• No results found

Die onafwendbare sy van menslike bestaan: krisisse

H. Prostaatkanker

4.2 SISTEEMTEORETIESE OPMERKINGS OOR DIE

4.3.2 Basiese vertrekpunte binne ‘n psigo-sosiaal-maatskaplik blik

4.3.2.4 Die onafwendbare sy van menslike bestaan: krisisse

‘n Oorsig oor die literatuur rakende krisisse wek die indruk dat krisisse en die hantering daarvan dikwels as ‘n selfstandige fenomeen behandel word (vgl. Stone 1980, Kennedy 1981, Parry 1990, Roberts 1990, Greenstone en Leviton 1993 en Aguilera 1998). Hieruit het die sogenaamde krisisteorieë ontwikkel wat elkeen poog om ‘n fenomenologiese greep op die ervaring van ‘n krisis te gee.

Parry (1990:15) definieer ‘n krisis as ‘n gebeurtenis wat ‘n langtermyn stressor verteenwoordig, wat die individu angstig maak, wat gevaar of verlies inhou, wat onbeheerbaar voel, onverwags gebeur, die normale roetine onderbreek en die toekoms onseker laat lyk. Indien al hierdie gewaarwordinge vir ‘n periode langer as twee weke voortduur, kan daar van ‘n krisis gepraat word.

Greenstone en Leviton (1993:1-2) het ‘n ietwat eenvoudiger benadering deurdat hulle ‘n krisis definieer as ‘n uitvloeisel van stres in iemand se lewe wat die normale funksionering aantas en nie deur die persoon se normale probleemhanteringsmeganismes hanteer kan word nie.

Ek glo dit is veilig om te beweer dat die diagnose van ‘n gevaarlike siekte soos kanker dan binne die raamwerk van ‘n krisis pas en dat dit ook in die afgetredene se geval ‘n krisis sal verteenwoordig.

krisis ook fisiologiese response is. Daar is hoofsaaklik drie response. Eerstens is daar ‘n onmiddellike fisiologiese skokrespons as gevolg van die reaksie van die outonome senustelsel op die gevaar of bedreiging wat die persoon beleef. Hierdie respons presenteer binne twee tot drie sekondes na die stres-stimulus en duur tussen vyf en tien minute. Dit veroorsaak angs-tigheid en is waarneembaar deur ‘n sweetuitslag, bewing en oneweredige asemhaling. Daar is tweedens ook ‘n sekondêre skokrespons wat binne twee tot drie minute na die stres-stimulus volg waardeur die liggaam, onder andere, ekstra glukose afskei en ekstra energie vir een tot twee ure aan die liggaam beskik- baar stel.

‘n Derde fisiologiese respons op ‘n stres-stimulus het hoofsaaklik te make met chemiese afskeidings wat aanleiding gee tot ‘n versnelde metabolisme van tussen 60% en 100% asook ‘n hoër bloeddrukvlak. Laasgenoemde respons kan tot tussen ses tot agt weke voortduur.

Die eerste twee response verduidelik veral hoekom mense ten tye van ’n krisis nie alles kan inneem wat iemand vir hulle probeer sê nie, aangesien die liggaam na die stres-stimulus na normaal moet terugkeer.

(i) Krisis-intervensie

Ten opsigte van krisis-intervensie is daar binne psigologie hoofsaaklik twee benaderings wat gevolg word, te wete die generiese benadering en die individuele benadering (Aguilera 1998:18-20).

Die generiese benadering tot krisis-intervensie berus op die aanname dat daar verskillende soorte krisisse is en dat mense min of meer dieselfde op ‘n bepaalde tipe krisis reageer. Hierdie intervensie kyk dus eerder na die tipe krisis en nie soseer na die psigodinamiese prosesse van die slagoffer van die krisis nie. Die bestudering van krisisse en die invloed daarvan op mense, het ook aanleiding gegee tot die ontstaan van sogenaamde stressorskale, wat ‘n aanduiding probeer gee van hoeveel stres ‘n bepaalde stressor op die mens sal uitoefen (Greenstone en Leviton 1993:21-22).

Die individuele benadering tot krisis-intervensie neem die persoon as uitgangspunt vir die intervensie. Dit is in elke krisis uniek aangesien dit aan die spesifieke persoon se behoeftes wil voldoen.

Dit verskil egter van langtermynpsigoterapie aangesien dit nie op die ont- wikkelingsgeskiedenis van die persoon konsentreer nie, maar eerder vra wat die homeostase op die kort termyn versteur het en wat gedoen kan word om dit te herstel.

