• No results found

Ten opsigte van die beskrywende statistiek sal kort, vergelykende bevindinge van die CSCSS-skale tussen laerisikoskole en hoërisikoskole weergegee word.

Met skoolveiligheid is die gemiddelde tellings van die twee groepe skole verskillend. Kampusontwrigting by laerisikoskole se gemiddelde telling toon ʼn hoër gemiddeld aan as dié van hoërisikoskole, wat daarop dui dat kampusontwrigting eerder by laeriskoskole voorkom. Daarteenoor toon dwelmmisbruik en die dra van wapens se telling by laerisikoskole ʼn laer gemiddelde telling, wat daarop dui dat dwelmmisbruik en die dra van wapens eerder by hoërisikoskole voorkom as by laerisikoskole. Die lae gemiddelde telling van albei groepe skole toon dat skole in die Oos-Kaapprovinsie nie op ʼn groot skaal blootgestel is aan skoolveiligheidsrisiko‟s nie, maar ten spyte daarvan kom insidente rakende skoolveiligheid wel by beide groepe skole voor.

Ten opsigte van die skale van skoolkultuur en -klimaat is die gemiddelde tellings vir albei groepe oor die algemeen hoog. Dit dui daarop dat leerders in die Oos- Kaapprovinsie hulle skole se skoolkultuur en -klimaat positief ervaar. Hoërisikoskole se gemiddelde tellings vir die skale fisiese veiligheid, ondersteuning vir leer en sosiale en burgerlike leer is hoër as dié van laerisikoskole. In al die ander skale is die gemiddelde telling vir laerisikoskole hoër, wat daarop dui dat leerders in laerisikoskole hulle skole meer positief ervaar as die leerders in hoërisikoskole. Hierdie verskille is egter nie beduidend groot nie. Daar is slegs ten opsigte van die fisiese omgewingskaal ʼn beduidende verskil tussen die gemiddeldes van die twee groepe skole. In hierdie geval toon die gemiddelde van die hoërisikoskole ʼn lae telling, wat daarop dui dat hierdie leerders hulle fisiese omgewing negatief ervaar. Gemiddelde tellings van skoolgeweld toon dat leerders in albei groepe skole oor die algemeen nie hoë vlakke van skoolgeweld ervaar nie. Redes hiervoor kan wees dat indien geweldsinsidente voorkom, dit meer geïsoleerde gevalle is en dat dit nie ʼn alledaagse verskynsel is nie. Gemiddelde tellings dui egter daarop dat die

149

hoërisikoskole meer geweld as die laerisikoskole ervaar. Die gemiddelde tellings dui ook daarop dat leerders in albei groepe wel skoolgeweld ervaar.

Daar sal nou oorgegaan word om ʼn oorsig van die bevindinge van navorsingshipotese 1 te gee. Navorsingshipotese 1 dui aan dat skoolkultuur en -klimaat gebruik kan word om ʼn beduidende persentasie van die variansie in skoolgeweld te verklaar.

Ten opsigte van die korrelasie tussen die voorspellers en kriterium vir die totale groep (cf. tabel 5.14) is dit duidelik dat al die skale vir skoolkultuur en -klimaat ʼn beduidende negatiewe korrelasie met die drie geweldskale toon, terwyl die skoolveiligheidskale ʼn beduidende positiewe korrelasie met die geweldskale toon. Dit dui daarop dat hoe beter die skoolkultuur en -klimaat by ʼn skool ervaar word, hoe laer is die vlakke van skoolgeweld, terwyl die gebrek aan skoolveiligheid weer daartoe lei dat leerders hoër vlakke van geweld by skole ervaar.

Vir elkeen van die drie skale van skoolgeweld, naamlik fisiese en verbale teistering; wapens en fisiese aanvalle; en seksuele teistering, is afsonderlike hiërargiese regressie-ontledings ten opsigte van skoolkultuur en -klimaat gedoen.

Ten opsigte van fisiese en verbale teistering (sien tabel 5.15) as kriterium, het al die skale, behalwe ondersteuning met leer, ʼn unieke bydrae tot die verklaring van die variansie in fisiese en verbale teistering getoon. Ooreenstemmende effekgroottes het egter aangetoon dat die resultate nie van enige praktiese waarde is nie. Dit blyk egter dat die aspekte vir skoolkultuur- en -klimaat wel gesamentlik ʼn bydrae tot fisiese en verbale teistering by skole lewer. Ten opsigte van die skoolveiligheidsaspekte is ook bevind dat albei skale ʼn bydrae tot die verklaring van die variansie in fisiese en verbale teistering lewer. Dit blyk ook dat die veiligheidsaspekte gesamentlik ʼn bydrae tot fisiese en verbale teistering lewer. Met die uitsondering van die skale vir skoolkultuur en -klimaat, naamlik sosiale en burgerlike leer en respek vir verskeidenheid, lewer al die skale ʼn bydrae tot die variansie in wapens en fisiese aanvalle (sien tabel 5.17). Ooreenstemmende effekgroottes toon aan dat die resultate nie van enige praktiese waarde is nie. Dit blyk egter dat die aspekte vir skoolkultuur en -klimaat wel gesamentlik ʼn bydrae lewer tot wapens en fisiese aanvalle. Resultate toon dat skoolveiligheid nie ʼn

150

beduidende bydrae lewer tot die verklaring van die variansie in wapens en fisiese aanvalle as vorm van geweld nie.

