• No results found

AGTERGRONDBESKRYWING EN DATA-AANBIEDING 6.1 Inleiding

6.5 Verantwoordelikhede van die skoolhoof

6.5.1 Toegerustheid vir verantwoordelikhede

Die eerste vraag van hierdie afdeling het na die skoolhoof se gevoel van geskiktheid vir sy of haar amp verwys. Die vraag het soos volg gelui: voel u voldoende toegerus vir u posisie as hoof van die skool? Vier van die sewe hoofde se respons hierop was ongetwyfeld “ja”, terwyl twee die teenoorgestelde gevoel ervaar het. Al die hoofde het breedvoerig uitgebrei oor moontlike redes vir hulle gevoel van bekwaamheid of die tekort daaraan. Van die belangrikste aspekte wat genoem is as bewys vir hulle gevoel van bevoegdheid was hulle vermoëns ten opsigte van administrasie, rekenaars, strategie, besluitneming, regskennis, kommunikasie, risikobestuur, tydsbestuur en jare ervaring in die onderwys.

173 Hoof G het gereken dat hy sy sterk gevoel van toegerustheid te danke het aan ’n werksessie wat hy bygewoon het en ’n boek wat hy besig was om ten tye van hierdie navorsing te lees. Hy het gesê:

I feel I am equipped, … let me explain this way. It is because of the workshop that I have attended. That is, they mention this thing of they deal with leadership skills, and also a book that I was just reading.

Om verder te benadruk hoe bekwaam hy was vir sy posisie as hoof, het hy uitgebrei: That’s why I always say that, when you are principal, the first thing when you wake up at three o’clock, you think about school. That’s why I always say I’ve got a notebook, this book, I always write what am I going to do tomorrow about this thing.

Met “this thing” het hy na problematiese aspekte wat hy as hoof moet behartig verwys. Hy het ook erken ook dat, al voel hy voldoende toegerus vir wat hy moet doen, die posisie soms veeleisend is. In sy eie woorde: “[s]o I said, that is, that is why I said, I always say it is really a challenging job, it’s really to me. I don’t, I don’t see how other, how other principals surviving.”

Hoof A se gevoel van bekwaamheid het van elders gekom. Hy het dit so verduidelik: [E]k voel voldoende toegerus – ek is nie volmaak nie, maar ek voel voldoende toegerus, want ek het my manier van met ‘human resource’ en met die ‘teachers’ werk … ek glo aan respek, lojaliteit, eerlikheid, opregtheid – en dis hoe ek my ‘human resource’ doen.

Hierdie positiewe ingesteldheid was duidelik sigbaar in sy interaksie met die personeel by die skool. By die daaglikse personeelvergadering – waar hy as voorsitter optree – word ’n inspirerende boodskap met die onderwysers gedeel en ’n mate van opregtheid word waargeneem in ’n huislike atmosfeer. Daar word baie waarde geheg aan wedersydse respek, selfs tydens hierdie informele vergaderings waar daaglikse aktiwiteite bespreek word, en dit kom voor asof Hoof A ten volle in beheer is.

Soos reeds vroeër genoem (sien 6.3), was Hoof A in die bevoorregte posisie om as adjunkhoof vier jaar se informele opleiding van die vorige hoof te ontvang voordat hy die leisels moes oorneem wat hom administratief ook ’n hupstoot gegee het. Hy vertel:

174 Administratief is ek totaal benut, is ek hoogsaangewese, om dit so te sê. Administratief, want ek ken … net toe my voorganger in beheer was, het hy my betrek by alle administrasie in die skool. Ek het al die administrasie alreeds gedoen.

Die daaglikse administrasie van Hoof A het ten tye van hierdie navorsing die nagaan van die registers van die onderwysers en leerlinge, hantering en hersiening van finansiële sake, die aanhoor van versoeke om toelating (persoonlik met ouers asook skriftelike versoeke), nagaan van voorrade en bestellings en die voltooiing van die SOBIS (Sentrale Onderwysbestuurinligtingstelsel)–program. Hy het verduidelik dat hy verkies om te weet hoe alle aspekte van die skool funksioneer en dan aan die persoon wat veronderstel is om in beheer te wees van ’n spesifieke funksie, oor te gee. Wat rekenaars betref, erken Hoof A:

Ek is nie baie rekenaarvaardig nie. As ek ’n briefie tik, dit gaan my baie lank vat. Daarom skryf ek net kort sinnetjies. Maar ek weet hoe werk die rekenaar. Ek weet wat verwag word. So administratief glo ek, en ek doen my werk op hoë kwaliteit.

Hierdie siening oor bekwaamheid in verhouding met delegering en daaglikse bestuur het ook na vore gekom in Hoof B se respons op die vraag. Hy het egter sy antwoord op die belangrikheid van strategiese bestuur en besluitneming gefokus aangesien dit hom laat voel het asof hy in beheer is:

Verseker, veral ek dink, dit klink nou asof ek baie vinnig antwoord … as jy strategies werk, dan kan jy nie altyd onmiddellik ’n besluit neem nie, soos wat dalk in die ou dae van ’n goeie leier verwag is […] as jy nie nou onmiddellik ’n besluit neem nie, is jy nie ’n leier nie.

