• No results found

2.7 KERNDIMENSIES VAN SKOOLKLIMAAT

2.7.1 Veiligheid in skole

In 2001 het die eertydse Minister van Onderwys in Suid-Afrika, Kader Asmal, in ʼn toespraak by die bekendstelling van Signpost for Safe Schools as volg geargumenteer:

We must provide a safe school environment; we must offer protection from physical and emotional harm ..., if we are to be successful in achieving our educational goals. We must succeed in overcoming violence, criminal activities, bullying and vandalism in our schools …

Uit bogenoemde stelling blyk dit dat daar reeds in 2001 bekommernis was oor die veiligheid in skole in Suid-Afrika. Om geweld in skole te voorkom, het die minister dit duidelik gestel dat veilige skole gevestig behoort te word.

In ʼn verslag deur die South African Institute of Race Relations (SAIRR) (Khumalo, 2008:1) word daar aangedui dat Suid-Afrikaanse skole van die gevaarlikste ter wêreld is. In dié verslag word Suid-Afrikaanse skole, volgens ʼn studie deur die Institute for Education Science (IES) in die VSA laaste uit dertig lande geplaas. In reaksie op hierdie verslag het die Suid-Afrikaanse Nasionale Departement van Onderwys verseker dat alles gedoen word om skole veilige omgewings vir leerders te maak (Khumalo, 2008:1). Uit voorafgaande kan afgelei word dat die veiligheid in skole hoë prioriteit in die Suid-Afrikaanse onderwysgemeenskap geniet. Dit is gevolglik belangrik dat skoolveiligheid meer omvattend ondersoek sal word

Bucher en Manning (2005:56) omskryf ʼn veilige skool as ʼn plek waar die skoolklimaat leerders, onderwysers, administrateurs, ouers en besoekers toelaat om op ʼn positiewe en nie-dreigende manier met mekaar te kommunikeer. Volgens Mabie (2003:157) is ʼn veilige skool ʼn plek waar onderwys in ʼn omgewing kan plaasvind wat vry van intimidasie, geweld en vrees is. So ʼn omgewing sal, volgens Mabie (2003:157), ʼn opvoedkundige klimaat daarstel wat ʼn gees van aanvaarding en omgee weerspieël. Dit sal ook ʼn plek wees wat vry is van afknouery en waar verwagte gedragsoptredes duidelik gekommunikeer, konsekwent en regverdig

41

toegepas word. Stephens (2007:2) sluit hierby aan deur ʼn veilige skool te beskryf as ʼn plek waar onderwysers en leerders in ʼn omgewing vry van intimidasie en vrees kan onderrig en leer. Osher en Warger (1998:19) klassifiseer ook veilige skole as skole waar daar sterk leierskap, ouer- en -gemeenskaps-betrokkenheid, hoë vlakke van leerderdeelname en gedragskodes is om verantwoordelike gedrag te verseker. Veilige skole word dus gekarakteriseer deur goeie dissipline, kommunikasie, ʼn kultuur en klimaat wat bevorderlik is vir onderrig en leer, goeie administrasiepraktyke en ʼn afwesigheid of lae vlakke van misdaad en geweld.

Vanuit ʼn regsoogpunt gesien, beskryf hoofstuk 2 in die Grondwet, 1996 (Wet 108 van 1996) verskeie regte wat van toepassing is op ʼn veilige skoolomgewing (Prinsloo, 2005:4). Dit word gedefinieer deur menseregte, nasionale wetgewing, gemene reg en skoolbeleid wat van toepassing is indien die fundamentele regte van groepe en individue beskerm moet word.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysdepartement het ʼn belangrike plig jeens die veiligheid en beskerming van leerders, nie net in terme van die Grondwet en skoolwetgewing nie, maar ook in terme van die in loco parentis (onderwyser “waarnemend as ouer”) beginsel (Bray, 2000:66). Al die pligte sluit die verantwoordelikheid vir die fisiese en psigologiese welstand van leerders in. Die in loco parentis status wat onderwysers het, dwing skole om potensiële gevare te identifiseer en leerders deur pro-aktiewe optredes daarteen te beskerm. Vervolgens gaan daar gekyk word na die fisiese en sosiaalemosionele subkomponente van ʼn veilige skool wat skoolklimaat onderskryf (cf. tabel 2.2).

2.7.1.1 Fisiese veiligheid

Volgens Odendal en Gouws (2005:1257) in die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal beteken fisiese veiligheid: “liggaamlike vrywaring van geweld, sonder gevaar, sonder vrees”. Kirby (2001:276) definieer skoolveiligheid as die afwesigheid van enige vorm van geweld soos fisiese aanrandings, emosionele aftakeling, seksuele misbruik en skeltaal. Sackney (1988:6) sien ʼn fisiese veilige skoolomgewing as ʼn omgewing waarin onderwysers en leerders vry is van enige gevaar en benadeling. Leerders moet volgens hom nie bedreig voel of bang wees om skool toe te gaan nie. Inteendeel, hulle moet veilig en gemaklik voel.

