• No results found

Aftrede in die lig van die ontwikkelingsteorie

H. Prostaatkanker

2.1.9 Kanker binne die konteks van die afgetrede egpaar

2.1.9.1 Aftrede in die lig van die ontwikkelingsteorie

Die gedagte van lewensfases word ontleen aan die verskillende ontwikkelings-teorieë, soos dié van Piaget, Kohlberg en Erikson (Haber en Runyon 1983). Hiervolgens beweeg die mens in sy leeftyd deur verskillende fases van geboorte tot sterfte, met bepaalde take, doelwitte en eienskappe wat eie is aan elke sogenaamde fase. Die waarde van die verskillende ontwikkelings-teorieë is daarin geleë dat dit ‘n raamwerk daarstel waarbinne die mens binne ‘n sekere leeftyd verstaan kan word.

Hiermee word uiteraard nie beweer dat alle mense se gedrag presies aan die hand van die verskillende ontwikkelingsteorieë sal ontplooi nie, maar word daar aanvaar dat die betrokke ontwikkelingsteorie ‘n breë perspektief bied waaraan die menslike wetenskap homself kan oriënteer. Na alle waarskyn-likheid sal aftrede tot een van die latere lewensfases behoort.

As voorbeeld van ontwikkelingsteorieë word die bydraes van Erik Erikson en Daniel Levinson kortliks bespreek om te sien watter lig dit op aftrede werp.

(i) Erik Erikson

Volgens Erikson (1965:239-261) kan daar agt lewensfases/take onderskei word. Hierdie take is gegrond op die gedagte dat die mens na ‘n volgende lewensfase groei deur die uitdagings van die vorige fase die hoof te bied. Volgens Erikson behels dit die volgende:

Fase 1 Suigelingskap (geboorte tot 1 jaar)

Die jongebore mens is uiters afhanklik van ander. Die hooftaak van hierdie fase is om vertroue in ander te kweek teenoor wantroue wat mag ontstaan.

Die kind ontwikkel motoriese vaardighede asook ‘n mate van individualiteit, wat lei tot konflik met ouers. Outonomie staan in konflik met skaamte en twyfel.

Fase 3 Kinderfase (3-5 jaar)

Die innerlike behoeftes staan in konflik met wat die omgewing van die persoon vereis. In hierdie fase staan inisiatief in konflik met skuld.

Fase 4 Skoolfase (6-11 jaar)

In hierdie fase worstel die persoon om bevoegdheid in teenstelling met mis-lukking. Die skolastiese prestasie word ‘n manier om die spanning op te los.

Indien hierdie spanning nie bevredigend opgelos word nie, ontstaan gevoelens van minderwaardigheid.

Fase 5 Adolessensie (12-24 jaar)

Tydens hierdie fase word die persoon se identiteit bepaal. Hierdie proses staan in konflik met die verwarring wat die persoon beleef ten opsigte van die ver-skillende seksuele en sosiale rolle wat gevestig moet word.

Fase 6 Jong volwassenheid (25-30 jaar)

Die krisis van hierdie fase sentreer om die behoefte om ‘n verbintenis met ‘n ander persoon te vestig. Intimiteit en distansiëring staan in konflik met selfbeheptheid. Indien ‘n verhouding nie gevestig word nie, beleef die persoon isolasie.

Fase 7 Volwassenheid (30 jaar-aftrede)

Die individu lê ‘n vaste lewenspatroon en roetine vas. Die konflik sentreer in hierdie fase om generatiwiteit (produktiwiteit) wat in konflik staan met stagnasie. Indien die persoon nie daarin slaag om voortdurend kreatief en produktief te bly nie, tree stagnasie in.

Fase 8 Laat volwassenheid (aftrede tot sterwe)

Die take van rypwording en veroudering word met hierdie fase in verband gebring. Hierdie fase kan slegs as suksesvol beskou word indien al die konflik van die vorige stadia opgelos is. Integriteit staan in konflik met wanhoop en ontnugtering. Die individu moet die onafwendbare dood sinvol in die lewenspatroon kan integreer. Indien die persoon in gebreke bly om dit te doen, kan gevoelens van ontnugtering posvat, wat die lewe futiel laat voorkom.

(ii) Opmerkings oor die ontwikkelingsteorie van Erikson

Daar moet in gedagte gehou word dat Erikson se teorie in die vyftigerjare gegrond is en dat sosiologiese veranderinge sedertdien veroorsaak het dat hierdie teorie nie meer orals en altyd geld nie.

So, byvoorbeeld, kan belangrike fases soos puberteit en adolessensie heelwat vroeër posvat as gevolg van verskeie omgewingsfaktore wat verskil van vyf dekades gelede. Chronologies pas Erikson se teorie dus nie meer presies op die mens van die nuwe millennium nie.

