• No results found

Hierdie afdeling van die studie sal hoofsaaklik deskriptief of beskrywend van aard wees, aangesien dit die terapeutiese pad wat ek met ‘n egpaar geloop het, beskryf. Die doel van hierdie onderneming is primêr om die basis-teoretiese vertrekpunte van die studie in die praktyk toe te pas, maar om terselfdertyd evaluatief te besin oor hoe die reeds genoemde strategieë uit die narratiewe benadering kan help om die Bybelse verhaal van hoop en beloftes (promissio) aan die fokusgroep van hierdie navorsing te bemiddel.

By implikasie maak dit die skopus van die studie wyer aangesien dit in wese ‘n hermeneutiese aktiwiteit sal vorm wat impliseer dat dié gedeelte van die navorsing kwalitatiewe waarde tot die studie sal byvoeg.

Onder kwalitatiewe waarde word die waarnemings verstaan wat gemaak sal word wanneer ek met ‘n egpaar waar kanker gediagnoseer is, op weg/in gesprek sal gaan.

Deur die volgende oriënterende opmerkings wil ek graag ‘n bondige oorsig oor die filosofiese uitgangspunte van die kwalitatiewe navorsingsmetode gee en aantoon hoekom dit deel van hierdie studie vorm. In hoofstuk 6 sal daar verder op die kwalitatiewe navorsingsmetodiek ingegaan word, voordat die terapeutiese proses met ‘n kanker-geaffekteerde egpaar beskryf word.

Onder die talle nuwe navorsingsmetodes wat oor die laaste dekades naas kwantitatiewe navorsing ontstaan het, het kwalitatiewe navorsing ook ‘n staanplek verkry.

Die opkoms van kwalitatiewe navorsing moet teen die agtergrond van die bekende paradigmaskuif van ‘n modernistiese wyse van wetenskapsbe-oefening na ‘n postmoderne benadering verstaan word. Maykut en Morehouse (1994:14) wys op die belangrike historiese verskuiwings wat plaasgevind het wat al hoe meer die siening dat kennis finaal is, laat verander het, en so ruimte vir ander metodes van navorsing geskep het. Onder hierdie ver-skuiwings tel onder andere die verandering in wêreldbeskouing van een-voudig na kompleks en die verandering in verklaringsmetodes van liniêr- kousaal na medebepalend-kousaal. Die waarnemersperspektief het van objektief na perspektiwies verskuif.

Laasgenoemde begrip word gekies bó die begrip subjektief aangesien objektiewe en subjektiewe waarneming antiteses is en kwalitatiewe navorsing juis nie subjektiewe navorsing in die oog het nie, maar perspektiwiese navorsing (Maykut en Morehouse 1994:19). Dit impliseer dat meer waarde geheg word aan die waarnemer se interpretasie van die onderwerpe onder bestudering, sonder om bepalend te wees vir die bevindinge. Hiermee is dadelik ook iets gesê oor die plek van die navorser binne ‘n kwalitatiewe benadering, naamlik dat hy/sy deel is van die navorsingsproses: “[Q]qualitative researchers understand that they are also subjects or actors and not outside of the process as impartial observers” (Maykut en Morehouse 1994: 20). Denzin en Lincoln (1994:2) sluit hierby aan as hulle sê:

’‘Qualitative research is multimethod in focus, involving an interpretive, naturalistic approach to its subject matter ... This means that qualitative researchers study things in their natural settings, attempting to make sense of, interpret ... the meanings people bring to them ... Qualitative research involves ... personal experience and ... life stories. The word qualitative implies an em-phasis on prosesses and meaning.’‘

Hieruit behoort dit duidelik te wees dat ‘n kwalitatiewe benadering baie geskik is vir navorsing van sosiale aard (vgl. Silverman 1986), dit wil sê waar mense betrokke is, alhoewel dit ook nie as ongeskik beskou kan word vir meer wis-kundige dissiplines soos ekonomie nie (vgl. Van Maanen 1984).

