• No results found

Gedeelde eienskappe van menswees: basiese behoeftes en

H. Prostaatkanker

4.2 SISTEEMTEORETIESE OPMERKINGS OOR DIE

4.3.2 Basiese vertrekpunte binne ‘n psigo-sosiaal-maatskaplik blik

4.3.2.2 Gedeelde eienskappe van menswees: basiese behoeftes en

Mense word universeel aan mekaar verbind deur wat bekend staan as basiese behoeftes aan die een kant en sogenaamde ontwikkelingstake, aan die ander kant.

Die basiese behoeftes wat alle mense van alle kulture en periodes met mekaar gemeen het, is onder andere die volgende (Morris 1996:350-364, Westen 1996:378-401):

• Die behoefte aan voeding. Die literatuur onderskei egter tussen ‘n biologiese behoefte aan voeding en ‘n psigologiese behoefte daaraan. Die biologiese behoefte aan voeding word deur die brein beheer deur die suikervlak in die liggaam te monitor en die liggaam van ‘n sensasie van honger te bedien wanneer die suikervlakke laag word. Die sielkundige behoefte aan voeding is dikwels in eksterne stimuli geleë, soos om voedsel te sien of te ruik en dan ‘n behoefte te kry om te eet. Die biologiese behoefte aan voeding staan in verband met die liggaam se oorlewing terwyl die emosionele behoefte daaraan nie met oor- lewing in verband staan nie.

• Die behoefte aan seksuele intimiteit. Ook hier moet tussen biologiese en psigologiese motiverings onderskei word. Die menslike liggaam is

seksuele opwekking as ’n natuurlike drang beskryf kan word. Mense kan egter ook psigologies deur omgewingsfaktore gedryf word om behoeftes aan seksuele bevrediging te ervaar.

• Die behoefte aan erkenning. Dit is bekend as die behoefte om te presteer en word in verband gebring met die mens se innerlike vrees vir mislukking en verwerping en die bevrediging wat erkenning verskaf. • Fisiese aanraking. Hierdie skyn ook ‘n ingebore behoefte van die mens

en selfs sekere diere te wees. ‘n Legio eksperimente is al uitgevoer wat hierdie behoefte blootgelê het.

• Die behoefte om te behoort (geborgenheid). Dit word as een van die vroegste behoeftes by jong kinders beskou, naamlik om fisies en emosioneel aan iemand verbonde te wees. Dit word ook beskou as een van die hoofredes hoekom mense teen volwassenheid hulleself in ‘n langtermynverhouding soos ‘n huwelik begeef en hoekom mense regdeur hulle lewens ‘n behoefte het aan duursame verhoudings soos goeie vriendskap.

Nog ‘n eienskap wat as universeel aan die mens beskou kan word, is die taak om te ontwikkel. Dit herinner aan die beginsel dat die mens nie ‘n statiese wese is nie. Elke normaal geskape mens beweeg met tyd deur bepaalde fisiese groeiprosesse waaraan daar ook bepaalde emosionele groeiprosesse gekoppel is. Alhoewel alle mense nie hierdie ontwikkelingstake noodwendig dieselfde hanteer nie, moet almal daardeur beweeg. Deel van hierdie nomale ontwikkeling is die vorming van gesinne en families. Indien die seksuele behoefte en die behoefte om iewers te behoort as deel van die basiese behoeftes beskou word, is gesinsformasie ‘n redelik logiese uitvloeisel. Omdat hierdie ontwikkelingstake van die individu vanuit die ontwikkelingsteorie in hoofstuk 2 bespreek is, gaan ek dit nie hier herhaal nie, maar aandag gee aan ‘n aanverwante saak wat ook relevant binne die konteks van die egpaar is. Dit was veral die werk van Froma Walsch (1982:168) wat ‘n nuwe sensitiwiteit bevorder het vir die feit dat egpare en families wat uit die basiese behoeftes

van individue ontstaan, ook deur ontwikkelingsfases beweeg, aangesien gesinne op ‘n liniêre tydlyn vorentoe deur die lewe beweeg.

