatting dat etiek eenvoudig beteken dat die navorser nie die deelnemer sal bedrieg, mislei of skade aandoen nie. Die navorser moet te alle tye eerlik wees, nie net in die manier waarop verslag gedoen word oor die gekonstrueerde data en die manier waarop dit weergegee word nie, maar ook met die deelnemers self. Alle aspekte aangaande anonimiteit, datasekuriteit en konfidensialiteit van die deelnemers moet gewaarborg kan word.

142 Meer spesifiek en van toepassing op die deelnemers van ’n gevallestudie, bespreek Yin (2009:73) die belangrikheid en afhanklikheid betrokke by die verhouding tussen die navorser en die deelnemers aan die gevallestudie. Yin (2009:73) lê klem op die feit dat omtrent alle gevallestudies handel oor kontemporêre menslike interaksie: “the study of a ‘contemporary phenomenon in its real-life context’ obliges you to important ethical practices akin to those followed in medical research.” Hier word moontlik verwys na onder andere etiese standaarde soos genoemde Neurenbergse kode.

Soos reeds in hoofstuk 1 genoem is, behels enkele stappe wat gevolg moet word om versorging van die deelnemers te verseker, volgens Yin (2009:73), die volgende:

om ingeligte toestemming van alle persone wat moontlik deel van die navorsing kan uitmaak te verkry en om hulle in te lig oor die aard van die studie, sowel as om hulle vrywillige deelname aan die studie formeel op skrif te bekom;

om die deelnemers teen enige benadeling deur misleidende gedrag of die weerhouding van inligting te beskerm;

om die privaatheid en konfidensialiteit van die deelnemers te verseker sodat hulle moontlik in die toekoms weer bereid sal wees tot deelname aan navorsingsprojekte; en; • om spesiale voorsorg te tref met individue van veral kwesbare groepe, soos kinders. Van die bogenoemde stappe oorvleuel met die Gesondheidsnavorsingsetiekkomitee: Mensnavorsing (NEK) se lys verantwoordelikhede wat die navorser teenoor die deelnemers aan die studie moet nakom. Om hierdie rede word daar tans vereis dat, om toestemming te kry vir die uitvoering van die studie, etiese klaring volgens die voorskrifte van die Universiteit van Stellenbosch bekom moet word. Die NEK: Mensnavorsing se lys verantwoordelikhede vir die navorser word duidelik uiteengesit en verbind die navorser tot spesifieke vereistes wat navorsingstydperk, bewaring van data, verslae en navorsingsprotokol betref voordat die navorsing goedgekeur word.

Aangesien daar met hierdie studie gebruik gemaak is van die ervarings en insette van hoofde in die openbare onderwyssektor, is die goedkeuring van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) ook verlang. Die WKOD vereis onder andere ook ’n brief van die deelnemende hoofde om toestemming te gee vir hulle insluiting by die studie, soos wat Yin (2009:73) ook noem. Hierdie brief dui duidelik aan dat die betrokke hoof vrywillig aan die studie deelneem. Dié brief op ’n briefhoof van die skool moet deur die skoolhoof onderteken

143 wees. ’n Afskrif hiervan is aan die WKOD gestuur tesame met ’n uiteensetting van die studie, spesifieke datums van kontak met die deelnemers, die onderhoudskedule en die WKOD se eie vorm vir goedkeuring van die navorsing. ’n Afskrif van hierdie vorm word in bylaag A voorsien.

Na suksesvolle afloop van die proses vir etiese klaring is ’n brief vanaf die WKOD ontvang wat die navorser toestemming gegee het om by die spesifieke skole data te mag konstrueer. Met die besoek aan die skole moes hierdie brief aan die hoofde verskaf word as bewys van goedkeuring vir die studie. Bogenoemde prosedures en vorms is onder andere in werking gestel om die etiek van navorsing te beklemtoon en selfs belangriker, om skole, die personeel, leerders en hoofde te beskerm teen mense wat moontlik skade wil aanrig, nie net aan hierdie komponente van die onderwys nie, maar ook aan die openbare siening en die ingesteldheid teenoor akademiese navorsing.

Om hierdie rede is daar ook spesiale voorsorg getref om die anonimiteit van die deelnemers en die skole te verseker. In die beskrywing van die agtergrond in hoofstuk 5, sowel as die ontleding van die data in hoofstuk 6, word pseudonieme gebruik vir die skoolhoofde en skole. Daar sal deurgaans verwys word na skoolhoofde A–G by skole A–G. Selfs al is hierdie pseudonieme gebruik om die privaatheid van die deelnemers te verseker, is die berging van die data as prioriteit, hoog aangeskryf. Daar is van een persoonlike rekenaar, wat wagwoord-beskermd is, gebruik gemaak. Hierdie persoonlike rekenaar word ook met die jongste anti-virus programmatuur beskerm om die data teen kuberdiefstal te beveilig. Alle data word daarop verwerk en in elektroniese formaat op ’n eksterne hardeskyf op privaat eiendom gestoor.

5.10 Samevatting

Met hierdie hoofstuk is die navorsingsontwerp en metodologie van hierdie studie uiteengesit. Daar is gekyk na die betekenis en nut van paradigmas in die algemeen, waarna die fenomenologiese navorsingsparadigma in meer detail bespreek is. Die gevallestudie as navorsingsontwerp is ook omskryf met verwysing na die navorsingsprobleem en die soorte vrae wat gevra is. Daarna is die kwalitatiewe benadering as metodologiese paradigma van hierdie tesis uiteengesit.

Data is onder afdeling 5.6 bespreek met onderafdelings rakende die ontleding van die beleidsdokumente, waarneming wat by die skole gedoen is, die onderhoude wat met die skoolhoofde gevoer is en die ontleding van die gekonstrueerde data. Die belangrikheid van

144 betroubaarheid en geldigheid is ook benadruk tesame met die rol van en noodsaak vir etiese aspekte.

In die volgende hoofstuk word die agtergrond van die skole bespreek. ’n Gedeelte van die gekonstrueerde data word hier gebruik om ’n beeld te skets van die ligging en gemeenskap en ’n oorsig van die skole. Die hoofde word ook kortliks beskryf ten opsigte van hulle agtergrond, opleiding en ervaring in die onderwys om inligting te verskaf wat die ontleding van die data sal verryk.

145 HOOFSTUK 6

AGTERGRONDBESKRYWING EN DATA-AANBIEDING