• No results found

Loopbaanontwikkeling: kwalifikasies en onderwyservaring van die Suid- Suid-Afrikaanse skoolhoof

LITERATUUROORSIG 3.1 Inleiding

3.5 Ervaring van Suid-Afrikaanse skoolhoofde

3.7.2 Loopbaanontwikkeling: kwalifikasies en onderwyservaring van die Suid- Suid-Afrikaanse skoolhoof

Om die posisie van skoolhoof in Suid-Afrika te kan beklee, vereis die PAM-dokument (DBO, 2016a:55) ’n geakkrediteerde drie- of vierjarige onderwyskwalifikasie (sien hieronder), registrasie by die Suid-Afrikaanse Raad vir Onderwysers (SARO) en sewe jaar onderwyservaring. Opleiding word onder andere geklassifiseer volgens die riglyne van die Nasionale Kwalifikasieraamwerk (NKR) waarvolgens ’n Nasionale Sertifikaat wat in graad 12 verwerf word, as vlak 4 geklassifiseer word, en die hoogste vlak, ’n doktorsgraad, as vlak 10.

73 a) Kwalifikasies en registrasie

Wat onderwyskwalifikasie betref, word die onderstaande vier tersiêre kwalifikasies by Suid-Afrikaanse universiteite aangebied ter voorbereiding van potensiële onderwysers.

i) BA – Baccalaureus Artium is die eerste graad in die Lettere en Kuns (drie jaar); ii) BSc – Baccalaureus Scientiae is die eerste graad in die Natuurwetenskappe (drie

jaar);

iii) NOS – Nagraadse Onderwyssertifikaat word gevolg ná die suksesvolle voltooiing van een van die bostaande baccalaureus-grade (BA of BSc). Suksesvolle afhandeling van die NOS stel die persoon met ’n driejarige graad in staat om by die Suid-Afrikaanse Raad vir Onderwysers (SARO) te registreer en as onderwyser te begin praktiseer (NKR vlak 7); en

iv) BEd – Baccalaureus Educationis word gedefinieer as die eerste graad in Opvoedkunde. Die opleiding duur ’n minimum van vier jaar met hoofmodules wat in skoolvakke spesialiseer (NKR vlak 7).

Daar word onderskei tussen die verskillende fases van die Suid-Afrikaanse algemene onderwysstelsel – Grondfase (GF-ond), Intermediêre fase (IF-ond), Senior fase (SF-ond) en Verdere Onderwys en Opvoedingsfase (VOO). Die onderskeid word onder andere getref op grond van die vlak wat bereik word in die hoofmodule van die studierigting. Die student is onmiddellik ná voltooiing van die BEd-graad daarop geregtig om te registreer en dan as onderwyseres in Suid-Afrika te praktiseer.

Bostaande kwalifikasies, registrasie by SARO tesame met sewe jaar onderwyservaring is volgens die PAM (DBO, 2016a) voldoende om ’n skoolhoof in Suid-Afrika te word.

b) Onderwyservaring

Daar word van ’n persoon wat in aanmerking wil kom vir hoofskap verwag om ’n sekere aantal jare onderwyservaring te hê. Die ervaring wat vereis word, is direk afhanklik van die grootte van die skool waar die pos as hoof vakant is. Volgens die Vakaturelys 3 van 2015 (SAOU, 2015:iv) word dit soos volg uiteen gesit.

Drie jaar onderwysondervinding vir die aanstelling as skoolhoof van ’n S8-skool; vyf jaar ervaring vir aanstelling by ’n S9-skool, en sewe jaar ervaring vir aanstelling as hoof van ’n S10- en ’n S11-skool. Die kategorisering van skole as S8 tot S11 verwys na die gradering van skole volgens grootte met inagneming van die aantal leerders (Sonnekus, 2014:28). Die

74 uniekheid van die skoolhoof se posisie en verantwoordelikhede skep egter ’n leemte in kennis en vaardighede wat gevul behoort te word (Amakyi & Ampah-Mensah, 2013; Bush, 2011a).

c) Verdere kwalifikasies

Wiehahn en Du Plessis (2018:1) reken dat die beginnerhoof sonder addisionele opleiding ’n uiters uitdagende taak het. Formele kwalifikasies word gesien as bykomstige voordele vir die pos eerder as ’n voorvereiste. Bykomende formele kwalifikasies kan enige van die onderstaande behels:

• GOS – Gevorderde Onderwyssertifikaat (NKR vlak 7) (sien die bespreking by 3.7.2.1); • GDO – Gevorderde Diploma in Onderwys (NKR vlak 7);

• HonsBEd – Honneurs Baccalaureus Educationis (NKR vlak 8); • MEd – Magister Educationis (NKR vlak 9);

• MBA – Magister in Besigheidsbestuur en -Administrasie (NKR vlak 9); en • PhD of DEd – Philosophiae Doctor of Doctor Educationis (NKR vlak 10).