(ii) Siekte as krisis

Die hantering van siekte word oor die algemeen as deel van krisisbestuur (Kennedy 1981:164) aanvaar. Binne die generiese benadering word gewoonlik gevra na die spesifieke simptome van die siekte en welke daarvan as krisis gesien kan word. Kanker word gewoonlik as ‘n chroniese siekte-verskynsel aanvaar, aangesien die behandeling daarvan in die reël ‘n langtermynproses verteenwoordig.

Relevant vir die doeleindes van hierdie studie is Aguilera (1998:154) se waarneming dat die diagnosering van ‘n chroniese siekte by volwassenes baie hoë vlakke van stres veroorsaak. Hierdie stres is nie tot die siek persoon beperk nie, maar beïnvloed ook die egmaat en ander familie. Die psigologiese hantering van die krisis as gevolg van chroniese siekte word hoofsaaklik ge- soek in die rigting van die fisiese hantering van die oorsaak van stres, byvoorbeeld om die gewas te laat verwyder, en in kognitiewe streshantering, deur byvoorbeeld positief oor die probleem te dink. Daar word in die krisis- teorie aangaande siekte aanvaar dat daar hoofsaaklik vier stadia aan die krisis van siekte verbonde is: die aanvanklike skok, die bepaling en aanvaarding van die omvang van die siekte, die herstel na die hospitalisasie en die uitdaging om weer die normale lewensroetine te hervat (Aguilera 1998:155). In die lig van die onvoorspelbaarheid van kanker, is bogenoemde raamwerk miskien ‘n oorvereenvoudigde siening van die krisis wat ’n chroniese siekte verteenwoordig.

Ek vermoed dat die blote vrees geassosieer met kanker en die geloof dat kanker altyd weer terugkeer, ‘n langtermyn krisis verteenwoordig wat uitein- delik in ‘n transisionele proses sal oorloop wat die geaffekteerde persoon sal moet help om bepaalde lewens-aanpassings te maak.

(iii) Siekte as katalisator van die rouproses

Siekte staan nie net in die teken van krisis nie. Soos in hoofstuk 2 aangedui, verteenwoordig dit ook ‘n afskeid van die lewe soos dit eens aan die pasiënt bekend was. Psigies gesproke kan ‘n lewensbedreigende siekte soos kanker dus ook ‘n rouproses by die geaffekteerde persoon en sy/haar naasbestaan- des veroorsaak.

Kübler-Ross se vyf stadia van die rouproses word vandag steeds as psigologiese raamwerk aanvaar om die gedrag van mense wat verlies moet verwerk, te verstaan (Lock, Meyers en Herr 2001:379). Tydens die krisis- ervaring van siekte kan daar dus geantisipeer word dat die geaffekteerde persoon en die naasbestaandes ook die psigoliese en emosionele response geassosieer met rou en verlieshantering sal vertoon, naamlik ontkenning, skok, onderhandeling, depressiwiteit en aanvaarding.

(iv) Post-traumatiese stresversteuring as respons op die diagnose van ernstige siekte

In die lig van die waarneming dat die diagnosering van ‘n ernstige siekte baie traumaties deur die volwassene beleef kan word, word kortliks aandag gegee aan die psigologiese verskynsel van post-traumatiese stresversteuring. Keane

et al. (1993:147) bring hierdie verskynsel in verband met psigologiese afge-

stomtheid, angstigheid en depressie in reaksie op ‘n groot skok in die persoon se lewe. Hierdie toestand word in die hand gewerk deur ‘n gebeurtenis wat buite die skopus van die persoon se normale belewenisse val en wat sy/haar lewe of die liggaam bedreig. Daar is ook ‘n gereelde herbelewenis van die probleem, deur byvoorbeeld drome.

Verder is daar ‘n breuk in die korttermynherinnering met betrekking tot die stresvolle gebeurtenis. Gedragspatrone soos slaaploosheid, geïriteerdheid en

woede-uitbarstings is almal aanduidings dat daar sprake van ‘n post- traumatiese stresversteuring kan wees, veral as van die sipmtome langer as ‘n maand voortduur.

Ek vermoed dat so ‘n psigologiese respons veral kan voorkom wanneer die persoon vir ‘n lang periode ‘n ernstige siekte vermoed het - en dan die diag- nose verneem. Dit mag heel moontlik ook in verband staan met die persoon se persepsie van kanker as ‘n doodsvonnis.