Wat die bydraes van die skale vir individuele skoolkultuur en -klimaat ten opsigte van seksuele teistering betref, toon resultate met die uitsondering van drie skale, fisiese veiligheid, ondersteuning met leer, en sosiale en burgerlike leer, ʼn unieke bydrae tot die verklaring van die variansie. Die ooreenstemmende effekgroottes toon egter weer aan dat die resultate nie van praktiese belang is nie. Dit blyk dat skoolkultuur- en skoolklimaatsaspekte gesamentlik wel ʼn bydrae lewer tot seksuele teistering as vorm van skoolgeweld. Ten opsigte van skoolveiligheid dui die effekgroottes dat die resultate nie van praktiese belang is nie en dus nie ʼn beduidende bydrae tot die verklaring van die variansie in seksuele teistering lewer nie.

Uit die oorsig van die drie skoolgeweldskale is dit duidelik dat indien die skoolkultuur en -klimaat positief ervaar word, daar minder geweld in skole ervaar word. Die omgekeerde is natuurlik ook waar.

Navorsingshipotese 2 dui aan dat beduidende verskille in die gemiddelde tellings van skoolveiligheid, -kultuur en -klimaat asook skoolgeweld ten opsigte van geslag, graad, skoolomgewing, skoolligging, skoolgrootte, enkelgeslagskole en gemengdegeslagskole voorkom.

Dit blyk uit die gemiddelde tellings van al die skoolkultuur en -klimaat asook skoolgeweldsaspekte dat daar verskille voorkom en dat hierdie verskille op die 1% beduidend is. Slegs die CSCSS-skale waarvoor daar beduidende resultate op die 1%-peil verkry is, is ontleed.

Ten opsigte van die geslag van die leerders toon die gemiddelde tellings dat seuns in vergelyking met dogters vir die skoolgeweldskale wapens en fisiese aanvalle, asook die totale geweldstelling, beduidende hoër gemiddeldes behaal het en aldus meer insidente van geweld ervaar.

In die vergelyking tussen enkelgeslag- en gemengdegeslagskole het enkelgeslagskole se gemiddelde tellings ten opsigte van skoolveiligheidskale beduidende laer gemiddelde tellings behaal. Dit beteken dat dade van geweld meer in enkelgeslagskole voorkom.

Die graadgroep toon ook verskille ten opsigte van gemiddeldes, maar omdat die effekgroottes klein is, is dit nie verder bespreek nie.

151

Skole wat in stede voorkom, het ten opsigte van die skale vir skoolkultuur en -klimaatskale (reëls en norme; sosiale en emosionele sekerheid; fisiese omgewings)

hoër gemiddelde tellings behaal. Dit dui daarop dat leerders wat uit stedelike skole afkomstig is, skoolkultuur en -klimaat meer positief ervaar. Ten opsigte van skoolgeweld (al drie skale) toon die gemiddeldes van leerders uit stedelike gebiede laer gemiddeldes wat daarop dui dat die leerders uit hierdie gebiede ook minder insidente van geweld ervaar.

Skoolgrootte se resultate vir groepgemiddeldes toon verskille, maar hierdie verskille is klein. Slegs ten opsigte van fisiese omgewing is daar ʼn beduidende verskil, wat aandui dat leerders in skole met minder as 500 leerders hulle skole meer negatief ervaar as die groter skole.

Seunskole se groepgemiddeldes ten opsigte van skoolgeweld (fisiese en verbale teistering; totale geweldstelling) het beduidende hoër gemiddelde tellings as meisieskole behaal. Dit beteken dat leerders in seunskole ʼn hoër mate van skoolgeweld ervaar as meisieskole.

In die vergelyking tussen enkelgeslag- en gemengdegeslagskole het enkelgeslagskole se gemiddelde tellings ten opsigte van skoolveiligheidskale beduidende laer gemiddelde tellings behaal. Dit beteken dat dade van geweld meer in gemengdegeslagskole voorkom. Ook ten opsigte van die skale vir skoolkultuur en -klimaat het die enkelgeslagskole ʼn hoër gemiddelde telling opgelewer. Dit wil sê dat gemengdegeslagskole die kultuur en klimaat meer negatief ervaar as die enkelgeslagskole. Wat skoolgeweld betref, is dit ook duidelik dat leerders in gemengdegeslagskole ten opsigte van al die betrokke skale van skoolgeweld hoër gemiddelde tellings toon. Dit dui daarop dat gemengdegeslagskole meer dade van skoolgeweld as die enkelgeslagskole ervaar.

