• No results found

AGTERGRONDBESKRYWING EN DATA-AANBIEDING 6.1 Inleiding

6.4 Hoofde se interpretasie van beleide

6.4.4 Verandering in beleide

Skoolhoofde is voorts gevra hoe hulle die verandering wat plaasgevind het ten opsigte van beleide (in die algemeen) sedert hulle skoolhoof geword het, sou beskryf. Weereens is daar nie na enige spesifieke beleide verwys of voorbeelde gegee om die hoof se antwoord in ’n sekere rigting te stuur nie. Die oop vraag het die hoof die geleentheid gebied om sy of haar eie mening en ervaring oor die ontwikkeling ten opsigte van beleide te deel. Hierdeur is nie net die hoof se mening oor die verandering in beleide bekom nie, maar ook ’n verwysing na die ontwikkeling wat ten opsigte van die skoolhoof se verantwoordelikhede plaasgevind het,

168 aangesien die hoof binne hierdie tydraamwerk direk by beleidsontwikkeling betrokke sou wees.

Oor die afgelope 26 jaar het die invloed wat beleide op skole het, drasties verander (sien 3.3). Al die hoofde het erken dat die klem op beleide toegeneem het en dat die aantal beleidsdokumente noemenswaardig vermeerder het. ’n Voorbeeld van die gevolge van die verandering wat plaasgevind het met betrekking tot beleide is onder andere werksessies wat gehou is om hoofde beter toe te rus daarvoor. Hoof A was van mening dat een van die grootste voordele wat werksessies en ander opleidingsgeleenthede oor die jare gehad het, die klem was wat dit op die ontwikkeling van beleide geplaas het.

In sommige gevalle, soos Skole D en E, is daar gepraat van 56 tot 60 beleide wat ten tye van die navorsing in werking was. In ander gevalle, soos by Skool G, het beleide gepaard gegaan met ’n struikelblok van kommunikasie en oortuiging om 13 interne beleide goedgekeur en geïmplementeer te kry. Hoof B het die verandering wat plaasgevind het, soos volg beskryf:

[O]or tyd is daar al hoe meer beleide wat op die tafel gekom het waarna ons dan moet kyk […] en ek dink die ontwikkeling daarvan was baie progressief, daai opwaartse kurwe van beleide wat bygekom het, baie meer as wat ons ooit gehad het in die verlede of lank terug. Wat betref die verandering wat plaasgevind het ten opsigte van beleide oor die algemeen het Hoof A vertel dat daar byna geen formele beleide was toe hy by Skool A begin het nie. In sy eie woorde: “kyk, aanvanklik was daar nie ’n lêer met beleide nie … 22 jaar gelede toe begin beleide eers – toe hoor jy van beleide – toe het ons bewus geraak van hoe belangrik dit is, dat jy moet ’n beleid hê.” Dieselfde herinnering was duidelik in Hoof B se antwoord: “baie meer beleide [het] gekom, baie meer uitgebrei…” wat dieselfde klink as Hoof F se woorde: “ek dink net daar was geweldig baie toevoegings.” Hoof D het ’n ander kant van die saak gestel toe hy vertel: “die ander skole se opvoeders begin nou aan die lyf te voel maar hier is darem nou te veel beleide.” Met hierdie stelling het hy na onder andere ’n selfoonbeleid en rookbeleid wat hy met ander hoofde bespreek het, verwys, wat op die verskuiwing ten opsigte van die doel van beleide gedui het.

Hoof F het vertel hoe die skoolhoof van 30 jaar gelede nooit sou gedink het aan ’n dwelmbeleid by sy of haar skool nie, en nog minder aan ’n VIGS-beleid, of ’n beleid vir die gebruik van opkikkers deur leerders wat aan skoolsport deelneem. Hoof E het ook ’n voorbeeld gegee van hoe beleide volgens haar met verloop van tyd die prioriteite van mense laat verander het:

169 Nou, in hierdie kwartaal, het daar ʼn kind in ʼn koshuis baie sleg gebrand in ʼn bad, in ʼn bad water by ʼn koshuis. En toe bel die skoolhoof natuurlik onmiddellik die departement en vra vir bystand en vir bystand vir die kind, en hulp vir die kind, en […] so. Die eerste vraag van die departement aan die hoof was: wat sê jou warmwaterbeleid. In plaas daarvan om te sê hoe gaan dit met die kind, leef die kind, het julle haar by ʼn hospitaal, of hom by ʼn hospitaal gekry … wat sê jou warmwaterbeleid.