Die belangrike saak is dat psigologiese response nie buite rekening gelaat moet word wanneer ‘n lewensbedreigende siekte by ‘n persoon gediagnoseer word nie.

Siekte as uitdaging vir die egpaar en gesinsisteem

Die sisteemteorie wat aan die begin van hierdie hoofstuk bespreek is, het beklemtoon dat die egpaar deel van ‘n sisteem is. Daarom sal die diagnose van kanker by een van die eglede ook ‘n invloed op die sisteem hê.

Die tese van Rolland (1994:xiv) is dat al die naasbestaandes wat daagliks saam met die sieke lewe, op die een of ander wyse deur die siekte beïnvloed word.

Wanneer ‘n familie deur siekte getref word, word mense akuut bewus van die verhoudings tussen hulle asook van hulle eie tekortkominge wat dikwels verwoord word in die versugting dat hulle “meer” vir die sieke wil beteken. In wese word die ekwilibrium in die gesin versteur, aangesien die rol van die betrokke persoon deur siekte onder bedreiging gekom het. In die geval van ‘n lewensbedreigende siekte waar die dood ‘n immanente werklikheid word, is die versteuring binne die sisteem soveel erger (Ferreira :1995:222).

Vir die verstaan van egpare en gesinne binne die raamwerk van siekte, is dit belangrik om bedag te wees op die psigologiese respons van die individue om die impak op die sisteem te waardeer. Frude (1991:67-88) lig die volgende uit:

hom/haarself gekeer om nie die ander lede van die gesin te belas nie. Wanneer abnormaliteite bekend word, put die sisteem gewoonlik uit hulle eie raamwerk om antwoorde of oplossings vir die probleem te kry. Gesinsisteme kan ook kollektief die bestaan van die probleem ontken, wat tydelike verligting van spanning meebring. Wanneer simptome voortduur, vorm gesonde lede ‘n drukgroep wat die sieke motiveer om ‘n dokter te raadpleeg.

• In afwagting op die uitslag van ‘n diagnose, kan buitengewoon hoë vlakke van spanning binne die egpaar en familiesisteem verwag word. Lede van die sisteem wil nie graag heftig reageer voordat ‘n diagnose bevestig is nie om sodoende nie die geaffekteerde persoon te ontstel nie. Die pasiënt sal ook positief probeer bly om nie die naasbestaandes te ontwrig nie. Hierdie onsekerheid plaas die hele sisteem onder hewige stres.

• Indien ‘n diagnose gunstig is, sal die lede waarskynlik vinnig weer homeostase bereik. Indien die diagnose egter ernstige siekte bevestig, word die stres op die sisteem meer intens. Die pasiënt sal self onderworpe wees aan skok en die gepaardgaande response terwyl die sisteem dadelik kognitiewe en strukturele aanpassings sal moet maak. Ten einde hulleself emosioneel te beskerm, mag lede van die sisteem gebruik maak van tydelike ontkenning totdat die impak van die diagnose versag het. ‘n Groot mate van familiesolidariteit word gewoonlik in hierdie periode vertoon. Die emosionele hantering van die probleem word verder dikwels in die vorm van strukturele aanpassings geabsorbeer.

• Belangrike aspekte van die siekte self moet ook in die proses in berekening gebring om die impak daarvan op die sisteem te begryp. Enkele hiervan is die tydsaspekte, dit is, of die siekte binne die afsien-bare tyd sal genees en of dit ‘n progressiewe siekte is wat met tyd sal vererger; die graad van ongeskiktheid wat die siekte meebring, dit wil sê, of daar amputasie van ‘n ledemaat sal wees en of die behandeling self die pasiënt sal verhoed om selfstandig te funksioneer; die graad van emosionele ongeskiktheid, dit wil sê, die psigologiese impak van die siekte, soos in welke mate depressie die pasiënt sal lamlê of selfs breinfunksies sal affekteer, soos in die geval van ‘n breintumor.

