• No results found

3.3.1 Definisies van geweld

Daar bestaan baie verskillende definisies van geweld. Die klem van die verskillende definisies varieer egter aansienlik. Dit reflekteer verskeie vakkundiges se belangstellings, kennis en akademiese dissiplines (Johnson, Naumann, Steed, Hennessey & Clark, 2002:4).

In die South African Concise Oxford Dictionary (2006:1312) word geweld omskryf as gedrag wat fisiese geweld insluit met die doel om te beseer, te beskadig of te dood. Berg (2000:18) definieer geweld as die gebruik van fisiese geweld met die bedoeling om fisiese beserings tot gevolg te hê of om tot die intimidasie van ʼn ander persoon te lei. Astor en Meyer (2001:374) definieer geweld as opsetlike en nalatige gedragspatrone wat fisiese, psigologiese en eiendomskade tot gevolg het. Danner en Carmody (2001:92) gee ʼn meer spesifieke definisie oor geweld deur veral op spesifieke gedragspatrone te fokus. Dié skrywers definieer geweld as die dreigement of die gebruik van fisiese mag met die opset om fisiese beserings tot gevolg te hê of om sekere persone te intimideer. Dit sluit moord, oordrewe aanranding, gewapende roof en verkragting asook stamp, stoot, slaan en die gooi van voorwerpe in. Smith, Cowie, Olafsson en Liefooghe (2002:1119) se definisie sluit hierby aan deur geweld of gewelddadige gedrag te definieer as wanneer die oortreder skop, slaan of ʼn voorwerp (insluitende wapens) gebruik om beserings of ongemak te veroorsaak. Bogenoemde definisies deel ooreenstemmende kenmerke, maar daar is ook verskille te bespeur. Die ooreenstemmende kenmerke dui aan dat opsetlike geweld normaalweg skadelike gevolge het en dat dit tot nadeel van persone strek. Daar kom egter ook die volgende verskille in die definisies voor:

 Is geweld noodwendig net fisies? Volgens Berg (2000:18) se definisie het geweld net ʼn fisiese aanslag, maar volgens Astor en Meyer (2001:374) sluit geweld, buiten die fisiese, ook doelbewuste psigologiese nadele in soos verbale skeltaal, sosiale uitsluiting en smerige skinderstories.

74

 Word geweld net teen mense gepleeg? Volgens Astor en Meyer (2001:374) en die South African Concise Oxford Dictionary (2006:1312) kan die beskadiging van eiendom ook as geweld beskou word. Volgens hierdie skrywers kan geweld ook vandalisme insluit. Dit beteken die kwaadwillige of opsetlike skending of beskadiging van ander persone of instansies se eiendom. ʼn Skrywer soos Berg (2000:18) vermeld nie die beskadiging van eiendom as geweld in sy definisie nie.

 Moet geweld eers as skadelike gedrag manifesteer of is ʼn dreigement daarvan genoeg? Danner en Carmody (2001:92) noem in hulle definisie dat ʼn dreigement teenoor ʼn persoon genoegsaam is om as geweld geklassifiseer te word en dat dit die insluiting van maatstawwe soos gevoelens van onsekerheid regverdig. Dreigemente word nie in die definisies van die South African Concise Oxford Dictionary (2006:1312) en Astor en Meyer (2001:374) genoem nie.

Moet geweld deur ʼn spesifieke persoon toegepas word soos deur Smith, et al. (2002:1119) beweer word, of kan geweld ook deur ʼn instansie gepleeg word? Die term instansie laat die moontlikheid bestaan dat ʼn skool, as ʼn instansie, ook geweld as gevolg van sekere aksies of beleidstukke kan toepas.

Samevattend kan geweld gesien word as ʼn reeks gedragspatrone wat fisiese en emosionele skade aan persone of eiendom berokken. Die gedragspatrone sluit opsetlike verbale en emosionele teistering, direkte en indirekte dreigemente, matige tot ernstige fisiese aanranding, afdreiging en die gebruik van wapens en algemene viktimisering in. Alvorens die begrip skoolgeweld bespreek word, gaan daar eers na die verskillende kategorieë van geweld gekyk word.