Dit is min dat ’n skoolhoof in Suid-Afrika al bostaande kwalifikasies sal voltooi om sodoende op NKR vlak 10 te kom.

3.7.2.1 Die GOS: Skoolleierskap- en Bestuurkwalifikasie

Die GOS: Skoolleierskap- en Bestuurkwalifikasie het die afgelope aantal jare na vore getree as een die toonaangewendste kwalifikasies wat die verantwoordelikhede van die Suid-Afrikaanse skoolhoof betref. Dit het deel uitgemaak van verskeie Gevorderde Onderwyssertifikaat- (GOS-)kursusse wat deur hoëronderwysinstellings aangebied is. Uit die naam van die kwalifikasie kan afgelei word dat dit ’n uitbreiding is van opleiding op onderwysgebied wat daarop gemik was om bestuurders in die onderwysstelsel op ’n gevorderde vlak beter toe te rus om die uitdagings wat met die posisie gepaard gaan, die hoof te bied (Sonnekus, 2014:23).

Dit is belangrik om eers agtergrond te skep van hierdie kwalifikasie se oorsprong. Die “South African Qualifications Authority” (SAQA) het in die vroeë 2000’s stelle eenheidstandaarde laat saamstel deur die “Standards Generating Body”. Williams (2017:521) sê:

Hierdie eenheidstandaarde was bedoel om die basis vir voortgesette professionele ontwikkeling van skoolbestuurspanne en departementele amptenare te vorm, en dit vorm die basis van die Gevorderde Onderwyssertifikaat: Skoolbestuur en -leierskap (GOS: SBL)

75 wat onder leiding van die destydse Departement van Onderwys ontwikkel is en wat vanaf 2007 dwarsdeur Suid-Afrika aangebied is.

Die doel van hierdie sertifikaat word soos volg gedefinieer: “[the]development of a corps of education leaders who apply critical understanding, values, knowledge and skills to school leadership and management within the vision of democratic transformation” (DvO, 2008c:5). Die vyf areas wat deur hierdie kwalifikasie ontwikkel word, en waarop klem gelê word om bostaande doel te bereik, word soos volg omskryf:

• verskaf leierskap en bestuursvaardighede om die bestuurspanne van skole in staat te stel om gehalteonderrig aan elke leerder te verskaf;

• verskaf professionele leierskap, ook in die bestuur van die kurrikulum om sodoende te verseker dat skole gehalteonderrig, leer en hulpbronne verskaf om die standaarde van prestasies te verhoog;

• versterk die professionele rol van die hoof deur die bevoegdheidsvlak van die beheerliggaam te versterk;

• ontwikkel toekomstige hoofde wat in staat is om krities met enige saak om te gaan en wat self-refleksiewe praktisyns is; en

• stel toekomstige hoofde in staat om hulle departemente en skole te kan bestuur as leerorganisasies, en om waardes oor te dra wat transformasie in die Suid-Afrikaanse omgewing ondersteun (DvO, 2008c:7).

Volgens die Jaarboek van die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch, een van die hoëronderriginstellings wat die GOS-opleiding aanbied, “spreek [hierdie program] die ongewensde skeiding tussen praktyk en teorie aan en neem die vorm aan van skoolgebaseerde opleiding en evaluering, waar die klem op verandering van gedrag en waardes val” (Universiteit Stellenbosch, 2014:43). Dit is egter so dat die verskillende tersiêre instellings die aanbieding van die kursus verskillend benader het (Ngcobo, 2012:425).

Vanuit die literatuur rakende hierdie kwalifikasie wil dit voorkom asof daar leemtes was wat onvoldoende die hoof gebied is deur die instellings wat die aanbieding daarvan behartig het. Uit navorsing wat handel oor 18 GOS-studente se ervaring van die opleidingsessies word gesê:

The participants stated that the universities tended to overstress the importance of assessment in the programme…some lecturers created an unnecessary stress among the candidates who lost the focus on practice based strategies to concentrate more on the

76 assessment component…some lecturers were very pedantic in looking for technical aspects such as referencing and formal academic writing style” (Msila, 2013:446).

’n Ander studie se bevinding was dat –

[S]tudents were of the opinion that the programme was not equipping them to deal with challenges facing their schools on a regular basis [like] strategies that would enable them to deal with issues such as violence and a lack of discipline and dedicated teaching and learning (Ngcobo, 2012:425).

Die problematiek wat ’n eenvormige benadering tot die opleiding van hoofde bied, is ook deur Xaba geïdentifiseer, wat reken: “training aimed at capacity-building should be based on situational factors pertaining to the capacity needs of schools themselves … a capacity assessment is necessary in this regard, to avoid a “one-size-fits-all” approach to training and development” (Xaba, 2011:209).