• Die reaksie van die lede van die sisteem is ook in die reël uiteenlopend (vergelyk ook Davey et al. 2005: 248). ‘n Kleinkind sal die nuus van sy ouma se kanker anders ervaar as wat die ma se dogter dit sal doen. Daar is ‘n ingewikkelde netwerk van psigologiese reaksies wat in hierdie tyd in gedagte gehou moet word. Die pasiënt beleef erge vorme van teleurstelling, hopeloosheid en sin van verlies wat tot uiting kom in depressie, woede en ‘n belewing van onregverdigheid. Die primêre versorger, gewoonlik die egmaat of een van die dogters, se eie emosionele respons staan gewoonlik in verband met die pasiënt se reaksie op die siekte. Indien die pasiënt so goed moontlik probeer saamwerk, kan hierdie koalisie baie positief wees en selfs die bande tussen die versorger en pasiënt versterk. Oormatige negatiwiteit aan die kant van die pasiënt kan ‘n bose kringloop van negatiewe reaksies tot gevolg hê. Die versorger sal in die lig hiervan kontak met die pasiënt tot die minimum beperk en die pasiënt sal dit as verwerping beleef, wat ‘n afwaartse spiraal in hierdie verhouding kan impliseer. Die beste vorm van die bestuur van hierdie verhouding is geleë in ‘n dag-tot-dag benadering aangesien faktore soos moegheid aan die kant van die versorger en beter en slegter dae vir die pasiënt die verhouding drasties sal beïnvloed.

• Die individuele response van familielede word veral beïnvloed deur hoe naby hulle emosioneel aan die pasiënt geleef het voor die siekte. ‘n Algemene uitgangspunt is egter dat ‘n manlike egmaat en ‘n seun van die pasiënt emosioneel swaarder kry as ‘n vroulike eglid of dogter. Daar word ook aanvaar dat lede van ‘n egpaar baie dieselfde emosionele respons op die siekte sal vertoon. Indien die pasiënt hoë vlakke van depressie en angs vertoon, is dit waarskynlik dat die egmaat ook sal.

• ‘n Belangrike aspek ten opsigte van die psigologiese response is ook geleë in die effek van die siekte op die verhoudings binne die egpaar en gesinsisteem. Enkele redes hiervoor is dat lede van die egpaar weens die siekte nou baie meer tyd in mekaar se teenwoordigheid deurbring. Rolle tussen egmaats word heel moontlik nou omgeruil. Skielik moet die vrou nou meer besluite en verantwoordelikhede op haar neem of die man meer huishoudelike take.

Kanker by afgetrede egpare lei ook dikwels ‘n periode van drastiese seksuele veranderinge in, wat beteken dat die fisiese verhouding ook herevalueer moet word. Dit kan lei tot hoër vlakke van selfveragting en depressie by die pasiënt en groter onsekerheid by die gesonde lid oor hoe die situasie hanteer moet word. Dit kan egter ook ‘n tyd van groter emosionele solidariteit word waar die verhouding tussen man en vrou emosioneel verdiep.

• Die invloed op die breër sisteem kan positief of negatief wees. Dit word negatief indien individuele lede die krisis van die pasiënt ‘n persoonlike krisis maak en positief wanneer die siekte ‘n saambindende faktor word waarin gesinskohesie verhoog en lede meer geredelik emosioneel en affektief op ‘n positiewe wyse met mekaar omgaan. Familie-strukture wat ‘n geskiedenis van positiewe probleemhantering in die verlede het, sal beter vaar in die aangesig van die diagnosering van ‘n ernstige siekte by een van sy lede.

Ohlson (1988:60-61) beweer dat die wyse waarop die egpaar en gesinsis-teem ‘n krisis soos siekte binne sy geledere hanteer, veral van drie faktore sal afhang: gesinskohesie, die aanpasbaarheid van die gesin en die kwaliteit van kommunikasie.

Onder gesinskohesie word die emosionele verbondenheid van lede aan mekaar verstaan. Hierdie kohesie kan oorbetrokke, onbetrokke of in balans wees.

Dis voor die hand liggend dat gesinne wat ‘n gebalanseerde kohesie openbaar, baie meer soepel op ‘n krisis in hulle geledere sal reageer.

Die aanpasbaarheid van ‘n gesin word gesien in hulle vermoë om rolle en hiërargieë te kan uitruil indien ‘n situasie dit sou vereis. Hoë vlakke van aan-pasbaarheid word as een van die grootste bates van ‘n egpaar en gesinstruktuur gesien in die aangesig van ‘n krisis.

Kommunikasie binne die familiesisteem speel ‘n fasiliterende rol aangesien dit die modus is waardeur gesonde kohesie en aanpasbaarheid bereik word. Oop kommunikasie waarin empatie en ondersteuning ‘n rol speel, bevorder eersgenoemde eienskappe, terwyl negatiewe kommunikasiestyle wat deur kritiek en bedekte

boodskappe oorheers word, kohesie en aanpasbaarheid teenwerk.