42

Indien daar enige insidente in ʼn skool plaasvind wat die fisiese veiligheid van onderwysers en leerders bedreig, kan daar volgens die Montana Office of Public Instruction (1999:1) na krisissituasies verwys word. ʼn Krisissituasie kan beskryf word as ʼn gebeurtenis wat ʼn negatiewe invloed op die skoolgemeenskap sal hê. Volgens die Florida Department of Education (1999:1) kan ʼn krisis ter eniger tyd in ʼn skool plaasvind. Volgens hierdie departementele verslag kan dit voorkom in die vorm van natuurlike rampe (oorstromings, brand, tornado‟s, chemiese besoedeling) of mensgeoriënteerde rampe (die gebruik van wapens, mesaanvalle, seksuele oortredings, gyselaarsdramas, vuisgevegte, bomdreigemente en dwelmoortredings). In die geval van krisissituasies moet skole omvattende skoolveiligheidsplanne (cf. tabel 2.2) in plek hê (Trump, 1999:3). Dit sal verseker dat skole ʼn hoë vlak van gereedheid teen krisisse het.

Volgens Paine en Sprague (2000:1) is veiligheidsplanne ʼn belangrike deel van skoolbeplanning en moet dit gebaseer wees op geldige en betroubare data aangaande gevaar en risiko‟s in ʼn betrokke skool. Pollack en Sundermann (2001:4) ondersteun hierdie standpunt, maar voeg by dat daar eers ʼn effektiewe gemeenskapsforum teen skoolgeweld tot stand gebring behoort te word. Die skrywers wys verder daarop dat so ʼn forum ʼn behoeftebepaling by ʼn skool kan doen om die aard en omvang van probleme te bepaal, die bestaande pogings en aktiwiteite te evalueer en dan help om die skole se prioriteite vas te stel. Ook Furlong, Felix, Sharkey en Larson (2005:2) is van mening dat veiligheidsplanne van ʼn skool eers opgestel kan word nadat daar deur gereelde dataversameling sistematiese en herhaaldelike evaluerings van ʼn skool se behoeftes gedoen is. Volgens die US Department of Education, A Guide to Safe Schools (1998:23) moet ʼn deeglike veiligheidsplan die gemeenskaplike en unieke behoeftes van die skoolpersoneel, leerders, familie en die groter gemeenskap aanspreek. So ʼn gemeenskaplike plan behoort volgens die gids die hele skoolgemeenskap voor te berei om krisissituasies te hanteer. Die plan moet breedvoerige uiteensettings gee oor hoe gemeenskapsbronne aangewend kan word om veilige omgewings te skep en hoe om ernstige dreigemente en geweldgebeurtenisse te hanteer. Volgens Sackney (1988:6) en Stephens (2007:5) moet skole vasgestelde beleidstukke en reëls hê ten opsigte van gevaarvoorkoming en die hantering van krisisse. Hulle beklemtoon dat die beleidstukke en reëls duidelik en maklik verstaanbaar moet

43

wees, effektief aan almal gekommunikeer moet word, konsekwent en regverdig toegepas moet word en dat dit ook deur die skoolgemeenskap aanvaar moet word. Stephens (2007:3) is van mening dat vasgestelde beleidstukke en reëls die volgende moet aanmoedig:

 Ondersteunende, positiewe dissipline, akademiese sukses, die skep van ʼn geestelike en emosionele welstand deur ʼn skoolomgewing waar die leerders se waarde en veiligheid belangrik is, die aanleer van toepaslike gedrags- en probleemoplossingsvaardighede, positiewe gedragsondersteuning, asook toepaslike akademiese onderrig met effektiewe onderwyspraktyke.

 Vroegtydige identifisering van leerders met ernstige akademiese en gedragsprobleme om ondersteuningstelsels in plek te stel wat leerders sal help om probleme aan te spreek.

 Effektiewe samewerkingsooreenkomste met religieuse groepe, maatskaplike organisasies en polisiedienste om leerders met emosionele en gedragsprobleme te ondersteun.

 Krisisreaksieprogramme moet in plek gestel word om die invloed van krisisse te verminder. Só ʼn program sal op die voorkoming, voorbereiding, bestuur, oplossing en herstel van ʼn krisis fokus.

 ʼn Skooldissiplineprogram moet ook in plek gestel word om dissipline en selfdissipline in die klaskamer, die skoolgebou, die skoolterrein en die gemeenskap aan te spreek.