Verder is daar ook ernstige vrae gevra na mate die impak van die destydse “Standards Generating Body” se eenheidstandaarde wat gedien het as die fondasie waarop die GOS-SBL gebaseer is (Williams, 2017:523). Daar word gesê dat: “Die SAQA-eenheidstandaarde is hoofsaaklik gebaseer op die werk wat in die eerstewêreldlande gedoen is, en nie op empiriese navorsing in Suid-Afrika nie. Dit maak die toepaslikheid van die eenheidstandaarde twyfelagtig” (Williams, 2017:534). Hierdie standpunt sluit aan by Eacott en Asuga (2014:13) wat pleit vir ’n benadering tot skoolhoofskap in Afrika wat bevry is van die invloed van ander lande.

Sedert 2017 is die GOS: Skoolleierskap en Bestuur nie meer deel van die moontlike gevorderde kwalifikasies wat potensiële hoofde kan verwerf nie. Daar is sewe nuwe diplomaprogramme geïmplementeer waaronder Leierskap en Bestuur nie genoem word nie: “Die Gevorderde Diploma in Opvoedkunde (GDO) vervang die vroeëre Gevorderde Onderwyssertifikaat (GOS) vir studente wat vanaf 2017 inskryf” (Universiteit Stellenbosch, 2019:7). Daar is egter alternatiewe opleidingsgeleenthede vir aspiranthoofde.

3.7.2.2 Ander opleidingsgeleenthede

Benewens verskeie werksessies, kongresse en simposiums wat landswyd aangebied word en waarby skoolhoofde baat kan vind, is daar ook verskeie kursusse – onder andere gemik op toekomstige hoofde – wat provinsiaal of selfs plaaslik aangebied word. Hierdie kursusse word onder andere deur vakbonde en organisasies aangebied.

77 In die Wes-Kaap is daar verskeie geleenthede waarvan toekomstige hoofde gebruik kan maak om hulle kwalifikasies te verbeter en sodoende ’n beter kans te hê om bevorder te word as hoof van ’n skool. By die Kaapse Onderwys- en Leierskapinstituut (KOLI), in Kuilsrivier, word verskeie werksessies en kort kursusse oor naweke en gedurende skoolvakansies aangebied. ’n Soortgelyke instansie is die Matthew Goniwe School of Leadership and Governance (MGSLG) in Gauteng waar kursusse aangebied word vir spesifieke groepe mense, soos vakhoofde, om hulle toe te rus met leierskapsvaardighede deur middel van geakkrediteerde modules.

3.8 Samevatting

Hierdie literatuuroorsig het die nodige inligting verskaf oor die ervaring van die Afrikaanse skoolhoof, met verwysing na ’n gedeelte van die geskiedenis van onderwys in Suid-Afrika en die radikale ontwikkeling wat moes plaasvind. Die onvermoë van die staat om hierdie transformasie ten volle te verwesenlik, het ook aan bod gekom op grond van literatuur wat huidige uitdagings bespreek. Die onderwerp rakende die opleiding van skoolhoofde is kortliks beredeneer as potensiële hulp vir hoofde wat hulle in gemeenskappe bevind wat die skool se funksie negatief beïnvloed. Deurentyd is daarna gestreef om na die internasionale eweknie te verwys om die globale perspektief in te sluit.

Hierdie studie het nie slegs oor die verantwoordelikhede van die skoolhoof soos uiteengesit in die literatuur gehandel nie. Dit dien ook nie as ’n blote ontleding van die ontwikkeling wat plaasgevind het ten opsigte van leierskapstyle, bestuurswyses of wat voorgehou word as elemente van hoofskap nie. Die doel was om beide hierdie elemente te dek in ’n trajek wat die verhouding tussen verandering in verantwoordelikhede en beleid uitbeeld met behulp van ’n dekonstruktiewe lens waardeur skoolhoofde se doen en late waargeneem is.

Die volgende hoofstuk fokus op beleidshervorming wat betref die verantwoordelikhede van die Suid-Afrikaanse skoolhoof. Daar word onder andere gekyk na die teoretiese uiteensetting van beleide – hoe beleide tot stand kom en die verskillende benaderings tot die implementering van beleide. Daarna word die drie hoofbeleide wat vandag op skoolhoofde van toepassing is wat betref hulle verantwoordelikhede in kronologiese volgorde bespreek. Daar word onder andere klem gelê op die verandering wat plaasgevind het ten opsigte van hierdie dokumente met verwysing na vorige weergawes van die tersaaklike dokumente.

78 HOOFSTUK 4

BELEIDSHERVORMING