Rolland (1994:68) meen dat die beginsel van grense ook die proses van krisishantering kan bevorder of rem. Onder grense word die interne reëls van die egpaar of gesin verstaan waardeur die rolle van individue in die sisteem bepaal word. ‘n Rigiede handhawing van grense mag die soepelheid van die egpaar en gesinsisteem binne die krisissituasie bemoeilik.

Dit help ook as die grense tussen die egpaar en die breër sisteem nie te rigied is nie, aangesien insette van buite meer geredelik ten tye van krisisse aanvaar sal word en so die sisteem se probleemhanteringsvermoë in ‘n krisis sal ver-beter.

(vi) Terminaliteit as krisis vir die egpaar en gesin

Die terminale aard van kanker mag sekerlik nie buite berekening gelaat word in ‘n studie waarin kanker sentraal staan nie. Dit moet ongelukkig verstaan word dat kanker ter enige tyd terminaal kan word. Dit bring uiteraard die egpaar en familie voor uitdagings te staan wat miskien nie van die begin af deel van hulle verwysingsraamwerk was nie. Daarom wil ek graag die metateoretiese gedeelte van die basisteoretiese besinning verbreed deur aan enkele aspekte van terminaliteit aandag te gee.

Om terminaal te wees, beteken dat die siektetoestand nie omgekeer kan word nie. Die liggaam gaan al verder agteruit en die persoon sterf uiteindelik. Schulz (1978:19) wys daarop dat die mens se konseptuele raamwerk oor die sterwensproses hoofsaaklik deur twee interaktiewe komponente beheers word, naamlik psigologiese en fisiese lyding. Dit sluit in die mens se vrees vir fisiese lyding, vernedering, doelverlies, die effek van die dood op naasbestaandes, vrees vir straf en die vrees dat dood ‘n toestand van “nie- bestaan” behels.

Alhoewel sodanige denkwyses by die meeste individue aanwesig is, is daar ook by sommige mense ‘n sogenaamde doodsangs teenwoordig. Doodsangs word breedweg gedefinieer as ‘n oordrewe angs vir die dood wat tot neu-rotiese en psigotiese gedrag aanleiding gee (Schulz 1978:21). Oor wat doodsangs in die hand werk, is daar nie

heeltemal duidelikheid nie. Daar is ‘n vermoede dat ouderdom, religie en doelgeoriënteerdheid wel ‘n rol speel. ‘n Ouer persoon wat glo in ‘n lewe na die dood en wat reeds sy/haar lewensdoelwitte gerealiseer het, sal na alle waarskynlikheid nie doodsangs ontwikkel nie.

Wanneer kanker terminaal geraak het, staan die egpaar en lede van die familie duidelik voor ander uitdagings as wanneer hulle met ‘n geneeslike siekte gekonfronteer sou word. Voor die hand liggend is die afskeid en rou-proses waaraan aandag gegee moet word. Verskeie elemente dra by tot die wyse waarop hierdie prosesse binne die egpaar en familie sal afspeel. Wanneer die dood imminent word, kan sogenaamde “anticipatory grief” by lede van die familie sigbaar word (Littlewood 1992:11). Dit dui op ‘n rou-proses wat ‘n aanvang neem voordat die pasiënt fisies oorlede is. Alhoewel dit dui op die familie se erkenning van wat besig is om te gebeur en derhalwe in ‘n positiewe lig gesien kan word, kan dit ook baie negatief deur die sterwende persoon beleef word. Dit kan uitloop op die sogenaamde “aasvoël sindroom”, waar naasbestaandes letterlik om die bed staan en wag dat die pasiënt moet sterf, omdat hulle reeds die persoon by wyse van spreke aan die dood afgestaan het (Littlewood 1992:11). Só ‘n vorm van vooraf rou moet ten alle koste vermy word, aangesien dit die sterwende laat met ‘n waarneming dat hy/sy reeds afgeskryf is. Die naasbestaandes moet tot in die laaste oomblikke die sterwende met liefde en deernis behandel. Veel eerder sal die lede van die gesin moet poog om op ‘n sinvolle wyse van die sterwende afskeid te neem en op mekaar se behoeftes te fokus om sodoende die balans tussen hulle te handhaaf in lig van een van die lede se heengaan.