Aftrede verteenwoordig ‘n oorgangsgebeurtenis binne Erikson se benadering. Dit is beide die afsluiting van volwassenheid en die begin van laat volwassenheid. Dit plaas aftrede dus in ‘n belangrike lig aangesien die wyse waarop dit deur die individu hanteer word, bepalend kan wees vir beide die afsluiting van die vorige en die begin van die nuwe lewensfase. Aangesien Erikson nie in sy uiteensetting aandag skenk aan wat presies aftrede behels nie, sal daar later nader ingegaan word op die take wat met aftrede geassosieer word.

(iii) Daniel Levinson

Levinson, outeur van The Seasons of a Man’s Life (1978), het spesifiek die verouderingsproses by mense in hulle latere lewens ondersoek en het dus ‘n besondere bydrae gelewer tot kennis omtrent die fokusgroep van hierdie studie. Hy wyk af van ‘n streng fasebenadering, soos aangetref by Erikson, en lê meer klem op die beslissende stadia van die latere lewe.

Hy onderskei tussen die volgende beslissende stadia: 45 jaar - oorgang tot middeljare, 50 jaar - ingang tot middel volwassenheid, 60 jaar - oorgang tot laat volwassenheid en 65 jaar - laat volwassenheid.

Vir die doel van hierdie studie sal aftrede beskou word as ‘n gebeurtenis wat êrens tussen die oorgang tot die middeljare en laat volwassenheid plaasvind, aangesien aftrede binne die Suid-Afrikaanse konteks tussen die ouderdom 45 en 65 kan plaasvind.

Derhalwe sal Levinson se opmerkings oor die (lewens)take wat vanaf die jare 50 ter sprake kom, van nader beskou word. Die hooftaak vir persone in hierdie lewensfase is om tot resolusie te kom ten opsigte van vier polariteite wat gedurende hierdie jare in hulle lewens bestaan. Dit is die volgende:

• Die jonk/oud polariteit

Persone in die ouderdomsgroep 50 tot 55 moet vrede maak met die feit dat hulle “oud word”. Oud word word tussen aanhalingstekens geplaas omdat die begrip eintlik ‘n sosiologiese verskynsel is wat nie dieselfde binne alle kulture verstaan word nie. Tog word individue, ongeag tyd of kultuur, met hierdie gewaarwording gekonfronteer. Hierdie gewaarwording kan reeds voor aftrede plaasvind as die werkende ouer persoon besef dat hy/sy nie meer dieselfde produktiwiteit kan handhaaf as jonger kollegas nie. Nou moet daar vrede gemaak word met die feit dat die individu nie meer fisies in staat is om dieselfde produktiwiteit te handhaaf nie. Aftrede word in hierdie tyd ‘n gebeurtenis van belang waar die fokus heeltemal verskuif van ekonomiese produktiwiteit na emosioneel-geestelike produktiwiteit. Dit beteken dat die ouer persoon nou die rol aanneem van ‘n mentor vir jonger mense, ‘n draer van die tradisie en iemand met wysheid by wie die jonger geslag leiding kan kry. Persone in hierdie lewensfase bevind hulleself voorts in ‘n proses van selektiewe losmaking, asook ‘n proses van selektiewe interaksie.

Ten opsigte van losmaking word hier gedink aan die losmaking van die stres van ‘n beroep en die verantwoordelikhede wat daarmee gepaard- gegaan het. Meer tyd ontstaan nou om op die dieper betekenis van die lewe te fokus. Dit kan impliseer dat individue op selektiewe wyse nuwe interaksies aangaan. Hierdie interaksie kan nuwe interpersoonlike verhoudings wees of verhoudings wat uit ‘n nuwe deeltydse werkie voortspruit, ensovoorts.

• Die skep/afbreek polariteit

Hierdie polariteit tree by aftrede gewoonlik sterker op die voogrond. In die middeljare, waar die individu ekonomies en huislik aktief besig is met ‘n beroep en die versorging van ‘n gesin, ontstaan die besef dat die mens oor sowel skeppende as destruktiewe vermoëns beskik. Individue ontwikkel die besef dat hulle baie mense gehelp het, maar ook baie seergemaak het. Die lewe word dus binne die raamwerk van skep en afbreek beleef.

Met aftrede word hierdie beginsel op die self oorgedra wanneer die individu besef dat daar nou ‘n spanning ontstaan tussen lewe (skep) en sterwe (afbreek). ‘n Vorm van druk ontstaan omdat tyd as beperk beleef word. Persone begin in die verlede delf en assessering vind plaas in welke mate hulle skeppend of destruktief met die naaste omgegaan het. Baie emosionele aandag word nou, in die afwesigheid van aansprake op hulle tyd, geskenk aan versoening met partye teenoor wie destruktief opgetree is.