Soos in normale ontwikkelingsteorie, moet ook die familie met soepelheid deur hierdie ontwikkelingstake beweeg, ten einde sinvol as familie verder te kan ontwikkel. Walsch (1982:176) het ses sulke fases vir die familie geïdentifiseer: i. Huisverlating

ii. Die vereniging van families deur ‘n huwelik iii. Familie met jong kinders

iv. Familie met adolessente v. Kinders verlaat die huis vi. Die familie in die latere lewe

Binne elkeen van hierdie fases is daar sekere emosionele take en fisiese doelwitte wat bereik moet word ten einde die egpaar en gesin in staat te stel om sinvol vorentoe te beweeg. Vir die belang van hierdie studie verwys ek slegs na die take wat op fase vyf en ses betrekking het, aangesien dit in alle waarskynlikheid betrekking op die afgetrede egpaar se omstandighede sal hê: • Fase 5: Kinders verlaat die huis

Daar word nou van die egpaar verwag om emosioneel tot die aanvaarding te kom dat daar ‘n verskuiwing ten opsigte van die generasierolle plaasgevind het. Die kinders word nou selfstandig en die ouers wat naby of in vroeë aftrede staan, sal hierdie nuwe rol emosioneel moet verwerk. Die egpaar sal hulleself voorts ten opsigte van hulle eie verhouding moet herposisioneer, aangesien hulle nou meer op mekaar aangewese sal wees as toe die kinders in die huis was. Nuwe verhoudings ten opsigte van die eie ouderdomsgroep moet ontwikkel word, die egpaar moet ontvanklik wees vir die ontwikkeling van verhoudings met skoonkinders en skoonfamilie en hulle moet gereed maak om die rol van grootouers in te neem.

Tydens hierdie fase moet aanpassings gemaak word deur beide die egpaar en die kinders. Die egpaar moet, ten spyte van fisiologiese veranderings, poog om persoonlike rolle sowel as egpaarrolle ten beste te onderhou.

Die lede van die egpaar moet begin voorberei op die verlies van die lewensmaat, asook op die verlies van vriende van hulle eie ouderdomsgroep - en, selfs jonger lede van die familie.

Van die kinders wat die huis verlaat het, word nou verwag om die rol van hulle ouers oor te neem, maar ook om ontvanklik te wees vir die oordrag van die wysheid van hulle ouers. Die kinders moet ten slotte die ouer wordende ouers ondersteun, sonder om verantwoordelikhede uit hulle hande te neem.

Die voorafgaande sou kon dien as eienskappe en take waaraan elke individu, egpaar en gesinsisteem onderhewig is.

‘n Vraag wat nou hieruit aan die orde kom, sou wees waarop hierdie ont- wikkeling afgestem is. Waartoe moet die mens of die gesin ontwikkel? Is daar iets soos ‘n ideale gesin, gesien vanuit die menswetenskappe?

Die vroeëre literatuur het gesuggereer dat daar van ‘n sogenaamde stan- daard familiemodel gepraat sou kon word: “According to the standard model of family life, the family is a task performing unit wich mediates between the individual and the society” (vergelyk Hill 1971). Volgens hierdie siening was die suksesvolle familie een wat ‘n veilige hawe aan sy lede kon bied. “Normale” ontwikkeling van die lede van ‘n egpaar en gesin sou dus uitloop op ‘n punt waar die gesinskohesie van só ‘n aard is dat hulle hierdie veilige hawe vir mekaar kon bied.

Nog ‘n siening van ‘n normale familie wat vir ‘n lang periode prominensie geniet het, was dié wat beweer het dat ‘n familie normaal is in die lig van die afwesigheid van sogenaamde “abnormale gedrag” (Walsch 1982:3-36). In dieselfde tyd wat hierdie as die gesinsideaal voorgehou is, het daar egter ook stemme opgegaan wat gewys het op radikale veranderinge in die breë samelewing wat tradisionele sienings vandie ideale gesin sou bevraagteken.