5.11 SAMEVATTING

In hierdie hoofstuk is die verskillende tabelle aangebied, ontleed en geïnterpreteer. Die fokus van hierdie studie het op die resultate van die data-analise geval ten einde betekenisvolle bevindinge van die invloed van skoolkultuur en -klimaat op geweld in Oos-Kaapse skole te maak. Daarmee saam is die samestelling van die

152

ondersoekgroep, die insameling van gegewens, die uiteensetting van die meetinstrument en die analisering van verkreë data bespreek.

Die data in hierdie hoofstuk is na aanleiding van twee hipoteses bespreek: dat skoolkultuur en -klimaat gebruik kan word om ʼn beduidende variansie in skoolgeweld te verklaar, asook dat daar beduidende verskille vir biografiese veranderlikes in die gemiddelde tellings van skoolveiligheid, skoolkultuur en -klimaat en skoolgeweld, voorkom. Met die ontleding van die tabelle het die data getoon dat hoe beter die skoolkultuur en -klimaat ervaar word, hoe laer is die vlakke van geweld. Die omgekeerde is ook waar. Data ten opsigte van die biografiese veranderlikes het ook op beduidende verskille in die gemiddelde tellings getoon.

Uit die ontleding van die kwantitatiewe data is daar ʼn algemene beeld gegee van die invloed wat skoolkultuur en -klimaat op skoolgeweld het. Daar sal in hoofstuk 6 gepoog word om deur middel van ʼn kwalitatiewe benadering die algemene beeld te verfyn. Aspekte waarop gekonsentreer sal word, is onder andere leerders se sieninge omtrent gewelddadige gedrag, die omvang van geweld in betrokke skole, hoe die skole die uitdagings ten opsigte van skoolgeweld hanteer, hoe leerders self skoolgeweld hanteer, hoe leerders die rol van die skool in die voorkoming van skoolgeweld sien, hoe leerders die rol van onderwysers en buite instansies in die bekamping van skoolgeweld sien en om te bepaal watter strukturele, organisatoriese en kulturele maatreëls in plek is om geweld te voorkom.

153

HOOFSTUK 6

KWALITATIEWE NAVORSING: NAVORSINGSONTWERP

EN TERUGVOERING

6.1 INLEIDING

In hoofstuk 5 is daar ʼn kwantitatiewe ondersoek gedoen om die uitwerking van skoolkultuur en -klimaat op geweld in skole van die Oos-Kaapprovinsie soos uiteengesit in die navorsingsvrae en navorsingsdoelwitte (cf. 1.2; 1.3), te bepaal. Omdat daar in hierdie studie gebruik gemaak word van die verklarende ontwerpmetode waar die data eers deur die kwantitatiewe metode ingesamel word en dan deur die kwalitatiewe data ondersteun word, sal daar in hierdie hoofstuk op ʼn kwalitatiewe ondersoek gekonsentreer word. Die kwalitatiewe data word dus gebruik om die resultate van die kwantitatiewe resultate aan te vul of te verhelder.

Die kwantitatiewe ondersoek het die ervarings en persepsies van leerders ten opsigte van skoolkultuur, -klimaat en -geweld geïllustreer. Uit die bevindings van die kwantitatiewe navorsing in hoofstuk 5, kan afgelei word dat hoe laer die vlakke van geweld is, hoe beter word die skoolkultuur en -klimaat ervaar. Die omgekeerde is natuurlik ook waar, dit wil sê, dat hoe hoër die vlakke van geweld is, hoe swakker word die skoolkultuur en -klimaat in die skool ervaar. In die kwantitatiewe ondersoek het dit verder geblyk dat die skoolkultuur en -klimaatsaspekte gesamentlik ʼn beduidende negatiewe korrelasie met die geweldskale toon, terwyl die skoolveiligheidskale, wat oor ʼn gebrek aan veiligheid handel, ʼn beduidende positiewe korrelasie met die geweldskale toon.

Wat die bydraes van beide die individuele skale van skoolveiligheid, -kultuur en -klimaatskale betref, het die effekgroottes getoon dat die effekgroottes nie van praktiese belang is nie. Alhoewel die meerderheid van die individuele skale van skoolveiligheid, -kultuur en -klimaat op die 1%-peil unieke bydraes maak tot die verklarings van die variasies in die tellings van skoolgeweld, is daar tog teenstrydighede aangeteken. Só byvoorbeeld, het die skoolkultuur en -klimaatskale sosiale en burgerlike leer, respek vir verskeidenheid, fisiese veiligheid en ondersteuning met leer nie ʼn beduidende bydrae tot die verklaring van die variansie ten opsigte van skoolgeweld gelewer nie. Gevolglik sal daar met die kwalitatiewe

154

navorsing gepoog word om al die individuele skoolkultuur en -klimaatsaspekte sowel as die skoolgeweldsaspekte deur middel van semi-gestruktureerde onderhoude te ondersoek en te beskryf.

Deur van die kwalitatiewe metode gebruik te maak, poog die navorser om deur die persoonlike ervarings van leerders ten opsigte van skoolkultuur, -klimaat en -geweld, die invloed van skoolkultuur en -klimaat op skoolgeweld na te vors. Hoofstuk 6 sal op die samestelling van die ondersoekgroep, die insameling van gegewens, die onderhoudskedule en die analisering van die data wat verkry is, fokus.