• No results found

H. Prostaatkanker

2.1.9 Kanker binne die konteks van die afgetrede egpaar

2.1.9.2 Aftrede in die lig van die gerontologie

Insigte vanuit die gerontologie is uiteraard belangrik vir hierdie studie. Gerontologie verwys na die wetenskaplike bestudering van die verouderings-proses by die mens. Dit funksioneer as sambreelterm vir die bevindinge van verskeie weten-skaplike dissiplines rakende hulle waarnemings oor die veroudering van die mens, dit is hoe veroudering die mens vanuit ‘n sosiologiese, biologiese en sielkundige hoek raak (Atchley 1994:4, Hattingh 1996:9).

Daar word kortliks na die bydrae van Arthur Becker (1986:51-70) gekyk, wat die bydraes van verskillende gerontoloë in ‘n balansstaatformaat saamgevat het waarin die sogenaamde winste en verliese van die latere jare aangeteken word.

(i) Verliese deur die ouderdom meegebring

• Fisiese verliese. Een van die voor die hand liggende verliese van die ouderdom lê op die terrein van die fisiese bestaan.

Biologies en fisiologies bereik die mens die toppunt van sy vermoëns teen ouderdom 30, vanwaar daar as gevolg van die verouderings-proses agter- uitgang begin intree. Op ouderdom 50 is verlies aan sig opmerklik, op 60 verlies aan gehoor en smaak, en op 70 raak hart-probleme vir die meeste mense ‘n werklikheid.

Becker (1986:52) wys daarop dat sintuiglike verliese die mees prominente gedurende die later jare is, waarvan gehoor- en sig verlies die mees ingrypende

is.

Sodanige verliese het ‘n negatiewe invloed op ouer persone aangesien hulle sonder die korrekte hulpmiddels (gehoorapparate en brille/kontak- lense) geneig is om hulle aan sosiale aktiwiteite te onttrek om verleentheid te vermy, maar in die proses die waardevolle sosialisering met ander inboet.

• Verlies van sosiale rolle. Hierdie verlies word direk met aftrede in verband gebring, aangesien die gedefinieerde rol van die beroep met aftrede verloor word. ‘n Persoon se beroep dra grootliks by tot die selfwaarde van daardie individu, deels as gevolg van die ekonomiese en sosiale mag wat daarmee gepaardgaan. Dit dien opgemerk te word dat hierdie verlies nie in dieselfde graad gevoel word deur individue wat finansieel baie sterk is nie, aangesien finansieel sterker persone dieselfde sosiale mag behou, selfs al staan hulle nie meer in ‘n beroep nie. Dieselfde geld vir gegradueerdes of persone met ‘n titel, aangesien die regter of dokter na aftrede nog steeds so genoem word. Afgetredenes uit die handearbeiderskorps is geneig om die verlies die sterkste te voel, aangesien die verlies van die beroep ‘n omvattende verlies impliseer, beide aan status en finansies.

• Verlies aan identiteit. Aftrede blyk ook in hierdie verband ‘n direkte aanleidende faktor te wees. Hierdie gedagte hang saam met die verskynsel dat ‘n persoon se beroep deels ook sy/haar identiteit mede-konstitueer. “We are what we do” (Becker 1986:55). Die beoefening van ‘n beroep bied verskeie ander voordele as net die finansiële beloning aan die einde van die maand. Dit orden mense se lewens, voorsien hulle van sosiale netwerke, laat hulle nodig voel en vorm grootliks hulle identiteit.

Met aftrede wat in die latere jare ter sprake kom, verloor mense hierdie identiteit, en kan die bepaling van ‘n nuwe identiteit as afgetredene problematies wees.

• Verlies aan mag. Die individu se beroep beklee hom/haar met bepaalde magte en bevoegdhede. Die polisiebeampte pas die wet toe en die onderwyser gee

huiswerk. Met aftrede word hierdie mag verloor. Hierdie verlies aan mag word as ‘n emosionele verlies beleef wat gedurende aftrede oorbrug moet word. • Ekonomiese verlies. Die beëindiging van die beroepslewe beteken drastiese

veranderinge in inkomstepatrone. Veral waar persone gedurende die werkende jare nie behoorlik voorsiening vir aftrede gemaak het nie, kan hierdie ‘n groot bron van kommer wees. Onvoldoende fondse kan radikale veranderinge noodsaak, soos die verkoop van vaste eiendom, wat op sy beurt weer spanning bring as gevolg van gepaardgaande verskuiwing na goedkoper akkommodasie. • Verlies aan veiligheid. Die algemene verswakking van senior persone maak

hulle ‘n kwesbare teiken vir boosdoeners. Ouer mense is dikwels ‘n sagte teiken vir inbrekers, grypdiewe en ander kriminele, wat besef dat ou mense min of geen weerstand kan bied nie. Dit laat die ouer mense met ‘n besef van kwesbaarheid en ‘n verlies aan ‘n gevoel van veiligheid.

• Verlies van onafhanklikheid. Ouderdom bring onvermydelik verlies aan onafhanlikheid mee. Weens verswakkende sig kan die ouer persoon byvoorbeeld nie meer motor bestuur nie, of weens ekonomiese beperkings nie meer ‘n voertuig onderhou nie. Daar moet nou na ander gekyk word vir hierdie behoefte wat gedurende die jonger jare ‘n basiese vermoë was.