Die veranderinge in konseptualisering oor sogenaamde normale gesinne is veral toegeskryf aan die samelewing se veranderende persepsies van seksuele integriteit en die houvas wat die Christelike kerk op die breë samelewing verloor het (Kay 1972:7-28, 70-80).

‘n Empiriese studie binne Suid-Afrikaanse konteks gedurende die vroeë negentigs vanuit gesinsosiologiese perspektief, steun hierdie neiging. Steyn (1993:16-18) het onder andere die volgende bevind:

• Kerngesinne (met ‘n pa, ma en kinders) word toenemend kwesbaar. • ‘n Groter uitruiling tussen die rol van mans en vrouens is besig om

plaas te vind, wat duidelik omskrewe geslagsrolle binne gesinsverband toenemend moeilik maak.

• Die emansipasie van die vrou het aanleiding gegee tot groter demokrasie in die outoritêre strukture tussen man en vrou.

• Die kerngesin vertolk binne die toenemend meer industrialiserende samelewing ‘n meer affektiewe rol, wat druk op die kerngesin plaas om meer emosioneel bevredigend vir sy lede te wees.

• Die druk op kerngesinne presenteer in die toename van buite-egtelike geboortes en hoër egskeidingsyfers.

• Die verskyning van hersaamgestelde gesinne neem toe, wat beteken dat tradisionele kerngesinne nie noodwendig in die toekoms nog die norm sal wees nie.

Die studie het ook aangedui dat die kerngesin steeds deur die meeste Suid- Afrikaners as die ideaal beskou word (Steyn 1993:81) en dat ‘n klein persen- tasie van die fokusgroep sorg vir ouers binne ‘n multigenerasie-gesin sou aanvaar indien omstandighede dit vereis.

Bernardes (1997) wys ook op enkele sake vanuit ‘n internasionale perspektief wat die eenheidsbeeld op ‘n ideale gesin vir ons tyd bemoeilik. Die skuif van modernisme na postmodernisme het byvoorbeeld baie nuwe idees oor verhoudings na vore gebring. In sommige lande word die regte van sogenaamde homoseksuele pare reeds erken en beskerm, wat onmiddellik die aanvoeling laat ontstaan dat tradisionele sienings oor gesinne besig is om te verander. Voorts het die herwaardering van die rolle van vroue wat in die sewentigerjare begin het, meegehelp om ‘n nuwe beeld van gesinne te skep. Vandag word verskeie nuwe rolle vir vroue as die normale aanvaar, wat nuwe persepsies rondom sogenaamde normale families reeds gevestig het. Nog ‘n belangrike waarneming wat Bernardes omtrent die kenbaarheid van ideale gesinne opper, is die groter bewustheid wat daar vandag bestaan omtrent die sogenaamde onsigbare aard van die familiale lewe. “Marriage and family life are intensely private affairs in comtemporary societies” (Bernardes 1997:56). ‘n Groot deel van mense se familielewe is dus in wese onsigbaar. Baie van wat die menswetenskappe van gesinne weet, berus dus op aannames wat oor jare gemaak is en wat nie vandag meer noodwendig so is nie. Alhoewel daar onsekerheid bestaan oor hoe die ideale familie huidig daar uitsien, is daar konsensus dat die konsep van ‘n gesin of familie nog steeds een van die sentrale konsepte van mense se alledaagse bestaan is (Bernardes 1997:62), wat dit inderdaad belangrik maak om te besin oor wat binne die egpaar en gesin moet gebeur.