Sy het hierop uitgebrei en gesê dat sy reken “enige iets kan deesdae in ’n hofsaak ontaard en maak nie saak wat gebeur nie, hulle soek ’n beleid. So dinge het net verander. Baie verander.” Dit stem ooreen met Hoof A se mening dat “die wêreld het so verander, of skool het so verander, dat as jy nie beleid het nie, stel jy jou bloot aan allerhande gevare, dan is die hoof in allerhande gevare” en “’n beleid gaan vir jou beskerm.” Soortgelyk het Hoof B gereken: “dis [beleide is] nodig, dit moet daar wees. Ek kan net al hoe meer, ek besef dit net al hoe meer. Want dit beskerm jou ook.” Hoof D se antwoord op die vraag het met bogenoemde hoofde se menings ooreengestem: “as daar ’n krisis opkom, en dan moet ons, dan sit ons ’n beleid op.” Hoof A het terselfdertyd gereken dat beleide die onderwysstelsel meer kompleks gemaak het as wat nodig is. Hy het na die proses van beleidsontwerp, hersiening en implementering verwys tesame met die nodige administrasie en kommunikasie wat daarmee gepaard gaan. By Skool G het hierdie struikelblok ook na vore gekom, en Hoof G het verduidelik:

I said to teachers, hey, it’s [a policy is] supposed to be back now at the schools, because we are supposed ja, we are supposed to … supposed to present it [the policy] now to the SGB, but we still, there is still a delay, you see.

Hoof G het dit laat lyk asof die prosedures wat gepaard gaan met beleide dit in sommige gevalle moeilik maak vir die skoolhoof om beleide te wysig en implementeer. ’n Ander, effe meer pessimistiese uitkyk op die verandering wat plaasgevind het met skoolbeleide oor die algemeen is deur Hoofde D en F beskryf.

Hoof F het, soos Hoof A, gereken dat die kompleksiteit van beleide ’n bepalende faktor is vir die hedendaagse skoolhoof. In sy antwoord op die vraag het hy vertel:

My ervaring is 25 jaar terug toe ek skoolhoof geraak het, daar was tien maal, alles was tien maal meer voorspelbaar, alles was tien maal meer homogeen en geroetineerd, alles was tien maal meer gereguleer … beleid sal altyd deel van enige bestuurstelsel wees maar ek dink baie goed het net bygekom.

170 ’n Uiters belangrike punt wat Hoof F in verband met beleide wat wel in die verlede in werking was, genoem het, was dat –

[M]odel C skole het bepaalde vryhede gebring, en noodwendig binne daardie vryhede moes jy orde skep, meer beleid en sulke soort van goed … rigiede staatskool met die staat wat vir jou gesê het hoe goed moet gebeur, het verander, so die samestellers van die beleid het in baie opsigte verander maar die beleid self nie noodwendig nie.

Bostaande punt is reeds in hoofstuk 3 (sien 3.5 en 3.6) bespreek.

Hoof D het in sy antwoord na een van die witskrifte waarmee hy nie saamgestem het nie, verwys. Hy het gereken dat die departement se beleid oor inklusiwiteit van spesiale leerders, oftewel leerders met gestremdhede, nie by sy skool sal werk nie. Hy het wel erken dat, aangesien dit beleid van die departement is, hy daaraan aandag sal moet gee. Volgens Hoof D is dit ’n beleid en deel van sy skool waaroor hy nie vroeër bekommerd hoef te gewees het nie. Nou moes hy probeer om leerders met spesiale behoeftes te akkommodeer, terwyl daar skaars voldoende hulpbronne was om die huidige leerders met hulle probleme te ondersteun. Dit is slegs een van die verantwoordelikhede van die skoolhoof, voorgeskryf volgens beleid, wat nie altyd vir die publiek of die ouers van die skool duidelik is nie.

Bostaande bespreking maak dit duidelik dat, wanneer dit kom by die algemene veranderinge wat betref beleide in skole, daar volgens die skoolhoofde ’n toename in volume en klem is. Die noodsaak en nut van hierdie uitbreidings word erken, veral waar die hoofde verwys na die regsimplikasies wat gepaard gaan met beleide wat onvoldoende uiteengesit word. Die mate waartoe die verandering benader word – met ’n beleid as reaksie op ’n insident, eerder as voorkomende maatreël ten opsigte van ’n potensiële probleem – word in hoofstuk 7 bespreek. Die fokus verskuif nou na die hoofde se persepsie aangaande skoolhoof-verwante beleide.