In Hoofde B en C se antwoorde was die verwysing na ervaring in die onderwys ook weer duidelik. Hoof B het vertel: “ek glo ek kan daar sinvol en baie effektief besluite neem en situasies hanteer wat oor my pad kom, maar hou in gedagte dat partykeer van daai goed moet jy net bietjie slimmer dink.” Hoof C was aanvanklik nie té oortuigend met sy antwoord nie, toe hy sê: “[k]yk, die antwoord moet nou baie vinnig dadelik ja wees … ek moes baie hard werk om by te bly en op datum te bly en dit geld vir ’n klomp verskillende goed.” Hier word verwys na onder andere kursusse wat hy bygewoon het en dan reken hy ook: “ek dink die feit dat ek so lank ’n skoolhoof is, maak eintlik dat ek vir jou maklik eintlik kan sê ja, ek is [voldoende toegerus], ek voel heeltemal bevoeg vir wat ek moet doen.”

175 Die mate waartoe Hoof C toegerus gevoel het, was duidelik nie ’n eenvoudige element om ’n opinie oor te vorm nie. Hy het so oor sy siening van besluitneming in skoolverband uitgebrei:

[E]k dink nie dis so maklik om, as jy ’n fout maak hier waar dit met ʼn klomp verskillende persoonlikhede is, ek meen hier’s 800 ouerhuise jy weet, verskillende mense, verskillende sienings, verskillende persoonlikhede, so miskien kan ’n ou partykeer voel […] maar is ek nou bevoeg om hierdie call te maak.

Die belangrikheid van kommunikasie is ook bespreek deur Hoof C wat gesê het:

[A]s ek voel ek twyfel daaroor, dan bel ek die voorsitter [van die SBL], jy weet, of ek sal ’n kollega bel en sê: luister, jissie, ek weet nie, is ek nou, kan ek hierdie call maak, wat dink jy?

Hierdie netwerk tussen skoolhoofde word later verder bespreek as een van die strukture wat sekere van die deelnemende hoofde gebruik ten tye van die navorsing gebruik het as ondersteuning. Hoof C het ’n belangrike aspek van die hoof se daaglikse verantwoordelikhede benadruk toe gepraat is oor standpunte wat ingeneem moet word. Hy het gereken: “die meeste van die tyd maak ek die call. Kyk, ek was nog nooit bang om ’n standpunt in te neem nie. Nog nooit.”

Dit is ’n interessante verskynsel wat na vore gekom het – dié koppeling tussen toegerustheid en sekuriteit. Hierdie skakel is deur drie hoofde genoem na aanleiding van die vraag na hulle gevoel van toegerustheid, waar verwys is na hulle gevoel van sekuriteit in die posisie as skoolhoof. Hoof E het vertel: “[j]y weet nie wat jy nie weet nie, voordat dit nie gebeur nie, voor jy dit nie weet nie, voor dit nie gebeur nie. So […] voel ek onveilig in my posisie? Nee.” Oor haar daaglikse werksaamhede het Hoof E ook glad nie onseker of bedreig voorgekom nie. Hoof F se verwysing na veiligheid het vanuit die perspektief dat die skoolomgewing vandag uiters kompleks en meer gesofistikeerd geraak het, gekom maar tog reken het hy gereken: “ek het nog nooit onveilig gevoel in my werk nie. Dit is ook so dat dit juis die goed is waaroor jy onveilig voel, wat spanning in jou werk veroorsaak.”

Die teenoorgestelde gevoel van bekwaamheid het ook na vore gekom in die antwoorde van Hoofde D en E. Hoof E het verduidelik: “[e]k dink niemand kan ooit 100% toegerus wees nie. Want weereens, jy … daar’s soveel wat gebeur wat jy nie ‘pre-empt’ nie, wat jy nie weet kan gebeur nie, gaan gebeur nie, elke dag is anders.” Haar volgende antwoord het geen ruimte vir misverstand nie:

176 Voel ek 100% toegerus? Nee. Sal nooit wees nie … hoe meer dae, hoe meer dinge. Jy sal nie glo, jy weet, goed wat ek hoor hier nie, en wat gebeur nie, en […] soos wat die ouers verander, en die tipe ouers, die tipe kinders.

Hoof D se opinie was soortgelyk: “[n]ie voldoende nie.” Hy het uitgebrei deur te sê: “as ek sê ek is nie heeltemal, daar is sekere goed waaroor ek eers na ’n beleidsdokument moet gryp, en ek bedoel nou byvoorbeeld as, nie omdat ek oningelig is nie, maar ek wil my net half vergewis.” Die koppeling tussen toegerustheid en beleid as maatstaf of aanwysing word verder verduidelik aan die hand van wat die kringbestuurder (IBB) doen: “ons IMG advisor stap met so klein bybeltjie, die Suid-Afrikaanse Skolewet, as hulle nie weet nie, gaan hulle ook maar, maar sekere goed is – maar ek voel baie kere ek moet myself vertrou.”

Hierdie punt wat deur Hoof D geopper is, het deel uitgemaak van die grondrede vir hierdie studie en word in hoofstuk 7 in detail bespreek (sien 7.4.1).