Dit is dus duidelik dat ‘n sogenaamde normale gesin binne die huidige denkklimaat as moeilik definieerbaar vanuit die menswetenskappe beskou word. Walsch (1993:8) propageer in haar beredeneringe oor gesinne ‘n sogenaamde “family life cycle” benadering waarin sy maan dat daar versigtig omgegaan moet word met die hele gedagte van disfunksionele gesinne. Die normaliteit van gesinne moet eerder gemeet word aan wat vir hulle werk - sodat hulle onder alle omstandighede funksioneel kan bly. Daar het heelwat aannames of mites in die samelewing oor gesinne ontwikkel wat nie almal deur empiriese studies gesteun is nie. Daar kan nie meer aanvaar word dat een norm vir alle gesinne moet geld nie en selfs kerngesinne kan nie langer as die ideale vorm van ’n gesien aanvaar word nie (Walsch 1993:13).

Ook Minuchin (1974:60) sluit aan by die gedagte dat normaliteit en abnormaliteit nie op die aan- of afwesigheid van probleme gebaseer moet word nie.

Die gesin moet eerder as ‘n sosiale sisteem beskou word wat voortdurend in ‘n proses van transformasie gewikkel is. Drie basiese uitgangspunte onderlê hierdie beginsel, naamlik: die gesin is ‘n oop sosiologiese sisteem onderhewig aan voortdurende transformasie; gesinne ontwikkel met verloop van tyd, wat ‘n voortdurende herorganisasie binne die struktuur vereis; gesinne pas by verandering aan op maniere wat hulle in staat stel om steeds te kan voortgaan en hulle lede psigologies laat groei.

Dit wil dus voorkom of kliniese teoretici rakende die funksionering van gesinne konsensus het dat gesinne in wese as selfversorgende eenhede gesien kan word wat binne die beginsels van oop sosiologiese sisteme voortdurend heraanpas by omstandighede en hulleself op dié wyse in staat stel om hulle omstandighede te hanteer. In plaas van om te vra waartoe gesinne moet ontwikkel of hoe die ideale gesin daar moet uitsien, moet daar dalk eerder gevra word wat die prosesse is wat gesinne by wyse van heroriëntasie moet probeer onderhou terwyl hulle deur die lewensiklus beweeg.

Walsch (1993:58-59) het die volgende as basiese prosesse geïdentifiseer: • Betrokkenheid en ‘n verbintenis van gesinslede onderling om ‘n

wedersydse omgee-struktuur te vorm sodat die gedagte van “we are family” kan posvat.

• Wedersydse respek vir individuele verskille, outonomiteit en behoeftes terwyl die ontwikkeling en welsyn van al die verskillende generasies behorende tot die familie in ag geneem word.

• Ten opsigte van die egpaar is ‘n verhouding van wedersydse respek, ondersteuning en ‘n gelyke verdeling van verantwoordelikheid belang- rik.

leiding neem om sorg te verleen aan die jonger geslag en ondersteuning aan die ouer wordende geslag.

• Organisatoriese stabiliteit en deursigtigheid binne die familie sodat almal kan weet op welke basis interaksie gemaklik en met die minste spanning sal geskied.

• Aanpasbaarheid en soepelheid om die eise van sowel interne as eksterne veranderinge te akkommodeer, asook die effektiewe bestuur van stres in tye van probleme wat in die loop van die familie se vorentoe-beweeg deur die tyd opduik.

• Oop kommunikasielyne met ‘n deursigtige struktuur van kommunikasie, positiewe interaksie en baie ruimte vir die uitdrukking van emosies binne ‘n emfaties-sensitiewe omgewing.

• Effektiewe probleemoplossings- en konflikhanteringsmeganismes. • ‘n Gedeelde waardesisteem wat wedersydse vertroue bevorder en

riglyne bied vir die oplossing van probleme gebaseer op ‘n gesonde verbintenis met die waardes van die vroeëre geslag se etiese norme - waardeur ook die huidige breër gemeenskap in ag geneem word. • Genoegsame hulpbronne om basiese ekonomiese behoeftes te dien en

sekuriteit te verskaf en ‘n sosiale ondersteuning in die vorm van vriendskapsnetwerke en bande met die breër gemeenskap.

4.3.2.3 Psigo-sosio-maatskaplike uitdagings aan die afgetrede eg-