• No results found

Sintese: Kanker binne die konteks van die afgetrede egpaar

H. Prostaatkanker

2.1.10 Sintese: Kanker binne die konteks van die afgetrede egpaar

In die volgende paragrawe word nou gepoog om ‘n sintese daar te stel van ‘n situasie waar kanker die leefwêreld van die afgetrede egpaar binnedring. Hierdie sintese word gebaseer op die voorafgaande insigte rakende kanker as siekteverskynsel en aftrede as ‘n besondere lewensfase.

2.1.10.1 Aftrede as genade en welverdiende mylpaal

Om aftrede te bereik, blyk ‘n groot mylpaal te wees. Binne ‘n Christelike verstaan van die lewe kan dit sekerlik ook as genade beskou word waar man en vrou hierdie fase

saam bereik. Binne die Suid-Afrikaanse konteks is dit nie ongehoord dat manlike egmaats hulle gades reeds gedurende die werkende jare ontval nie. Dit is ook nie ongewoon dat aftrede in ‘n krisis ontaard deurdat dit op ‘n vroeë ouderdom afgedwing word deur omstandighede soos ‘n aflegging nie.

Wanneer ‘n man en vrou dus langs die tradisionele weë en op die gebruiklike ouderdom van tussen 55 en 65 saam aftrede bereik, het ons te make met ‘n mylpaal wat staan in die teken van genade.

Dit kan egter ook beskou word as ‘n welverdiende mylpaal of as die kroon op jare se volgehoue en getroue arbeid. Hierdie gedagte is selfs nie vreemd aan die Woord nie (Luk 10:7, Rom 4:4). Aftrede kan binne die Christelike werksetiek inderdaad as loon beskou word. Hierdie faktore werk daartoe mee dat egpare baie positief en opgewonde kan uitsien na hierdie fase van hulle lewe saam.

Vandaar die gedagte dat die egpaar nou hulle “goue jare” betree het en met dankbaarheid en genoegdoening na hierdie periode uitsien. Indien albei partye in die arbeidsmark gestaan het, word daar na welverdiende rus van die eise van hulle beroepe uitgesien.

In die geval waar een van die lede reeds afgetree het of in die rol van ‘n tuiste-skepper gestaan het, word daar nou uitgesien na ‘n ander roetine en veral die voorreg om meer aktiwiteite saam aan te pak.

2.1.10.2 Aftrede as krisis

Die voorafgaande scenario is egter nie die enigste nie. Aftrede kan ook as krisis beleef word, veral as die egpaar nie finansieel in staat is om sonder die gereelde inkomste van ‘n beroep klaar te kom nie. Dit kan ook ‘n krisis wees indien vaste eiendom verkoop moet word om volhoubaar te lewe. Angs ontstaan ook wanneer groot kommoditeite soos ‘n voertuig onklaar raak. Dikwels ontgaan die vreugde van aftrede egpare onder hierdie omstandig-hede, aangesien kommer oor die materiële hulle situasie oorheers. Onder hierdie omstandighede is daar ook nie fondse vir ontspanning of reis nie. Dit is ook waarskynlik dat een of beide lede van die egpaar ‘n deeltydse werkie moet bekom

om in die basiese behoeftes te voorsien. Aftrede onder hierdie omstandighede word nie as ‘n seën beleef nie.

2.1.10.3 Aftrede as aanpassing

In welke scenario die afgetrede egpaar hulle ook al bevind, dit blyk dat die jare waarin die aftree-ouderdom en aftrede self bereik word, jare van groot aan-passing is. Uit die voorafgaande inligting het dit duidelik geblyk dat aftrede en ‘n bepaalde lewensfase hand aan hand loop. Daar sou gesê kon word dat aftrede op ‘n kwesbare leeftyd bereik word. Vanweë die leeftyd en vanweë die aftrede moet baie aanpassings gelyktydig gemaak word.