Stephens (2007:4) is verder van mening dat die skoolbeheerliggaam die daarstelling van ʼn skoolveiligheidsplan moet goedkeur en ondersteun. Alhoewel so ʼn skoolveiligheidsplan nie alle krisissituasies kan voorkom nie, kan dit wel meehelp om die waarskynlikheid daarvan te verminder. Deur deeglike beplanning kan menige krisis voorkom word en kan skole voorbereid wees indien dit wel gebeur.

2.7.1.2 Sosiaal-emosionele veiligheid

Die Alaska Initiative for Community Engagement (2007:3) definieer sosiaal- emosionele leer (cf. tabel 2.2) as ʼn proses waardeur leerders leer om emosies te herken en te bestuur, om vir ander mense om te gee, goeie besluite te neem, eties

44

en verantwoordelik op te tree, positiewe verhoudings te ontwikkel en negatiewe gedrag te vermy. Dit is volgens hierdie organisasie ook ʼn proses waardeur leerders hulle vermoë tot integrale denke, gevoelens en gedrag versterk in ʼn poging om belangrike lewenstake te vervul. Die organisasie wys daarop dat om sosiaal- emosionele leer suksesvol te beoefen, slegs moontlik is in ʼn veilige omgewing waar respek en omgee hoog geag word. Volgens die Ontario Code of Conduct (2001:1) van die Ontarioskole in Kanada, is ʼn skool ʼn plek waar verantwoordelikheid, respek, beleefdheid en akademiese uitnemendheid in ʼn veilige leer- en onderrigomgewing bevorder word. Volgens hierdie gedragskode het die onderwysers, leerders en ouers die reg op veiligheid; dus ook veiligheid in die skoolgemeenskap. Die gedragskode wys verder daarop dat dié reg gepaard gaan met die verantwoordelikheid om wetsgehoorsame burgers te wees en om verantwoordelikheid te neem vir dade wat ander persone in gevaar kan stel. Die gedragskode benadruk ook dat die skoolgemeenskap, as aktiewe burgers, bewus moet wees van hulle regte, maar verantwoordelikheid moet aanvaar vir die beskerming van hulle eie en ander se regte.

Volgens Kohn (2004:33) en Merrow (2004:19) behels skoolveiligheid meer as net fisiese veiligheid. Dit sluit volgens die skrywers ook psigologiese veiligheid in. Stephens (2007:5) vul bogenoemde siening aan deur te beweer dat psigologiese intimidasie net so skadelik kan wees as fisieke aanranding. Stephens (2007:6) noem ook dat verbale dreigemente, beledigende en aanstootlike taalgebruik of gebare, uitsluiting, vernedering, teistering, afpersing en alle vorms van intimidasie die potensiaal het om aanleiding tot ernstige misdaad en geweld te gee. Hernández en Seem (2004:3) en Twemlow, Fonagy, Sacco, Gies en Hess (2001:7) het deur navorsing bevind dat leerders wat tot geweld oorgaan, dikwels eers deur ander leerders geterg, afgeknou en geïsoleer is. Die U.S Department of Education: Guide to Safe Schools (1998:8) dui ook aan dat navorsing bewys dat die meeste leerders wat óf geweldadig teenoor hulleself óf ander leerders optree, ʼn gevoel van verworpenheid en psigologiese viktimisering ervaar.

Uit bogenoemde definisies en sienings van die verskillende skrywers is dit duidelik dat, om ʼn veilige sosiaal-emosionele klimaat te bewerkstellig, daar besondere aandag aan die sosiaal-emosionele ontwikkeling gegee moet word. Hernández en

45

Seem (2004:3) en Lumsden (2001:6) is van mening dat skole die volgende aspekte in hulle sosiaal-emosionele skoolprogramme behoort in te bou:

 Om lewensvaardighede, sosiale gedragspatrone en probleem-voorkomings vaardighede te ontwikkel;

 Om leerders toe te rus om konfliksituasies te kan hanteer;  Om pro-sosiale houdings en waardes te benadruk;

 Om sosiaal-emosionele leer met die akademiese program, dit wil sê, die kurrikulum en die klaskamer, te integreer en te koördineer.

Volgens Hernández en Seem (2004:3) en Lumsden (2001:6) kan bogenoemde riglyne meehelp om positiewe gedragspatrone en optredes by leerders daar te stel. Dit beteken dat leerders selfrespek, respek vir ander en die verantwoordelikheid van burgerskap deur aanvaarbare gedragspatrone moet kan demonstreer.

Om ʼn fisiese en sosiaal-emosionele veilige klimaat in skole te verseker, is volgens die voorafbesprekings noodsaaklik, veral met die oog op die daarstelling van ʼn kultuur wat onderrig en leer bevorder. Onderrig en leer as sulks, speel egter ook ʼn belangrike rol. Gevolglik gaan daar nou na onderrig en leer as ʼn kerndimensie van klimaat gekyk word.