• No results found

AGTERGRONDBESKRYWING EN DATA-AANBIEDING 6.1 Inleiding

6.3 Loopbaanontwikkeling van hoofde

In Suid-Afrika word daar van ’n potensiële skoolhoof verwag om ’n onderwyskwalifikasie (ʼn onderwysdiploma, of Bed-graad) en ’n sekere aantal jare ervaring in die onderwys te hê as voorbereiding vir die posisie as skoolhoof. Dit is nie verbasend nie dat sekere hoofde inderdaad slegs oor hierdie minimum vereiste beskik. Daar is enkele ander akademiese kwalifikasies beskikbaar wat meer spesifiek gemik is op die ontwikkeling van ’n skoolhoof. Die VOKV (Verwante Onderwyskwalifikasievlak-gradering) (REQV) bied ’n raamwerk waarvolgens onderwysers en hoofde se formele kwalifikasies in ag geneem word vir die bepaling van posvlakke en salarisskale (DBO, 2016a:49–50).

In Wills (2015:104) se studie word statistieke aangehaal van VOKV-graderings van skoolhoofde in Suid-Afrika. In 2012 het 16% van alle skoolhoofde in permanente posisies skaars ’n VOKV van 13 gehad – gelykstaande aan die minimum kwalifikasie wat benodig word om as intreevlakonderwyser aangestel te word (graad 12 plus drie jaar relevante opleiding). Daarteenoor het 34% van die skoolhoofde ’n VOKV vlak 14-kwalifikasie gehad, wat gelykstaande is aan ’n vierjarige baccalaureusgraad. Verder was daar 29% wat een vlak hoër gekwalifiseerd was, en 21% wat ’n VOKV vlak 16 of 17 gehad het. Wat volg is ’n bespreking van die sewe skoolhoofde se loopbaanontwikkeling om beter te verstaan wat moontlik ’n rol kon speel by die manier waarop hulle sekere verantwoordelikhede uitvoer.

Hoof A het in 1980 aan ’n onderwyskollege afstudeer, en in 1981 begin skoolhou by ’n sekondêre skool waar hy Wiskunde en Wetenskap onderrig het. Ná vier jaar het hy aansoek gedoen by Skool A as departementshoof en het daardie pos vanaf 1985 tot 1993 gevul. In 1994 het hy die leisels (by een van sy oudonderwysers) as hoof van Skool A oorgeneem. Ná 35 jaar in die onderwys is hy tans amper op aftreeouderdom. Ten tye van die navorsing kom Hoof A uiters netjies en trots voor.

158 Wat addisionele kwalifikasies betref, het Hoof A sedert sy onderwysdiploma (by ’n kollege) by ’n universiteit ingeskryf vir ’n graad in Ekonomie, maar het sy studie gestaak toe hy die pos as skoolhoof by Skool A gekry het. In 2008 en 2009 het hy die geleentheid benut om die Gevorderde Onderwyssertifikaat: Skoolleierskap en Bestuur (GOS) te voltooi. Hierdie geleentheid het gekom gedurende ’n tyd toe hy besig was met grootskaalse opgradering van Skool A, en het hom nuwe inspirasie gegee vir die pad vorentoe. Hoof A is glo deur ’n universiteit om sy akademiese kwalifikasies uit te brei, maar hy het daarteen besluit. Soos Hoof A dit stel:

So die fokus het nie gegaan op my nie, dit gaan oor op die kinders, want kyk, ek kon nou ’n meestersgraad gehad het en miskien dan doen ek PhD, maar dan gaan die fokus op my. So, die fokus was op die kinders.

Hoof B het ’n meer akademiese roete gevolg as Hoof A. Hy het in 1976 by ’n onderwyskollege ingeskryf, en sy Hoër Onderwysdiploma (HOD) in 1980 (dieselfde jaar as Hoof A) verwerf. Ná ongeveer 11 jaar as onderwyser het hy in 1992 die pos as departementshoof by ’n laerskool gekry. In 1997 het hy die adjunkhoof van Laerskool B geword en in 2002 as hoof oorgeneem. Wat formele kwalifikasies betref, het Hoof B nie afgeskeep nie. Tussen 1983 en 2002 het hy ’n BA-graad, Bed-graad, MEd-graad en ook ’n PhD-graad verwerf. Selfs met al hierdie formele akademiese kwalifikasies reken hy:

[A]s jou ontwikkeling by jou graad opgehou het, dan het jy soort van ’n dilemma, as ek dit nou maar so noem, maar in my geval is ek eerlik as ek dit sê, dis nie om te spog of enigsins nie … ek het nog altyd en tot nou toe geweldig baie gelees en myself deur boeke probeer verryk.

In Hoof C se geval is daar nie soveel tyd aan akademiese groei bestee soos Hoof B nie. In 1981 het Hoof C vir die Hoër Onderwysdiploma (HOD) ingeskryf en na drie jaar het hy as laerskoolonderwyser begin onderwys gee terwyl hy deeltyds ’n BA-graad voltooi het. Ná ongeveer sewe jaar is hy ’n pos as departementshoof by ’n spesiale skool aangebied, maar twee jaar later het hy die geleentheid gekry om die pos as skoolhoof by ’n gewone skool te vul. Hierdie skool was baie klein, en Hoof C vertel hoe hy blootgestel was aan alle aspekte van hoofskap, juis omdat die skool so beperk was wat personeel en leerdergetalle betref het. In 1996 het die pos as hoof by Skool C beskikbaar geraak en het Hoof C aansoek gedoen. Op daardie stadium was Hoof C 33 jaar oud. Hy vertel:

159 [E]k het op die ou end baie voornemens gehad om honneurs te doen en meesters te doen, maar ek het nooit daar uitgekom nie … die roete wat ek gevolg het, glo ek, het my ’n baie beter hoof gemaak, want … ek hou van aanmekaar leer deur boeke, deur simposiums, deur met mense te praat.