3.3.2 Kategorieë van geweld

Volgens Du Plessis (2008:23) is dit belangrik om tussen die verskillende soorte geweld te onderskei, omdat geweld maklik gesien kan word as ʼn enkele of algemene maatskaplike probleem. Alhoewel dit voorkom of oorvleueling plaasvind, kan daar tóg duidelik onderskei word tussen politieke, bende, algemene kriminele, en verhoudingsgeweld. Al vier genoemde kategorieë van geweld beïnvloed Suid- Afrikaanse skole op die een of ander manier en is dikwels onderling aan mekaar

75

verwant. Onderstaande bespreking van die verskillende kategorieë van geweld sal hierdie stelling duideliker illustreer.

3.3.2.1 Politieke geweld

Skoolgeweld en leerderaktivisme in Suid-Afrika het al in 1976 begin toe duisende leerders in Soweto gewelddadig teen Afrikaans as onderrigtaal geprotesteer het. Politieke geweld was ʼn inherente deel van ʼn groot deel van die huidige generasie ouers se lewens (Zulu, Urbani & Van der Merwe, 2004:170). Hierdie ouers was vasgevang in die stryd teen apartheid en die manier waarop die regering van die dag onderwys gehanteer het. Die optrede van die regering het tot gevolg gehad dat geweld in skole en die woonbuurte uitgebars het en dat dié geweld op gewelddadige maniere onderdruk is. Data van ʼn studie wat deur Dawes, Tredoux en Feinstein (1989:18) gedoen is oor die 1976-onluste en die gewelddadige verwydering van mense vanuit hulle huise, toon dat daar na afloop van die onluste emosionele en gedragsversteurings onder die ouers en kinders voorgekom het.

Dit sal naïef wees om te dink dat die invloed van politieke geweld tot die verlede behoort. Ten spyte van die totstandkoming van ʼn nuwe sosiale, demokratiese politieke bestel na 1994, het die probleem van geweld en ontwrigting nie verdwyn nie (Zulu et al., 2004:170). Volgens De Villiers (1997:76) het dieselfde politieke faktore wat ʼn rol gespeel het in die verbrokkeling van apartheid ook ʼn rol gespeel in die ondermyning van ʼn onderrig-en-leerkultuur in skole. Volgens die skrywer kom dit voor of skoolgeweld en ontwrigting realiteite bly en in sommige areas selfs toeneem. Volgens Ngcongo (1995:15) skyn dit of die historiese kultuur van geweld en ontwrigting in Suid-Afrikaanse skole daartoe gelei het dat leerders dit as normaal beskou om probleme op ʼn aggressiewe en gewelddadige manier op te los.

3.3.2.2 Kriminele geweld

Die kernoorsaak van geweld het nie baie verander sedert die apartheidsregering nie. Volgens die Johannesburggesentreerde Centre for the Study of Violence and Reconciliation (CSVR) word die huidige kriminele geweld net soos in die 1980‟s gekoppel aan sosiale en ekonomiese marginalisering (CSVR, 2008:1). Dit beteken dat in die nuwe multi-kulturele Suid-Afrika die jeug onder sekere bevolkingsgroepe nog steeds sosiale en ekonomiese ongelykhede ervaar. Volgens Hunt (2003:2) is

76

jeugwerkloosheid ʼn nasionale krisis in dié sin dat 60% van die skoolverlaters sonder werk en ʼn heenkome sit. Die motiveringsvlakke van bestaande leerders om op skool te presteer is derhalwe laag, die frustrasievlakke hoog en sulke leerders kan hulle tot gewelds- en kriminele dade wend. Simpson, voorsitter van die CSVR (CSVR, 2008:2), kom tot die gevolgtrekking dat, om die patrone van geweld in Suid- Afrikaanse skole te verstaan, ʼn diepgaande kennis van die sosiale en ekonomiese marginalisering ʼn vereiste is.

3.3.2.3 Bendegeweld

Die teenwoordigheid van bendes bevorder geleenthede vir geweld en bied sosiale belonings soos aanvaarding en magsposisies aan bendelede vir betrokkenheid in onwettige aktiwiteite. Sommige bende-aktiwiteite vind in skole plaas. Skoolbendes is egter oor die algemeen jonger en minder gewelddadig as straatbendes, wat gewoonlik in woonbuurtes aangetref word (Reddy, Shyamala, Kasuma & Santhakumari, 2005:116).