Ander weë moet in hierdie tyd gevind word om die drang tot skepping vol te hou, aangesien daar nie meer ‘n gesin is om te versorg of ‘n beroep om te onderhou nie. Vandaar die verskynsel dat die afgetredene baie meer tyd aan innerlike groei bestee omdat die self die mees prominente area is waaraan steeds geskep kan word.

Uiteindelik word die individu deur die afbrekende sy van die menslike bestaan oorkom en kry eindigheid die oorhand.

‘n Volgende polariteit wat teen die aftree ouderdom na vore kom, is die spanning tussen manlike en vroulike eienskappe binne die individu, oftewel die sogenaamde geslagsbalans. Dit staan in verband met die mens se innerlike spanning tussen die wil om te domineer en die gewilligheid om jou te onderwerp.

In gerontologiese literatuur word daar algemeen aanvaar dat mans se drang om te domineer in die latere jare afneem en vroue se wil tot dominansie toeneem. Rigiede handhawing van sogenaamd tipiese “manlike” en “vroulike” gedrag verskuif al meer na die agtergrond. In hierdie lewensfase neem mans met groter gemak as in vroeër jare die rol van ‘n versorger aan en vroue neem met groter gemak rolle aan wat tradisioneel as die man s’n beskou is.

Groter vryheid ontstaan na aftrede om die self uit te druk. Hierdie is dus een van die meer bevrydende polariteite aangesien die kapasiteit vir ‘n voller genieting van die lewe hiermee saamkom.

Nou verweef met geslagskwessies, is seksualiteit by ouer mense. Seksualiteit by afgetrede mense en in latere jare verteenwoordig nie ‘n spanning nie, mits beide partye gesond is en die behoefte aan seksuele aktiwiteite gemeenskaplik is.

• Die intimiteit/vervreemding polariteit

Hierdie polariteit het te make met die onvermydelike losmaakproses wat na aftrede binne mense se lewens geskied.

Tydens die verouderingsproses lyk dit of vervreemding ‘n groter waar- skynlikheid as binding of intimiteit sal wees. Hierdie vervreemdings-proses word aan verskeie faktore toegeskryf. Algemene persepsies, soos dat ouderdom ‘n ongewenste verskynsel is, veroorsaak dat die samelewing hulle van ouer mense distansieer. Afsonderlike behuising en sosiale strukture dra hiertoe by.

Ouer mense laat vaar hulle bekende rolle in die gemeenskap en ervaar sodoende groter afstand tussen hulle en die gemeenskap.

Individue se verswakkende ekonomiese vermoë isoleer hulle verder. Hulle kan byvoorbeeld nie meer mooi klere bekostig nie en vermy sosiale of godsdienstige byeenkomste omdat hulle nie paslik kan klee nie. Ekonomiese agteruitgang kan veroorsaak dat ouer mense ook van blyplek moet verwissel, wat hulle die ondersteuning van jare lange bure en bekendes ontneem. Hierdie vervreemdings aspek kan egter in sommige gevalle juis ouer wordende mense motiveer om uit vrees vir totale vevreemding nuwe bande persone in ‘n nuwe omgewing te smee.

(iv) Opmerkings oor die ontwikkelingsteorie van Levinson

Levinson se bydrae is ongetwyfeld ‘n meer eietydse insig in veroudering en is meer in voeling met eietydse tendense. Die waarde daarvan vir hierdie studie lê daarin dat Levinson aftrede as die beslissende moment vir sy gedagte van die beweging tussen polariteite verstaan.

Sy bydrae is veral waardevol om ‘n beeld van die prosesse wat aan die werk is tydens hierdie jare te verskaf en behoort van groot hulp te wees wanneer ‘n basisteorie vir pastorale arbeid met afgetrede egpare geformuleer moet word.

(v) Samevattende opmerkings oor aftrede in die lig van die ontwikkelingsteorie Die ontwikkelingsteorie belig aftrede as ‘n mylpaalmoment van die menslike bestaan. Dit staan uit as ‘n belangrike gebeurtenis in soverre Erikson dit as ‘n oorgangsgebeurtenis uitwys en Levinson dit as die deurgang na die finale jare van die mens se aardse bestaan beklemtoon. Wat baie duidelik blyk, is dat die jare waarin aftrede plaasvind, emosioneel, fisies en geestelik gelade jare is. Dit is ‘n tyd van geestelike en fisiese aanpassing. Die wyse waarop dit hanteer word, kan beslissend wees vir geluk en tevredenheid in die latere en laaste jare van die mens se lewe op aarde.

hierdie tydperk in lig van die ontwikkelingsteorie reeds ‘n sensitiewe tyd verteenwoordig. Dit wil egter voorkom of mense gedurende hierdie leeftyd oor ‘n wonderlike geestelike vatbaarheid beskik wat binne ‘n Christelike perspektief positief uitgebou kan word rondom die vele eskatologiese perspektiewe wat die Woord op ons menslike bestaan bied.