Die hoof van Skool D het in 1987 sy onderwysloopbaan as onderwyser by ’n laerskool begin. Ironies genoeg erken hy: “onderwys was nou nie my eerste keuse as ’n beroep nie, dit was die laaste uitweg. Maar ten spyte van die laaste uitweg is dit nogal, het dit begin ’n passie word.” In 2001 is hy bevorder tot departementshoof by Skool D, en ná ’n halfjaar as waarnemende hoof het hy in 2005 as voltydse skoolhoof oorgeneem. Op daardie stadium het hy nog net ’n onderwysdiploma gehad. Eers in 2011 en 2012 het hy van die geleentheid gebruik gemaak om meer spesifieke opleiding in skoolleierskap en bestuur te ontvang toe hy die GOS-kursus aan ’n universiteit voltooi het. Direk daarna het hy gevoel dat hy sy studies wil voortsit en het hy in 2016 ’n BEd Honneurs-graad in Skoolleierskap en Bestuur verwerf.

Hoof E het ’n universiteitsgraad voltooi en as onderwyseres by ’n Afrikaanse hoërskool begin. Ná twee jaar het sy ’n pos by ’n Engelse hoërskool aanvaar waar sy reeds in haar vroeë 20’s bevorder is tot departementshoof, wat volgens haar vreemd was vir daardie tyd (laat 1970’s). In 1994 het sy verhuis om die posisie as adjunkhoof by Skool E te kom vul, ’n pos waarin sy vir 16 jaar werksaam was voordat sy as skoolhoof oorgeneem het. Wat addisionele, formele kwalifikasies betref, sê Hoof E: “[…] nee, nie formeel van eksamens skryf nie, maar kursusse het ek al hope bygewoon en selfs aangebied … jaarliks doen ek kursusse, woon ek kongresse by, lees ek, leer ek.”

Hoof F het die posisie as skoolhoof 26 jaar gelede betree. Ná skool het hy militêre diensplig gedoen en daarna ’n HOD-kursus voltooi. Ná ses en ’n half jaar as onderwyser het hy departementshoof geword, en skaars ’n jaar en ’n half later adjunkhoof. Hierdie posisie het hy beklee vir drie jaar, waarna hy by Skool F die pos as skoolhoof aanvaar het in 1992. Gedurende die afgelope 37 jaar in die onderwys het Hoof F ervaring opgedoen by drie verskillende skole en vandag is hy die hoof van een van die bekendste skole in Suid-Afrika.

Hoof G se onderwyskwalifikasies bestaan uit ’n Hoër Onderwysdiploma, ’n paar werksessies wat deur nie-winsgewende organisasies vir minderbevoorregte skole aangebied is en ervaring in die skoolstelsel. Sy onderwysloopbaan het in 1981 in die Oos-Kaap begin, maar hy het in 1990 na die huidige omgewing verhuis. In 1992 is hy tot departementshoof bevorder en kort

160 daarna as adjunkhoof. Hierdie posisie het hy behou tot die skeiding wat veroorsaak het dat Skool G ontstaan het en hy in 2007as skoolhoof van die nuwe skool kon begin.

Die onderstaande tabel (tabel 6.1) som bostaande bespreking ter vergelyking op om die verskille in opleiding van die deelnemende skoolhoofde grafies aan te dui.

Tabel 6.1: Kwalifikasies van skoolhoofde

Laerskole Hoërskole

Hoof A Hoof B Hoof C Hoof D Hoof E Hoof F Hoof G

BA HOD BEd GOS HonsBEd MEd PhD Ander SLEUTEL: BA - Baccalaureus Artium

HOD - Hoër Onderwysdiploma

BEd - Baccalaureus Educationis

GOS - Gevorderde Onderwyssertifikaat

HonsBEd - Honneurs Baccalaureus Educationis

MEd - Magister Educationis

PhD - Philosophiae Doctor

Ander - Werksessies, kongresse, simposiums en/of kursusse

Die onderstaande tabel (tabel 6.2) sit die skoolhoofde se persoonlike inligting in verband met hulle ouderdom, geslag, jare onderwyservaring en aantal jare as skoolhoof uiteen vir ’n meer koherente benadering tot die gevalle.

161 Tabel 6.2: Profiel van skoolhoofde

Laerskole Hoërskole

(In 2016) Hoof A Hoof B Hoof C Hoof D Hoof E Hoof F Hoof G

Ouderdom 56 58 53 50 48 60 56

Geslag Manlik Manlik Manlik Manlik Vroulik Manlik Manlik

Jare in

onderwys 35 35 32 29 26 37 35

Ervaring as

skoolhoof 22 14 13 11 6 16 9

Dié tabel dui die profiel aan van die skoolhoofde wat deel uitgemaak het van hierdie studie. In die volgende afdeling word gekyk na sekere van die antwoorde wat die hoofde verskaf het tydens die semi-gestruktureerde onderhoude.