Bendes, wat gedefinieer word as sosiale groepe wat rondom delinkwensie georganiseer word (Miller, 1998:429), word oor die algemeen verbind met die verkoop van dwelms en die pleeg van geweldsmisdade (Gover, Jennings & Tewksbury, 2009:104). Daarby kan lidmaatskap van ʼn bende kriminele aktiwiteite laat toeneem, selfs vir dié wat alreeds by kriminele aktiwiteite betrokke is (Reddy et al., 2005:116). Peterson, Taylor en Esbensen (2004:795) is ook van mening dat daar ʼn sterk verhouding tussen lidmaatskap van ʼn bende en ʼn verskeidenheid kriminele aktiwiteite is. Hunt en Joe-Laidler (2001:365) brei hierop uit deur te noem dat bendelidmaatskap nie net ʼn toename in die jeug se betrokkenheid by misdaad en geweld sal hê nie, maar dat dit ook die moontlikheid om ʼn slagoffer van misdaad te word, vergroot.

Burnett en Walz (1994:2) is van mening dat bendes ʼn betekenisvolle rol speel in die voorkoms van geweld in skole. Howell (2006:5) voeg by dat indien onwettige dwelms ook betrokke is, bendes met ernstige delinkwente probleme in skole verbind kan word. Die skrywer noem dat daar in navorsing wat in die VSA deur die Departement van Onderwys en die Departement van Justisie gedoen is, bevind is dat daar ʼn sterk korrelasie tussen bendes en die dra van wapens by skole bestaan. Uit dié navorsing is dit ook duidelik dat wanneer dwelms by die skool beskikbaar is, daar ook ʼn hoë

77

teenwoordigheid van bendebedrywighede is en dat dié teenwoordigheid van bendes verder bydra tot hoë vlakke van viktimisasie.

Volgens Thornberry, Krohn, Lizotte, Smith en Tobin (2003:180) kan die aktiewe betrokkenheid by bendebedrywighede leerders se lewens dramaties verander. Buiten die insluiting by kriminele aktiwiteite kan bendes as ʼn sterk sosiale netwerk dien wat die gedrag van leerders negatief kan beïnvloed, toegang tot pro-sosiale netwerke verhinder en leerders verhoed om aan normale skoolaktiwiteite deel te neem. Howell (2006:6) vat die gevolge saam deur te noem dat dit voorkom of bendes poog om wanorde in skole teweeg te bring, wat vroeë skoolverlating, ongevraagde en vroeë swangerskappe, tienerouerskappe en onstabiele skoolomgewings insluit.

3.3.2.4 Verhoudingsgeweld

Geweld kom in baie verhoudings voor. Ouers slaan hulle kinders, kleuters het onderonsies, meisies klap hulle seunsvriende, mans terroriseer hulle vrouens en mishandelde vrouens vermoor hulle mans (Johnson, 2006:2).

Johnson (2006:2) is van mening dat geweld in verhoudings nie verstaan kan word alvorens die rol van geweld in die verhouding nie self verstaan word nie. Anders as ander tipes van geweld, byvoorbeeld roof, wat meer ʼn voorvalgebeurtenis is en wat nie ʼn verhouding vereis nie, ontstaan verhoudingsgeweld uit die dinamika van ʼn vaste verhouding. Verhoudingsgeweld kan dus as ʼn sentrale kenmerk in sommige verhoudings gesien word. Die skrywer identifiseer drie tipes geweld in verhoudings (Johnson 2006:2):

 Die eerste tipe geweld is waar die verhouding oor die algemeen deur een party gedomineer word (intieme dominansie).

 Die tweede tipe geweld is waar daar gewelddadige weerstand teen die intieme dominante persoon gebied word (gewelddadige weerstand).

 Die derde tipe geweld is waar geweld die produk van konflik of spanning binne ʼn verhouding is (situasie).

Alhoewel bogenoemde omskrywing van gewelddadige verhoudings hoofsaaklik op ʼn persoonlike vlak konsentreer, kan daar tog ʼn lyn deurgetrek word na skoolverhoudings, soos byvoorbeeld tussen die skool, die gesin, die gemeenskap en

78

onderwysers (cf. 2.2.1; 2.2.2; 2.2.3; 2.2.4; 2.2.5). Vervolgens gaan daar ʼn ondersoek gedoen word na geweld op skoolvlak.