Die modus van die kwalitatiewe deel, soos vir hierdie studie in die vooruitsig gestel, sal die pastorale gesprek wees. Kvale (1996:3-5) gebruik die metafore van “miner” en “traveller” om aan te dui hoe kennis in kwalitatiewe navorsing by wyse van gesprekvoering ingesamel word. Die persoon in beraad word beskou as iemand wat uit hoofde van sy/haar ervaring oor kennis beskik wat by wyse van ‘n gesprek “gemyn” word. Of soos ‘n reisiger verskillende plekke besoek en deur gesprekke met die inwoners inligting versamel, so genereer die gespreksgenote kennis tydens die kommunikasieproses. Teen die tyd dat die reisiger by die huis kom, het hy/sy ‘n storie gevorm.

Kwalitatiewe navorsing het binne hierdie denkraamkwerk egter nie ten doel om ‘n bepaalde saak as “reg” of “verkeerd” te “bewys” nie. Selfs wanneer kwalitatiewe navorsing byvoorbeeld aan die hand van onderhoude gevoer word en dieselfde onderhoud met verskeie persone gevoer word (constant comparison), sou daar hoogstens van tendense gepraat kon word (Cherry 2000:65). Vanuit ‘n modernistiese wetenskapsbeskouing wat hom sterk op statistiese kontroleerbaarheid verlaat, sou ‘n kwalitatiewe benadering se betroubaarheid en geldigheid dus bevraagteken kon word. Maykut en Morehouse (1994:21) wys egter in hierdie verband daarop dat ‘n kwalitatiewe benadering eerder met “ontdekkings” as “bewyse” werk. “What can be discovered by qualitative research are not sweeping generalizations but contextual findings” (Maykut en Morehouse 1994:21). Die bevindings van kwalitatiewe navorsing is dus betroubaar en geldig met betrekking tot die bepaalde konteks. Deur ‘n begrip bekend as “triangulation” (Cherry 2000:45) kan kwantitatiewe en kwalitatiewe navorsingsmetodes egter gekombineer word, wat vanuit ‘n statistiese oogpunt meer betroubaarheid en geldigheid aan ‘n kwalitatiewe studie sal toevoeg.

In lyn met die beginsel dat ‘n navorser nie objektief nie, maar vanuit ‘n bepaalde perspektief die onderwerp van navorsing benader, tree die begrippe “tacit and explicit knowledge” ook op die voorgrond (Maykut en Morehouse 1994:31).

Hiermee word gesê dat ‘n navorser sy/haar onderwerp benader met sowel nie- kontroleerbare kennis (tacit knowledge) as kontroleerbare kennis (explicit knowledge). Beide hierdie vorme van kennis word uiteindelik gebruik om bepaalde ontdekkings omtrent die onderwerp van studie te maak.

Toegepas op hierdie studie beteken dit dat die navorsing nie net berus op die feite wat vanuit verskillende dissiplines (basisteoretiese besinning) versamel is nie, maar dat die bevindings van die navorsing ook medebepaal word deur my eie aanvoeling rakende die onderwerp asook dié van die egpaar met wie daar in gesprek gegaan word. Opsommend kan gesê word dat die navorsingsverslag van die studie die volgende beoog:

• Dit wil beskrywend wees van die proses waar die basisteoretiese kennis aangaande kanker, afgetrede egpare en narratief-terapeutiese beginsels saamgevoeg word in ‘n pastorale gesprek binne ‘n diakoniologiese perspektief. • Dit skep ‘n ruimte waar die pastor en persone in beraad sal ko-konstrueer aan

‘n proses/gesprek wat hopelik op die ontdekking van unieke uitkomste sal uitloop waardeur die kanker-gedomineerde verhaal van die afgetrede egpaar verlig kan word.

• In die proses word gehoop om dieper in die afgetrede egpaar se belewenis van kanker te delf en “ontdekkings” of waarnemings te maak wat in soortgelyke situasies van waarde mag wees en waardeur ander afgetrede kankerlyers gehelp kan word.

Dit behoort nou duidelik te wees dat ‘n kwalitatiewe benadering die ruimte skep om die strategieë van die narratiewe benadering te implementeer en ‘’heuristies’‘ saam met die egpaar wat daaraan gaan deelneem, in lig van die Woord met die onderwerp om te gaan.

In die volgende hoofstuk word aandag gewy aan die relevansie en kontekstualisering van die gekose navorsingsonderwerp. Verskeie begrippe wat in die res van die studie ter sprake kom, word ook verhelder.