Die navorser sou aftrede dus as ‘n fisies en emosioneel sensitiewe periode tipeer. Tog word hiermee nie beweer dat dit van alle vreugde ontdaan is nie. Dit kan, inteendeel, ‘n wonderlike tyd wees, mits omstandighede gunstig is vir ‘n aangename aftrede sodat die egpaar die lewensfase kan verwerk en sinvol daarby kan aanpas.

2.1.10.4 Kanker as bedreiging vir die goue jare

Wanneer kanker binne leefwêreld van die egpaar met gunstige aftree omstandighede indring, sal dit vermoedelik as ‘n bedreiging van die goue jare beskou word. In hierdie opsig sal dit as ‘n ontnugtering en ontydige gas beleef word, veral as die egpaar hulle nog in die wittebroodsfase van die aftrede bevind.

Die onmiddellike verandering in die beplanning en ideale van die afgetredenes mag as ‘n skok beleef word. Hulle mag selfs gekul voel omdat omstandighede anders is as wat hulle geantisipeer het. Namate die erns van die siekte na vore tree, behoort die fokus na die daaglikse bestuur van die situasie te verskuif en behoort die onmiddellike verlies aan die aktiwiteite van die goue jare te vervaag.

Indien die siekte terminaal blyk en ‘n lewensmaat verloor word, sal kanker dalk altyd as die “dief van die goue jare” beskou word. Dit kan wees dat gevoelens van futiliteit en krisis op die terrein van sinsbelewing hieruit kan voortspruit. Vrae soos: “Waarvoor

het ons al die jare gewerk?” en: “Waarom kan ons nie ons ideale verwesenlik nie?” kan verwag word. Dit kan wees dat gevoelens van ‘n onvoltooide reis hierdie situasie sal oorheers.

2.1.10.5 Kanker as intensifikasie van ‘n reeds gespanne situasie

In die leefwêreld van die afgetrede egpaar met moeilike sosio-ekonomiese omstandighede sal kanker as ‘n intensifikasie van bestaande spanning beleef word. Heel waarskynlik sal hierdie egpaar nie oor die middele beskik om die krisis op ‘n waardige wyse die hoof te bied nie. Staatshospitale, afhanklikheid van ander vir basiese behoeftes, soos vervoer na en van die hospitaal, is enkele van die aspekte van hierdie scenario ‘n geweldige uitdaging kan maak.

Uiteraard sal die behandeling verdere druk op die reeds beperkte finansies uitoefen en die deeltydse werk waarvan die lede van die egpaar deel was, kom ook in die gedrang. Dit kan wees dat kanker die reeds sukkelende egpaar in ‘n gemoedstoestand van volslae hopeloosheid kan plaas en dit as ‘n verlengstuk van hulle sukkelbestaan beskou kan word. Vrae soos ”Het God nou heeltemal teen ons gedraai?” sal nie vreemd wees nie.

2.1.10.6 Kanker as bedreiging van persoonlike integriteit

Brand (1989:201) wys daarop dat ouer persone ‘n hoë premie op hulle selfkonsep plaas. Ongelukkig lyk dit of hierdie persoonlike integriteit gehandhaaf word in terme van wie die persoon was, eerder as wie die persoon tans is. Kanker wat skending meebring as gevolg van amputasie of selfs net fisiese agteruitgang as gevolg van die siekte of die behandeling, impliseer uiteraard ‘n groot bedreiging vir hierdie persoonlike integriteit. Dit bring die waardigheid van die persoon in die gedrang en plaas hom/haar voor die uitdaging om die eiewaarde te handhaaf ongeag die fisiese veranderinge wat die kanker mee-gebring het.

2.1.10.7 Kanker as bedreiging van die lewe

min of meer dieselfde wyse. Dan bedreig dit die lewe van een van die egmaats en kom die dood binne die gesigseinder van hulle bestaan. Hoewel dood binne die minder gegoede gesin addisionele materiële bekommernis impliseer, lê die grootste krisis op die terrein van verlies en rousmart.

Nou kring die effek van kanker ook wyer uit na die res van die familiestruktuur. Die ware aard en bedreiging van kanker staan nou op die voorgrond. Dit versteur en bemoeilik nie net ‘n lewensfase nie, dit ontneem die lewe self.