• Verlies van tyd. Die afgetredene het baie tyd, maar nie op dieselfde wyse as wat jongmense baie tyd het nie. Lewenstyd is in alle waarskynlikheid min en in hierdie opsig het die ouer mens tyd verloor.

Ouer mense ly ook ‘n verlies aan gestruktureerde tyd. Die roetine van die beroep het verval en so ook die vaste tydsindeling wat die werkende mens se dag kenmerk. Hierdie verlies aan tyd kan gevoelens van doelloosheid by die ouer persoon wek.

• Geestelike verlies. Op die geestelike terrein is die ouer persoon ‘n kan-didaat vir ‘n aantal komplekse verliese. Weens die aftakeling van die ouderdom kan ou mense minderwaardig voel teenoor die Here. Hulle beleef hulleself as

geestelik nutteloos, ‘n gevoel wat versterk kan word deur die verskynsel dat die gemeenskap en selfs die kerk hulle nie meer ernstig opneem nie. Ouer mense se opinie word dikwels ver-ontagsaam indien hulle wel daarom gevra word. (ii) Winste deur die ouderdom meegebring

• Fisiese en psigologiese winste. Die verlies aan fisiese vermoëns kan ook in ‘n positiewe lig beskou word. Die laer dryfvermoë beteken dat ouer mense dit kan regverdig om die lewe nou rustiger te benader. Hulle is nie verplig om vol programme te handhaaf nie, want hulle kan nie meer nie. Skynbaar is die hormonale aktiwiteite wat aggressie veroorsaak ook minder, wat beteken dat ouer mense minder kompeterend is - en hoef te wees. Hier is dus sprake van die verligting van die druk wat jonger mense se lewens kenmerk.

• Sosiale winste. Die verlies aan ‘n beroep laat gee vir die ouer persoon tyd om nuwe sosiale rolle in te neem. Daar is nou meer tyd vir gemeen- skapsaktiwiteite, kerklike betrokkenheid en selfs betrokkenheid by sportaktwiteite.

• Verhoudingswinste. Die ouderdom bring geleentheid vir baie meer aandag aan verhoudings. Dit is opvallend dat chronologiese ouderdom nie werklik ‘n kriterium is vir vriendskappe in hierdie stadium nie, maar eerder gemeenskaplike waardes, byvoorbeeld dat almal in die vriendekring reeds afgetree het. Ouer mense baat nou by verhoudings waarvoor daar gedurende hulle beroepslewe nooit tyd was nie.

• Wins aan selfbeeld. Die ouderdom en gepaardgaande uittrede uit ‘n formele werkskring bring mee dat die individu nie meer aan sy/haar werkverrigting gemeet word nie, maar as mens aanvaar word op meriete van sy/haar menswees. Die persoon is nie meer van die waarde oordele van ander afhanklik nie en voel derhalwe baie beter oor die self.

• Groter vryheid. Ouer persone wen vryheid oor ‘n wye spektrum. Alles waaraan hulle deelneem, is vrywillig en deelname kan ter enige tyd opge-skort word.

Ouer mense doen dinge omdat hulle wil en nie omdat hulle moet nie. Hierdie vryheid is een van die groter winspunte van aftrede en kan die ouer persoon in ‘n meer ontspanne gemoed-stemming plaas.

• Groter geestelike ontvanklikheid. “With the diminishing of external expectations and escalating awareness that I, too, must cross the River Styx, I may well be afforded a fresh opportunity to discern the knocking on the door of my soul and to open it afresh to the promises of God” (Becker 1986:69). Met die jare word die bewustheid van ons eindigheid groter.

‘n Geestelike ontvanklikheid ontstaan, wat aanleiding gee tot die geleentheid vir geestelike verdieping, wat miskien vantevore afwesig was.

• Oorwinning oor die boeie van die dood. Die ouer persoon wat geestelik groei, oorwin binne die Christelike tradisie die vrees vir die dood.

(iii) Samevattende opmerkings oor aftrede in die lig van die gerontologie

Die realiteit van die verliese wat die ouderdom meebring, is dat dit nie werklik oorwin kan word nie, aangesien veroudering ‘n onomkeerbare proses is. Ouer mense moet dus aanpas hierby en leer om sinvol daarmee saam te leef. Hierdie aanpassing gaan gepaard met rou en afskeid neem van dit wat was en die roeping om weë te vind om voluit te leef met dit wat nog is.

Ouderdom behoort dus nie as vonnis beskou te word waardeur die ouer persoon in wanhoop beland nie. Die later jare kan selfs as kroon op die voorafgaande jare beskou word en as groeigeleentheid benut word. Dit wil voorts voorkom of die ouer persoon ‘n dieper bydrae het om te lewer binne families, gemeenskappe en die kerk. Daar lê ook groot potensiaal op die terrein van verhoudings.

Dit lyk ook of die balansstaat tussen voor- en nadele balanseer - met net die dood wat die harmonie kan versteur, maar wat volgens die Woord deur Christus juis ‘n wins kan wees (Fil 1:21).